EENS MAGTIGE ‘ARGUS’-KOERANTE KWYN — SAAM MET AL DIE ANDER

Die Argusgroep was vir lank die dominante koerantgroep in Suid-Afrika. In die 1990’s word Argus deur Tony O’Reilly se Independentgroep oorgeneem en later aan Iqbal Survé se Sekunjalo, ‘n sogenaamde swart bemagtigingsgroep, verkoop met die ondersteuning van die staat se beleggingsmaatskappy. Dit staan nou as Independent Media bekend.

Die Cape Argus is een van die heel oudste koerante in die land en verskyn reeds sedert 1857. Die blad was in die jare voor TV, toe Engelstalige middagkoerante hul markte oorheers het, ‘n bron van groot winste vir die Argusgroep (vandag Independent Media). Die winste het egter opgedroog en sirkulasiesyfers het skerp afgeneem. (Openingsfoto: ‘n Voorblad uit 1896.)

Die Cape Argus in 1900.

Die koerant in 1928.

Die koerant se voorblad by die dood van genl. Jan Smuts in 1950.

Die Cape Argus in 1963

Die koerant staan vir ‘n paar jaar lank net as The Argus bekend.

Voor die koms van die internet en sosiale media, het veral Argus-middagkoerante bladsye geklassifiseerde advertensies (smalls of snuffels) gedra.

Flieks is daagliks so geadverteer. Regs: ‘n Rugbyberig deur die befaamde A.C. Parker. By geleentheid het die Argus ‘n plakkaat gebruik wat gelui het: A.C. Parker on today’s test. Sy mening het getel en koerante verkoop – soos wat sommige die koerant gekoop het om te sien watter flieks wys.

Die Argus word weer die Cape Argus en nuut ontwerp.

Die Cape Argus het van ‘n middagkoerant na ‘n oggend-en-middagkoerant verander en selfs sy formaat na ‘n poniegrootte verander (en na ‘n Berlynse formaat), alles in ‘n poging om dalende sirkulasiesyfers teen te werk.

Die Cape Argus in 2020.

Die Argus se naweekkoerant was vir dekades ‘n groot winsmaker omdat dit ‘n reuse-hoeveelheid eiendomsadvertensies gedra het. Hierdie advertensies het egter in die era van digitale media opgedroog. Hier is voorbeelde van die weeklikse uitgawe van die Argus uit 1899 en die Weekend Argus uit die 1980’s, 2021 en 2024.

The Star en ander

The Star was vir meer as ‘n eeu ‘n staatmaker in die ou Argusgroep, nou Independent Media. Die maatskappy is nou ook die eienaar van verskeie ander dagblaaie, soos die Pretoria News, The Mercury en Cape Times. Laasgenoemde twee was nie deel van die ou Argusgroep nie, maar lede van die informele Morning Group. (Kyk afdeling oor Cape Times.)

The Star het reeds in 1987 sy eeufees gehad en was lank Johannesburg se toonaangewende koerant – ‘n dik, vaal koerant vol nuus wat groot winste vir sy eienaar besorg het. Maar tye het verander. Die Sowetan en Daily Sun het op die toneel gekom, die internet het die winsgewende kleinadvertensies afgerokkel en die swak ekonomie het sy tol oor die algemeen geëis. Tog is The Star steeds Independent Media se vlagskip.

The Star het as Eastern Star in Grahamstad begin en toe Johannesburg toe geskuif met die goudstormloop.

In sy eeufeesboek het The Star hierdie prominente voorblaaie uitgelig.

The Star se saaklike voorblad ná dr. H.F. Verwoerd se moord in 1966.

In die 1970’s het The Star so gelyk. Die hoofopskrif verwys na die gebeure rondom die destydse Departement van Inligting.

Só het The Star in sy eeufeesjaar, 1987, gelyk.

In ‘n bylae het The Star in 1987 teruggekyk op van die koerant se groot nuusstories.

The Star se treffende voorblad die dag toe Nelson Mandela as president ingehuldig is.

Die blad wat as die “groot gryse” bestempel kon word, het kleur al hoe sterker gebruik. Regs: ‘n Berugte misdadiger word vasgetrek. The Star het met hierdie voorblad homself oortref.

Verskeie Independentkoerante het nou ‘n blokkiemashoof links, maar die Pretoria News behou darem iets van sy eie identiteit op die voorblad.

Kyk ook na aparte inskrywing oor die Pretoria News.

Die Daily News van Durban het aanvanklik as The Natal Mercantile Advertiser bekend gestaan. Só het die heel eerste uitgawe gelyk.

Die koerant was teen 1886 net as The Natal Advertiser bekend.

Die Daily News was in die 1960’s, soos alle ander koerante, bra vaal. Maar in die 1970’s bring nuwe drukprosess kleur na elke voorblad. Daarna volg nog tipografiese vernuwing.

Geplaas op 10 Nov. 2020

Die Diamond Field Advertiser (DFA) het ‘n lang geskiedenis op Kimberley agter die rug — sedert 1878! Hier is van die tipografiese vorms deur die dekades. Die huidige situasie met die koerant is onbekend.