Dr. Willie Lubbe, redakteur, akademikus en kerkman

Dr. Willie Lubbe het die redakteurskap van Die Kerkbode verlaat om in 1970 die hoofredakteur van Die Afrikaner te word, die mondstuk van die wegbreek-HNP. Die party het nie goed gevaar in die 1970-verkiesing nie. En soos dit gaan met politieke partye wat swak vaar, was daar binnegevegte en het Lubbe saam met ander leidende figure spoedig uit die HNP bedank.

Oor sy kortstondige redakteurskap van Die Afrikaner weet ons eintlik min. Hy het wel laat blyk dat hy nie altyd geken is in wat gepubliseer is nie. Hy het die indruk gegee dat hy ‘n sagter aanslag sou verkies het.

Het hy hoegenaamd besef waarin hy hom begeef het toe hy die redakteurskap van ‘n politieke koerant aanvaar het? Het hy daar uit Kaapstad besef watter heftige stryd tussen die HNP en NP gevoer is?

Die eintlike dryfkrag agter die koerant se propagandistiese inhoud was Beaumont Schoeman, wat hoogs ervare was en onder meer dr. Andries Treurnicht se assistentredakteur by Hoofstad was. (Schoeman het by Lubbe oorgeneem en jare lank die blad byna eiehandig volgeskryf. Intussen het hy nog tyd gemaak om verskeie boeke te skryf.)

Lubbe het die Bond van Konserwatiewe Afrikaners gestig (wat ‘n stille dood gesterf het) en ‘n loopbaan as akademikus by Unisa uitgekap, want hy was ‘n begaafde mens.

Eers met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk in 1987, toe van die NG Kerk weggebreek is weens die NGK se veranderende standpunte jeens apartheid en die oopstelling van lidmaatskap vir mense van kleur, het hy weer sterk na vore getree. Hy was immers voor sy joernalistieke jare ‘n erkende kerkleier.

Hy was ook die leidende figuur in die stigting van CVO-skole. Só gesien het Lubbe sy konserwatiewe standpunte gehandhaaf, maar nie sy voorganger by die Kerkbode, dr. Andries Treurnicht, se voorbeeld gevolg deur uiteindelik ‘n volbloed-politikus te word nie. 

Prof. Lubbe het dalk die ideologiese en persoonlike gedrewenheid van ‘n Andries Treurnicht gehad nie.

Kyk  jy na die Geloftedag-uitgawes van die Kerkbode van destyds, sien jy byvoorbeeld ‘n duidelike verskil tussen Treurnicht en Lubbe. Vir Treurnicht was die Kerkbode (en Geloftedag) geleenthede om sy persoonlike perspektiewe op Afrikanerskap sterk te propageer. Lubbe het nooit hierdie “preekstoel” met dieselfde entoesiasme benut nie.

Treurnicht en Lubbe was op ‘n gegewe tydstip invloedryke mense wat ‘n uiters konserwatiewe blik op sake gehad het. Maar die geskiedenis het ‘n ander roete gevolg. Daarom het selfs Treurnicht ‘n kantaantekening in ons geskiedenis geword. En daarom het Lubbe ‘n vergete figuur geword, altans wat die politieke geskiedenis betref. 

Tog was hulle allermins onbelangrike figure, sekerlik nie in die konteks van Afrikanerpolitiek van voor 1990 nie. Dat hulle albei redakteurs van die Kerkbode was en daarna redakteurs van koerante met ‘n sterk politieke boodskap vertel iets van die destydse verweefdheid van Afrikaners se geloof en politiek. – Johannes Froneman