Voordat Landstem in 1967 by Dagbreek ingelyf is, is die blad (sedert sy stigting in 1950) onafhanklik van die groot koerantmaatskappye bedryf. Of so het dit van buite gelyk. Die blad was ‘n populisties weekblad sonder sterk politieke oortuigings, al het die redakteur en van die aandeelhouers sterk bande met die Verenigde Party gehad.
In The fourth estate vertel ‘n gewese redakteur van die Sunday Times, Joel Mervis, ‘n interessante storie wat meer lig werp op Landstem se eienaarskap pas voordat dit aan Afrikaanse Pers (1962) Bpk. verkoop is — en hoe die blad deel van die Sunday Times kon geword het.
Mervis skryf dat SAAN (South African Associated Newspapers) in daardie stadium ‘n “aansienlike” aandeel in Landstem gehad het en die blad se noordelike uitgawe gedruk het. (Die blad was eintlik in Kaapstad gesetel.)
In September 1967 rapporteer die besturende direkteur van SAAN, Leycester Walton, dat Landstem ‘n verlies van R10 067 in die voorafgaande boekjaar gemaak het. (Dalk nie veel nie, maar steeds ‘n verlies.) Hy onderneem om die saak met “die ander groot aandeelhouer”, Cape and Transvaal Printers, te bespreek.
Walton het onderneem om die saak in die maande vorentoe dop te hou. Die volgende oomblik kry Mervis egter ‘n oproep van een van die direkteure wat hom waarsku dat SAAN op die punt staan om hul aandeel in Landstem te verkoop.
“Ek was verstom oor wat vir my gelyk het na ‘n dom besluit. Selfs al het Landstem geld verloor, was dit pasgemaak om in geheel as ‘n ‘Afrikaanse bylae’ by die Sunday Times ingelyf te word. Daar sou dit groot waarde toegevoeg het vir die honderde duisende Afrikaanse mense wat reeds die Sunday Times gelees het,” skryf Mervis, ‘n vernuftige redakteur wat die waarde van sy Afrikaanse leserskorps deeglik besef het.
Mervis het Walton dringend gebel en by hom gepleit om die transaksie uit te stel. Hy het hom daarop gewys dat Landstem ‘n “wonderlike bate” vir SAAN kon wees.
Walton het egter reeds die vorige dag sy woord gegee om te verkoop en die koeël was (byna) deur die kerk. Tog het die direkteur wat Mervis oor die transaksie gewaarsku het, Jim Bailey, alles moontlik gedoen om die verkoop van die Landstem-aandele te keer. Tevergeefs.
Cape and Transvaal Printers se oorweging om hul aandele aan Afrikaanse Pers (1962) Bpk. te verkoop, is onbekend. Maar as drukker wou hulle bes moontlik net wegstap van ‘n verliesmakende onderneming en die tjek bank.
So kry Marius Jooste sy hande op Landstem en lyf hy dit in by Dagbreek onder die naam Dagbreek en Landstem. Hy gebruik die gesamentlike sirkulasie in die verbete stryd teen Die Beeld, wat maar twee jaar vantevore op die toneel verskyn het.
Hoe Landstem die samesmelting besing het.

Die koerante het steeds as twee aparte uitgawes verskyn: Dagbreek (en Landstem) op Sondae en (Dagbreek en) Landstem in die middel van die week. Die bylae was dieselfde, maar die hoofkoerante verskillend.
In 1970 smelt Dagbreek en Landstem met Die Beeld saam om Rapport te vorm, uitgegee deur ‘n maatskappy waarin Naspers en Afrikaanse Pers (1962) Bpk. gelyke aandele besit het. Afrikaanse Pers het twee jaar later deel van die nuwe Perskorgroep geword, wat in die 1990’s sy deure moes sluit. Caxton het die ou Perskor-koerantbelange oorgeneem en die “Dagbreek”-helfte van Rapport aan Naspers verkoop.
Maar alles kon nogal anders afgeloop het. Met die Graaftrust (van sir De Villiers Graaf se familie) een van die oorspronklike aandeelhouers in Landstem (saam met die stigterredakteur, Piet Beukes) sou inskakeling by die Sunday Times polities meer sin gemaak het. Die Times was immers ‘n ou ondersteuner van die Verenigde Party, waarvan sir De Villiers die leier was. En Piet Beukes was ‘n volgeling van genl. Jan Smuts, ‘n vorige leier van die VP.
Jooste het waarskynlik die Landstem-transaksie beklink sonder om van Mervis se idees te weet. Het Mervis se base egter betyds met hul senior redakteur gepraat, kon die stryd tussen Die Beeld en Dagbreek dalk anders verloop het.
Maar koerantbase het ‘n manier om redakteurs uit die prentjie te hou — totdat hul menings te laat is.
– Johannes Froneman
SAAN het later Times Media geword en het daarna ook as Avusa bekend gestaan. Vandag behoort die maatskappy aan Arena Holdings.
Geplaas 2 Des. 2022