Johannes Froneman
In die 1960’s het radio nie net “die helder stem van FM” gekry nie, maar ook twee betekenisvolle uitbreidings van die aanbod: stasies vir al die Afrikatale eie aan ons land asook ‘n netwerk van streekmusiekstasies.
Voorheen, van 1937, het die SAUK aparte Afrikaanse en Engelse dienste gehad — kultuurstasies vry van advertensies. Hulle is aanvanklik deur lisensiegeld gedra. Geen ander radiostasies is toegelaat nie
Teen 1950 word Springbokradio as handelsdiens ingestel om met advertensie-inkomste die SAUK se finansiële posisie te verbeter.
Springbokradio was amptelik tweetalig, hoewel Engels oorheers het — veral in die aand. Advertensies het die stasie uiters winsgewend gemaak, maar was op ‘n nasionale gehoor gemik.
Die tweetalige streekmusiekstasies het egter ‘n nuwe nis geskep, die fokus van hierdie artikel. Wat was die doel? Was dit ‘n sukses? En het dit enige betekenis gehad?
In 1964 het Radio Hoëveld op die toneel verskyn met Johannesburg as basis. Daarna volg Radio Goeie Hoop (Kaapstad, 1965), Radio Port Natal (Durban, 1967), Radio Jakaranda (Pretoria, 1986), Radio Oranje (Bloemfontein, 1986) en Radio Algoa (Port Elizabeth, 1986).
Die eerste bestuurshoof was Hein Toerien, ‘n bekende in die vermaaklikheidwêreld: liriekskrywer, vertaler, draaiboekskrywer en betrokke by allerlei Afrikaanse vermaaklikheidsprogramme
Die stasies het waarskynlik ‘n hoofsaaklik kommersiële doel gehad deurdat plaaslike advertensies nou gelok kon word. Ten tweede het die tweetalige inslag in die post-1961-tydperk (dus ná Republiekwording) ‘n boodskap van inklusiwiteit gedra, hoe gebrekkig dit ook al vandag mag klink.
Die stasies het hoofsaaklik musiek aangebied met nuus op die halfuur, elke uur. Omroepers moes tweetalig wees en het boodskappe van luisteraars gelees en onderhoude hier en daar gevoer. Die inhoud het uiteraard met die tyd ontwikkel.
Talle omroepers het naam gemaak op hierdie meer ontspanne stasies. Hulle het veral in die jare voor televisie soms sterstatus behaal, maar ook ná 1976 het mense soos Sarel Cilliers, Robin Alexander, Tony Hatt, Manie Kitching, Rocco Erasmus en Helen Naudé huisvriende op die musiekstasies geword.
Hulle was nie ingebed in die konserwatiewe kultuur van die Afrikaanse Diens (nou RSG) nie. Hul gemeensame aanslag en rapport met luisteraars was deurslaggewend. En natuurlik die lekkerluistermusiek.
Die versoekprogramme was gewild en het kontak tussen ou vriende gebring in ‘n era voor sosiale media.
Sarel Cilliers was die eerste manlike stem op Radio Port Natal wat in 1967 vanuit die SAUK se nuwe gebou in Durban uitgesaai het, met Laetitia Vorster as sy kollega.
“Sarel was beslis ’n wonderlike en ietwat eienaardige karakter. Hy was baie gewild onder sy luisteraars. Hy het hoë standaarde gestel en dieselfde van ander verwag,” sê Keith Millar, wat jare lank as tegniese regisseur saam met hom gewerk het.
Hy het saam met bekendes soos Jeanette Hanekom, Isabel van der Linde en Les Franken gewerk. Sy ontbytprogram was baie gewild — ook toe hy dit vir ‘n tyd lank op Hoëveld aangebied het.
In die 1980’s het Helen Naudé by Hoëveld aangesluit, ná ‘n loopbaan as lugwaardin (waar haar aangename stem in Afrikaans, Engels, Duits en Italiaans gehoor kon word). Nuuslees was haar eerste taak, daarna versoekprogramme en later meer uitdagende opdragte.
Met die koms van Radio Jakaranda is sy na Pretoria verplaas om die Engelse stem daar te versterk.
Jakaranda het in die 1980’s ook aan die legende Fanus Rautenbach ‘n tuiste gebied deur hom vir die vroegoggendprogram nader te trek. Dit het aan luisteraars ‘n luister-weer gebied van Fanus se gewilde Flink uit die vere, wat rondom 1972 plek moes maak vir Monitor.
By Radio Oranje (later OFM genoem) het Albé Grobbelaar ‘n goeie skof ingesit — eers as omroeper, later stasiebestuurder, besturende direkteur … Hy vertel: “Ons het absoluut níks van kommersiële radio af geweet nie! Ons het geen idee gehad waarvoor ons onsself ingelaat het nie.
“Dit is die allesoorheersende herinnering as ek vandag terugdink aan die jaar 1985 toe ons Radio Oranje van die grond af moes kry. Christo Olivier, ons geliefde eerste grootbaas, het nes ek en Manie Kitching van die Afrikaanse Diens (vandag RSG) af gekom. Ons was diepstem-omroepers wat hogere kultuurprogramme uitgesaai het, nie tweetalige grapmakers of winsgedrewe sakemanne nie.
“Gelukkig was die derde lid van ons driemanskap aan die bestuurskant ‘n man wat darem ervaring van die advertensiebedryf gehad het: Bill Otto, ons eerste Engelsman, was vroeër jare by Radio 702 in Johannesburg betrokke.”
Albé vertel: “Op 1 Julie 1985, om 6.30 die aand, het die stasie sy eerste wankelrige treetjies in die groot uitsaaiwêreld gegee. Dit was nog nie heeltemal Radio Oranje nie (amptelik is die stasie eers ses maande later op 1 Januarie 1986 gebore), maar ons was uit die wegspringblokke.
“Die heel eerste woorde op die lug, in daardie welluidende, bekende stem van hom, het heel paslik van ons hoof, Christo Olivier af gekom: ‘U is ingeskakel op die senders van Radio Hoëveld. Welkom by die eerste uitsending van ons nuwe streekradiodiens vir die Vrystaat en Noord-Kaapland.’ “
Die eerste liedjie wat op die stasie uitgesaai is? Die Alabama Studentegeselskap, uit ons eie streek uit, se weergawe van Consider yourself uit die musiekblyspel Oliver.
Van musiek gepraat: Vera Grünewald was Oranje se eerste musiekopsteller, wat met ‘n ysterhand oor die diskoteek geheers het. Sy het die langspeelplate vir elke program uitgesoek en in netjiese pakke met rekkies om ateljee toe gevat. En wee die omroeper wat stilletjies sou probeer afwyk van Vera se speellys!
In die huidige era waar al die musiek nou geprogrammeer van die rekenaar af kom, is dit goed om herinner te word aan langspeelplate. Dit het die omroeper ‘n regstreekse tussenganger gemaak tussen kunstenaar en luisteraar. Maar rekenaars open natuurlik ‘n wêreld van musiek veel groter as die diskoteek …
Volgens Albé was Christo Olivier hul “anker” in die beginjare. Die “Lang Baas”, het Manie hom genoem. “Sy onkreukbare integriteit en kalm geaardheid was altyd, ook later jare toe hy die SAUK se streekdirekteur geword het, ‘n veilige hawe vir ons voortvarende klomp jong Turke.
“Die kernspan uitsaaiers in daardie eerste jaar was, naas Manie, die vrou met die warm persoonlikheid en pragtige stem, die veelsydige Joleen du Plessis, wie se reuse bydrae tot ons vroeë sukses nooit geringgeskat kan word nie, dan ons eie, makgemaakte Duitser, Olaf Brinkmann, en kort daarna ook Willem Botha.
“Maar die boek oor OFM se geskiedenis sal nooit volledig wees sonder ‘n hele afdeling oor Manie Kitching nie. Vir talle luisteraars dwarsoor ons streek was Manie nie net iemand wat by die radio gewerk het nie, Manie WAS Radio Oranje.
“Ons het dikwels koppe gestamp, hoofsaaklik omdat hy nie in vreeslike voorbereiding en omvattende navorsing en te lang werksure geglo het nie. Maar hy was die mees talentvolle uitsaaier met wie ek ooit te doen gehad het, ‘n natural sonder gelyke. Sy spore by OFM is onuitwisbaar,” sê Albé. (Hooffoto: Albé saam met sy kollegas by OFM rondom 2002.)
Toe die SAUK sy musiekstasies in die 1990’s moes verkoop (om die uitsaaiwese se eienaarskap meer divers te maak) is talle tweetalige (maar uit huis uit Afrikaanse) omroepers se loopbane drasties geraak. Die nuwe base het Hoëveld, Goeie Hoop en Port Natal spoedig hernoem en eentalig Engels gemaak. Die dae van ‘n tweetalige land het plek gemaak vir een met elf amptelike tale, maar waar Engels meer gelyk was as al die ander.
Soos met ander eks-SAUK-mense het Helen Naudé by gemeenskapstasies (Kragbron en Rippel) beland. Sy het selfs by die vroeggestorwe Punt Radio ‘n draai gemaak, voordat gemeenskapsradio en –joernalistiek op Franschhoek haar vir dertien jaar aktief in die mediabedryf gehou het.
Dieselfde geld omroepers soos Manie Kitching (Whale Coast FM en Caledon FM), Theo Conradie (Bosveld Stereo). Hulle loopbane is deur gemeenskapsradiostasies verleng, hoewel salarisse kwalik met vorige vergoeding vergelyk kon word.
Vroeër het televisie sommige se radioloopbane in ‘n ander rigting geneem. Les Franklin was gewild op Radio Port Natal en was ook op Radio Orion, die destydse deurnagdiens. As volkome tweetalige uitsaaier het hy op televisie se Goeie more, Suid-Afrika gesig gewys. Hy was ook aanbieder vanLegkaart Bonanza.
Albé laat nie na om die mense agter die skerms uit te sonder nie. Dit sluit die advertensiewerwers in. Sonder hulle kon die streekmusiekstasies nie bestaan en floreer nie.
Toe die stasies uiteindelik verkoop is, is groot geld daarvoor betaal. Tog het nie ‘n sent daarvan na die SAUK gevloei nie, vertel Riaan Eksteen, destydse SAUK-baas.
Die eintlike wins was egter jare se luistergenot aan duisende luisteraars, werk vir omroepers, tegnici, advertensiemense en al die ander wat die wiele aan die rol gehou het. Dit het ook ‘n nuwe klank aan ons uitsaaiwese gegee — een wat later veel verder sou ontwikkel, maar wat op die skouers van al die baanbrekers sou staan.
As jy inligting het om by te voeg, skryf aan my by joh.froneman@gmail.com