‘DIE AFRIKANER’ OORLEEF REEDS 55 JAAR TERWYL ANDER WEGVAL

Die hoofartikel in Die Afrikaner van 21 Februarie 2025 skets ‘n prentjie van hoe ook regsgesinde publikasies deur die jare ontstaan en gevou het — met ‘n enkele uitsondering: Die Afrikaner, mondstuk van die Herstigte Nasionale Party (HNP). Die artikel, wat mediahistories van bepaalde belang is, lui, onverkort, as volg: 

“Aan die begin van die jaar het dit maar stil-stil verby gegaan, maar dit was in Januarie vanjaar 55 jaar gelede dat Die Afrikaner die eerste keer die lewenslig gesien het onder die vaandel van Strydpers Bpk, wat deur die HNP begin is kort na die stigting van die HNP in 1969.

Die heel eerste uitgawe van Die Afrikaner.

Later sou die blad in tydskrifformaat verskyn.

“Die afgelope maande het baie veranderinge op die joernalistieke toneel plaasgevind. Die ou Naspers-ryk, wat dit al ‘n paar dekades vroeër reggekry het om die  Afrikaanse publikasies van Perskor, waaronder Die Transvaler, Vaderland, Oggendblad en Hoofstad, uitgeknikker te kry.

“Dit was ‘n suidelike oorwinning oor die noorde, en die meer linkse Naspers, met sy publikasies Beeld, Rapport, Die Burger, Volksblad en Oosterlig, het oorgebly, en was instrumenteel in die proses van breinspoeling om die oorgawe van die FW de Klerk-Nasionale Party deurgevoer te kry.

Oosterlig het al vroeg-vroeg gesneuwel, nadat die Oos-Kaap al minder Afrikaans geword het. En einde verlede jaar is Beeld ook saliger, en is Rapport nou net ‘n elektroniese uitgawe op die Internet.

“Twee van die mees linkse breinspoelers is weg, en in die Kaap klou Die Burger nog angsvallig vas aan sy bestaansbasis. Baie Afrikaners het van die noorde verhuis na die Kaap, en dit laat Die Burger steeds oorleef. Hoe lank dit nog sal duur, sal gesien moet word.

“Ander publikasies aan die regterkant, het nie veel beter gevaar as wat nou met die Naspers/Netwerk24-groep gebeur nie. Toe die KP opgegaan het in die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB) van Cassie Aucamp, is Patriot (later Patriot Weekblad toe hy ‘n gaping gesien het met die toemaak van Die Transvaler se opvolger, Metro Weekblad) ook oorgedra na die AEB en het toe Impak geword.

“Impak se impak het net een parlementêre termyn geduur, want die toe AEB sy enigste setel verloor, was daar nie meer geld om Impak voort te sit nie. Die ou Boerestaatparty se koerant, Die Boerant, het ook nie baie lank na mnr. Robert van Tonder se heengaan bly voortbestaan nie.

“Dan was daar sedert die laat 1980’s ‘n nuwe verskynsel aan die ver-linkse kant, naamlik Vrye Weekblad,wat deur Max du Preez uitgegee is. Dié weekblad het ‘n beperkte maar invloedryke linkse leserspubliek gehad. Vrye Weekblad het nie omgegee om op tone te trap nie, veral nie van sekere staatsentiteite.

“In een van die gevalle is hulle aangevat, het hulle in die hof bloedneus gekry teen genl. Lothar Neethling van die polisie, en toe die regskoste rekening inkom, moes Vrye Weekblad (VWB) ook deure sluit. In 2018 het dit weer as ‘n digitale publikasie die lig gesien, maar finansiering vir ‘n lywige redaksie het mettertyd opgedroog.

“Vanaf vroeg in 2024 is Vrye Weekblad nie meer gratis beskikbaar nie en moes lesers inteken teen R75 per maand. Dit het nie gerealiseer nie, en nou is die geld weer eens op.  Baie duidelik wou die linkses wel Max se goed lees, maar was nie bereid om een bottel wyn per maand op te offer vir sy linkse sienings nie. Selfs die linkses het dus nie gedink dat Max se sieninge R75 per maand werd is nie.

“In van die kommentare op Max du Preez se aankondiging dat VWB einde Maart sy deure gaan sluit, het een persoon dit reg opgesom: “Ek dink nie dit was net die R75 nie. Dit is ook die liberale roete wat Max deur die jare gevolg het wat hom die gramskap van die meeste Afrikaners op die hals gehaal het. Nie veel mense het sy koerante juis daaroor gekoop of ingeteken. Ek het mos baie die kommentaar van vriende gehoor oor die VWB.

“Dus nie net die gedrukte media is onder druk nie, maar ook die aanlyn-media. Daily Maverick moes ook onlangs inkort, want hy wil graag sy publikasie oophou vir die publiek sonder dat hulle daarvoor moet betaal. Daar was ook die regse aanlyn-publikasie, Landnuus wat deur Jan-Tinus Smuts bedryf is. Ook dié het na ‘n kortstondige bestaan verdwyn.

“Na die sluiting van die Suid-Afrikaanse Pers Assosiasie (SAPA), het Maroela Media daardie gaping gesien en gevul. Hulle voordeel is dat dit deel van die Solidariteit-familie is waar geld geen probleem skyn te wees nie. Maroela Media probeer baie objektief bly, maar gee wel meer behoudende instansies en menings kans om ‘n standpunt te stel.

Die Vryburger is ‘n aanlyn-publikasie wat weeksdae verskyn, maar hoofsaaklik ‘n opsomming gee van die dag se nuusgebeure, met ‘n regs-regstellende kommentaar daarby. Wat die invloedsfeer van dié publikasie is, is baie vaag.

Die Afrikaner is dus 55 jaar aan die gang: ‘n tradisionele grootte koerant met sy stigting, toe rondom die 1974-verkiesing in tydskrif-formaat, later weer ‘n tablet-grootte koerant, tot dit weer ‘n tydskrif geword het.

“Die tydskrif kan nie meer gedruk word nie vanweë hoë drukkoste, en versending moes gestaak word weens die ineenstorting van die Poskantoor. Tog word Die Afrikaner steeds in tydskrif-formaat uitgelê, en in PDF-formaat uitgestuur na sy lesers, wat nie meer intekengeld hoef te betaal nie.

“Iemand wat werklik wil, kan Die Afrikaner steeds uitdruk en as tydskrif in die hand hou – iets wat tans uniek is, want feitlik alle publikasies skuil agter ‘n intekenmuur en word nie meer in ‘n uitdrukbare formaat geproduseer nie. Intussen het die ou Radio Pretoria, wat tans Pretoria FM is en meedoen aan die linkse doodswyg van die HNP en sy aktiwiteite, ook ‘n koerant uitgebring, Nuusweek. Dié publikasie is nou ook in PDF-formaat beskikbaar.

“Al stem ons nie noodwendig saam met Pretoria FM se standpunte nie, en dus ook nie met Nuusweek nie (en ook nie Maroela Media nie), is dit tog ligpunte in die volksjoernalistiek, en word daar gesamentlik tog ‘n ander boodskap uitgestuur as wat Netwerk24, Vrye Weekblad, SABC en ander in mense se kele wil afdruk.

“Die prentjie is selfs groter. Die uiters linkse CNN in Amerika, het sover oorboord gegaan in die verkondiging van linkse filosofieë, dat hulle hul geloofwaardigheid verloor het. Met dié dat die wêreld weer meer neig na volksnasionalisme, gaan ook die geloofwaardige joernalistiek in daardie geledere gevind word, en is dit noodsaaklik om daardie instellings te ondersteun.

“Die linkses het nie kans gesien om R75 per maand aan VWB te bestee nie. Laat ons hoop dat ons lesers wel bereid sal wees om R100 per maand vrywillig aan Die Afrikaner te bestee ter wille van sy oorlewing. Immer, dit wat Die Afrikaner 55 jaar gelede gesê het, is bewaarheid en het ons dus reeds ons geloofwaardigheid bewys.

“Daarbenewens is ons waarskynlik die enigste publikasie wat onbeskaamd blankeskap, Afrikanernasionalisme en die strewe vir ‘n eie vaderland vir die Afrikaner onbeskaamd uitdra. Mag ons die genade en vermoëns kry om dié werk voort te sit tot ons ons vryheid bekom het!”, aldus Die Afrikaner.

Naskrif: ‘n Voorloper tot Die Afrikaner was Veg, uitgegee onder redaksie van Barrie Botha, maar waarskynlik onder aansporing van Jaap Marais en ander figure wat van die Nasionale Party weggebreek het om die HNP te stig.

Lees ook die artikel oor Die Afrikaner by https://mediamense.com/die-afrikaner/

asook