Deur Johannes Froneman
Daar was ‘n tyd toe poniekoerante — die sagte naam vir die sensasiepers — soos soetkoek verkoop het. Die Son het ons grootste dagblad geword, Sondag het (onsuksesvol) die mark getoets en die Daily Sun het hoogtes bereik waarvan niemand nog kon droom nie. Rapport kon nog met ‘n mengsel van populisme en ‘n meer intellektuele aanbod sy breë leserspubliek tevrede hou.
Intussen het ook dié populistiese pers byna heeltemal in duie gestort. Op die oomblik oorleef net Son (as ‘n gedrukte weekblad). Daily Sun is nog aanlyn te lees, maar wat het van die 500 000 kopers per dag geword?
Wat hier volg, is dus deels deur die tyd ingehaal: Son is drasties ingekort en Sondag het verdwyn. (So ook Rapport.) Die artikel “Setting the tabloid agenda: What two Afrikaans-language tabloids offer their readers” is omtrent net mediahistories van belang. Die artikel (in Communication, 2012) deur Alé Smith, Lynnette Fourie en Johannes Froneman se gevolgtrekking was dat Son se sterk gemeenskapsfokus sy lesers voorsien (het) van relevante en bygewerkte inligting wat hulle in hul alledaagse lewens kan toepas. Dit was hulle suksesresep.
Daar is voorgestel dat ’n suksesvolle Afrikaanse poniekoerant plaaslike, gemeenskapsgerigte stories moet bied wat betrekking het op die alledaagse lewens van sy lesers — soos wat Son gedoen het.
In vergelyking daarmee het Sondag (onder Willem Pretorius se redakteurskap) meer soos ’n supermark-poniekoerant gelyk, met ’n fokus op bekendes. Amper soos ‘n weeklikse Huisgenoot.
Vandag oorleef Son dalk juis omdat die blad volgehou het met ‘n fokus op gemeenskapsnuus, aangebied op ‘n populistiese styl. Die blad vind vermoedelik steeds sy lesers in die meestal bruin Afrikaanse werkersklas. Daardie fokus was nie by Sondag aanwesig nie, hoewel genoem kan word dat Son op Sondag ook gevou het. Hier is geen maklike antwoorde te vind op die ineenstorting van die papierkoerantmark nie.
Hoewel Son se sirkulasie ook dramaties geval het, oorleef die blad as weekblad. Langs dié Son verskyn die dagblad Die Burger in dieselfde verspreidingsgebied. Het Die Burger iets by Son geleer?
Wat meer as een leser opmerk, is dat Die Burger se voorblaaie meer dikwels lyk soos Son. My artikel in Litnet (https://www.litnet.co.za/is-die-burger-die-nuwe-son/) het hierdie verskynsel reeds in 2024 met vers en kapittel aangetoon. In die jongste tyd word dit daagliks bevestig.
Nou is daar geen fout te vind as Die Burger meer lesers in die Son-leserskring soek nie. Ook nie by diegene wat voorheen Rapport gekoop het nie. En jare gelede die Landstem.
Die wyse waarop dit gedoen word, is noemenswaardig. Hoofopskrifte op die voorblad soos ‘Bly stil of ek skiet jou vrek’ (Die Burger, 24 September 2025) en ‘Daddy, Mammie gaan huis toe kom’ (Die Burger, 25 September 2015) vertel sy eie verhaal. Dit fokus op die emosionele.
Neem Die Burger se tradisionele lesers daarmee genoeë? Daardie mense wat Piet Cillié, Wiets Beukes, Ebbe Dommisse en Bun Booyens se koerant gelees het omdat dit iets van hulle idee van nuus, aanbieding, balans en gemeenskap weerspieël het?
Of is daardie lesers nou almal saliger en het die jonger, plaasvervangende gehoor reeds vertrek — oorsee of na die internet? En kan Die Burger oorleef met met sensasionele voorblaaie? Of is die honger na gemeenskapsnuus steeds die weeklikse Son se domein, een wat sy lesers kwalik teen R17,50 per dag aan Die Burger gaan afstaan?
Die jongste sirkulasiesyfer vertel sy eie storie. Die Burger se daaglikse verkope is in die omgewing van 24 000 en Saterdae skuif dit op tot 35 000. Hierdie syfers reflekteer die situasie in die eerste kwartaal van 2025, selfs voordat die Saterdagkoerant met die herlewing van By meer waarde bied.
Wat my of ander (gewese) lesers se mening ook al is, die blad het die stang klaarblyklik vasgebyt en verras ons dalk nog met verdere stygings in sirkulasie. Nou moet ‘n paar groot adverteerders net terugkeer.
Die Burger as hibriede koerant (sensasie op die voorblad en ‘n mengsel van “gewone” nuus binne) laat Piet Cillié dalk in sy graf draai, maar het die koerant onder sy leierskap nie reeds 50 jaar gelede bewys dat ‘n moord en mooi nooi elke dag sirkulasiesyfers opstoot nie?
Geplaas op 11 Oktober 2025