DIE DAG TOE JOHN VORSTER SOOS ‘N SIF GELEK HET

Deur Gustaf Pienaar

Van 1973 tot 1977 was ek die Oos-Kaapse verteenwoordiger van die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK (soos dit toe bekend was) in Port Elizabeth.

Jaarliks, tussen Kersfees en Nuwejaar, moes ek toesig hou oor die opnames van premier John Vorster se gebruiklike Nuwejaarsboodskappe vir die verskillende radiodienste van die SAUK.  Vorster het sy kersvakansies in sy strandhuis “Nigel” by Oubos, nie te ver van Port Elizabeth af nie, deurgebring. Sy lyfwag was altyd by tydens opnames — so ‘n korterige man met blonde hare en ‘n seunsgesig.

Die eerste jaar (1973) het die opname by die ou (taamlik primitiewe) ateljee in Cotswold plaasgevind. Die dag vantevore het Vorster se lyfwag en sy motorbestuurder onverwags by die ateljee in die premier se ampsmotor, ‘n silwerkleurige Mercedes 450SE, aangekom. Die doel van hul besoek was om so ‘n bietjie by die ateljeekompleks rond te snuffel om vas te stel of daar dalk veiligheidsrisiko’s was wat hul aandag moes geniet. En, o ja, het hulle oor ‘n koppie tee vertel, hulle wou ook vasstel presies hoe lank die reis vanaf Oubos na Port Elizabeth met die Merc sou duur.

Die volgende dag – dit was ‘n stil Saterdag – was die ampsmotor weer daar, dié keer met sy belangrike passasier in die linkeragtersitplek. Vorster was gemaklik geklee in ‘n geruite sportbaadjie, geel strikdas en hoed met ‘n tarentaalveer in die hoedband. Die opnames van sy verskillende radioboodskappe het vlot en sonder voorval verloop. Die boodskappe is vooraf — so het ek lateraan verneem — deur mev. Tinie Vorster op ‘n meganiese tikmasjien daar in hul strandhuis getik.

Vanweë ‘n besondere voorval wat hom daar afgespeel het, onthou ek die opname van 28 Desember 1974 – toe in die nuwe ateljeekompleks te Parsonsheuwel — goed. Maar eers moet ek iets vertel van die politieke agtergrond waarteen dit plaasgevind het.

Terwyl Vorster daardie jaar,1974, op Oubos vakansie gehou het, het ‘n uitmergelende oorlog in ons buurstaat Rhodesië tussen die insypelaars van Nkomo en Mugabe en die rebellebewind van Ian Smith gewoed.

Die destydse Britse minister van buitelandse sake, James Callaghan, het die vakansietyd benut om deur Afrika te reis om met verskeie staatshoofde te beraadslaag oor ‘n manier om die Smith-bewind te beëindig. Die Arbeiders was Suid-Afrika vyandig gesind en Callaghan het wyd en syd verkondig dat hy dit nie nodig geag het om Suid-Afrika ook aan te doen nie.  Maar die Republiek was Rhodesië se lewensaar. Hoe langer Callaghan gereis het, hoe meer het hy dit besef.

Dit het later geblyk dat hy koorsagtige pogings aangewend het om wel met Vorster te praat, maar dié het ongestoord vakansie gehou en het verseg om na Pretoria te reis om die Brit te woord te staan.  Gerugte wou dit destyds hê dat hy Callaghan wel genooi het om hom op Oubos te besoek …

Maar terug by die ateljee in Port Elizabeth op 28 Desember 1974.  Voor die opnames begin het, het ons vir Vorster tee bedien (hy het dit altyd swart en, verbeel ek my, sonder suiker gedrink).  Tussendeur het ons die volgorde van die opnames bespreek want, onthou, daar was afsonderlike boodskappe vir die Afrikaanse en Engelse radiodienste. So ook een elk vir die Kleurlinge, Indiërs en “Bantoes”, (volgens die opskrif van sy boodskap aan die swart mense, wat hy vir my geteken het).

Terwyl Vorster sy tee drink, kom sy lyfwag binne en vertel dat daar ‘n joernalis buite die ateljee was wat hom graag wou kom groet.  Ek het sy naam vergeet, maar ek onthou dat hy van die Evening Post in die Baai was. (Iemand het lateraan bespiegel dat dit die bekende Baaise joernalis Donald Prosser kon gewees het.) 

“Ja”, sê Vorster, “laat hy inkom”.

Die joernalis kom binne en die twee groet vriendelik.  Ek bemerk dat hulle mekaar klaarblyklik goed ken. Vorster het na die welstand van sy gesin verneem en ek wil my herinner dat hy selfs die joernalis se vrou se naam geken het.  Nadat hulle nog ‘n paar gemeenplasighede gewissel het, vra die besoeker vir Vorster: ”Prime Minister, is there any truth in the rumours that you will be meeting with Mister Callaghan shortly?”

Vorster het sy ruie wenkbroue bymekaar getrek, soos net hy dit kon doen, en die gerug met mening die nek ingeslaan. Ek kon die teleurstelling op joernalis se gesig sien.  Hy het Vorster gegroet, hom ‘n voorspoedige nuwe jaar toegewens en omgedraai om uit te loop.

Net toe hy by die deur kom, verander Vorster van plan.  Ek sien nou nog die vonkeling in sy oog toe hy die joernalis op sy voornaam terugroep: ”You may speculate”, gee hy hom voorwaardelik permissie (met klem op die “speculate”), “that if the meeting were to take place, the venue will be Port Elizabeth”.

My mond hang oop. Die joernalis s’n ook. Sy gesig verhelder soos ‘n seuntjie s’n wat onverwags ‘n roomys present kry. “Thank you, Prime Minister, thank you!”, jubel hy oor sy scoop. En hy groet weer – dié keer baie hartliker.

Toe hy weer amper by die deur uit is, word hy ‘n tweede maal teruggeroep. “And you may speculate that Pik Botha will be present”, lek Vorster sy storie (weer met die nodige beklemtoning) verder uit. (Pik was toe ons ambassadeur by sowel die VN as in die VSA).  Ek sal die genoegdoening op Vorster se gesig nooit vergeet nie.

Daardie middag was daar ‘n banieropskrif op die voorblad van die Evening Post – iets soos “PE VENUE FOR CRUCIAL MEETINGS” (Ongelukkig het ek nie die koerant gebêre nie.)

Dis geskiedenis dat op Saterdag 4 Januarie 1975, so om en by drie-uur die middag, James Callaghan se Royal Air ForceVC10 laag oor die Hotel Elizabeth geswiep en op die nabygeleë H.F. Verwoerd-lughawe, soos dit toe nog bekend was, neergestryk het.  ‘n Rukkie later het hy by dieselfde hotel aangekom vir sy samesprekings met die Suid-Afrikaanse afvaardiging: Vorster, dr Hilgard Muller (minister van buitelandse sake), dr. Carel de Wet (ambassadeur in Londen), dr. Brand Fourie (sekretaris van buitelandse sake) en, ja, ‘n toe nog jeugdige Pik Botha – heelpad uit New York.

Die vergadering het in ‘n luukse suite op die boonste verdieping van die vyfsterhotel plaasgevind.  Ongeveer 15 minute ná Callaghan se aankoms, is die groot perskontingent toegelaat om vir ‘n paar minute foto’s te neem.  Ek was daar met my mikrofoon om vir die Maandag se uitsending van Monitor verslag te doen.

Die hotelsuite se konsertinadeure was oopgevou en die twee afvaardigings het in ‘n halfmaan op gemakstoele gesit terwyl die perskameras geklik het. Agter hulle het ‘n teetrollie met fyn koppies en oordadig versierde koeke gestaan.  Ek onthou dr. Carel de Wet het heel links gesit en Vorster en Callaghan langs mekaar in die middel.  “Are all these men yours?”, het Callaghan vir Vorster gevra en na die klomp persmanne gewys.  “No,” was die vinnige antwoord, “I believe half of them is yours!”. 

Agterna het ‘n vriend van my, wat lid was van die SAUK se parlementêre span, vertel dat hy gehoor het  hoe ‘n Britse joernalis op ‘n ietwat sarkastiese toon teenoor Vorster opgemerk het dat dit seker vir hom ‘n groot opoffering was om sy vakansie vir die samesprekings “so far from town” te onderbreek. “Not really”, het Vorster droogweg opgemerk “I had to come in for a haircut”. 

Die samesprekings het nie veel opgelewer nie.  Ian Smith het nog vir ‘n paar jaar aan sy bewind vasgeklou – ondanks die feit dat Callaghan betreklik kort na die PE-beraad vir Harold Wilson as Arbeider-premier opgevolg het. Sy termyn was kortstondig en hy is oortuigend deur Margaret Thatcher se Konserwatiewe Party verslaan. Eers daarna kon die Rhodesiese kwessie met die Lancaster-beraad soort van opgelos word.

Geplaas Augustus 2021