Deur André de Beer
Dis 1981. Laingsburg is in die nuus nadat die Buffelsrivier oor sy walle stoot en die dorp verwoes. Oral in die land plant Umkhonto weSizwe bomme. Durban is een van MK se belangrike teikens. Hulle saboteer spoorlyne en ontwrig vervoer. Die land brand! Ek is ‘n joernalis by die Durbanse nuuskantoor van die SAUK.
Vroegoggend op 26 November lui my huisfoon my wakker. Dis Jan Olivier, my nuuskollega. “Daar’s bollie by Louis Botha-lughawe!” laat Jan my weet. “Lyk my dis ‘n geskaakte vliegtuig of iets. Jy’s die naaste aan die lughawe. Ry!”
Ek ry! Oop-en-toe lughawe toe in so ‘n ligte misreëntjie. Ek besluit ek moet by die hoofkwartier van die Lugmag se 15 Eskader (die chopper-manne) inkom. Daar sal ek die naaste aan die aksie wees. So dink ek.
Ek bullshit en trek rang en smeek, totdat hulle my in ‘n oop kantoor net om die draai van die Opskamer af laat sit. Dis hier waar dit gons soos hulle probeer om die krisis op te los. Reaksiespanne staan gereed vir aksie.
Maar ek is nie tevrede nie. Geen telefoon nie. Geen venster nie. Geen hoop nie. Al hoor ek wat op die grond aangaan, hoe gaan ek dit vir die res van die wêreld vertel. Totdat skakelbord aan diens kom is daar net een buitetelefoonlyn beskikbaar. En die manne met die groot range gaan hom beslis nie vir my gee nie.
Boonop is 15 Eskader aan die noordelike punt van die lughawe en ek hoor die vliegtuig staan op die suidelike punt. Ek bedank die manne en besluit om nader aan die aksie te kom.
Ek ry suid totdat ek die vliegtuig seker so 400 meter van my af kan sien. Die trappe is tot teen die oop deur gestoot, maar daar’s geen teken van lewe nie. Ek moet nader.
Nou’s dit ek en die misreën. Ek slof deur die nat gras aan tot teen die heining om die aanloopbane. “Nou kook ons met gas,” dink ek. Die volgende oomblik hoor ek die bekende klank van ‘n vuurwapen wat gespan word.
“Staan net waar jy is!” sê ‘n stem agter my. Soos ‘n wafferse cowboy steek ek my hande in die lug op en draai stadig om. Daar staan ‘n Spoorwegpoliesman met ‘n gelaaide handmasjienkarabyn (HMK) met sy vinger op die sneller. Reg om De Beer bokveld toe te stuur. Mense wat ‘n Uzzi ken verstaan hom. Die poliesman lyk maar onhandig met die skietding.
Ek bid maar so stilletjies die ding se veiligheidsknip is op of die magasyn leeg. Die stasieblompot eskort my aanklagkantoor toe. Maar in die ry lughawegebou toe sien ek op die Avis-kantoortjie se balkon staan een van die werkers die hele skakingsdrama en dophou. Praat van ‘n grêndstand-sitplek!
By die aanklagkantoor staan die sersant my en inwag. Sy groen safaripak span oor ‘n belowende boep. Hy spog met ‘n ernstige whisky-tan. Sersant trap my vir 10 minute lank uit.
Ek vrees net dat die are op wange gaan bars. Hy dreig my met alles van deportasie tot arrestasie en sommer nog ‘n hele paar ander …asies daarby. As ek my voete weer op die lughaweterrein sit is daar groot moeilikheid. Loop nou en moenie terugkom nie.
Ek kyk hom in die oë en probeer jammer lyk. In die agtergrond kraak die tweerigtingradio. “Zero, dit is Romeo Mike. Daai manne soek ‘n bus by die vliegtuig,” kom dit oor die radio. Ek groet die sersant en vat die pad. Ek spring in my kar en jaag om by die nuuskantoor te kom. Dié nuus moet die wêreld ingestuur word.
Maar hoe? Ek is dan die lughawe belet. Ek soek Avis se foonnommer op en bel Mnr Avis. Hy word my oë en ore op die lughawe. Stuksgewys ontvou die drama in Durban terwyl Mnr Avis heen en weer hardloop tussen sy kantoortelefoon en die balkon om vir my oor die jongste verwikkeling te berig.
Hy sien mense in wit gewade op die toneel. Daar’t nou ‘n bus gestop. Mense kom die trappies af. Hulle is in die bus en daar gaat hulle. En ek stuur die nuusberigte die wêreld in. So met twee vingers op die teleksmasjien. Wat sou ‘n mens nie wou gee vir vandag se selfoontegnologie nie.
Só het dit afgeloop vir die klomp wat op Louis Botha geland het, aldus A newspaper history of South Africa.
Uit die Seychelles loop United Press International met die verwikkelinge daar. Die groter prentjie word geleidelik duidelik. Hoe “Mad Mike” Hoare (hooffoto heel bo) en sy trawante ‘n staatsgreep in die Seychelles wou uitvoer. Hoe hulle planne skeef geloop het en hulle hulself uit die moeilikheid moes skiet. Hoe Air India se Boeing 707 van Salisbury (Harare) onderweg na Bombaai op Mahé geland het vir brandstof. Hoe Mike se Manne die vliegtuig “geleen” het om weg te kom. Tot in Durban waar ek hulle in die nat gras deur die draad moes dophou totdat ek gearresteer is.
Dis 1982. Ek is benoem vir ‘n Artes-toekenning, die SAUK se prestige prys om uitnemendheid in uitsaai te beloon. Ek moet Johannesburg toe vlieg. Maar ek onthou nog Sersant se waarskuwing. Ek is te jonk vir al die vorms van …asie waarmee hy my gedreig het.
Koerante het ook wyd oor die mislukte staatsgreep berig.
Ek oortuig my vrou om in die aanklagkantoor te gaan loer of daar nie dalk ‘n sersant of adjudant met ‘n whiskey-tan en ‘n boep aan diens is nie. Mens kan nooit te versigtig wees nie. Ek vlieg vandag nog nie graag van Durban af nie. Mens weet nooit.