Buks Viljoen het sy spore as joernalis in die ou Oos-Transvaal verdien en die afgelope dertig jaar in Mpumalanga daarop voortgebou. Ondanks sy fisieke gestremdheid, het hy deur die jare talle groot stories gaan haal — vir die Middelburg Observer, Laevelder, Beeld en ander. Hy vertel hier meer oor sy loopbaan aan Johannes Froneman.
Gee vir ons ‘n bietjie agtergrond oor hoe jy in die joernalistiek beland het.
Ek het in 1977 ná matriek diensplig gedoen en was deel van die Staatspresidentswag. Einde ‘77 is diensplig van een na twee jaar verleng. Einde Desember sluit ek by die staande mag aan en spandeer 1978 by die Infanterieskool. In 1979 is ek terug SP-wag toe as instrukteur. Op 17 September, op pad terug van Kaapstad af, was ons in ‘n ongeluk betrokke waartydens ek my rug gebreek en in ‘n rolstoel beland het.
In Februarie 1980 skop die Weermag my uit die worsmasjien. Ek trek Johannesburg toe waar ek as ‘n verkoopsman werk. Dit is in hierdie stadium wat ek ook aan gestremde sport begin deelneem. Ek verwerf Oos-Transvaalkleure vir basketbal en atletiek (100m, 200, 400m, 800m, gewigstoot, skyfwerp en spiesgooi).
In Februarie 1984 trek ek Middelburg (Transvaal) toe, waar ek vir Tobie van den Bergh ontmoet omdat ek wou hê hy moes ‘n storie doen oor ‘n sportklub vir gestremdes wat ek daar wou begin.
Hy bel my en vra ek moet hom kom sien. Net daar bied hy vir die opgeleide moordenaar (want dit is waarvoor ons eintlik in die bosoorlog opgelei is) ‘n werk aan. Op 12 Maart, my verjaarsdag, begin ek as cub reporter by Tobie. Ek seg altyd, ek het nie die joernalistiek gekies nie; die joernalistiek het my gekies.
In 1986 wen ek my eerste joernalistieke toekenning in die destydse KWV Kompetisie vir Gemeenskapsjoernaliste. Dit was vir ondersoekende joernalistiek met ʼn storie waarmee ek die munisipaliteit se planne gekelder het om die Botshabelo-museum, waaronder Harald Pakendorf se grootwordhuis, te privatiseer.
Jy het ook ‘n paar jaar vir die Laevelder gewerk…
Een Vrydagmiddag (in Maart 1989) AWOL ek van die Observer af Nelspruit toe vir ‘n onderhoud met die destydse redakteur, Neels Bezuidenhout.
Die Saterdagoggend bel hy my en bied my ‘n pos aan. Neels seg hy soek ook ‘n sportjoernalis. Wilhelm de Swart, wat lank vir Beeld sport geskryf het, werk in daai stadium saam met my. Hy bel Neels dieselfde Saterdag en Neels stel hom aan. Maandag stap ek en Wilhelm by Tobie se kantoor in en kondig aan ons bedank.
Tobie vertel vir John Frewin. Tobie roep ons later na sy kantoor met trane in sy oë en sê John Frewin sê ons het een uur om die kantoor te verlaat. Daai Vrydag trek ons Nelspruit toe. Die Maandag, 12 Maart, op my verjaardag, begin ek by Laevelder werk.
En toe wen jy ‘n hele paar pryse?
In die enkele jare wat ek daar gewerk het (1989 tot 2005) ryg ek tientalle joernalistieke pryse in, onder meer Sanlampryse en Caxton-pryse. Die meeste hiervan was vir harde nuus, ondersoekend, gemeenskapsnuus, sakenuus en landbou.
Ek was talle keer tweede in Sanlam se Joernalis van die jaar-kompetisie. Kon hom net nooit wen nie. By Caxton was dit dieselfde, maar in 2004 palm ek die prys in. In 2004 wen ek ook die gesogte Nat Nakasa Award for Courageous Journalism. Tot nou is ek die enigste gemeenskapsjoernalis wat die prys in daai formaat gewen het.
Jy beland toe by Beeld…
In Maart 2005 was ek die genooide spreker by die Caxton se redakteursforum. Dieselfde dag gaan ek vir ‘n onderhoud by Beeld vir die pos as buitekantoorjoernalis in Nelspruit. Op my verjaarsdag in 2005 begin ek by Beeld en dek nuus in die hele Mpumalanga.
ʼn Maand voor my verjaarsdag (Februarie 2016), vra/fire Netwerk24 my deur te vra ek moet ‘n jaar vroeër met pensioen gaan omdat hulle die Nelspruitkantoor sluit. Sedertdien doen ek vryskutwerk vir News24 en Laevelder.
Buks het deur sy loopbaan talle voorbladberigte geskryf, in vele gevalle op grond van grondige ondersoekende joernalistiek.
Vertel vir ons hoe jou gestremdheid jou werk beïnvloed het.
My hele lewe was ek nog altyd iemand wat hom nie sommer van ‘n spoor af laat klim nie. Die dag van 17 September 1979, toe die dokters in 3Mil-hospitaal in Bloem om my bed ronddartel en my vertel ek het my rug gebreek en sal nooit weer kan loop nie….het ek net dankie gesê. Shit happens.
Wat my in die uitdagende loopbaan van die joernalistiek ontsaglik baie gehelp het, was Tobie se hantering van die situasie. Hy was daarop gesteld dat daar GEEN uitsondering vir my gemaak sal word nie. Ek het dus ieder en elke opdrag sonder huiwering getakel — al het ek nie geweet wat aan die ander kant was nie. Of dit nou ‘n hofsaak was, ‘n ou tannie wat verjaar, ‘n ongelukstoneel, ‘n moord, selfmoord, gru-aanval , rugbywedstryd, atletiek, mynongeluk, stadsraadvergadering of ‘n koei wat gekalf het, ek het dit getakel.
Die grootste voordeel hiervan is dat ek vinnig geleer het om rondom die potensiële probleme te werk. Soos byvoorbeeld by ongelukke en misdaadtonele … ek het ʼn lang lens aangeskaf en hoef dus nie binne in die wrak te sit om daai unieke foto te neem nie.
Per geleentheid het ek by ‘n huis gekom met hordes trappe (op Middelburg). Ek het aangedrel gekom en ‘n paar fris manne gevra om my die trappe op te dra. Toe ek binnekom en uiteindelik laat glip dat ek eintlik ‘n joernalis is, het dieselfde manne my uitgedra en in my kar ingeboender. (Ek het darem ʼn foto van die weduwee gekry!)
Wat was jou grootste stories?
Dammit … daar was baie. Maar, in geen volgorde, onthou ek die volgende:
By die Observer:
Toe ek ‘n bekende pastoor van ‘n bekende kerk op Middelburg van sy preekstoel afgeskryf het toe ek hom uitgevang het oor ‘n buite-egtelike verhouding met een van die susters. Ek het hom voor sy vrou gekonfronteer …
Toe ek en Tobie tydens protesaksies deur ‘n trop betogers gery en hulle ons behoorlik met klippe bestook het. Ek het bestuur en Tobie het foto’s geneem. Gelukkig het hulle effe kak gegooi en nie een klip het my kar getref nie. Ek het wel amper my kar gerol toe ‘n kind ‘n bal oor my kar na ‘n ander kind gegooi het. Ons het gedink dis ‘n klip.
Die poging om Botshabelo te red. Dit was ‘n sendingstasie net buite Middelburg met hope diere. ‘n Pragtige museum. Histories sendingkerk. Die erkende Ndebelekunstenaar Esther Mahlangu het die mooiste versierde huisie daar gehad. Ons het die privatisering gekeer, maar vandag is die plek ‘n vervalle nedersetting. Dinge het skeef geloop ná ʼn suksesvolle grondeis …
By die Laevelder:
Met my intrapslag by die Observer het ek die destydse eienaar van Laevelder, Laevelder Trust, aangevat oor een of ander twyfelagtige projek wat hulle aangepak het. Die voorsitter van die trust was ook vir 35 jaar die voorsitter van die stadsraad se bestuurskomitee. Die storie het daartoe gelei dat die KP my vinnig onder hulle vlerk probeer insleep het omdat ek “nie bang was vir die boere-mafia nie” Natuurlik het ek die KP op my beskeie manier in hulle moer gestuur.
Ek was die eerste joernalis wat ooit ‘n storie geskryf het oor die euwel van ons tyd, renosterstropers. In die vroeë 90’s het ek inligting ontvang oor die eerste senior Krugerwildtuin-veldwagter wat vir renosterstropery aangekeer is. Dit het ‘n skokgolf deur SANParke gestuur dat een van hulle eie mense vir stropery vasgetrek is. Hy het nie net renosters geskiet nie, maar is selfs betrap dat hy is die middel van die nag ‘n gemonteerde renosterhoring, wat in een van die senior bestuurders van die wildtuin se kantoor gehang het, gesteel het.
Ek het ‘n storie gedoen oor ‘n bekende pediater in Nelspruit wat per geleentheid ‘n vroeggebore baba lykshuis toe gestuur het omdat hy geglo het die kind is dood. Toe ‘n paramedikus-pêl van my ‘n lyk daar gaan haal, toe leef die baba, haal asem en huil. Die baba het noodbehandeling ondergaan en is eers drie weke later oorlede .
Dan was daar TM , een van die hoogvlieënde ANC-politici in Mpumalanga. Sy was destyds ‘n burgemeester en is selfs aangewys as die burgemeester van die jaar. Ek het ‘n storie gaan doen oor haar oorwinning asook foto’s geneem van haar met haar trofee.
In stede daarvan dat sy daai week op die voorblad gepryk het oor haar eerbewys, het ek die eerste storie geskryf oor hoe sy ‘n skoenwinkel uit haar kantoor bedryf het. (Ek het reeds ‘n tyd lank aan die storie gewerk.)
Tydens ‘n oorsese besoek het sy haar munisipale kredietkaart gebruik en derduisende rand bestee om skoene aan te koop wat sy dan uit haar kantoor gesmous het. Sy is twee weke later ná ‘n ANC-ondersoek afgedank.
In die proses het sy vir my ‘n lokval gestel (in samewerking met mense van die destydse NIA) om my te probeer betrap met “onwettige” dokumente. Iemand het my egter gewaarsku en ek het nooit die dokumente gaan haal nie. In stede is ‘n volledige stel in ‘n dead drop box vir my afgelewer.
Terloops, sy is vandag ‘n provinsiale leier van ‘n ander party.
DD (David) Mabuza was 1994 tot ‘98 die LUK van onderwys in Mpumalanga. Ek het hom in 1989 uitgevang dat hy die matriekuitslae van die provinsie, wat daardie jaar skandelik swak was, gekook het. Hy het dit natuurlik ontken, maar ons het bewyse gepubliseer. Mathews Phosa, toe premier, het DD in die pad gesteek.
DD Mabuza het later LUR vir landbou geword. Hy het sy reputasie as ’n onverbiddellike ANC-kader gestand gedoen en altyd sy sin gekry. Deur die jare het ek hom deur ondersoeke gekoppel aan plaasinstrumente, onder meer trekkers, wat vir sogenaamde gemeenskapsprojekte aangekoop is. Die trekkers het in kampe gestaan en is nooit uitgedeel nie. Uiteindelik het die wind en weer sy tol geëis is die trekkers afgeskryf. Hy het hom in sy tyd as politikus in die provinsie die bynaam “The Cat” gekry omdat hy hom tekens uit verknorsings losgewoel het.
Ons het ‘n hoogs befaamde renosterstroper in die provinsie begin jag toe sy stropery hoogty gevier het. Die grootste deurbraak was toe ons binne-inligting gehad het van ‘n goedgekeurde polisieoptrede waar hy op heterdaad betrap is toe hy horings aan ‘n polisielokvink verkoop het. Hy het sy broek letterlik natgemaak toe hy in hegtenis geneem is. Op die een of ander wonderbare wyse het hy borgtog gekry. Sedertdien is hy op tien talle stroperygevalle aangekeer.
Hy is intussen selfs aangekla vir moord omdat hy een van sy handlangers, wat hy vermoed het hom verraai het, se voete aan sementblokke vasgemaak en hom van ʼn brug af in die Blydepoortdam gegooi het. Die polisie het jare later die lyk herwin.
Ons het in die ou bedeling ‘n hoogvlieënde politikus in Nelspruit gehad wat voorsitter van die destydse SDR (streekdiensteraad) was. Hy was ‘n groot Nasionalis en was besig was om vir hom ‘n pad na die hoogste regeringstoele oop te kap. Totdat ek hom uitgevang het dat hy vals reiseise by die SDR ingedien het. Nou, as ʼn sieklike ou man, het hy in die agterstrate van Pietersburg ‘n vis-en-tjips-winkel.
Deel van my weninskrywing van die Nat Nakasaprys was ‘n storie oor ‘n bekende boer in die Komatipoort-omgewing. Hy het saam met die hoogste van die hoogstes gevlieg. In ‘n stadium het die man gepoog om Louis Luyt op te volg. Ek vang hom toe met sy vingers in die ou unie se geldkissie waar hy R5 000 gesteel het om ʼn boot te koop. Daar is hard vir hom geskerm, maar daar was volgehoue onthullings oor die gevolge van sy daad — soos die kansellasie van borgskappe vir die unie en die terugneem van sy geborgde motor … Hy vlug Natal toe waar hy ‘n eiendomsagentskap open. Ek volg sy spoor en onthul dié ook. Hy het later erg met die reg gebots.
By Beeld /Netwerk24
Die lekkerste uitdaging hier was dat ek my vlerke wyer as die Laeveld kon sprei en nasionaal kon begin skryf.
Een van my lekker voorbladstories vir Beeld was toe ek rondom 2010 die ANC se kongres by Gallaghar Estate bygewoon het. Dit was in dieselfde tyd wat Julius Malema as voorsitter van die jeugliga onmin in die party gesaai het. Tydens ‘n onderhoud met my goeie vriend Jackson Mthembu vra ek hom uit oor Malema. Hy seg hulle is besig om die riem om hom vas te maak en gaan streng optree. Ek skryf ‘n storie daaroor. Die volgende dag word daar erg deur die ANC teruggekrabbel om die skade te probeer herstel en Jackson wil my omtrent slag. Die storie is later gebruik in die party se optrede teen Malema.
In die jongste jare werk jy as vryskut?
Ek was gelukkig genoeg om ná my aftrede by Beeld as korrespondent geregistreer te word. Hoewel hulle, vir welke rede ook al, my nog nooit in die rol aangewend het nie. Gelukkig het Adriaan Basson van News24 die gaping gevat en ek het vir hulle begin skryf. In ʼn stadium is ek deur De Wet Potgieter, toe redakteur van Laevelder, gevra om vir hulle te skryf.
Die grootste probleem wat ek in die wêreld van vryskut beleef het, is dat dit ‘n ongelooflik mededingende mark is. En met die slagting van koerante wat toegemaak word, is die mark tans oorvol met mense wat wil skryf.