Dana Snyman is by uitstek die optekenaar van ‘n verbygegane era. Nostalgie is sy genre en hy doen dit beter as enigeen. Ook in ‘n stuk wat hy in 2022 oor Hennie Brand geplaas het. Daarin bring hy hulde aan Hennie, maar sommer ook aan al die sportskrywers wat sy lewe deur die jare verryk het.
Dana het geskryf:
“Hennie Brand, gewese rugbyskrywer van Beeld, is in die week oorlede. Hartseer nuus.
“Miskien is dit ’n verdrietige bekentenis, maar ek lees altyd die sportblaaie eerste in die koerant, ongeag wat op die voorblad is. So is dit al vandat ek as laerskoolkind koerant begin lees het.
“Die eerste skrywers wat ek bewonder het, was rugbyskrywers: Dirk Kamfer, Hennie Gerber, Phil Zaayman. Johan Volschenk. Joe Venter.
“Hulle was die manne op die toneel wat kon sien hoe drop, place en score Frik du Preez en daaroor skryf. Leon Gouws, Bokkie Gerber. Gerhard Burger.
“In 1981, toe die Bokke in Nieu-Seeland getoer het, was daar ’n foto in Rapport van Phil Zaayman wat sy flenters tikmasjien vashou. Zaayman het die tikmasjien – dit was in ’n handtassie – in ’n hotelvoyeur vergeet, toe dink die Kiwi-polisie dis ’n bom en blaas dit op. Dit het my baie beïndruk. Phil was dáár, byna soos ’n oorlogkorrespondent.
“Quintus van Rooyen. Fritz Joubert. Frikkie van Rensburg. Neil Steyn.
“Jare later het ek in dieselfde kantoor by Beeld in Pretoria as Quintus gewerk. Quintus van Blouen, soos party hom genoem het. Quintus, wat altyd ’n baadjie en ’n das gedra het, kon nooit veel fout met die Bulle vind nie, al het hulle verloor.
“In die kantoor is soms gesê: “Hoe weet jy Quintus is op vakansie? Hy het nie ’n baadjie en das aan nie.” Quntus het wanneer hy met verlof was – dit was voor selfone – steeds ingekom om sy rugbykontakte, hier en oorsee, te bel. Hy kon driftig raak, Quintus. Nadat Natal vir Noord-Transvaal in 1990 op Loftus in die Curriebeker-eindstryd geklop het, het sy stem tydens ’n warm foongesprek deur die kantoor weergalm: “Sy broer het witmense met klippe gegooi, man!” (Dink dit het gegaan oor een van die Natal-spelers)
“Dan Retief. Lappe Laubscher, John du Toit. Colin Hoffman, Christo Buchner, Herman le Roux (foto onder).
“ ’n Jaar of wat gelede loop ek vir Herman raak, en wat ’n voorreg was dit nie. Hy vertel hoe hy in ’65 voor ’n wedstryd vinnig vir Sakkie van Zyl, Bok-stut, ’n klippie buite die stadion moes gaan soek. Van Zyl het altyd met ’n klippie in die mond gespeel.
“Herman is 86, ek behoort hom oom te noem, maar ‘n rugbyskrywer word nie ‘n oom nie.
“André Bester. JJ Harmse. Morris Gilbert. Ryaan Adriaanse, Rudolph Lake. Freddie Hendriks. Henk Steenkamp. Christo Lemmer en Louis de Villiers – die Charles Bukowski van ons rugbyskrywers, wat ek een aand op Ellispark woeste tale hoor spreek het toe sy laptop kort voor saktyd begin lol het.
“Rugbyskrywers is guerillaskrywers: Hulle werk teen spertye en moet knaend ’n loopgraaf in duik vir die donshael en grofgeskut van selfaangestelde rugbykenners, afrigters en rugbybase.
“Michael Green. Hendrik Cronjé. Brenden Nel. Cobus Claasen. Stephen Nell. Leighton Koopman. Marnus Kok.
“Heelparty van hulle is al oorlede: Quintus, Neil Steyn, Lappe… en nou ook Hennie.
“Ek sien hom met sy draadrug-notaboek langs ‘n oefenveld staan of op die Beach Hotel in Durban se stoep saam met Jan Hamman, die fotograaf, wat ook al weg is oorkant toe. Hy het met ’n sagte stem gepraat, Hennie. Lakoniese glimlaggie.
“Vir almal van hulle, die lewendes en die gestorwenes, het ek respek en bewondering en sal ek altyd vir hulle stories die koerant, vir so lank daar nog koerante-op-papier is, omdraai en die agterste bladsye eerste lees.
“Rus is vrede, Hennie. Dankie vir al die stories. Sterkte ook aan sy familie en nabymense.”
Net so. Dankie, Dana.
Naskrif: Ons sal sportblaaie moet gaan afstof en foto’s daarvan plaas. — Kurator