WORLD, SOWETAN, DAILY SUN, NEW AGE…

Koerante vir en deur swart mense dateer uit die 19e eeu. Voorlopers was John Tengo Jabavu, wat die koerant Imvo Zabantsundu 1875 in King William’s Town gestig het, en John Dube, stigter van Ilanga LaseNatal. In die twintigste eeu het koerante vir swart mense meestal wit eienaars gehad, maar dit het stuk vir stuk verander. Vandag is bykans alle Engelstalige dagblaaie en Sondagkoerante onder swart beheer en met swart redakteurs.

Twee baanbrekers: John Tengo Jabavu (links) en John Dube.

Ironies genoeg, was Imvo lank in besit van Afrikaanse persmaatskappye. Hierdie advertensie het in die 1960’s in Dagbreek verskyn.

The World het swart aspirasies verwoord.

Die redakteur Percy Qoboza is deur die apartheidsregering sonder verhoor aangehou … en vrygelaat.

Steve Biko se dood is deur ‘n kommissie ondersoek. Jare later erken die polisie dat Biko onmenslik behandel is.

Die Sowetan kom tot stand nadat The World in 1977 deur die apartheidregering verbied is en sy onmiddellike opvolger, Post Transvaal, in 1981 gesluit het. Eers onder Joe Latakgomo en van 1988 tot 2002 onder redakteurskap van Aggrey Klaaste, neem Sowetan ‘n prominente plek in as stem van swart Suid-Afrikaners. Meer nog: die blad loods ‘n nasiebouprojek en gee hoop aan swart Suid-Afikaners te midde van die donker dae van die 1980’s se noodtoestande en geweld. Die blad trek egter swaar sedert die koms van die Daily Sun en kry noodgedwonge ‘n meer populistiese aanslag.

Die blad huldig een van die land se ikone.

Die New Nation het hoofsaaklik ‘n swart leserskorps gehad en was een van die sogenaamde alternatiewe blaaie wat in die 1980’s die stem van die ongedurige swart bevolking verteenwoordig het.

Links onder: Die eerste uitgawe van die Daily Sun, ‘n koerant gemik op die sogenaamde swart blouboordjiewerkers van Suid-Afrika. Dit het spoedig die grootste dagblad in die land geword en op sy hoogtepunt die 500 000-kerf gehaal. Regs: Die daaglikse dosis sensasie, geskryf in maklik leesbare Engels en saamgevat in treffende (hoewel soms effe misleidende) opskrifte en plakkate, ontstellende foto’s en bruikbare inligting het ‘n mark raakgeboor soos nog nooit voorheen in Suid-Afrika nie.

Die Daily Sun se groei het die Sowetan genoop om ook meer populisties te skryf en met plakkate soos hierdie lesers te trek. Die Daily Sun se sirkulasie het egter die afgelope tyd selfs erger as ander koerante s’n teruggesak. Maar dit bly die land se grootste dagblad en het aanleiding gegee tot die publikasie van verskeie ander populistiese koerante.

The New Age is deur die Guptas begin en grootliks met geld onderhou wat uit staatsinstellings getap is. Die omvang en detail daarvan is nog nie bekend nie. Toe die Guptas die land uit is, is die blad aan Zupta-ondersteuners “verkoop”, wat dit ‘n nuwe naam (Afro Voice) gegee het. Die blad het na ‘n kort tydjie gesluit.