DRIE BOEKE WERP LIG OP ‘KERKBODE’ EN SY REDAKTEURS

Hierdie drie boeke gee insig in die eerste 150 jaar van die Kerkbode, insluitende die een en ander oor sy redakteurs. Die joernalis Piet Meiring het ‘n boekie oor sy redakteur-pa, ds. P.G.J. Meiring, gepubliseer en ds. G.J.J. (Tappies) Möller ‘n kort weergawe van sy tyd by die Kerkbode. Daar is verder ‘n akademiese artikel oor die stigter, ds. Abraham Faure, asook divere artikels oor die Kerkbode geskryf, onder anderein gedenkuitgawes van die blad. Daaruit leer ons heelwat van die redakteurs en redaksielede wat die blad — die oudste bestaande blad in Afrikaans — oor ‘n tydperk van meer as 173 jaar gedien het.

BODE OP DIE SPOOR VAN DIE WOORD — 150 jaar met Die Kerkbode

André Olivier

Lux Verbi, Kaapstad

1998

Om in net meer as 200 bladsye die geskiedenis van die Kerkbode genuanseerd en volledig weer te gee, is onmoontlik. Die skrywer gee egter ‘n baie leesbare oorsig van die blad en sy redakteurs oor die eerste 150 jaar. Sedertdien het ‘n stuk of 23 jaar verloop en dit verg reeds nog ‘n  boek. Maar Olivier se boek is ‘n belangrike invalspoort.

Die kort sketse oor die redakteurs, die teologiese kwessies waarmee hulle te kampe gehad het en die immer verskuiwende groter konteks word goed ineen gevleg.

n Skets van die stigter van die Kerkbode, ds. Abraham Faure, soos dit verskyn in André Olivier se boek. Kunstenaar nie aangedui nie.

Tog staan die deur oop vir verdere navorsing, asook ander perspektiewe en oordele aangesien Olivier nie alle geredelik beskikbare bronne geraadpleeg het nie.

DS. P.G.J. MEIRING: Die lig op sy pad

Piet Meiring

PMP-Uitgewers, Pretoria

Geen datum.

Hierdie beskeie boekie is vol goeie inligting oor ds. Meiring as Kerkbode-redakteur (1918-19 [tydelik] en 1921-1938), geskryf in Piet Meiring se gesellige styl. As seun van ds. Meiring het hy uiteraard heelwat persoonlike ervarings gehad om op terug te val, maar dit getuig ook van ‘n joernalistieke belangstelling en insig in die groter konteks waarbinne sy pa se lewe afgespeel het.

Tereg gee Meiring heelwat aandag aan die Du Plessis-saak wat in die laat 1920’s die NG Kerk in beroering gehad het en waarin Meiring senior ‘n vredemakende rol gespeel het. Dit herinner aan ds. Tappies Möller se rol dekades later. Kerkbode-redakteurs het soms die onbenydenswaardige taak om ‘n stem te laat hoor wanneer die kerk dreig om te skeur… Of om juis min te sê.

Ds. Meiring het gesterf voordat hy sy gedagtes hieroor neergepen het. By sy se dood, het Die Vaderland as volg oor hom geskryf:

Verder:

MY SESTIEN JAAR BY DIE KERKBODE

G.S.J. Möller

Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk: Kaapstad

1999

Ds. Tappies Möller vertel hoe hy met geen joernalistieke ervaring of kennis  redakteur van Die Kerkbode geword het — en hoe hy, sonder enige kennis van die sakewêreld — toenemend betrokke geraak het by die aktiwiteite van die  Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk. Hy erken dat hy glad nie hierop voorbereid was nie.

Hy beskryf die formele sy van sy tyd by Die Kerkbode in taamlike detail, maar gee ook aandag aan die omstrede jare waartydens die grensoorlog, terreuraanvalle en ‘n bepaalde (soms oordrewe) ideologiese reaksie deur die regering in die sentrum van die politiek gestaan het. Dit het selfs op hom — ‘n baie gematigde en getroue ondersteuner van die regeringsbeleid van destyds — ‘n negatiewe invloed gelaat.

Só vertel hy hoe hy voor stok gekry is oor ligte kritiek teen die regering, of selfs net vrae:

Hy skryf oor ‘n spesifieke geval só:

Bowenal was hy ‘n lojale ondersteuner van die destydse beleid van die NG Kerk, wat gesukkel het om apartheidswetgewing soos die Wet op Gemengde Huwelike of artikel 16 van die Ontugwet ondubbelsinnig af te wys. Trouens, die NG Kerk het eers in die 1980’s en 1990’s stuk vir stuk met apartheid gebreek.

Daarin was ds. Tappies Möller geen voorloper nie; hy was eerder ‘n vredemaker binne ‘n konteks waar toenemend skerp vrae oor apartheid, Afrikanernasionalisme en derglike kontensieuse sake gevra is wat geregtigheid as voorwaarde vir vrede op die voorgrond gedruk het. Sy boekie gee geen blyke van ‘n persoonlike worsteling daarmee nie.

Johannes Froneman, assistent-redakteur van Die Kerkbode onder ds. Möller, 1981-83