‘DE KAT’ BYT VAS, ‘INSIG’ EN ‘NUUSNOU’ SLUIT, EN NUWES KOM BY

In Junie 1985 kom redakteur Johan van Rooyen en die  uitgewer Greg Psillos met ‘n tydskrif op die mark vir almal wat iets anders as die populisme van die hoogs suksesvolle Huisgenoot verlang het. Die blad beleef, soos alle publikasies wat in ‘n ernstiger mark ‘n nis probeer vind, moeilike finansiële uitdagings. Die blad kry ook mededinging van Insig, wat uiteindelik sluit. En daarna volg NuusNou, wat eweneens nie oorleef nie.

Die buiteblad van die eerste uitgawe van De Kat. Die blad was uit die staanspoor onbeskaamd elitisties en trek aanvanklik swaargewigte soos Rykie van Reenen, P.G. du Plessis en Hennie Aucamp as medewerkers.

Buiteblaaie soos hierdie het nog altyd aandag getrek.

De Kat het teen alle verwagtinge in as onafhanklike blad sy dertigste verjaarsdag gevier.

Links onder: Die omskepping van Huisgenoot in die laat 1970’s in ‘n populistiese massablad het ‘n leemte in Naspers se aanbod gelaat vir ‘n ernstiger Afrikaanse tydskrif. Vandaar Insig, wat in 1987 onder die redakteurskap van dr. Piet Muller verskyn het. Hier is Insig se eerste buiteblad. Regs onder: Muller is opgevolg deur nog ‘n swaargewig, Willem Wepener (oudredakteur van Rapport en Beeld). Daarna volg die uitgewer Koos Human, onder wie se redakteurskap hierdie uitgawe verskyn het.

Die milleniumuitgawe (links). In Maart 2006 spog Insig (met Elmari Rautenbach, wat uittree as redakteur) met sy prys as beste “verbruikerstydskrif” én met sy formidabele span medewerkers.

IIzelle Venter en haar kollegas het ‘n nuwe nis vir die tydskrif in ‘n veranderende mark probeer vind. Maar dit het nie geluk nie. Middel 2007 sluit Insig met ‘n uitgawe met verskeie buiteblaaie.

In die laaste uitgawe herinner die redaksie lesers aan die voorblaaie.

Franz Marx betreur die sluiting van Insig met hierdie artikel in Rapport.

Tydskrifte soos Newscheck en To the point het onsuksesvol die nis vir ‘n Suid-Afrikaanse nuustydskrif probeer vul. Dieselfde lot het NuusNou (en sy Engelse tweeling, NewsNow) getref. Hierdie besonder netjies geredigeerde tydskrif het die gesofistikeerde mark getoets, maar moes die aftog blaas. Die eerste redakteur, Waldimar Pelser, is bevorder tot redakteur van Rapport en hy is deur Charlene Rolls vervang.

Soos wat tydskrifte sluit, kom nuwes op die toneel. Twee voorbeelde is Bruis en Plus50, wat albei op die senior mark (50-plussers) gemik is en deur onafhanklike uitgewers besit word.

\

Lees meer:

Stephanie Nieuwoudt se artikel op The Media Online, DE KAT: Thirty years old and still growing strong. https://themediaonline.co.za/2015/04/dekat-thirty-years-old-and-still-growing-strong/