Toe die aankondiging kom dat Beeld in 2024 sou sluit, was die boek oor die koerant se (eerste en waarskynlik laaste) 50 jaar reeds by die drukker. Gelukkig, want hoewel dié boek nie oor die komende einde skryf nie, is daar ook nie ‘n misplaaste gees van triomfalisme aanwesig nie. Net ‘n eerlike terugkyk op vyf opwindende dekades se nuus — en veral die mense wat daardie stories gaan haal het en geskryf het, gesub het en pragtig vorm aan gegee het.
BEELD 50 — OM ‘N GROOT STORIE HARD TE SLAAN
Saamgestel deur Erika de Beer
Jonathan Ball Uitgewers, Johannesburg en Kaapstad
2024
Erika de Beer was, daar uit die binnekring, ‘n ideale keuse as samesteller van hierdie onthouboek. Hoe sy reggekry het om al die stemme en stories kunstig tot ‘n geheel te verweef, is merkwaardig. Dis ‘n lewende monument wat ek oor twee dae eers met bewondering deurgeblaaie het en toe van hoek tot kant, van bladsy een tot laaste met veel plesier gelees het.
Dit herhaal nie te veel van Beeld se beginjare nie. Dit gee nie te veel aandag aan die sirkulasiestryd met Die Transvaler nie. Beeld se politiek kry paslike aandag, maar oorheers nie. Dis net deel van ‘n groter storie.
En dan is daar, onvermydelik, die huidige en oud-Beeld-mense se lieflike stories. Vol patos, humor en verskrikking, na gelang van plek en geleentheid. Te veel om hier op te noem.
Maar dis seker genoeg om te sê dat joernaliste-aan-die-werk nog nooit in Afrikaans so uit die verf gekom het as juis in hierdie boek nie.
As dié boek jou nie trots maak om ‘n joernalis te wees of een te gewees het nie, as dié boek jou nie oortuig om juis een te wil word nie, sal niks anders dit regkry nie. — Johannes Froneman