DIE WêRELD VAN KOERANTE: ‘N FLITSTOER DEUR ‘N EEU VAN VOORBLAAIE

 

Deur Johannes Froneman

Hierdie is ‘n teksweergawe van ‘n visuele intreerede gelewer op 19 Augustus 2005 as hoogleraar in kommunikasiestudie (joernalistiek), Skool vir Kommunikasiestudie, Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Inleiding

My betrokkenheid by koerante die afgelope meer as veertig jaar was en is dié van koerantleser, joernalis en akademikus, maar veral as ‘n liefhebber van koerante. Dus as gebruiker, praktisyn, dosent en navorser; daarom ook as kritikus wat soms wanhoop aan dit wat aan ons opgedis word (Froneman, 2002a; 2004a; Froneman & Swanepoel, 2004).

Ek voel daarom ook sterk oor die noodsaak vir debat oor media-etiek en vir groter kundigheid en sensitiwiteit by lesers (Froneman, 1981; 1993a; 1994a; 1996;  1997a; 2002b; 2002c; 2005a; Froneman & De Beer, 1993a; 1998).

Maar in eerste en laaste instansie boei koerante my; ek staan in verwondering oor die vermoë van hierdie medium om reeds vir meer as drie eeue lank geslagte van lesers wêreldwyd te interesseer. Oor die wêreld heen beloop koerante se sirkulasie tans 395 miljoen (Time, 13 Junie 2005:14). Dit beteken dat, teen 3 lesers per koerant, sowat 1 200 miljoen mense gereeld, selfs daagliks, ‘n koerant lees. Dit is dalk minder as TV -kykers, maar steeds ‘n betekenisvolle getal, veral omdat dit ‘n bietjie inspanning verg.

Koerante trek lesers deur hulle in te lig, te oriënteer in ‘n snel veranderende wêreld (vgl. Van Vlastuin & Froneman, 1999; perspektiewe oop te breek (Froneman, 2000a ); te betrek by allerlei aktiwiteite; deel te laat voel van ‘n groter geheel, of dit nou taal-, etniese of godsdienstige groep is, nasie of ‘n groter mensheid)( vgl. Froneman & De Beer, 1994; Froneman, 1998a); toenemend ook te vermaak (Froneman, 2004b); deur aan hulle ‘n agenda voor te hou van waar en hoe jy diensbaar kan wees (Froneman & De Beer, 1993b; Froneman, 2004c).

‘n Blik op die wêreld van koerante behels veel meer as die voor die hand liggende nuusdimensie. My reis deur die wêreld van koerante het as kind begin by iets so onbelangriks as die uitslag van die vorige aand se sokkerwedstryd, maar berigte oor die groot nuusgebeure van die dag was nog altyd die groot magneet.

Nuus maak steeds koerante wat hulle is, al het die radio en 24-uur-televisiekanale koerante die afgelope 25 jaar toenemend vervang as aanvanklike boodskapper van die groot, brekende nuusstories (vgl. Froneman, 2000b). Waar koerante ‘n honderd jaar gelede die massamedium was wat nuus aangebied het, is dit ondanks ander media steeds die medium van rekord, die plek waar nuus regtig (stuk vir stuk) vasgevang word (Froneman, 2002c). Of so verkies ek om te glo, want waarom is dit dan so dat TV-reekse en rolprente steeds die nuus oor gebeure in ‘n koerant as “bewys” voorhou van die “feit” dat dit regtig gebeur het (Froneman, 2000c)?

Maar ek wil u nooi om ook ander fasette van hierdie wêreld saam met my te verken op hierdie fitstoer deur ‘n eeu van Suid-Afrikaanse koerantvoorblaaie. Buiten vir enkele groot, eenmalige nuusgebeure wat ons geskok het, wil ek enkele flitse gee van koerante as onvervangbare draers en makers van die ontvouende geskiedenis (Naudé & Froneman, 2003); van koerante as visuele produkte; van koerante as kommersiële produkte wat kom en gaan (Froneman, 1993b; 1993c), wat verander en, in bepaalde opsigte, tog dieselfde bly (Froneman, 1995a; 1997b); wat sus en aanstoot gee (soms met opset).

Daar is ook die wat doeIbewus en met groot sorg gestalte gee aan bepaalde lewens- en wêreldbeskouings (Froneman, 1992; 1994b; 1995b; 2003a), terwyl ander dit in die naam van “objektiwiteit” onbewus, maar nie minder effektief nie, doen. Alle joernalistiek is fundamenteel subjektief van aard. AIle lees en interpretasie van wat koerante is (of behoort te wees) is eweneens gekleur deur wie ons is, wat ons glo (of nie glo nie) en hoe ons kies om na die wêreld om ons te kyk (Froneman, 1997c).

Hierdie aanbieding het eweneens ‘n subjektiewe karakter. Die voorbeelde is eklekties uit my persoonlike versameling en verteenwoordig wat ter hand is. Ek wou met opset nie in argiewe gaan rondsoek nie; die voorbeelde verteenwoordigjuis dit wat ek deur die jare raakgeloop het en interessant genoeg geag het om te bewaar. Dit is ‘n voorbladgeskiedenis in die kleine, ‘n persoonlike geskiedenis van Suid-Afrikaanse koerante van die afgelope eeu, my wêreld van koerante.

Waarom dan ‘n “eeu van koerante”? Suid-Afrikaanse koerante dateer immers terug na 1800 en Afrikaanse koerante na 1875, verskeie Engelstalige dagblaaie het al in die negentiende eeu hul ontstaan gehad en Naspers, die dominante uitgewer van Afrikaanse koerante en tydskrifte, is “net” 90 jaar oud.

Maar ons is produkte van die twintigste eeu. Die eeu het ons land en ook die medialandskap gevorm tot wat dit vandag is. Om die koerantwêreld van die twintigste eeu te verken, is om iets te probeer snap van vandag se koerante en hoe ons leefwêreld verander het.

Ek bied hierdie flitstoer onder die volgende opskrifte aan:

Koerante as draers van die groot nuus

Koerante as bloedhonde

Koerante as artikuleerders van ons emosies

Koerante as omstrede hekwagters

Koerante en koerantmense as nuus

Koerante as visuele produkte, en

Koerante as draers van ‘n boodskap.

Koerante as draers van die groot nuus

Koerante trek ons aan omdat hulle ons vertel van die gebeure wat ons lewens regtig raak. Vra mens na die grootste nuusstories van die afgelope eeu, sal die sluiting van vrede ter beëindiging van die Tweede Vryheidsoorlog in 1902 die twee wêreldoorloë (1919 en 1945) seker hoog op die Iys van goeienuusstories wees. Hier is nog vier goeienuusstories wat hoog op die Iys moet staan:

Een van die mens se grootste triomfe van die afgelope eeu: Mense op die maan (Die Transvaler, 21 Julie 1969); die eerste foto van Nelson Mandela pas voor sy vrylating: Here he is! (Sunday Times, 11 Februarie 1990) en die pad na demokratisering in Suid-Afrika: “n Wonderwerk’ (Beeld, 20 April 1994). En vir ‘n land wat lief is vir sport, hierdie een wat internasionale rugby-, sokker- en krieketprestasies saamvat: A nation of champions (Sunday Times, 4 Februarie 1996) … en dié een wat heenwys op die groot sokkereindtoemooi wat in 2010 in Suid-Afrika gehou gaan word: Halala SA! (Rapport, 16 Mei 2004). 

Maar nuus is geneig om meer dikwels op die negatiewe te fokus omdat dit ons so regstreeks kan raak. Daarom was die terreuraanvalle op New York (‘This is war’, The Star, 12 September 2001) en meer onlangs in Londen (London terror, The Citizen, 8 Julie 2005) nie net aangrypend nie, maar het dit ons ook herinner aan ons eie verlede waar terrorisme en geweld dikwels die voorblaaie oorheers het, bv. Oproeriges vasgevat, Die Burger,4 September 1976.

Die moord op bekende staatshoofde en politieke leiers, hier en oorsee, was beslissende oomblikke, soos: Dr. Verwoerd vermoor (Die Volksblad, 6 September 1966); Kennedy vermoor (Die Burger, 23 November 1963); en How Hani died (Sunday Times, 11 April 1993). Ook die dood van bekendes is met groot prominensie aangekondig: Marike se gru-dood (Beeld, 6 Desember 2001) en Bles se laaste oomblikke (Rapport, 26 Maart 2000).

Twee van die treffendste opskrifte was dié by die dood van oudpresident John Vorster en Walter Sisulu: ‘Gaan, ek wil rus…’ (Beeld, 12 September 1983) en ‘Walter, what do I do without you?’ (Sunday Times, 18 Mei s.a.). Ander politieke leiers wat die voorblaaie vir negatiewe redes gehaal het, was Eugene Terre’Blanche en Jacob Zuma: The fallen idol (Sunday Sun, 8 Januarie 1989) en Fire me, Zuma dares Mbeki (Sunday Times, 12 Junie 2005).

Die twee mees prominente langtermynstories was dié van die opkoms en val van die Nasionale Party en die pad na demokrasie van 1990-94 en verder. In 1948 kondig Die Burger aan: Nasionale Party aan die bewind! en word ‘n belangrike hoofstuk in ons geskiedenis ingelui, ook vir die geskiedenis van die koerantwese. Talle verkiesingsoorwinnings volg, maar woelinge begin in alle erns in 1969 met die stigting van die HNP.

Dan volg die een opskrif na die ander: Dit kook steeds (Die Transvaler, 11 Maart 1980); Dis vrede in NP (Die Transvaler, 12 Maart 1980), en twee jaar later: Nats split (The Argus, 24 February 1982). ‘n Referendum-oorwinning volg: Ja! Ja! Ja! (Die Volksblad, 3 November 1983) en Nuwe era vir SA (Beeld, 8 Mei 1987), maar die omwenteling wat volg op F. W. de Klerk se aankondiging van 2 Februarie 1990, was die begin van die einde van die party wat ons nuustoneel vir veertig jaar lank oorheers het: P.W. los N.P. (Rapport, 6 Mei 1990), en Die Party is verby (Beeld, 16 April 2004).

Die grootste ontvouende storie van die afgelope eeu was egter die oorgang van apartheid na ‘n eenheidsdemokrasie. Saamgevat het dit so gebeur: FW opens doors to freedom (The Star, 2 Februarie 1990); Apartheid is begrawe (Beeld, 2 Februarie 1991); Birth of the new SA (The Star, 18 November 1993); Final Rubicon crossed (The Star, 20 1994); On a knife edge (Sunday Times, 15 Maart 1992); ‘Ons vat hulle saam hel toe’ (Beeld, 30 Junie 1992); en ‘Alles sal regkom… ‘ (Beeld, 27 April 1994).

In die daaropvolgende verkiesings het dit inderdaad veel rustiger verloop: The election queues of peace (The Star, 3 Junie 1999) en Take a bow, SA (The Star, 15 April 2004). Maar die politieke omwenteling het ook negatiewe gevolge gebring, byvoorbeeld: Puk se naam (en die CHO) verdwyn (Naweek-Beeld, 21 Junie 2003).

Die media as bloedhonde

Die mag van die media word soms oorskat. Maar wanneer koerante soos bloedhonde ‘n storie vat (soos in die geval van die sogenaamde Inligtingskandaal) het hulle ‘n regstreekse invloed op die geskiedenis (vgl. Froneman & De Beer, 1993b). Die Rand Daily Mail en Sunday Express het dit ondanks hardnekkige ontkennings deur die regering oopgevlek.

Beeld, wat die storie tot op daardie tydstip grootliks vermy het, moes dit noodgedwonge by die naam noem: Swendelary (Beeld, 3 November 1978). Dil het uiteindelik die einde van sowel die eerste minister en latere president, John Vorster, as minister Connie Mulder se loopbane beteken: Mulder uit (Beeld, 8 November 1978); Mulder: Vorster lieg (Rapport, 25 Maart en Vorster resigns as President (Evening Post, 4 Junie 1979). 

Koerante as artikuleerders van ons emosies

Koerante reflekteer nie net die nuus nie, maar verwoord ook ons emosies oor gebeure. Enkele voorbeelde hicrvan is die voorblad by die dood van dr. H.F. Verwoerd: ‘n Bewoë volk langs sy laaste pad (Die Vaderland, 10 September 1966). Beeld se hoofopskrif by die uittrede van mnr. John Vorster as eerste minister was: ‘n Hartseer S.A. (Beeld, 21 September 1978). Lady Diana, die Prinses van Wallis, se dood is wêreldwyd, maar ook in Suid-Afrika, met skok begroet: Stomgeslaan (Beeld, 1 September 1997). En so was die opskrif oor Hansie Cronjé se val ‘n emosionele uilroep wat veel meer was as blote nuus: Oh, Hansie (The Citizen, 12 April 2000). Dieselfde geld vir Beeld se opskrif in 1985 toe ‘n week se voorbladopskrifte ná die Westdene-busramp afgesluit is met die vraag: Is daar nog trane? (Beeld, 2 April 1985).

Koerante as omstrede hekwagters

Nie almal stem elke dag saam met dit wat hul gunstelingkoerant as die belangrikste nuus van die dag aanbied nie. Veral Afrikaanse koerante het die moeilike taak om uiteenlopende lesersgehore in ‘n enkele uitgawe tevrede te probeer hou. Daarenteen is daar ‘n groter spektrum van  Engelssprekende koerante wat groter toespitsing op bepaalde marksegmente moontlik maak. Die enigste Afrikaanse Sondagblad kies om lesers wat in sport belangstel (maar dalk nie in soveel ander sake nie) gereeld ‘n rugbyvoorblad te gee (vgl. Naudé & Froneman, 2003), byvoorbeeld: Manjifiek, Bokke (26 Julie 1998), en Rugbyskande (Rapport, 11 Augustus 2002).

Sommige koerante berig gereeld met groot voorbladprominensie oor die private lewens van bekendes, byvoorbeeld: Deur sleutelgat by ET en Jani (Beeld, 22 Julie 1992); Winnie’s love letters reveals all (Sunday Star, 6 September 1992); Charles en sy Di uiteen (Die Burger, 10 Desember 1992); Steve H. weer liefdespa (Rapport, 3 Oktober 1993); FW en sy ryk Griekse liefde (Beeld, 29 Januarie 1998) en Skatryk liefde vir Amanda (Rapport, 20 Junie 2004).

Na die aanvanklike prominensie wat aan die TV-realiteitsreeks Big Brother gegee is, byvoorbeeld Brad se donker verlede (Beeld, 28 Augustus 2001), het koerantdekking van realiteit-TV getaan, maar daar was in die jongste jare ‘n opbloei in populistiese koerante wat swaar klem laat val op die triviale. Later meer hieroor.

As hekwagters waak joernaliste met wisselende sukses oor die waarheidsgehalte van voorbladnuus. Meermale kom die waarheid stuk-stuk aan die lig (Froneman, 2002e). Die inligting tot hul beskikking is bepalend, soos uit die voorbeelde blyk: Koornhof sê dis nie sy baba (Beeld, 18 Januarie 1993), maar ‘Ek is Maria se pa’ (Beeld, 24 September 1993). Soms neem dit langer vir die waarheid om aan die lig te kom, soos hierdie twee voorbeelde getuig: Biko went crazy: cops (Post, 16 November 1977) en Ex-cop tells how Biko was beaten (Sowetan, 11 September 1997).   

Bewerings van leuens is selde so blatant gedoen as in hierdie twee gevalle: FW’s three lies (Weekly Mail & Guardian, 11 tot 17 Februarie 1994) en Oh dear, Mr Vlok, you lied (The Weekly Mail, 26 Julie tot 1 Augustus 1991).

Die media was ook draers van beloftes wat nie die toets van die tyd kon deurstaan nie. Twee voorbeelde: Mugabe beloof vrede (Die Burger, 5 Maart 1980) en Afrikaans behou status (Beeld, 11 November 1993).

Uiteindelik sou mens kon sê dat koerante mede-spelers was wat deur hul hekwagterfunksie en agendastelling meer as bloot ‘n spieël opgehou het (Froneman, 2000d).

Koerante en koerantmense as nuus

Koerante is primêr draers van nuus, maar Suid-Afrikaanse koerantmense en die koerantbedryf was self van tyd tot tyd in die nuus. Só berig Die Transvaler in die oorlogsjare: Soldate-aanvalle op Afrikaanse koerante (Die Transvaler, 3 Februarie 1941), terwyl koerantmanne deur die jare meermale die teiken was van kritici en daardeur self in die nuus was: Dr. Ras Beyers skiet op koerantmanne (Sondagstem, 29 Januarie 1967); Freed! Qoboza is released (Sunday Post, 12 Maart 1978); en Top Nat editor out (Sunday Times, 8 Maart 1987).

Redakteurs van verskeie koerante het die afgelope eeu hul werk verloor, terwyl enkele in die tuig gesterf het. Vir min was ‘n opskrif soos dié beskore: Ons redakteur is dood, die stad rou… (Noordwes Rekord, 10­ Oktober 2002).  Die ontslape redakteur, Doret Jansen, het joernaliste van die gemeenskapspers trots gemaak om haar as kollega te hê omdat sy ‘n filosofiese visie gehad het vir die gemeenskapspers (vgl. Froneman & Pretorius, 2000).

Die koerantbedryf is deur die jare merkbaar beïnvloed deur politieke verwikkelinge, maar nooit so regstreeks as toe die staat betrokke geraak het by die stigting van ‘n koerant nie. The Citizen het só berig oor die nuus, asook die verkoop van die koerant: Shocks in Info probe (The Citizen, 6 Desember 1978); en The Citizen is sold to new company (The Citizen, 9 Desember 1978).

Intussen het Beeld op die noordelike koeranttoneel verskyn: Troepe oral op grens (eerste uitgawe, 16 September 1974). Die blad het hom vasgeloop in ‘n verbete poging deur Perskor en sy vier Afrikaanse dagblaaie om hul mark te behou. Later blyk dit dat nie al hierdie pogings om Beeld se opmars te stuit wettig was nie: Persskandaal skok SA (Die Burger, 23 September 1980). Dit het wel nog ‘n paar jaar geneem, maar die gevolge was onvermydelik: Beeld het die hef in die hand gehad en wou die oggendmark vir homself hê. Vandaar die opskrifte Koerantmark verdeel (Oggendblad, 9 Februarie 1983) en Persstryd verby (Beeld, 9 Februarie 1983). Die gevolg hiervan was eers Oggendblad wat moes sluit: Dis tot siens! (Oggendblad, 19 Februarie 1983), toe Die Vaderland (Jaap jubel oor sege, 31 Oktober 1985) en uiteindelik ook die Transvaler (wat na Pretoria se middagmark uitgewyk het) tien jaar later. Ironies genoeg het die Transvaler se laaste voorblad die nuus gedra van die dood van dr. A.P. Treurnicht, wat die denke van die blad se stigterredakteur, dr. H. F. Verwoerd, in vele opsigte lewend gehou het (vgl. Froneman, 1993c;2003b): Hy was ‘n grote (Transvaler, 23 April 1993).

Beeld kon intussen vorentoe skiet en homself as winsgewende dagblad vestig: Beeld deur 100 000 (Beeld, 28 Mei 1983). Die blad waarvan Treumicht redakteur was, Hoofstad, het vroeër reeds gesluit en later het ook die Transvaler se opvolger, Metro Weekblad gegroet: Tot siens (Metro Weekblad, 26 September 1997).

Allerlei redes kan vir koerante se sluiting aangevoer word, soos swak bestuur. Maar die sluiting van genoemde en ander koerante was sekerlik onder meer ook die gevolg van die koms van televisie in 1976. Dit het ons lewens vir altyd kom verander: City’s ‘incredible’ rush for TV sets (5 Januarie 1976).Toe TV boonop advertensies begin dra het, was daar net te veel koerante vir die beperkte advertensies en leserspoel. Daarom het die Iys van titels wat moes sluit vinnig aangegroei. Dit sluit in: The Friend (1978); Rand Daily Mail (laaste uitgawe, 30 April 1985); Sunday Express (voorlaaste uitgawe, 17 Maart 1985); The Daily Mail (laaste uitgawe, 4 September 1990); Oosterlig (laaste uitgawe, 30 April 1993); New Nation (laaste uitgawe, 30 Mei 1997); Sportsday (laaste uitgawe, 23 September 1999); This Day (2003); en Vrye Weekblad (laaste uitgawe, 2 Februarie 1994).

Daar was wel nuwelinge wat sukses behaal het, byvoorbeeld die Daily Sun (vgl. Froneman, 2004d) en die Son (eerste uitgawe, 28 Maart 2003), wat op die spoor van Die Landstem (26 Oktober 1966) en Die Volk (16 Desember ‘n mark aan die onderpunt herontdek het en nuwe lewe aan die geelperstradisie in Suid-Afrika gegee het (Froneman, 2005b).

Koerante as visuele produkte

Koerante het deur die jare merkbare visuele veranderinge ondergaan, soos uit die voorbeelde blyk wat tot dusver aangehaal is. Ek lig net enkele uit.

Dagblaaie (bv. die Cape Argus van 1895 en Die Burger van 1925) het vir lank net advertensies op die voorblad gehad en later beskeie opskrifte (vgl. Die Suiderstem van 29 Julie 1939 en die Diamond Field Advertiser van 30 Augustus 1947), terwyl gemeenskapskoerante soos die Potchefstroom Herald so laat as 1953 nog ‘n advertensievoorblad gehad het.

Koerante het toenemend met foto’s, grafika en groot, prikkelende opskrifte lesers se aandag probeer trek, byvoorbeeld die Beeld (14 Maart 1994) met die skokkende foto van ‘n soldaat wat ‘n lid van die AWB koelbloedig in Mmabatho doodskiet; Beeld (21 Junie 2001) se treffende voorblad oor die sonsverduistering in 2001 en die Sunday Times-opskrifte: Yebo (Sunday Times, 16 Mei 2004) en Psst, do you want to buy my kidney? (Sunday Times, 29 Oktober 2000).

Koerante as draers van ‘n boodskap 

Koerante is draers van nuus, maar by uitstek ook draers van politieke en lewensvisies. Engels- en Afrikaanstalige koerante het hulle die afgelope eeu telkemale skuldig gemaak aan blatante propaganda, ‘n gebruik wat rondom die oorgang na ‘n demokrasie in 1994 min of meer tot ‘n einde gekom het.

Koerante het nou ‘n veel meer handelsgedrewe ingesteldheid, wat overte politieke ondersteuning vir ‘n bepaalde politieke party uitsluit. Voorbeelde van die soms blatante maar ook subtieler propaganda blyk uit die volgende: Dit is stemdag: dit is wendag! (Die Transvaler, 5 Oktober 1960); Staking misluk byna totaal (Die Burger, 30 Mei 1961); en Triomftog in Soweto (Beeld, 1 September 1979). Afrikaanse koerante was in vele opsigte onder die hiel van die Afrikanerregering. Hoe erg blyk uit die volgende opskrif: Afr. blaaie kan N.P. kritiseer  (Dagbreek, 22 November 1970).

In oorlogstye en die noodtoestande van die 1980’s, het wetlike en ander beperkinge koerante soms aktief verhinder om die volle waarheid te skryf (vgl. Froneman & De Beer, 1993a 1994;1998). In een klassieke geval het die Weekly Mail ‘n uitgawe gepubliseer met leë spasies en swart penstrepe van hul interne sensor. Dit was ‘n hoogs effektiewe protes (wat dadelik deur die regering verbied is) en het die Weekly Mail as liberale stem van protes gevestig. Koerante definieer hulself beslis nie net deur hul kritiek nie; hulle streef ook (soms) openlik na hoër ideale, ideale wat ‘n lewens- en wêreldbeskouing verwoord en in gehaltekoerante gestalte vind.

Dit is hierdie idealisme wat koerante na wonderlike hoogtes kan voer; dit is die gebrek daaraan wat die bedryf afsleep en van koerante net nog ‘n kommoditeit maak.

Slot

Waar laat dit my as as koerantliefhebber wat al hoe minder in die plaaslike koerantbedryf iets vind om oor entoesiasties te raak? Ons het nie die moontlikheid van ‘n Reformatorisch Dagblad of ‘n Nederlands Dagblad nie (Froneman, 1994b; 1995b).

Maar daar is steeds die realistiese moontlikheid om as individuele joemalis (Froneman, 2002d) as dosent (Froneman, 1998b; 2002e) en as navorser te soek na geleenthede om nie net vaagweg waardegedrewe ‘n verskil te probeer maak nie, maar met volharding en in beskeidenheid in die lig van die Woord te soek na heel spesifieke maniere om jou liefde vir koerante — of dan sommige van hulle — uit te leef en oor te dra (Froneman, 1998c; 2002f; 2004e; Froneman, Swanepoel & Van Rooyen, 2005).

Dit kan in pas met jou geloof gedoen word, anders is dit net nie die moeite werd nie.

Bibliografie

De Beer A.S. & Froneman, J.D. 1994. The quest for media ethics: an introduction. Ecquid Novi, 1994(1).

Froneman, J. D. 1981. Benader pers kundig en eerlik (Die Kerkbode, 11 November 1981).

— 1992. Kultuur as kommunikasie. Die openbare kommunikasie van die Afrikanernasionalisme deur Stellenbosse studente, 1902-24. Ecquid Novi, 1992(2).

— 1993a. Christenlesers se sê kan verskil maak aan sensasie in koerante (Die Kerkbode, 22 Oktober 1993).

— 1993b. Sluiting van koerante geen doodsklok vir Afrikaanse joernalistiek. Ecquid Novi, 1993(1).

— 1993c. Einde van dr. Verwoerd se koerant (Woord & Daad, Winter 1993).

— 1994a. Redes vir die aan ‘n ingeligte, lewendige debat oor media-etick Suid-Afrika. Ecquid Novi, 1994 (1). 

— 1994b. In hierdie koerant is sport taboe (Die Kerkbode, 6 Me; 1994).

— 1995a. Mediatransformasie: ons almal se kans (Woord & Daad, Somer 1995).

— 1995b. Is ‘n Christelike dagblad moontlik? (Die Kerkblad, 8 Februarie 1995).

— 1996. Die noodsaak van kundige, kritiese mediagebruik. lnstituut vir Refomatoriese Studies, PU vir CHO. Potchcfstroom.

— 1997a.’n Joernalis se pad: slaggate en riglyne. (Die Gereformeerde Vroueblad, Oktober 1997).

— Mediatransfonnasie dek tafel vir nuwe joernalistiek. Literator, 18(3).

— 1997c. Towards a Christian model for journalism. Koers, 62(1).

— 1998a. Consensus building: a new challenge to the media in SA. Gespreksdokument voorgelê by die jaarkongres van die SA Kommunikasievereniging, Johannesburg September 1998.

— 1998b. ‘n ABC en XYZ van joernalistiek. Uitgegee deur outeur vir gebruik deur eerste- en vierdejaarstudente in die joernalistiek in die Skool vir Kommunikasiestudies. (1998, 2002, 2004)

— 1998c. Towards a Christian model for journalism. In: Blomberg, D. en Lambert, I. (eds.), Renewing the mind in learning. Sydney: Centre for the Study of Christianity.

— 2000a. Christian Forum (1987-90) a media initiative in building bridges of understanding between South Africans. Studia Historiae Ecclesiasticae, XXVU:2.

— 2000b. ‘n Eeu van masskommunikasie (Vaalweekblad se millenniumuitgawe, Januarie 2000) .

— 2000c. Koerant as ‘n foto (Noordwes Rekord, 17-18 Februarie 2000).

— 2000d. Die media as medespeler in die kerklike waterskeidingjaar 1982. Studia Histariae Ecclesiruticae, XXVI: I. 

— 2002a. Wat motorskrywers jou nooit vertel nie (Motors, Potchefstroom Herald, 26 Julie 2002).

— 2002b. Jonges kies Cosmopolitan (Die Kerkbode, 15 Februarie 2002).

— 2002e Koerante vertel stuk-stuk die waarheid (Algemene Kerkbode, 14 Junie 2002).

— 2002d. Reformational journalism in ‘enemy territory’. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 38:1.

 — 2002e. Teaching Reformational journalism at the Potchefstroom University for Christian Higher Education. Ede: Christelijke Hogeschool Ede.

— 2002f. Challenges for committed Christians in communication. Proceedings of the International Conference on Ethics in Communication, Ede, The Netherlands, 2002.

— 2003a. ‘n Tradisie van soms kritiese joernalistiek (Stellenbosch Media Forum, 2003).

— 2003b. Stryd woed tussen Transvaler en Beeld wyl Beeld sy gang gaan (Potchefstroom Herald 1908-2003. Bylae tot die Potchefstroom Herald.

— 2004a. Son sak oor moraliteit en gehalte (Kerkbode, 10 September 2004).

— 2004b. Dominante motiewe in die transformasie van Huisgenoot, 1916-2003. Ecquid Novi, 25(1).

— 2004c. Media stel ook ‘n agenda vir diens (Kerkbode, 9 Julie 2004).

— 2004d. Tabloid Journalism in the aftermath of the apartheid conflict. Referaat gelewer by konferensie oor Christelike perspekiewe op die etiek van kommunikasie in konfliksituasies, Calvin College, Oktober 2004.

— 2004e Versigtig soos slange, opreg soos duiwe. In: Van de Breevaart. P. & Van Woudeberg, M.I., red., Bezielde joumalistiek. Ede: Christelijke Hogeschool Ede, Nederland.

— 2005a. Vier vryheid deur inspraak aan almal te gee (Potchefstroom Herald, 29 April 2005). 21

— 2005b. Die geel gevaar (Beeld, 21 April 2005).

— Froneman, J.D. & De Beer, A.S. 1993a. Media ethics. Difficult answers to thorny questions In: De Beer, A.S. (red.), Mass media for the nineties. Pretoria: J.L. van Schaik.

— 1993b The Afrikaans press: heading for demise or a constructive role in a plural democracy? Communicatio, 1993(2). ·

— 1994. Oproep tot natievorming in een ‘nieuw’ zuid-afrika: de rol van de Afrikaanse pers. Communicatie, 1994-95(1).

— 1998. Media ethics. In: De Beer, A.S. (ed.), Mass media for the millennium. Pretoria: J.L. van Schaik.

Froneman, J. D. & Pretorius, K. 2000.Towards a common-sense typology and democratic philosophy for South Africa’s community media. Communicatio, 26(2).

Froneman, J. D. & Swanepoel, T. 2004. Embedded journalism — more than a conflict-reporting issue. Communicatio, 30(2).

Naudé, A.M.E. & Froneman, J.D. 2003. Trends in news agenda setting by the Sunday Times and Rapport during 2000. Ecquid Novi, 24:1. 

Time, 13 Junie 2005:14.

Van Vlastuin, E. & Froneman, J.D. 1999. Die hantering van etiese sensitiewe kwessies deur Beeld, Rapport en Die Kerkbode. Ecquid Novi, 21:1.

— 2002. Orientatie als joumalistieke kerntaak, Philosophia Reformata, 2002(2).