Bun Booyens is ‘n veelsydige joernalis wat op verskeie terreine gehaltewerk gedoen het en ander geïnspireer het. Hy is steeds met allerlei mediaprojekte besig. Hier beantwoord hy Johannes Froneman se vrae oor sy loopbaan.
Hoe het jy in die joernalistiek beland?
Ek moes kies tussen die onderwys en joernalistiek. Albei is na aan my hart. Ek het in 1987 ’n joernalistiek-internskap by die SAUK in Johannesburg gedoen en hulle het my toe ’n pos as videoredigeerder aangebied. Die werk was interessant, maar dit was polities ’n ongemaklike plek en ek het ná ’n jaar bedank. Toe was ek vir ’n jaar op Antarktika en het daarná ook onderwys in ’n tydelike pos in die Paarl gegee – baie lekker – en toe by Die Burger begin werk, die eerste van drie skofte daar.
Uiteindelik was jy vir ses jaar redakteur van Die Burger. Maar kom ons kyk na die eerste twee tydperke. Wat het jy as junior gedoen? En hoe het jou loopbaan aangeskuif?
Ek het maar die gewone paadjie geloop en met misdaadverslaggewing begin. Op my eerste dag moes ek ’n “klein politieke byeenkoms” in Kaapstad se middestad gaan dek. Dit was toe ’n massa-optog van 50 000 mense onder leiding van Desmond Tutu en die UDF, so dinge het nogal met ’n knal begin. Dit was ’n intense tyd. ’n Paar maande later het ek die koerant se omgewingsverslaggewer, ’n baie interessante “beat”, met elke dag iets anders.
Bun Booyens se voorbladstorie oor die Oseanos. Hy vertel daarvan in Die Burger-gedenkboek.
Hooffoto: Erkenning aan fotograaf Adrian de Kock.
Jy is later na die Wêreld-Natuurfonds (WWF), en gee klas op Stellenbosch. Vertel asb meer.
Destyds was WWF-SA nog as die SA Natuurstigting bekend, met Anton Rupert as voorsitter, ’n sonderlinge mens wat uiters waardevolle bewaringswerk op sy stil manier gedoen het. Ek het net skrams met hom te doen gekry, maar onthou hom as immer hoflik, en iemand wat met net twee of drie vrae by die kern van ’n kwessie kon uitkom.
’n Paar jaar later het daar ’n pos by Maties se joernalistiekdepartement oopgegaan en ek het vir twee jaar daar klasgegee, voor ek terug na Die Burger is. Ook daardie hoofstuk (by Maties) was iets besonders, want jy werk die hele jaar met groepie van 25 hoogs gemotiveerde nagraadse studente. Dit bly vir my lekker om hulle vandag in die bedryf teë te kom.
Weg! is onder Bun Booyens se redakteurskap begin en was uit die staanspoor ‘n reuse-sukses. Regs: Die pragtige eeufeesgedenkboek wat onder leiding van Booyens en Aldi Schoeman uitgegee is.
Ek vermoed die lanseer van Wegbreek/Weg was ‘n groot oomblik. Vertel iets oor die geveg om die handelsmerk.
Ja, dit was nogal ’n onverkwiklike geveg met Getaway, maar hulle het dit so lomp hanteer dat die hele affêre eintlik vir ons as ’n bemarkingsveldtog gewerk het. Ons het destyds in New Media, ’n filiaal van Media24, se kantoor gesit en hulle was besonder rats as uitgewers. Naomi Herselman en Irna van Zyl-hulle se aanvoeling vir die mark was 100% in die kol. Ek dink die sakeplan het gemik om ’n sirkulasiesyfer van 40 000 ná drie jaar te hê en ons was sommer ná drie uitgawes reeds verby daai kerf.
Jy het jou stempel deeglik op Weg! afgedruk. Hulle sê jy was ‘n uiters veeleisende redakteur … jy het geweet wat jy wou hê. Waar kry jy die stuk gesonde perfeksionisme, as ek dit so mag noem?
’n Mens kry in jou loopbaan dalk een kans om iets nuuts te begin met ’n nuwe span mense, en Weg! was vir almal – die redaksie en die advertensiespan – ’n nuwe begin. Ons het niemand geërf nie, almal wat daar was, wou daar wees. Uiters talentvolle skrywers, fotograwe en advertensiemense het hulself kom aanmeld en die mark was ryp vir ’n reistydskrif in Afrikaans.
Ek dink nie ek was juis veeleisend as redakteur nie. Weg! se lesers was meestal ervare reisigers en hulle het “eerlike” reisjoernalistiek waardeer. Daar was eenkeer ’n groep besoekers en iemand het vir Albertus van Wyk, toe die artikelredakteur, gevra hoe ons dit regkry om so ’n lekker tydskrif uit te gee en hy het gesê: “Hierso redigeer ons dat die bloed loop.” Dit was nogal hoe dit was. Ons het so ’n informele slagspreuk gehad van “R10 per woord”. As ons ’n paar woorde uit iemand se artikel gesny het hy of sy wou dit terugsit, kon hulle dit doen, maar teen R10 per woord. Dit het nooit so gebeur nie, maar almal het geweet elke woord tel. Letterlik. Jy moes so sterk voel oor elke woord dat jy bereid sou wees om R10 daarvoor te betaal.
Nog iets wat aan Weg! sy fokus gegee het, was die besluit om van meet af nie ‘freebies’ vir reisartikel te aanvaar nie, want as ons nie kon bekostig om na ’n plek te reis nie, hoe sou ons lesers kon?
En vreemd dalk, nog ’n klein dingetjie wat ’n groot rol gespeel het, was heel aan die begin het ons ‘n bietjie geld in ons begroting oorgehad en toe koop ons ’n rusbank vir die kantoor daarmee, sommer ’n gewone three-seater. Almal het toe met teetyd of etenstyd daar by die rusbank rondgehang, en die resultaat was dat almal by die tydskrif – veral die advertensiemense – presies geweet het waarmee ons besig is.
Die Weg!-jare was lekker, enersyds danksy vars mense met baie talent, en andersyds ’n besonder wakker lesersgemeenskap.
By Die Burger was jy kaptein van ‘n veel groter skip. Jy kon seker nie jou hand op álles hou soos by Weg! nie. Tog was dit vir jou ‘n baie bevredigende skof, lees ek iewers. Vertel iets oor jou redakteurskap by die koerant, wat jy seker van kleins af aan huis gelees het.
Ek het gewoonlik vroeg soggens ingekom, maar beslis nie tot middernag gebly nie. Dit was die tyd van die BlackBerry en ek kon die blaaie saans op my selfoon afteken. My tyd as redakteur het wel saamgeval met die drukmedia se eerste werklike probleme met die digitale wêreld. Die sakemodel het begin meegee en die gety het gedraai, dus is nogal baie van my tyd deur “korporatiewe” dinge in beslag geneem. Maar aan die nuusfront was dit waarskynlik die mees intense tyd post-1994, met Zuma wat met bykans heroïese onbekwaamheid besig was om die staat uit te hol. Dagbladjoernalistiek bly lekker, want op ’n manier kan jy elke dag skoon begin.
Bun aan die stuur van sake die aand toe Nelson Mandela oorlede is. Hy staan links. Johann Maarman (middel) en John-Grant Munro (regs) was belangrike medespelers. Die foto verskyn in Die Burger 100.
Jou en Aldi Schoeman se gedenkboek oor Die Burger is ‘n meesterstuk. Vertel asb. hoe julle dit aangepak het, die uitdagings en die eindproduk.
In die aanloop tot die eeufees het ek deur ’n klomp gedenkbylaes en feesboeke van ander koerante geblaai, maar kon nie eintlik besluit wat om vir Die Burger te doen nie. Ons het ook nie tyd en geld gehad vir ’n volledige geskiedskrywing nie. Een dag kyk ek deur die boek Keeromstraat 30 wat in 1965 met die koerant se halfeeufees verskyn het, en ek kon sien dit is destyds op ’n tipiese koerantmanier aangepak. Almal het redelik haastig net ’n stukkie geskryf oor iets wat hulle beleef het, en so het hulle ’n wonderlike en waardevolle boek geskep, want as hulle dit nie 1965 dit gedoen het nie, was amper al daardie verhale en karakters vandag vergete. In daardie boek is daar byvoorbeeld vertellings deur mense wat in 1915 daar was toe die koerant gestig is. Dit sou geskiedkundig tragies wees as daardie stories nie opgeteken is nie.
Daar is ook ’n heerlike vertelling in Keeromstraat 30 deur Hubert Coetzee, later hoof van die Nasionale Pers, van hoe hy destyds as nuusredakteur een stil Sondag onwillig werk toe gery het, soos soveel joernaliste “naamloos en onbesing” voor hom. Daardie frase was só treffend, en dit was die keerpunt. Ons sou vir die eeufeesboek so veel as moontlik vertellings kry van hoe joernaliste en fotograwe nuusgebeure eerstehands beleef het. (Terloops, Hubert se Sondag was op die ou end allesbehalwe stil. Dit was die dag toe die Amerikaners die atoombom op Hirosjima laat val het.)
Nou dat ek terugkyk, is ek regtig dankbaar en verlig dat ons minstens ’n paar van daardie verhale kon neerskryf, want joernaliste teken gewoonlik als behalwe hul eie wedervaringe op.
Jy het effe vroeg afgetree. Het jy geloop omdat die digitale bedeling jou van jou redaksie gestroop het?
Toe ek die pos in 2010 aanvaar het, het ek gesê ek sal die koerant tot by sy eeufees in 2015 neem. Ek dink nie ek het ooit langer as vyf jaar in enige werk gebly nie, want wat jy nou skielik in die sesde jaar regkry wat jy nie in die eerste vyf kon doen nie? Ek het ook heel aan die begin van my loopbaan besluit dat ek ‘korporatief’ sou werk tot ek 55 is, sodat ek daarná los kan wees om ander dinge te kon doen. Ek het klaargemaak toe ek 56 of 57 was, dink ek, en dit was absoluut die regte besluit.
Wat die digitale bedeling betref: Die redaksies van al die dagblaaie is wel in daardie tyd uitgedun – die joernaliste het gepraat van die wegrapings – maar dit was is onvermydelik. Daar was wel nog genoeg entoesiastiese joernaliste en fotograwe om elke dag ’n lekker koerant te kon uitgee. Aan die bestuurskant was dinge destyds ook maar ontwrig. Ek onthou dat Die Burger se hoofbestuurder, advertensiebestuurder, bemarkingsbestuurder én sirkulasiebestuurder op ’n kol almal binne ses maande vervang is. Te veel te vinnig.
Ek dink die groot probleem waarmee mediahuise te kampe het, is dat hul belangrikste bate – die “sosiale kapitaal” wat hulle binne hul lesersgemeenskappe skep – nie op hul balansstaat is nie. Gaan kyk maar op enige plek in die wêreld, wanneer daardie bate nie op jou boeke is nie, eindig jy met ’n skimkoerant.
Jy is ná jou uitrede by Die Burger in 2016 met allerlei mediaprojekte besig. Vertel asb meer.
Ons kon Die Burger se eeufeesboek klaarmaak. Ek kon help met opleiding by die streek se dorpskoerante en het selfs vir ’n rukkie waargeneem as redakteur van die Hermanus Times – wonderlik gewees. Ek het ’n seisoen van die kykNET-reeks Megaboere aangebied en dit was ’n inspirasie om daardie landbou-entrepreneurs te kon ontmoet. Ek is veral bly dat ek 50 jaar met Fred, ’n boek oor die spotprentkunsenaar Fred Mouton kon saamstel. Hy was ’n wêreldklas-kunstenaar en ’n fyn mens, en het daardie erkenning verdien. Ek kon ook help met die memoire van ’n outistiese seun wat destyds op laerskool saam met ons geplaas is. Die boek, Ek Onthou deur Anton Müller, was dalk die bevredigendste projek waaraan nog gewerk het.
Die joernalistiek is wonderlik in dié opsig dat daar altyd interessante goed is waarmee mens jouself sinvol kan besig hou.