CJ LANGENHOVEN — KAMPVEGTER VIR AFRIKAANS VANUIT DIE KLEIN KAROO

In die jare 1912 tot 1914 maak C.J. Langenhoven naam as redakteur van Het Zuid-Westen, ʼn Oudtshoornse koerant. Sy pro-Afrikaanse artikels word ook elders in die land gelees, aangesien hy gereeld bydra tot Die Brandwag, De Volkstem en Ons Land. Hy was ook ‘n gewilde rubriekskrywer vir Die Burger en sy boeke het meervoudige drukke beleef.

J.C. Kannemeyer se biografie oor Langenhoven gee ruim aandag aan Sagmoedige Neelsie se werk as redakteur en rubriekskrywer vir Die Burger.

Die boek is in 1995 deur Tafelberg uitgegee.

Hooffoto bo: Langenhoven se alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, het ‘n eregraad aan hom toegeken. Links van hom staan dr. D.F. Malan en regs genl. Jan Smuts en ander.

Langenhoven is in die distrik Ladismith in die Klein Karoo gebore. Hy studeer aan die Victoria-Kollege (nou Universiteit Stellenbosch) en word prokureur op Oudtshoorn. Hy is aanvanklik skepties oor Afrikaans se vermoë om sy man teen Engels te kan staan, maar verander mettertyd van mening.

Onder die skuilnaam Sagmoedige Neelsie skryf hy vir baie jare, tot met sy dood, die weeklikse rubriek Langs stille water in Die Burger

Langenhoven was vir ses jaar lank lid van die Kaapse Provinsiale Raad en ʼn senator. 

Foto’s uit sy lewe, soos gepubliseer in Kannemeyer se boek.

As politikus het hy ‘n reuserol gespeel om Afrikaans as skoolvoertaal erken te kry en het bygedra tot die uiteindelike volle erkenning in 1925 van Afrikaans as amptelike taal naas Engels. As skrywer was hy die mees gelese Afrikaanse outeur van sy tyd; sy boeke is by herhaling herdruk. As joernalis het hy Afrikaans as skerp polemiese instrument gebruik om sy taal en volk se saak te stel.

Langenhoven was ʼn enigmatiese genie, ʼn korrelkop wat literêre kritici nie kon veel nie, en die held van Afrikanerstudente. Hy weier ʼn Hertzogprys (wat hy sou moes deel), maar aanvaar ʼn eregraad van sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, waar hy altyd vol sale getrek het.

Vandag se Neelsie-sentrum op die kampus van die Universiteit Stellenbosch was oorspronklik die Langenhoven-studentesentrum voordat dit verander is tot die huidige naam, ‘n verwysing na sy koerantskuilnaam. Die sentrum is deels befonds deur studente wat reeds in die 1920 geld vir ‘n saal ingesamel het en die fondsinsamelings vir dekades daarna voortgesit het. — JDF

Lees meer oor Langenhoven by https://af.wikipedia.org/wiki/C.J._Langenhoven

Geplaas November 2024