DANK AAN DIE MANNE VAN DIE SETTERY EN ROLPERS

Elders wys ons hoe van die setmasjiene van ouds gelyk het en hoe drukwerk ontwikkel het. Hier bring LUDWIG VISSER hulde aan daardie mense wat joernaliste se werk geset en gedruk het. Sonder hulle was joernaliste se werk vergeefs. Foto bo: Volksblad het hierdie foto en berig geplaas by die inwyding van ‘n nuwe rolpers in 1992.

Die eerste een met wie ek te doen gekry het as jong verslaggewertjie by Die Burger was die settery-voorman. Een Sondagnag toe ek nagverslaggewer was – by die Langkantoor soos dit destyds genoem is —  stuur die hoofsub my laat nag af na die rolpers onder in die gebou om om “blekers” te gaan haal. Ek had nie die vaagste benul waarvan hy praat nie, maar ek weet darem hoe om by die rolpers onder in die gebou in Keeromstraat 30 te kom.

Daar loop ek my in ‘n vreemde wêreld vas, met baie manne wat daar rondwoel en werskaf, en een wat net een been het. Toe ek hom vir “blekers” vra, het hy my aangekyk en geweet ek is  ʼn jong snotkop, en hy druk my ‘n klomp koerantvelle in die hand. Ek kom toe agter dis  die blaaie wat vroegaand al klaar was en wat al deels deur die pers geloop het. Later het ek die man met die een been beter leer ken, as baie knap, baie vriendelik, Basil van Oudtshoorn. Hoe hy die been verloor het, het ek nooit gevra nie.

Dr. D. F. Malan, eerste redakteur van De Burger (middel), kyk hoe ‘n setter besig is met die set van die koerant. Hierdie foto kom uit die Malan-versameling by die Universiteit Stellenbosch-biblioteek en is afgedruk in die boek 1915-2015 Die Burger, onder redaksie van Bun Booyens en Aldi Schoeman.

Nog later het ek die manne in die settery leer ken. Oom Manie, soos ons hom genoem het, was die kop-setter. As jy die aand gesub het en die kop wat jy deurgestuur het settery toe kom terug na jou toe met ‘n aantekening “TL” daarop, moes jy weet, dit was te lank, oom Manie kon dit nie set nie. Dan probeer jy dit korter maak en stuur dit weer. As dit dan weer terugkom met ”NTL” daarop, moes  jy weet, dis ”Nog te Lank”. 

Dan het jy maar weer probeer. En as dit dán terugkom met “NTFL!” daarop, het dit nie baie raaiwerk gekos om te weet wat die ”F” verteenwoordig nie, dan het jy maar eerder ‘n nuwe kop geskryf!

Net ter verduideliking: As subs moes ons altyd weet presies hoeveel letters in ‘n sekere kopgrootte in twee of drie kolom pas. Ons moes die letters in die kop wat ons skryf letterlik een vir een tel, met ‘n halwe spasie vir ʼn “l” of ʼn “i”. Byvoorbeeld: 18 onderkas kon 15½ letters per kolom hanteer, 24 bokas 12 letters, 36 okas 17½ per 2 kol, 42 okas 14 per 2 kol, ensovoorts. Vandag  se subs het nie hierdie moeite nie, want die rekenaar tel die letters vir hulle en sorg dat die koppe pas.

Dan was daar die bladpakkers, die manne, hulle is in Engels “random minders” genoem,  wat die loodgietsel in die staalrame moes inpak waarmee die blaaie uiteindelik gegiet is. Hierdie manne kon die agterstevoor en onderstebo lood-setsel gladweg lees soos hulle dit gesien het en in die staalrame moes pak, en hulle kon jou as sub baie help om laatnag vinnig sommer daar op die steen ‘n berig te sny wat ʼn paar reëls te lank was om in die toegewysde spasie te pas.

Hulle was net sulke karakters. Veral een,  ons het hom as “Attie” geken, uitgespreek op die Engelse manier, want hy was so ‘n rooi, bebaarde halwe Engelsman met die naam Attmore. Een Saterdagaand by Rapport kom ek in die settery, en ek sien oral die manne eet heerlik aan  stukke gebraaide hoender en hulle drink Coke so tussen die bladpakkery deur.

Ek vra toe wat hulle vier en verstaan toe Attie het groot geld gemaak op die middag se perdewedrenne en hy het toe sy kollegas so bietjie onthaal. Die Sondagaand werk ek weer. Attie is weer daar. Maar hy lyk so suur en bedinges. Ek verneem toe maar by  ʼn kollega wat  met hom aangaan. Die “dubbel” wat hy die vorige aand gewen het, het toe net R1,50 uitbetaal, en nie die groot geld soos hy verwag het nie. Hy moes toe maar uit sy eie sak vir die gebraaide hoender en die Cokes betaal!

Die bladpakkers was ʼn besondere klomp, want hulle moes vinnig werk om die koerant voor saktyd klaar te kry. Een van hulle, onthou ek, was ‘n Hollandse omie, en as hy klaar was met ‘n blad, veral as dit baie druk gegaan het, was sy kommentaar wanneer die loodblad op so ’n ysterwaentjie weggestoot is: “Wat een zware bevalling!”

Die omie wat al die verskillende pakke loodsetsels bymekaar moes sit om ’n berig te vorm, was ook ‘n karakter, oom Willie Coetzee. Ek het altyd die indruk gekry dat hy ‘n loopneus-probleem het, want hy het altyd  ’n sigaret in die mond gehad en daar het dikwels so ‘n watertjie uit sy neus geloop en gelyk of dit om die sigaret draai, maar die onderskeie dele van die berigte het altyd reg by mekaar uitgekom, ondanks die ou hinderlikheidjie onder sy neus!

Hoeveel snaaksighede ‘n mens ook al oor hierdie span manne onthou,  kan jy nie anders as om hul rol te erken in die nuuswese nie. Sonder hul toegewyde werk, sonder hul bereidheid om al die spanning van sluitingstye te hanteer en by daardie tye te hou, sou die koerant nooit op straat verskyn het nie.

Ek onthou hoe ‘n klomp van ons nagwerkers – die subs en vertalers en hierdie klomp manne uit die settery – snags met ʼn bakkie huis toe geneem is, d.w.s. ons wat iewers naby die koerant gewoon het, maar nie ons eie  vervoer twee-uur snags gehad het nie. In die bakkie is altyd geskerts oor die aand wat verby is, en met groot verligting gepraat dat al die saktye gehaal is. Vandag, soveel jaar later, weet ek wat werklik agter daardie laatnag-praatjies geskuil het.

In ’n stadium het Die Burger sy eie teleksmanne gekry, Lewis Blom en Nottie Nothnagel. Hul koms was vir ons nagmanne ‘n groot verligting, want ten minste hoef ons toe nie meer nog die teleksmasjiene ook dop te hou nie. Die goed se papier het mos gedurig opgeraak, en wat ‘n gesukkel was dit dan nie om ’n rol papier in so ‘n masjien te kry terwyl hy lustig voortwerk.

Die koerant het toe ook nog nie landlyngeriewe gehad nie. Alle foto’s wat per landlyn van elders of oorsee aangestuur is, moes laatnag by die hoofposkantoor afgehaal word. Om een of ander rede onthou ek nog  die nag van 31 Mei toe die land ’n republiek geword het. Vir my het daardie oomblik op die sesde verdieping van die hoofposkantoor aangebreek toe ek laatnag in die stil, halfdonker gang afgestap het om landlynfoto’s te gaan haal.

Sulle oomblikke en sulke mense sal  ‘n mens jou lewe lank bybly en jou herinneringe verryk. Hulle was almal aangenaam.