Hierdie biografiese aantekeninge bied ‘n kitsverkenning van sommige van ons bekende én minder bekende mediamense van die afgelope eeu. Sommige het ons reeds ontval, ander nie. (Help ons asb om dié inligting op datum te hou.)
Die biografiese sketse en uittreksels uit enkele gepubliseerde huldeblyke verskyn in geen besondere volgorde nie. Die insluiting van mediamense in hierdie artikel (en nie as ‘n aparte artikel nie, soos elders in dié afdeling) is bloot om praktiese redes. Sou heelwat meer stof bykom, kan ‘n inskrywing tot ‘n afsonderlike artikel groei.
Plasings van die volgende mediamense is reeds in hierdie artikel vervat:
Klaas Steytler, Victor Ivanoff, Fred le Roux, Piet Muller, Piet Theron, Wessel Oosthuizen, Willy Brasé, Frits Gaum, Audrey Blignault, Henriëtte Loubser, Elise van Staden, Hans Lombard, Vincent Hesse, Barry Botha, David Fuchs, Gerard Grobler, Fritz Joubert, Kunsredakteurs, Gustav Preller, Daniël Kirstein, Ebbe Dommisse, J.H.P. Serfontein, Johan van Wyk, André Walters, Dirk Richard, Peet Simonis, Willie van Rensburg, dr. Andries Treurnicht, Ben van Rensburg, Sarel Venter, Andries Botha, Iris Bester, Willem de Klerk, Dirk de Villiers, Arrie de Beer, Jeanette Hanekom, Hint Hyman, Dirk Kamfer, Jannie Kruger, Anne Kruger, C. Louis Leipoldt, Gert le Roux, Chris Moolman, Carl Nöffke, Sakkie Perold, Alf Ries, Cobus Robinson, Elsabé Retief, Hennie Serfontein, Johannes Steinmeyer, Pieter Spaarwater, Humphrey Simes, Willem van Heerden, A.M. van Schoor, Johannes van der Walt, Anna van Zyl en Sarel van Vuuren.
Klaas Steytler
Klaas Steytler se joernalistieke loopbaan het in 1926 as sportredakteur van Die Burger begin. As rugbyskrywer het hy naam gemaak en vele toere meegemaak. Sy loopbaan is telkens onderbreek wanneer hy en sy vrou, Elsa Joubert, deur die wêreld gereis het. In 1946 sluit hy by Die Vaderland aan nadat hy kortliks by Die Transvaler gewerk het. ‘n Hoogtepunt van sy joernalistieke loopbaan was die vyf jaar as redakteur van Die Huisgenoot. Daarna het hy hom voltyds aan skryfwerk gewy en naam gemaak in die literêre wêreld.
Victor Ivanoff
Victor Ivanoff was ‘n Russies gebore kunstenaar en sanger wat vir 37 jaar lank spotprente vir Die Vaderland en Dagbreek geteken het. Hy het ook talle illustrasies vir Die Brandwag gedoen.

Ivanof het in die middel-1930’s per abuis by Die Vaderland beland nadat hy eintlik by die Rand Daily Mail sou gaan werk. Sy swak Engels het egter gesorg dat hy by die Afrikaanse koerant uitgekom het — en gebly het. Dalk het sy padwyser net newspaper gehoor …
Die spotpenttekenaar is in Rusland gebore, maar sy gesin het weens die Russiese revolusie gevlug. Uiteindelik het die veelsydige Ivanof in Suid-Afrika beland.
Onder: Een van Ivanoff se illustrasies in Die Brandwag, 1947.

Fred le Roux
Fred le Roux is in 1949 as eerste redakteur van Sarie Marais aangestel. Dit was Nasionale Pers se eerste treë in die vrouemark en is met hoë verwagtinge begin. Die uitgangspunt was, aldus J.J. Spies, “winsgewende diens”.
Le Roux was reeds van 1938 by Die Huisgenoot in diens en was “wetenskaplik en letterkundig goed onderleg en ‘n man met fyn smaak”. Maar soos met alle redakteurs met “ontwikkelde smaak” moes Le Roux ook kompromieë aangaan, skryf Spies in Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes). Die ná-oorlogse publiek het ligter smaak gehad.

Le Roux het wel ‘n moderne blad met styl uitgebring en is beskuldig dat Sarie (soos die blad spoedig genoem sou word) te modern en wêrelds was. Huweliks- en geslagsvoorligting het kritiek ontlok, maar Le Roux wou pionierswerk doen op ‘n terrein wat voorheen “verwaarloos” is.
Die relatiewe sukses van Sarie het Le Roux se status by Naspers verseker. So word hy in 1965 met die publikasie van Fair Lady as hoofredakteur aangestel met Jane Rapfaely as redakteur.
“Tegniese vernuwing” en “nuwe denke” het in die 1960’s Sarie se voortbestaan verseker.
Le Roux het in 1968 afgetree en professor in drama en toneel op Stellenbosch te word.
Piet Muller
Piet Muller het as assistentredakteur by Beeld in Pretoria (1978 tot 1987) die blad se nuusinhoud uit die hoofstad bestuur en weekliks ‘n vernuwende politieke rubriek geskryf. Hy ontvang dan ook die SFW-toekenning vir sy bydrae tot die onderhandelings tussen die ANC en die destydse regering voor die oorgang na demokratiese regering in Suid-Afrika.
As joernalis begin hy in 1959 sy loopbaan by Die Volksblad in Bloemfontein, waarna hy van 1960 tot 1968 as uitgewer by Human & Rousseau in Kaapstad gewerk het en was tot einde 1977 ‘n vennoot van ’n uitgewery.
Na sy tyd by Beeld word hy in 1987 stigter-redakteur van die tydskrif Insig en daarna assistent-redakteur van Rapport. Hy skryf tong in die kies op Facebook: “By Rapport het dit dikwels vir my gevoel of ek die deurwag van ‘n bordeel is.”
Piet is ‘n toekomskundige, skilder, skrywer van allerlei boeke en het ‘n groot belangstelling in die spirituele. (Erkenning aan Wikipedia.)

Piet Theron
Piet Theron was lank die dryfkrag agter die honderd jaar oue Rustenburg Herald en verantwoordelik vir die groei van North West Newspapers tot elf gemeenskapskoerante, insluitende die Klerksdorp Record, Brits Pos, Stellalander, Gemsbok en Mafikeng Mail.
Piet is in 2024 in die ouderdom van 94 oorlede.
Wessel Oosthuizen
Wessel Oosthuizen is seker een van die bekendste sportfotograwe van die afgelope halfeeu. Hy het pas uit militêre diensplig by Die Vaderland aangesluit en vir ‘n leeftyd koerantfoto’s vir dié koerant, Beeld en The Citizen geneem.
Wessel het vyf Olimpiese Speles en vyf rugbywêreldbekertoernooie gedek en selfs, op eie stoom, foto’s van die Viëtnamese oorlog geneem.
Hy het verskeie boeke met van sy beste foto’s gepubliseer — van sport tot staatsmanne, bekende sangers en gebeure soos die staatsgreeppoging in die destydse Bophuthatswana. (Bron: Erika de Beer se artikel oor Wessel in Beeld en Volksblad.)

Willy Brasé
Willy Brasé was ‘n veelsydige joernalis wie se loopbaan in 1963 begin het. Hy was redakteur van Die Nataller/Tempo, 18 jaar lank hoofverslaggewer van Die Transvaler en het as redakteur en medewerker van Stywe Lyne opgetree.
Brasé was in ‘n stadium ook sportkommentator en nuusleser by radio en was by TV-nuus betrokke voor sy vroeë aftrede. Daarna het hy as vryskut vir tydskrifte en die Middelburg Observer bydrae gelewer.
Hy is op 55-jarige leeftyd by sy huis naby Groblersdal vermoor.

Frits Gaum
Dr. Frits Gaum was van 1986 tot 2005 redakteur van die Kerkbode, amptelike blad van die NG Kerk. Dit is destyds as invloedryk beskou en Gaum het geglo die kerk moet sy stem laat hoor. Hy was moderator van die Wes-Kaapse sinode en skriba van die algemene sinode, dus ook ‘n erkende kerkleier.
Maar Gaum wou veel meer as Kerkbode-redakteur wees. So word hy ook redakteur van die Ligdraer (wat hy hernoem tot LiG) en beweeg op die groter mediaveld.
“Ons het te veel goed probeer doen,” sê Gaum nadenkend aan Le Roux Schoeman in ‘n Kerkbode-onderhoud. “Televisie en radio … Ek het te groot gedink vir die kerk. Ons wou gehad het die kerk moet op die mediaterrein ’n rol speel.”
Maar as redakteur van die Kerkbode (hy het die Die laat verdwyn) het hy vêr bo sy voorgangers uitgetroon. Hy het die joernalistiek verstaan en die blad ‘n lewendige, leesbare blad gemaak. Die gedenkuitgawes wat onder sy leiding van die oudste bestaande blad in Suid-Afrika verskyn het, was besonders.

Dr. Frits Gaum het die Algemene Kerkbode geloods wat in drie Afrikaanse dagblaaie ingevoeg is.
Gaum is in 2024 oorlede.
Kyk ook: https://kerkbode.christians.co.za/2024/10/02/in-memoriam-frits-gaum-gewaardeerde-vegter-teoloog-sterf-gerdrie-van-der-merwe/?
Audrey Blignault
Audrey Blignault was ‘n boekemens, skrywer van invloedryke resensies en ‘n essayis van formaat. Maar sy was ook joernalis. In die 1940’s was sy redakteur van Die Huisvrou – ’n pos wat sy vir elf jaar beklee het. Daarna was sy redakteur van Die Naweekpos. Dit was mededinging vir Sarie en Huisgenoot, maar sy publiseer later gereeld in Sarie.


Henriëte Loubser
Henriëtte (Anderson) Loubser is hoofredakteur van Netwerk24. Sy staan terselfdertyd oorhoofs in beheer van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Henriëte is ‘n Bloemfonteiner, het kommunikasie aan die Vrystaatse Universiteit gestudeer, en by die Volksblad begin. Sy het senior posisies by Sarie en Die Burger beklee voordat sy redakteur van Huisgenoot geword het. In 2018 is sy tot haar huidige posisie bevorder.
Elise van Staden
Elise van Staden het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer. — PvS
Hans Lombard
Hans Lombard was ‘n joernalis en skakelman wat sedert die 1950’s in veral die landbousektor naam gemaak het. Lombard het onder meer vir Die Vaderland, Die Brandwag en Farmer’s Weekly geskryf, in Londen se Fleet Street gewerk en later in sy loopbaan as vurige verdediger van geneties aangepaste gewasse na vore getree. Hy was ‘n internasionale reisiger en het gefloreer as populistiese joernalis wat ‘n lekker storie kon identifiseer. Sy rol om landbouskrywers saam te snoer sal onthou word.

Bo: Hans vertel van sy reis na Moskou toe dit nog ongehoord was. Regs: Die boek wat hy geskryf het nadat hy per straler na die Ooste gevlieg het.


Vincent Hesse
Vincent Hesse was in die gloriejare van Springbokradio ‘n vroegoggendaanbieder saam met Dougie Laws. Springbokradio is in 1950 begin as tweetalige kommersiële stasie wat die Afrikaanse en Engelse dienste moes ondersteun. Hesse het sy radioloopbaan by die Afrikaanse diens van die SAUK begin. Voorheen was hy ‘n akteur in die rondreisende amateurgroep J.A.A.T.S. en klerk by die SAUK. Hy het in ‘n paar rolprente opgetree, onder meer Altyd in jou drome (1952). Onder: Hesse (regs) saam met Laws in die ateljee. Die foto en artikel het in 1967 in die tydskrif Ster verskyn.

Barry Botha
Barry Botha het ‘n kortstondige loopbaan as joernalis gehad. In die tydsperk voor die wegbreek van ultrakonserwatiewes uit die Nasionale Party om die HNP in 1969 te stig, het die blad Veg onder Botha se redakteurskap verskyn.


Botha was voorheen aan die SA Akademies vir Kuns en Wetenskap verbonde en het na sy rol by Veg van die politieke toneel verdwyn. Links is ‘n voorblad van een van die uitgawes waarvoor Botha verantwoordelik was. Tog is geglo dat hy veel van sy materiaal van die latere leier van die HNP Jaap Marais gekry het.
David Fuchs
David Fuchs het in 1944 by die SAUK aangesluit en bekend geword as ‘n sportkommentator. In 1948 is hy Londen toe gestuur om uitsendings oor die Olimpiese Spele te behartig. Daarna word hy programorganiseerder in Kaapstad. Hy bedank egter om ‘n predikant te word en sterf in 1966.
Gerard Grobler
Waar talle joernaliste later in hul loopbane nie soseer skryf nie, is Gerard Grobler die uitsondering. Hy het as radioman begin, via TV-nuus gegaan en by uitstek ‘n drukmediajoernalis geword wat sy eie koerantjie het. Met Regio-TV het hy wel vroeër die water vir plaaslike TV getoets en verskyn sy blad, Overstrand Herald, aanlyn, aangevul deur blitsberigte op Facebook.
Gerard kon by Die Vaderland met ‘n BA in die sak as verslaggewer begin het, maar kies toe die personeelafdeling van ‘n myn, want die salaris was effe beter en daar was goeie akkommodasie beskikbaar. Hy sou gou sy fout insien.
Gerard kies toe koers Windhoek toe, waar hy ‘n pos as TV-verslaggewer by die Suidwes-Afrika-Uitsaaikorporasie (SAWAUK) kry. Hy leer maar so in die hardloop hoe die ding werk en reis die land vol, totdat ‘n geleentheid in Suid-Afrika hom en sy vrou, Ilna, terugroep.

Gerard Grobler staan elke week midde-in sy dorp se gebeure.
Op Potchefstroom was hy betrokke by Schalk Hoogenboezem se landboutydskrifte, maar vir mediese redes moes hulle liewer Pretoria toe, waar hy ‘n radionuuspos by die SAUK kry. Later volg nogmaals TV-nuusverslaggewing.
Na ‘n verplasing sit hy sy loopbaan as TV-verslaggewer in Seepunt voort, saam met mense soos Charl Pauw en Ed Herbst. Dit was “fantastiese werk”, sê Gerard en vertel dat hy as junior die gevaarlike townships moes aandurf. Dié was voor die 1994-verkiesing maar woelig.
Terwyl hy in Angola ‘n dokumentêr maak, hoor hy van ‘n pos in Chili as verskepingsagent. Natuurlik het Gerard sy eie interpretasie aan die pos gegee. Nege maande later is hulle terug in die Kaap — sonder geld en met net ‘n Volkswagen Kewer.
“Ek word toe een oggend wakker met die gedagte: Begin ‘n koerant op Kleinmond,” vertel Gerard. Hy leen R10 vir petrol en vat die pad.
Daar vind hy drie koerante reeds op die toneel. Maar hy was vasberade.
Gerard erken hy weet toe nog van koerant-aanmekaarsit niks. En hy sukkel om ‘n drukker te kry wat hom 30 dae se krediet sou gee, maar kry toe een. Die Hangklip Herald word gebore. Twee maande later was net die Herald en die Hermanus Times oor…
“En dertig jaar later is ek steeds hier,” geniet hy die oomblik. “Daar’s niks wat my keer nie.”
Intussen het Gerard ook die Gansbaai Herald en Villiersdorp Herald begin, maar dit was onvolhoubaar. Hy en Ilna hou toe net die Villiersdorp-koerant. En toe begin die storie weer van voor af. Gerard begin die Porterville Herald, wat uitbrei na die hele Bergrivier-munisipaliteit, wat Piketberg en Velddrif insluit.
Die projek loop goed en Gerard se koerante dek later 22 dorpe met meer as tien verslaggewers. Media24 neem hom oor en hy werk self ‘n tydjie vir hulle, maar hulle het verskillende idees gehad.
In 2011 koop Gerard die Kleinmond-koerant terug en sedertdien is hy volstoom daarmee besig. Die Overstrand Herald (soos die blad intussen vernoem is) word deur Gerard se span gedruk en versprei — so duisend A4-eksemplare per week. Daarby is daar meer as 300 digitale intekenare.
Toe hy begin het, het ander koerantmanne neergesien op die A4-formaat, vertel Gerard, maar dit is waarvan mense hou. Hy het wel eenkeer na A3 oorgeslaan, maar net vir twee weke.
Die lesers waardeer die onafhanklikheid van die blad, iets wat hy nie sal prysgee nie. “Ek gee om vir die plek, want ek woon hier,” merk hy op. Boonop pas dit sy persoonlikheid om sy eie ding te doen.
Hy sê tereg dat die meeste gemeenskapskoerante bleek en sonder persoonlikheid geword het. Die groot mediagroepe stel net in geld belang en stroop die koerante van ‘n eie identiteit.
Gerard en sy klein span sorg dat kleindorpse joernalistiek vir eers op Kleinmond lewend gehou word. Dit is ‘n klein wonderwerk. — Johannes Froneman
Fritz Joubert
Fritz Joubert het ‘n uitnemende loopbaan by Naspers (nou Media24) gehad en sy loopbaan as ‘n assistentredakteur van Die Burger afgesluit.
Hy het reeds in 1962 by Die Burger aangesluit en met tyd van algemene verslaggewer tot die koerant se eerste volbloed-krieketskrywer gevorder — ‘n posisie wat hom die voorreg gegee het om die toere van die MCC in 1965-66 en dié van die Aussies in 1966-67 en 1970 te dek. Daardeur het hy bygedra tot die groeiende belangstelling by Afrikaanse lesers in krieket.



Later word hy redakteur van Die Byvoegsel (wat tot By hernoem is) en wat Saterdae ‘n stewige toevoeging tot Die Burger was. Later, in 1974, kom Beeld op die toneel en baat ook by hierdie bylae.
Fritz was ook sewe jaar lank aan die stuur by Sarie, voordat Izak de Villiers by hom oorgeneem het.
Fritz was twee keer in die Londense kantoor (onderskeidelik as verslaggewer en saam met Judy Olivier verantwoordelik vir die verkryging van sindikasiemateriaal). Dan was daar ook sy tyd as Naspers se Washingtonse verteenwoordiger — volgens hom sy “beste jare”. Dit was in die 1980’s en Fritz het menige voorbladhoofberig oor dreigende Amerikaanse sanksies geskryf. Pres. Ronald Reagan was Suid-Afrika goedgesind, maar die druk was aan die oplaai teen die apartheidsbeleid.
Fritz vertel dat dit nogal uitdagend was om gegewe die tydsverskil tussen Washington en Suid-Afrika debatte in die Amerikaanse kongres te volg en kopie dan betyds vir die oggendkoerante (destyds Die Burger en Beeld) te lewer.
By sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ‘n assistentredakteur van Die Burger geword, verantwoordelik vir meningsartikels en dikwels saans aan diens as nagredakteur. In dié periode van sy loopbaan het hy ook die kans gekry om verskeie rugbytoere mee te maak: 1992 se Springboktoer na Engeland, 1993 se toer na Australië en 1994 se toer na Nieu-Seeland. Dié het hy baie geniet.
Maar hy moes onder begin. As junior het hy skoolgeld betaal deur naweke berigte van Die Burger se sportkorrespondente oor die telefoon af te neem. Hy kon gelukkig onder ervare mense soos Victor Holloway (sportredakteur), Gerhard Kirsten en Louis Wessels sy vak leer. Toe Suid-Afrika in 1994 die rugbywêreldbeker wen, was Fritz daar as sy koerant se senior skrywer.
Vriende en kollegas getuig van Fritz se integriteit en professionaliteit. Sy liefde vir goeie kos en wyn is ook bekend. En sy oog vir mooi klere. Dan is daar ook sy fyn hand met bonsaiboompies. In alle opsigte ‘n man for all seasons. En al die jare aan sy: Maureen, self knap joernalis. — Johannes Froneman
Kunsredakteurs
Skrywers was deur die jare verbonde aan die kunsredaksies van koerante. Onder hulle tel die digter en akademikus W.E.G. Louw, kunsredakteur van Die Burger en later professor aan die Universiteit van Stellenbosch. Abraham H. de Vries , kortverhaalskrywer van naam en akademikus, was van 1963 tot 1965 kunsredakteur van Die Vaderland, ‘n Johannesburgse middagkoerant. Fanie Olivier, digter, vertaler en akademikus, het die kunsblaaie van Die Nataller in die 1960’s in Durban as vryskut behartig. Johann Myburgh, Hertogpryswenner vir poësie, was lank lid van Beeld se kunsredaksie. Hierdie lysie is sonder twyfel onvolledig, maar gee ‘n idee van die tendens.
Gustav Preller
Gustav Preller was een van die belangrikste Afrikaanse joernaliste in die eerste vier dekades van die 20e eeu. Daarbenewens was hy ‘n invloedryke historikus, taalstryder, kultuurman, skrywer en literêre kritikus — merkwaardig vir ‘n man met slegs drie jaar se formele skoolopleiding en geen afgehandelde hoër onderwyskwalifikasie behaal het nie.
Maar, skryf Dirk Richard, Preller het hom deur die jare met selfstudie verryk sodat daar nooit sprake was van ‘n akademiese agterstand nie.

Hy tree reeds tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog vir De Volksstem op as korrespondent te velde. Pas voor die vredesluiting in 1902 word hy gevang en na Indië (of Ceylon, bronne verskil) gestuur.
By sy terugkeer, was hy so moedeloos dat hy oorweeg het om na Argentinië te emigreer, maar sy lewe bereik ‘n draaipunt toe Eugène Marais hom vra om redakteur van Land en Volk te word. Hoewel van korte duur, was dit van Preller se beste jare as joernalis.
Daarna volg verskeie joernalistieke take: assistent-redakteur (1903-24) en redakteur (1924-25) van De Volkstem (sedert 1905 met net een s); gelyklopend mederedakteur van Die Brandwag (1910-1922), en hoofredakteur van Ons (later Die) Vaderland (1925-36).
Hy was ‘n individualis en uitgesproke, dalk nie so ‘n goeie redakteur nie (meen Richard), maar energiek en gelyktydig besig met velerlei projekte ter bevordering van sy volk en taal. Hy skryf talle gewilde boeke (vergelykbaar met Langenhoven, aldus C.F.J. Muller) en skep as historikus ‘n bepaalde beeld van die Groot Trek deur juis die heroïese uit te lig.
Volgens Muller was Preller ‘n “veelsydige, vaardige en vinnige skrywer, ‘n gespierde stilis in sy eie kenmerkende pionier-Afrikaans, maar sy skerp pen het ook onnodig aanstoot gegee”. Dit het die sukkelende Vaderland se posisie nie juis bevorder nie en staan in kontras met sy literêre kritiek wat as baie gebalanseerd beskryf is.
Ondanks sy reuse-bydrae tot die vestiging van Afrikaans het hy vasgeklou aan Nederlandismes soos “ik”. Wel het hy woorde soos tik, tikster, hysbak, rolprent en klankbaan geskep. Hy was verantwoordelik vir De Voortrekkers se draaiboek — die eerste “Arikaanse” rolprent met Hollands-Afrikaanse subtitels of flitskaarte (aldus Leon van Nierop).
Sy politiek was kompleks — veral as ná ‘n eeu teruggekyk word daarop. Hy was ‘n vurige republikein en nasionalis, maar nooit ‘n groot Nasionalis nie. Hy het genls. Louis Botha en Jan Smuts lank ondersteun voordat hy sy gewig agter genl. J.B.M. Hertzog ingegooi het. In die 1930’s was hy ná samesmeling van Smuts en Hertzog se partye ‘n verbete ondersteuner van Hertzog en nié die “gesuiwerde” Nasionale Party van dr. D.F. Malan nie.
Was hy ‘n politieke bontspringer? Of was die politiek (vir hom en ander) net te kompleks om ‘n reguit pad saam met Malan te loop? Die realiteite van die noorde en suide het verskillende eise gestel.
Hoe ook al, hy was ‘n merkwaardige individualis — een wat, soos Schalk Pienaar en Max du Preez dekades later — ‘n ander dimensie aan die Afrikaanse joernalistiek gegee het.
Na sy aftrede as redakteur by Die Vaderland, het hy staatshistorikus geword en verdere navorsing oor die Voortrekkers en die Anglo-Boere-oorlog van 1899-1902 gedoen. Hy is in 1943 oorlede. — Johannes Froneman
Sy omvangryke lewe en werk word in ‘n Wikipedia-inskrywing (https://af.wikipedia.org/wiki/Gustav_Preller) saamgevat en kry ook kritiese aandag in Dirk Richard se Moedswillig die uwe — Perspersoonlikhede van die Noorde (Perskor, 1985). Daarbenewens kom sy naam by herhaling voor in C.F.J. Muller se omvangryke Sonop in die Suide (Nasionale Boekhandel, 1990).
Daniel Kirstein
Die radio-omroeper Daniel Kirstein was bekend vir sy nuuslees, aanbieding van musiekprogramme soos U eie keuse en sy kurkdroë humor, hoewel laasgenoemde nie soseer sy luisteraars vermaak het nie, maar sy kollegas.
Kirstein was bekend genoeg om selfs in ‘n roman deur Chanette Paul, Marilyn, geopper te word. Die oudkoerantman Hennie van Deventer merk op dat die Afrikaanse uitsaaiers deur die jare mooi stemme gehad het. Maar: “Die fluweelkwaliteit van die ikoniese stem van Daniël Kirstein — seker aanbieder numero uno in my tyd – sal nie maklik geëwenaar word nie.” Dáároor sou Dan, soos sy kollegas hom genoem het, sonder twyfel ‘n paslik droë opmerking gemaak het.
Kirstein was die verpersoonliking van die ernstige Afrikaanse omroeper van die 1960’s en later. Maar hy het nie by base gekruip nie.
‘n Bestuurder het by geleentheid geskimp dat omroepers nie lees nie, iets wat Kirstein by uitstek gedoen het. “Wat doen julle ná werk?” kom die aanvallende vraag. Waarop Kirstein antwoord: “Ek suip!”
Hy het ook verskuilde talente gehad. Soos om onder die skuilnaam Chris Steyn die Afrikaanse woorde vir die liedjie “Dankie” te skryf — Lance James se treffer uit 1970.
Kirstein is in 1993 in die ouderdom van 68 oorlede. — JDF
Ebbe Dommisse
Dr. Ebbe Dommisse was hoofredakteur van Die Burger van 1990-2000, waar hy sy loopbaan in 1961 as verslaggewer begin het. Hy dien ook as Die Burger se parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur, nuusredakteur en senior assistent-redakteur. Van 1974-1979 onderbreek hy sy loopbaan by Die Burger in Kaapstad om in Johannesburg Beeld op die been te help kry. (Hy was een van Beeld se assistent-redakteurs.)
Dommisse het eers op Carnarvon skoolgegaan en aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer. Hy studeer hierna aan die Universiteit Stellenbosch en verwerf ook ʼn meestersgraad in die joernalistiek aan die Colombia-Universiteit in New York, ʼn hoogs uitsonderlike kwalifikasie vir joernaliste van sy geslag. Na aftrede behaal hy ‘n PhD.
Dommisse was ʼn lewenslange Nasperser, maar neem die belangrike besluit om in 1990 die formele band tussen Die Burger en die Nasionale Party te verbreek. Leopold Scholtz skryf dat Dommisse gemeen het “dit plaas die koerant se onafhanklikheid en geloofwaardigheid onder verdenking”. Tony Leon noem dit ʼn “extraordinary decision”, gegewe die feit dat dr. D.F. Malan in 1915 Die Burger se eerste redakteur was en daar ʼn noue verbintenis van 85 jaar tussen die koerant en party was.
In die 1990’s het hy ‘n heel kritiese houding jeens die onderhandelingsproses en uitkoms ingeneem en is daarvoor verwyt. (Hy was in hierdie opsig in dieselfde kamp as Izak de Villiers by Rapport.)
Dommisse het saam met sy kollega Alf Ries verskeie boeke oor die politieke geskiedenis geskryf. In 2005 verskyn sy belangrike biografie (saam met Willie Esterhuyse) oor Anton Rupert. Hy skryf ook ‘n biografie oor sir David Graaf en een oor Afrikaner-magnate, Fortuine. — JDF
Hennie (J.H.P.) Serfontein
Hennie Serfontein het naam gemaak as joernalis by die Sunday Times waar hy onthullings oor die Afrikaner-Broederbond gemaak het. Hy het ook talle artikels geskryf en TV-dokumetêre (vir buitelandse stasies) gemaak oor die politiek van die dag — in praktyk die blootlê van apartheid se tragiese gevolge. Later skryf hy (weer) in Afrikaans toe hy in die 1980’s en 1990’s vir Max du Preez se Vrye Weekblad geskryf het.
Hy was een van ‘n hele aantal knap Afrikaanse joernaliste wat in die 1960’s en 1970’s by Engelse koerante gaan werk het — hoofsaaklik omdat hulle anti-regeringspolitiek nie by die destydse Afrikaanse koerante aanvaarbaar was nie. Onder dié joernaliste tel Hans Strydom, Tertius Myburgh, Koos Viviers, Tos Wentzel en Mostert van Schoor. Hul stories is nog onvertel. — JDF (Onder: ‘n Artikel oor Serfontein wat by sy dood in Beeld verskyn het. Kry dit by https://www.netwerk24.com/Netwerk24/jhp-serfontein-is-dood-lank-lewe-sy-woorde-20170728)

Lees ook:
Johan van Wyk
In een van sy blogs stip Hennie van Deventer aan: Johan van Wyk het ‘n kwarteeu lank elke dag Stop van Myne vir die Volksblad geskryf; ‘n asemrowende 6 000 rubrieke of vier miljoen woorde. ’n Ikoon in enige taal.
Hennie vervolg: “Die ‘Oom’ het hy homself genoem. Hoekom dan ‘Oom’? Van Wyk het ‘n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: “Dankie, oom. Dit was lekker.”
“Johan van Wyk se rubrieke was deurspek met tussenwerpsels soos ‘hef ‘n siegret’ of ‘hef a ding-dong day’. ‘n Keer het hy ‘n vername arts en politikus van die Konserwatiewe Party (KP) aangeraai: ‘Hef ‘n bedpan’. Dié het dit letterlik vertolk, sterk aanstoot geneem en diep beswaard by die Persraad gekla… ”
Sy bekendste uitdrukking was egter “ohopoho” (wanneer dinge rof raak). Johan het ook op ander wyses aanstoot gegee in ‘n tyd toe velle baie dun en openbare sedes baie eng bewaar is, soos wat Hennie in ‘n Litnet-stuk onthou:
“Ryk prokureurs is gereeld geroskam oor hul mooi huise, karre en liefde vir geld. Hulle melk ‘n mens behoorlik, het Van Wyk bevind: ‘soveel vir ‘n hoes, soveel vir ‘n nies en soveel vir ‘n dinges!’
“Hoofregter Pierre Rabie het gevoel die eer van die beroep raak aangetas. Die redakteur is vir ‘n nie alte welwillende geselsie nie ontbied. PW Botha het Van Wyk ‘n ‘skermonkel’ genoem. Raak vinnig van hom ontslae, was sy ‘vaderlike’ advies ná ‘n relletjie oor ‘vet boervroue wat op tjoeps op Maselspoort se swembad ronddobber’ “.
Sy volkse humor en moedswilligheid is afgewissel deur rubrieke vol patos. Soos dié uittreksel uit van ‘n storie oor sy verswakte 85-jarige pa se afskeid van sy vervreemde geboortegrond, Sandkraal, by Calvinia getuig:
“By sy vader, my oupa, oorlede in 1921, se eenvoudige graf, nou net ‘n hopie uitgewaste grond, omring deur ‘n stukkende heining met ‘n skewe hekkie tussen gannabosse, het hy sy hoed afgehaal, met sy een hand bewend op die verweerde tuisgebeitelde kopklip van ruwe sandsteen moeisaam op ‘n knie neergesak en ‘n handvol grond opgetel.
“Trane het oor sy wange gerol … Dit was een van die roerendste, hartseerste, en tegelyk mooiste, mees deernisvolle oomblikke van my lewe. Toe gooi ek vir ons ‘n Mellowoodjie vir versterking en toe eet ons die koue skaapnek daar langs die ou voorvader.”
Oor Johan van Wyk as rubriekskrywer merk Hennie van Deventer op:
“[Hy] was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland.
“Maar die bokker (‘nog ‘n bokker na Amerika’) het my ook op my tande laat kners. Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel.
“Vandag is ons vriende. Soek graag mekaar se geselskap op.
Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom, die ‘Oom’.”
By die skryf hiervan het Johan van Wyk en sy vrou in die Paarl gewoon. — JDF
Bronne: Hennnie van Deventer se blogs en Litnet-stukke.
André Walters
André Walters het ‘n merkwaardig lang en diverse loopbaan in die mediawêreld agter die rug. Sy loopbaan het in 1959 as student begin en strek nou reeds oor meer as 60 jaar.
Ná ‘n BA-graad in drama, Engels en sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sluit hy in 1962 by die SAUK aan as omroepers/regisseur. Sy skeppende talente en geesdrif lei hom daarna na ‘n string uitdagings: die maak van TV- en radio-advertensies (1964), as eerste oggendaanbieder by die nuwe Radio Goeie Hoop (1965), as hoof van die nuwe Radio Port Natal (1967), en as hoof van al drie die destydse tweetalige streekradiostasies, Goeie Hoop, Port Natal en Hoëveld (1969).

In 1970 word hy hoof van die SAUK se advertensie-afdeling. Daarna volg nog bestuursposte, soos hoof van die SAUK se ondernemings (ingeslote die verkoop van programme) en skakelhoof tydens die lansering van televisie in 1976. Dit lei ook tot ‘n bestuurspos buite die SAUK, naamlik hoof van korporatiewe kommunikasie en bemarking by Gold Reef City.
Walters was egter deurentyd ook ‘n akteur (eers op die planke, toe op radio en TV, in rolprente en ook by talle oorklankings).
Meer as enige ander program, kan sy gesig en stem aan die TV-natuurprogram 50/50 gekoppel word, waar hy van 1986 tot 2006 die aanbieder was. Sy liefde vir die omgewing het hy ook in talle dokumentêre films oor die natuur uitgeleef. Daarby was hy stigter van Radio Safari, wat uit die Krugerwiltuin uitgesaai het. — JDF
Geplaas April 2022.
Lees ook:
https://af.wikipedia.org/wiki/Andr%C3%A9_Walters
Dirk Richard was redakteur van Die Brandwag (1954-57), Dagbreek en Landstem (vroeër Dagbreek en Sondagnuus)(1962-70) en van Die Vaderland (1972-79). Sy kritiek op die Nasionale regering kos hom uiteindelik sy redakteurskap.
Hy is op 19 Augustus 1918 in die Paarl gebore en gradueer aan die Universiteit van Pretoria terwyl hy vir agt jaar as staatsamptenaar werk. Hy sluit by Die Vaderland aan en word een van die Afrikaanse joernalistiek se kleurrykste redakteurs.
Hy het verskeie kortverhaalbundels en die roman Saktyd vir ʼn persbaas gepubliseer. Laasgenoemde word beskou as ʼn akkurate weergawe van die bitter persstryd tussen Perskor en Nasionale Pers van 1965 tot met die ineenstorting van Perskor in die 1990’s.
Hy lewer ook ʼn belangrike bydrae tot die karige noordelike Afrikaanse persgeskiedenis deur sy boeke Tussen bid en droom en Moedswillig die uwe. In eersgenoemde vertel hy meer oor sy loopbaan, wat gekenmerk is deur allerlei botsings tussen hom en die NP-regering.
Uiteindelik het sy uitgesproke kritiek hom sy werk gekos en sluit hy dit in die Perskorbiblioteek af waar hy die boek Moedswillig die uwe skryf.
Richard is in 2010 oorlede. — JDF

Richard kry ‘n laaste skoot in as redakteur van Dagbreek:

Lees ook:
https://af.wikipedia.org/wiki/Dirk_Richard
Peet Simonis
Peet Simonis was ‘n bekende koerantman wat vir 18 jaar by Die Volksblad, Dagbreek en Die Transvaler gewerk het voordat hy vryskut geword en die evangelie op allerlei wyses verkondig het — veral in Afrika.
As vryskut het hy die volksmoord in Rwanda vir Rapport gedek het en sy lewe lank ‘n oog vir ‘n goeie storie gehad.
Hy het talle boeke gepubliseer (van godsdienstig tot hoe om ‘n huis te bou) en is in 2022 in die ouderdom van 84 oorlede.
‘n Oudkollega by Die Volksblad, Hennie van Deventer, vertel in ‘n blog meer oor Simonis:
“Toe ek aan die begin van die 60’s as groentjie by Die Volksblad kom, was wyle Peet Simonis ‘n gedugte misdaadverslaggewer. Die ‘senior’ lessenaar in die hoek van ons oop verslaggewerskantoor en die beste tikmasjien in die kantoor was syne. Hy was ‘n teenwoordigheid wat ontsag afgedwing het.
“Enkele jare later is Peet vort Perskor toe; eers na die Sondagkoerant Dagbreek en daarna Die Transvaler. Nog later het hy, in sy eie woorde, ‘n ‘Bybelsmokkelaar’ geword – ‘n liefdestaak wat hom tot in China en Rusland gebring het.

Peet Simonis met een van sy talle publikasies.
“By Dagbreek het hy legende-status bereik as avontuurlike verslaggewer wat vir niks stuit nie. Waarskynlik sy avontuurlikste – en gewis opspraakwekkendste – stukkie joernalistiek was in 1967 nadat die Rietbok, ‘n Viscount van die SAL, op 13 Maart van daardie jaar naby Oos-Londen raaiselagtig in die see gestort het. Oor die werklike oorsake word steeds gegis.
“Nietemin, Peet kry dit toe in sy kop om met ‘n tweesitplek-duikbootjie na die wrak en die 25 insittendes te gaan soek. Marius Jooste, Perskor se baas, gee die groen lig. Die voorneme was voorbladnuus in Dagbreek – natuurlik! – en het, buiten opspraak, ook omstredenheid gewek. ‘n Engelse koerant – seker maar goed Jantjie – het sy lesers teen die ‘Dagbreek-ekspedisie’ opgesweep deur te skryf Dagbreek behoort hom te skaam, Dis alles net ‘n soeke na sensasie. Laat die dooies met rus.”
Maar Peet en die Kaapse bioloog Gary Haslau het in dié se tweesitplek-, battery-aangedrewe duikboot die soektog aangepak.
Hennie vertel verder: “Die onderneming was nie sonder gevaar nie. Een risiko was dat die boot te vining daal en ‘n rots tref. ‘n Sterk gety kon dit meesleur. Peet – ‘n toegewyde Christen – het ernstig gebid terwyl hulle in die ondersese skemerte al hoe dieper en dieper daal.”
Peet self het daaroor vertel: ” Ons het gesak en gesak. Ek het gewonder of ek die son ooit weer gaan sien. Ek het die wrak van die Rietbok voor my geestesoog gesien, vasgekeerde lyke, oopgesperde oë van drenkelinge … en geril.
“Skielik het die romp van ons duikbootjie die bodem van die see getref. Die sterk vloei van die water het ons meegesleur. Gary het die skroef aangeskakel en die tuig beheer sodat ons van die gevaarlike bodem met sy rotse en splete kon opstyg. Die sig was hoogstens vyf meter ver. Hier iewers was die wrak van die Viscount …”
Maar daar het niks van die soektog gekom nie.
“Grootste drama, trouens, was toe die manne wat Peet by die telefoon moes kry om sy storie deur te bel, nie op die afgesproke plek wag nie. Die boot met die duikboot in tou kon dit nie in vlakker water waag nie, en in ‘n stadium het Peet dit oorweeg om ‘n reddingsbaadjie aan te trek en uit te swem strand toe, ongeveer twee kilometer ver.
“ ‘n Kwartier na Dagbreek se spertyd was hy darem in die hawe. Gelukkig het Gary se Landy daar gewag en met hom hotel toe gejaag. Aan die ander kant het Vossie Vosloo, nuusredakteur, verlig geantwoord: ‘Jis, pêl, waar is jy? Ons dag jy’t verdrink. Wag ek sit jou deur na ‘n tikster toe. Laat waai, die hele koerant wag vir jou storie, die land ook,’” aldus Hennie van Deventer se weergawe. — JDF
Peet het op die webblad K’rant (wat hy gestig het) altesame 29 stories geskryf. Gaan lees dit by http://perskor.blogspot.com/
Willie van Rensburg
Willie van Rensburg was ‘n hoogs suksesvolle skrywer van radiovervolgverhale soos Dr. Marius Hugo en Die Windtemmer. Sy verhale is ook as fotoverhale in byvoorbeeld Die Beeld gepubliseer.
As veelsydige mediaman het hy kwalik sy gelyke gehad; hy het ‘n trefsekere aanvoeling vir ‘n goeie storie gehad — en dit het van hom ‘n huishoudelike naam gemaak.
Van Rensburg was ook ‘n ervare akteur en het in sowat 21 speelprente opgetree. As oorklankingsakteur was hy die Afrikaanse stem van John Thaw in die gewilde TV-reeks Blitspatrollie, waar hy die hoofkarakter ‘n hardekwas-kwaliteit gegee het wat die oorspronklike weergawe getroef het.
Maar hy sal seker veral onthou word vir sy radioverhale, waarvan Die wildtemmer, aldus Leon van Nierop, “onoortreflik” was.
Van Rensburg het onder meer as nuusbulletinskrywer by die SAUK gewerk en juis daar aan Dr. Marius Hugo begin skryf. Hy het soms aan soveel verskillende projekte tegelykertyd gewerk dat hy eers enkele ure voor opnames aan die betrokke radioverhaal geskryf het — ten einde kop te hou tussen al die storielyne en karakters deur.

In 1967 het Die Beeld ‘n artikel (met Lorna Vosloo as skrywer) oor hom geplaas om saam te val met die debuut van Dr. Marius Hugo in dié koerant as fotoverhaal, nadat dit vir twee jaar in Sondagstem verskyn het. Dié blad is egter gestaak en Die Beeld het die regte opgeraap — as sirkulasiebouer in die blad se verbete stryd teen Dagbreek en Landstem.
Dr. Marius Hugo was toe reeds jare lank ‘n treffer op Springbokradio en is ook suksesvol as roman uitgegee. Die karakter Marius Hugo het Willie van Rensburg na aan die hart gelê. Hy het self arm grootgeword en het “altyd ‘n sagte plek” gehad vir “die ou wat onder moes begin”, het Van Rensburg aan Vosloo vertel.
Die storie, wat soggens op Springbokradio uitgesaai is, het telkens begin met min of meer die volgende inleiding: “Dokter Marius Hugo, ‘n man uit die agterbuurtes van Johannesburg wat die wêreld vierkantig in die oë kan kyk.”
Willie het, volgens Die Beeld se artikel, op Kroonstad grootgeword en ná skool by ‘n beroepstoneelgroep aangesluit. Daarna volg optredes in rolprente soos Ruiter in die nag en Stropervan die Laeveld, sy radioverhale en werk as TV-oorklankingsakteur. Hy was ook regisseur van die fotoverhaalweergawe van Die geheim van Nantes. — JDF
Kyk ook artikel oor fotoboekies en -verhale.
Dr. A.P. Treurnicht
Dr. Andries Treurnicht was redakteur van Die Kerkbode en daarna ook redakteur van Hoofstad, ‘n middagblad in Pretoria. Hy was altyd meer meningsvormer as joernalis en was deurgaans in die spervuur weens sy teologies-gefundeerde verdediging van streng apartheid.
Treurnicht is op 21 Februarie 1921 in die distrik Piketberg gebore. Hy studeer van die Universiteit Stellenbosch en was reisende sekretaris van die CSV en later leraar in verskeie gemeentes. In 1957 verwerf hy ʼn doktorsgraad in die wysbegeerte en word in 1960 redakteur van Die Kerkbode, blad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In hierdie posisie groei sy bekendheid as konserwatiewe denker.
Met die stigting van Hoofstad as Pretoriase middagblad in1968, gee hy die kansel prys en word hy die eerste hoofredakteur. Hy stel sy taak as redakteur as volg: “Koerante wil en móét nuus gee. Maar hulle wil ook menings vorm. En daarin lê ʼn groot verantwoordelikheid.” In sy boek Credo vir ʼn Afrikaner spel hy sy Christelik-nasionale filosofie uit.

Dr. Andries Treurnicht op ‘n groepfoto tydens sy redakteurskap van Hoofstad.
As redakteur neem hy sterk behoudende standpunte in jeens die konsekwente toepassing van apartheidsmaatreëls, tot so ʼn mate dat verwag is dat hy in 1969 saam met die Herstigte Nasionale Party van die Nasionale Party sou wegbreek.
Ben Schoeman, toe voorsitter van die direksie van Perskor en leier van die NP in Transvaal, skryf in sy outobiografie, My lewe in die politiek, dat hy Treurnicht “etlike kere” vermaan het oor artikels waarteen hy en die eerste minister, John Vorster, “sterk beswaar” gemaak het.
“Gelukkig was hy (Treurnicht) ook ambisieus,” skryf Schoeman, “en het hy besef dat hy in die geselskap van Hertzog, Marais en kie in ʼn politieke woestyn sou beland met baie min kans om ooit daaruit te kom.”
Hy word verkies tot NP-LV vir Waterberg en word uiteindelik ʼn NP-kabinetsminister. Hy en sy volgelinge stig egter in 1982 die Konserwatiewe Party. Hy is in 1993 oorlede. — JDF
Hersien: Oktober 2019
Lees ook:
Ben van Rensburg
Ben van Rensburg was ‘n joernalis duisend wat ‘n vol joernalistieke loopbaan van bykans 50 jaar gehad het — by die Die Volksblad, SAUK, Beeld, Die Burger, Rapport en Toyota, waar hy mediaskakeling behartig het. Hy was immers ‘n voorste motorskrywer.
Ben is in 2014 in die ouderdom van 83 in Durbanville oorlede. Gelukkig het Jacques Dommisse ‘n onderhoud met hom vir die Weslander gedoen toe Ben reeds 79 was en het sy oudkollega Hennie van Deventer iets geskryf by Ben se 80ste verjaarsdag.
Die drukkersink in Ben se are het nooit opgedroog nie, want kort-kort het die toe reeds lankal afgetredene “stewige nuusbydraes” aan die Weslander gelewer, het Jacques geskryf.
Ben is in 1963 aangestel as motorredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein, waar hy eers verslaggewer en naderhand subredakteur geword het. Hieroor skryf Hennie van Deventer op sy blog:
“Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder om hulle vir ‘n skrobbering aan te meld.” Waar ander met die jare minder rigied was oor die voorskrifte van die taalghoeroes, het Ben “onversetlik” ‘n taalpuris gebly.
Volgens Hennie het koerante en die SAUK gereeld sy bloeddruk “hemelhoog” gejaag weens hul slordige taal; ook met hul argelose onverskilligheid oor feite.
Dommisse vervolg: “Kort ná die stigting van die landwye Sondagkoerant Die Beeld in 1966 in Johannesburg het hy ’n motorblad daar begin, en toe Die Beeld en Dagbreek in 1971 saamgesmelt het om Rapport te vorm, het hy motorredakteur gebly. Toe die dagblad Beeld in 1974 in Johannesburg gestig is, het hy daar ook ‘n motorblad begin…”
Ben het van 1975 tot 1980 in Toyota se skakelafdeling gewerk en daarna weer motorredakteur van Beeld en later ook van Die Burger geword het. Dit was dae van vet bylae, baie advertensies en goeie winste vir die publikasies. Die motorjoernalistiek het natuurlik sy eie voordele vir die joernaliste ingehou.
Ben se grootste ervaring in motorsport was om in 1984 verslag te doen van die Daytona-Uithouren van 24 Uur wat Sarel van der Merwe, Graham Duxbury en Tony Martin gewen het.
“Dit is iets wat hy nooit sal vergeet nie. Hy het darem ook onder meer die Grand Prix van Monaco in 1974 bygewoon toe Scheckter in sy eerste deelname daar tweede geëindig het agter Peterson. Hy was kort daarna ook in Swede toe Scheckter sy eerste Grand Prix gewen het.
“Ben se grootste ervarings as motorverslaggewer was sonder twyfel ’n internasionale rit in 1975 in Januarie in Finland op yspaaie en bevrore mere, die bakkie-bekendstelling van Toyota in 1988 in die Namib en die Eco-Uitdaging in 2002 van Kaapstad tot die mond van die Kunenerivier op die grens tussen Namibië en Angola,” het Jacques geskryf.
Ben het “nie-amptelik” op die ouderdom van 73 afgetree, maar nog twee jaar daarna Die Burger se motorredakteur op kontrak gebly. Daarna was hy by Landbouweekblad en sy eie tweetalige motorwebwerf bedrywig.
Ben was altyd op die voorpunt van tegnologie, iets wat nuttig was in die snel veranderende wêreld van kommunikasietegnologie. Daarom kon jy altyd vir Ben vra oor die modernste GPS-, rekenaar-, selfoon-, kamera- en elke ander tegnologie. Hy was gedurig aan’t opgradeer, aldus Hennie.
Ben en sy geliefde Rina, ook ’n afgetrede Nasperser, het in Augustus 2004 die woonstellewe in Seepunt, Kaapstad, verruil vir hul nuwe huis met ’n ewe mooi uitsig in Langebaan, vertel Jacques. Daarna het hulle “afgeskaal” en uiteindelik na Durbanville getrek, waar Ben oorlede is. — JDF
Sarel Venter
DIE dag toe hy op 1 Desember 1964 by Volksblad begin werk het, het hy ook sy toekomstige vrou, Elizabeth van der Merwe, ‘n onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal, ontmoet, vertel Sarel Venter. En op die dag wat sy eerste Saterdaghoofartikel (Dilemma van die eensames) in Volksblad verskyn het, 22 November 1980, het sy vrou op dieselfde bladsy as gasskrywer in Stop van myne haar buiging gemaak onder die opskrif Aan masjiene gekoppel.
Venter, wat einde 1999 afgetree het as senior assistentredakteur van Volksblad, is in Johannesburg gebore, het in Benoni grootgeword, aan die Hoërskool Noord-Oosrand gematrikuleer en aan die Potchefstroomse Universiteit die BA-graad behaal. Hy het as senior klerk in die landdroshof in Benoni gewerk en op 1 Desember 1964 sy loopbaan by Die Volksblad begin.
Venter was eers verslaggewer , toe vertaler in die subkantoor en later ʼn subredakteur. Hy het ʼn kort rukkie as nuusredakteur waargeneem voordat hy in Junie 1974 aangestel is as hoofsubredakteur.
Hy was twee keer mede-toerleier op Volksblad-toere: in 1972 na Europa en in 1978 na Israel en Europa.
In 1976 was hy parlementêre verslaggewer in Kaapstad, en word daarna redakteur van Die Volksblad-Ekstra en behartig ook bylaes en tuiskoerante.
In sy vrye tyd het hy lank Roeping en Riglyne, maandblad van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO), tegnies versorg.
Hy word in 1982 lid van die hoofredaksie en was daagliks gemoeid met die uitgee van die koerant en tot met sy aftrede met die skryf van hoofartikels en die hantering van die hoofartikelblad en briewekolom. (Hy skryf in sy loopbaan 1 991 hoofartikels – heelwat oor kerksake – en ook talle rubrieke en ander artikels.)
In 1986 word hy benoem vir die Helpmekaar-FAK-Joernalistiekprys. In dieselfde jaar ontvang hy ʼn oorkonde as lewenslange lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en in 1987 ontvang hy die Orde van die Vriend van Die Voortrekkers en in 1989 Volksblad se Bart Zaaiman-trofee. In 1993 word hy deur Die Voortrekkers se hoofdagbestuur benoem as lid van die taakgroep: taal.
Venter is in Desember 1997 bevorder tot assistentredakteur van Volksblad, en in Maart 1999 tot senior assistentredakteur. Hy het verskeie kere as redakteur waargeneem. Die toppos was hom nie beskore nie, maar hy het met groot lojaliteit sy kollegas, lesers en gemeenskap by die Volksblad gedien.
Hy tree op 31 Desember 1999 af. Hierna skryf Venter sy herinneringe onder die opskrif Getooi in genade, en in 2006-2007 ʼn gedenkboek vir die Afrikanerklub van Bloemfontein: ‘n Plek in die son… 1957-2007. — JDF
Andries Botha
Andries Botha het in 1958 by Die Transvaler ingeval, maar is ná twee jaar na die Potchefstroomse Universiteit, waar hy in 1962 die graad BA met Engels en Geskiedenis as hoofvakke verwerf het.
Hy is in 1963 terug na Die Transvaler en het tot 1979 daar gewerk, opeenvolgend as hofverslaggewer, Durbanse verteenwoordiger, politieke korrespondent, nuusredakteur en assistent-redakteur onder dr. Willem de Klerk.
In 1978 het hy ʼn prys vir ondernemende joernalistiek in die Stellenbosch-Boerewynmakery se landwye wedstryd gewen vir ʼn projek wat onder meer gelei het tot die vrylating uit die tronk van onder andere dr. Nthato Motlana en Aggrey Klaaste, latere redakteur van Sowetan.
Andries was ook twee jaar lank assistent-redakteur van Die Vaderland onder Dirk Richard. Daarna was hy skakelhoof van die KwaZulu-ontwikkelingskorporasie, die KwaZulu-regering en die KWV in die Paarl.
Botha was ‘n innemende mens en was in 1987 feesdirekteur van die 300-jarige viering van die Paarl se bestaan en het daarna sy eie skakelonderneming begin.
Van 2006 tot 2009 was hy besturende redakteur van die Polokwane Observer, wat die prys gewen het as die beste gemeenskapskoerant in Suid-Afrika in die Sanlam-wedstryd vir uitnemende joernalistiek in die gemeenskapspers, ʼn wedstryd wat Andries self vroeër met ʼn borgskap van die KWV begin het, toe hy nog daar in diens was. Dit is later deur Sanlam oorgeneem.
Voor sy dood in 2013 skryf hy internet-nuusbriewe vir verskillende organisasies en was hy ʼn gewaardeerde medewerker van mediamense.com. — JDF
Hersien: Oktober 2019
Iris Bester
Iris Bester het van 1997 tot 2009 die aktualiteitsprogram Spektrum op RSG aangebied en in haar laaste jaar as voltydse omroeper ʼn ATKVeertjie ontvang as beste radio-aanbieder. Sy het met haar kenmerkend warm stem op sowel TV as radio haar merk gemaak.
Iris het in 1970 as omroeper by die destydse Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) begin en tot 1983 onder andere programme soos Jongspanateljee en Vrouerubriek behartig.
Sy en Sarel Myburgh het ook in dié tyd die land vol gery om Studentevaria regstreeks van kampusse af aan te bied. Met die instelling van televisie in 1975, was sy een van die eerste kontinuïteitsaanbieders en het ook baie jare die joernaalprogram Uit en tuis op TV aangebied.
Terwyl sy in Port Elizabeth gewerk het, het sy moeite gedoen om radio-dramas ook daar op te voer. Sy het die regie behartig van die TV-kinderprogram Wielie Walie asook bydraes gelewer vir TV-joernaalprogramme soos 50/50.
Van 1992 af tot 1996 was sy betrokke by spesiale projekte by NNTV en SABC3 en het in dié tyd die eerste televisieprogram vir dowes in Suid-Afrika begin. — JDF
Hersien: Oktober 2019
Willem de Klerk
Dr. Willem de Klerk was hoofredakteur van Die Transvaler (1973-1987) en daarna ook vyf jaar aan die stuur van Rapport. In die tyd het hy ʼn belangrike rol gespeel om deur sy skerp analises en vernuwende denke verandering in die Afrikaanse gemeenskap te bevorder.
Dit het bygedra tot die verkorting van sy joernalistieke loopbaan, aangesien hy twee keer in die pad gesteek is. Hoewel hy skerp kritiek van Chris Louw in dié se Boetmanbrief moes verduur, was De Klerk sy kollegas by ander Afrikaanse koerante vêr vooruit en was hy later betrokke by die stigting van die Demokratiese Party (nou DA) in 1989.

De Klerk se pa was senator Jan de Klerk, ‘n kabinetsminister, en hy was die broer van die voormalige president, FW de Klerk. Hy het aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gestudeer en was vir tien jaar lank ʼn predikant in die Gereformeerde Kerke. Daarna word hy professor in filosofie aan die PU vir CHO voordat hy koerantredakteur geword het.
Ná sy uittrede by Rapport, was hy professor in kommunikasieleer aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy is in 2009 oorlede. — JDF
Lees ook:
https://af.wikipedia.org/wiki/Willem_de_Klerk
Dirk de Villiers
Dirk de Villiers was redakteur van Oosterlig waar hy ‘n jong Ton Vosloo aangestel het. Hy was ook redakteur van Die Huisgenoot en tree op as eerste bestuurder van Die Beeld. Daarna was hy besturende direkteur van Nasionale Tydskrifte en mede- besturende direkteur van Nasionale Koerante. (De Villiers moet nie verwar word met die rolprentmaker met dieselfde naam nie.)
Hersien: Oktober 2021
Arrie (Arnold S.) de Beer
Prof. Arrie de Beer (MA RAU, MIJ Baylor, PhD Potchefstroom) was ʼn buitengewone professor in die departement joernalistiek, Universiteit Stellenbosch, en was vir sowat 50 jaar ‘n dosent en navorser. Hy het ook tien jaar se ervaring in die joernalistiek gehad (voltyds en deeltyds).
Hy vertel dat hy reeds in graad 6, toe hy aan Grey-Kollege in Bloemfontein was, besluit het hy wil koerantmens word. Hy het in ʼn huis met koerante groot geword en Daan Claassen, die destydse nuusredakteur van The Friend, was ʼn huisvriend van die gesin wat lekker koerantstories kon vertel.
Na sy fiets gesteel is, moes De Beer gaan werk om ʼn nuwe een te bekom. So kry hy “sy” staanplek op die hoek van Charleslaan en Harveyweg om Die Volksblad teen ʼn tiekie (twee en ‘n half sent) per eksemplaar te verkoop (onwettig, want hy was nog te jonk om formeel koerante te verkoop). Twee pennies het na die pers gegaan en sy wins was ʼn halfpennie per eksemplaar, waarvan hy 50% aan sy agent moes afstaan. Hy het dus ‘n kwartpennie per koerant verdien.
Na skool studeer hy perswetenskap aan die Puk, waar hy redakteur was van Die Wapad (wenner van die beste Afrikaanse studentekoerant), korrespondent vir Die Vaderland, redaksielid van die Potch-Nuus en later redakteur terwyl hy nagraads gestudeer het. Hierna het Die Transvaler, Die Burger, en die Ensiklopedie van die Wêreld gevolg tot hy in 1974 na die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag UJ) toe is as lektor in die departement kommunikasie waar hy die eerste heeltydse dosent in joernalistiek was.
In die jare 1960 was hy reeds deeltydse dosent aan Unisa in joernalistiek, en tussen-deur het hy vir die SAUK se Monitor-program uit die buiteland verslag gedoen, o.m. op ʼn daaglikse basis in 1978/79 uit Dallas.
Van 1981 tot 1989 was hy hoof van die departement kommunikasie aan die Vrystaatse Universiteit en van eind-1989 tot 2002 was De Beer aan die Potchefstroomse Universiteit verbonde waar hy ook departementshoof was.
In 1980 het hy Ecquid Novi: African Journalism Studies (ENAJS) gestig, die eerste joernaal in die breë vakgebied van kommunikasie in Afrika. Hy was die redakteur van die boeke: Joernalistiek vandag (Tafelberg), Mass media for the ’90s – Mass Media towards the Millennium (Van Schaik), en van Global Journalism (Pearson).
De Beer was onder meer ʼn lid van die SAUK-raad tydens die 1994- algemene verkiesing, van die SA Persraad en die appèlkomitee van die SA Persombudsman. Hy is die eerste ontvanger van die Stals-prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns op die terrein van kommunikasie en was ʼn mede-stigter en president van die SA Kommunikasievereniging (Sacomm).
Prof. De Beer sterf in 2021. — JDF
Hersien: Oktober 2021
Jeanette Hanekom
Jeanette Hanekom was ‘n bekende radio-omroeper in die bloeityd van die SAUK se tweetalige streekmusiekstasies, dus voor die “kultuurstasies” gekommersialiseer het. Saam met mense soos Sarel Marais, Rocco Erasmus, Les Franken, Marjorie Brooks, Pieter Human en Robin Alexander was hulle huishoudelike name op Radio Port Natal, Radio Hoëveld en Radio Goeie Hoop. Later het Radio Oranje en omroepers soos Manie Kitching bygekom.
Hanekom is in 1922 op Porterville in die Boland gebore. Na haar opleiding as kunsonderwyseres ontmoet sy Philip Grobler, akademikus, sanger, verhoog- en radioakteur by die instudering van ʼn amateurtoneelopvoering van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) in Pietermaritzburg. Hulle is in 1945 getroud, en vertrek per skip na Europa waar Philip verder studeer in Nederland. Hier doen Jeanette uitsaaiwerk as “kinderhoekietannie” vir Radio RSA.
Na hulle terugkeer na Durban, speel sy deeltyds in radiodramas, aanvanklik “lewendig”, vir die Afrikaanse Diens van die destydse SAUK. In 1968 word sy een van die eerste omroepers van die streeksradiodiens Radio Port Natal, waar sy tot haar aftrede in 1982 allerlei gesels- en musiekprogramme aanbied.
Hierna bring sy ʼn tien jaar deur by die SWAUK in Namibie, met programme wat versoeke, nuus en musiek insluit. Haar warmte, liefde vir mense, asook haar algemene kennis oor die kunste, letterkunde en musiek het van haar ʼn formidabele mediamens gemaak.
Sy sterf in 1996, twee jaar na haar finale aftrede.
Hersien: Oktober 2019
Hint Hyman
Hint Hyman was die dryfkrag agter Republikeinse Pers, wat later aan Perskor verkoop is en wat tydskrifte soos Keur (vandag Vrouekeur) en Ster (Huisgenoot se mededinger) uitgegee het.
Hy het ook naam gemaak as die man agter die fotoboekiekultuur (Mark Condor, Ruiter in swart en talle ander) wat in die 1960’s ʼn gaping gevul het wat dalk deur die gebrek aan TV gelaat is. (Televisie het eers in 1976 amptelik in Suid-Afrika begin.)
Hyman is in 1912 gebore en was verslaggewer by die Die Vaderland en later nuusredakteur van Die Brandwag. In die 1950’s stig hy Keur Uitgewers, wat hy, aldus Leanda Martin, aanvanklik van sy plaas Onverwacht in die Luckhoff-distrik bedryf.
In die 1960’s het hy na Durban verhuis en Republikeinse Pers (RP) gestig — volgens oorlewering omdat dit veel sou gekos het om ‘n nuwe ingevoerde drukpers na die Vrystaat te vervoer.
Benewens die reeks fotoboekstories het RP 29 tydskriftitels gehad, wat eers in die Perskorstal beland het en waarvan net sommige vandag nog onder Caxton se vaandel verskyn. — JDF
Bron: Amanda Botha se artikel op K’rant.
Hersien: Oktober 2021
Lees ook:
https://af.wikipedia.org/wiki/Hint_Hyman
Dirk Kamfer
Dirk Kamfer was in die jare 1947-61 ‘n bekende omroeper, sportkommentator en sportjoernalis.
Kamfer is op 1 Junie 1917 op Brandvlei gebore, studeer aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy die grade BA, MA en MEd verwerf. Hy word in 1947 omroeper by die Afrikaanse diens van die SAUK en later programorganiseerder in Kaapstad.
In 1952 word hy ʼn redaksielid van Die Huisgenoot. As sportskrywer maak hy rugbytoere deur die Springbokke na Australië en Nieu-Seeland (1965) en Brittanje en Frankryk (1960-61) mee.
Volgens Pieter W. Grobbelaar (in ʼn inleidende stuk tot die versamelbundel Die elfde uur) was van Kamfer se werk onteenseglik van letterkundige waarde: “Hy veredel die spreektaal, die volkstaal tot literêre medium …” — JDF
Hersien: Oktober 2019
Lees ook:
https://af.wikipedia.org/wiki/Dirk_Kamfer
J.J. (Jannie) Kruger
Jannie Kruger was redakteur van Die Oosterlig (1942-43) en later ook redakteur van Die Transvaler, waar hy dr. H.F. Verwoerd opgevolg het. Hy beklee verskeie senior poste by Die Volksblad en Die Burger en werk ook in Nederland vir die SAUK. Ná sy koerantloopbaan het Kruger bekend geword as voorsitter van die Sensuurraad.
Hersien: Oktober 2019
Lees ook:
https://af.wikipedia.org/wiki/Jannie_Kruger
Anne Kruger
Anne Kruger was van 1985 tot 2012 redakteur van die Paarl Post. In dié tyd het die blad sy plek as een van die heel beste gemeenskapskoerante in die land ingeneem.
Anne is op 25 Mei 1951 gebore, matrikuleer aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville en behaal in 1971 die graad BA met Afrikaans en Engels as hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch. ʼn Jaar later verwerf sy ook die hoër onderwysdiploma.

Anne Kruger as redakteur van die Paarl Post.
Sy gee eers Engels by die Hoërskool Bellville en verhuis daarna na Johannesburg waar sy in 1974 ʼn verslaggewer by Beeld word.
Na ʼn tyd as dosent in Afrikaanse Kommunikasie by die Paarl Kollege, word sy in Julie 1983 ʼn verslaggewer by Paarl Post en in 1985 die redakteur. Sy het in die loop van 2012 afgetree en werk daarna as teksredakteur. — JDF
Hersien: Oktober 2019
C. Louis Leipoldt
C. Louis Leipoldt was ‘n digter, medikus, oorlogskorrespondent en assistent-redakteur van De Volkstem. Hy sluit as jong man by De Kolonist aan, word Hollandse verslaggewer en later redakteur by South African News en doen vir verskeie oorsese publikasies verslag oor die Anglo-Boereoorlog.
Later word hy ʼn gereelde medewerker van Die Brandwag en sluit in 1922 by De Volkstem aan. In 1923 word hy assistent-redakteur van die blad, maar bots met die redakteur, Gustav Preller. Sy diens word in 1925 beëindig.
Leipoldt word daarna redakteur van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Tydskrif en lewer deur die jare verskeie bydrae tot tydskrifte soos Die Huisgenoot – onder meer oor kookkuns onder die skuilnaam K.A.R. Bonade (1941-47). — JDF
Hersien: Oktober 2019
Gert le Roux
Gert le Roux het was in sy tyd een van die bekendste Afrikaanse atletiekskrywers. Hy was ook ʼn uitstaande atletiekstatistikus en het lank as voltydse atletiekadministrateur gedien nadat hy by Rapport bedank het.
Le Roux, wat in 2013 in die ouderdom van 78 oorlede is, het sy loopbaan in 1966 by die SAUK begin en het vir onder meer Die Transvaler, Die Vaderland en Dagbreek en Landstem geskryf. Van laasgenoemde koerant was hy ook sportredakteur.
Le Roux het in 1965 saam met die Springbokke na Brittanje getoer en in 1967 na Frankryk. Altesame het hy oor meer as 30 rugbytoetse verslag gedoen.
Hy vertel op die webblad K’rant die een en ander oor sy loopbaan. Kyk by http://perskor.blogspot.com/2012/07/dok-craven-sorg-vir-twee-wonderlike.html#more.
Hersien: Oktober 2021
Sy oudkollega Ben Louw skryf die volgende oor Gert le Roux:
Gert was ’n man op wie se integriteit en regverdigheid jy altyd kon reken.
Met sy liefde vir veral atletiekstatistiek het Gert so ’n groot bydrae tot wêreldatletiek gelewer dat die Internasionale Amateur Atletiekfederasie (IAAF) sy afsterwe op 17 Augustus 2013 op 78-jarige leeftyd in ’n amptelike verklaring betreur het. Die IAAF het hom inderdaad in 1995 vereer met die IAAF se veteranetoekenning vir sy bydrae tot wêreldatletiek as administrateur, statistikus en sportskrywer. Hy is ook in 1995 met opname in die SA Brouerye se Heldesaal van SA Sportjoernalistiek vereer.
Riёl Hauman het Gert in Distance Running Results as ’n reus in Suid-Afrikaanse atletiek beskryf. Hy beskryf Gert as die bes ingeligte kenner, mees noukeurige historikus, die mees ervare en deeglike administrateur van Suid-Afrika se atletiek. Gert was inderdaad wêreldwyd beroemd vir sy noukeurige samestelling van atletiekgeskiedenis en –statistiek.
Hy het vyftig jaar lank met die publikasie van die SA Athletics Annual gehelp en was baie jare ook redakteur van die SA Athletics Statisticians (SAAS). Hoewel hy self vir die Vrystaat se onder 19-span rugby gespeel het, was atletiek sy groot liefde.
Chris Moolman
Chris Moolman was redakteur van Rapport en Oosterlig en het ook senior posisies by Volksblad en Die Burger beklee. Hy was geen flambojante joernalis nie, maar eerder bekend as ʼn stewige joernalis se joernalis.
In sy aftreejare hou hy hom besig met die skryf van lekkerlees-spanningsboeke, maar ook ʼn oorsig oor Rapport se ontstaansgeskiedenis en enkele hoogtepunte onder die titel Van baster tot bielie.
Chris is in 1941 in Standerton gebore. Hy het op Villiers gematrikuleer en later die BA-graad buitemuurs aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal.
Hy het hom in 1962 by (Die) Volksblad aangesluit, waar hy mettertyd tot nuusredakteur en assistant-redakteur bevorder is. Hy was ook die eerste Volksblad-man wat hoof van Nasionale Koerante se Londense Kantoor geword het.
In 1979 word hy redakteur van Oosterlig, ʼn pos wat hy tot 1985 beklee het, waarna hy na Die Burger verplaas is. Hier was hy adjunk-redakteur voordat hy in 1997 as hoofredakteur van Rapport aangestel is, ʼn pos wat hy tot 1999 beklee het.
Hy is in 2020 in die ouderdom van 79 in Durbanville oorlede. — JDF
Hersien: Oktober 2021
Carl Nöffke
Carl Nöffke was ʼn SAUK-radiojoernalis van 1950-1968, daarna hoofredakteur van Die Transvaler tot in 1973 en toe vir twee jaar hoofredakteur van Perskor-nuusdienste. Hy word professor in Amerikaanse studie aan die RAU en gee tot met sy dood in 2006 ʼn elektroniese publikasie, Exclusive USA/RSA Business Profile, uit.
Nöffke is op Weza in Natal gebore en voltooi sy skoolloopbaan op Belfast. Hierna word hy joernalis en studeer aan die Universiteit van Pretoria. Hy sluit op 20-jarige ouderdom by die SAUK aan en dien as politieke korrespondent en parlementêre beriggewer.
In die jare 1964 tot 1968 doen hy verslag uit Frankryk en ander Europese lande, onder meer oor die Wêreldhofsaak teen Suid-Afrika oor Suidwes-Afrika/Namibië. Hy was dus in daardie jare ʼn bekende stem op die radio wat die beleidsrigtings van die NP-regering entoesiasties gepropageer het.
Bron: Ina van Rooyen se in memoriam-berig op LitNet.
Hersien: Oktober 2019
Izak (Sakkie) Perold
Sakkie Perold was hoofredakteur van Rapport en het vroeër ook as redakteur van Landstem gedien.
Perold is in die Paarl gebore en matrikuleer aan die Hoër Jongenskool. Hy begin sy loopbaan in die joernalistiek by die Paarl Post. Hierna word hy redakteur van Unie-Jeug, ʼn mondstuk van die Verenigde Party, dien in die redaksie van Die Suiderstem en word op 23-jarige ouderdom redakteur van Ons Land. In 1950 help hy met die stigting van Die Landstem, wat later by Dagbreek ingelyf is en nog later met Die Beeld saamgesmelt het om Rapport te vorm.
Perold word in 1978 redakteur van Rapport, totdat hy vyf jaar later om gesondheidsredes Kaapse redakteur word. Hy tree af in 1990 en sterf in 2005.
Sakkie Perold is deur oud-kollegas as ʼn nederige, sagte mens bestempel wat tog met integriteit die druk van bestuur en politici kon weerstaan. Hy was ook bekend vir sy humorsin, waaroor hy ʼn boek, Glimlag of grinnik, geskryf het.
Hersien: Oktober 2019
Alf Ries
Alf Ries was ‘n assistent-redakteur van Die Burger en politieke redakteur van Nasionale Media wie se naam gereeld bo-aan voorbladhoofberigte in Die Burger gestaan het.
Hy studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en sluit in 1953 by Die Volksblad aan en doen van 1959 af verslag uit die persgalery van die Parlement. Hy het sterk bande met eerste minister John Vorster en pres. P.W. Botha gehad en was as sodanig ʼn besonder ingeligte (en lojale) beriggewer oor die NP.
Sy invloed het veel wyer gestrek as sy eie beriggewing: As senior parlementêre beriggewer was hy die mentor van verskeie opkomende joernaliste van Naspers wat later redakteurs geword het.
In 1973 was Ries ʼn Nieman-genoot in Amerika en hy ontvang in 1987 ʼn FAK-prys vir joernalistiek. In 1993 ken die Kaapse NP die D.F. Malan-erepenning aan hom toe, die hoogste eerbewys deur die party. En in 1994 vereer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met die Markus Viljoen-medalje.
Ries was outeur van die bundel artikels John Vorster 10 jaar, en saam met Ebbe Dommisse mede-outeur van die boeke Broedertwis en Leierstryd.
Alf Ries is in 2006 in die ouderdom van 74 oorlede.

Hersien: Oktober 2019
Cobus Robinson
Cobus Robinson was die stem van die aktualiteitsprogram Monitor, wat oggendradio op die Afrikaanse Diens (nou RSG) vir dekades verander het.
Hy is uit die Kaap gelok om die baanbrekerprogram (wat Fanus Rautenbach se Flink uit die vere vervang het) saam met Sarel Myburgh te kom aanbied. So het hy een van die herkenbaarste stemme op radio geword – ʼn radioman met die glimlag in sy stem, soos Hennie van Deventer dit gestel het.
Robinson was ook bekend vir sy deelname aan die programme Skote Petoors en Dis my geheim. Hy was ‘n stemkunstenaar van formaat, wat in vele radio-advertensies gehoor kon word. Hy was ook mede-skrywer van Haas Das, die TV-reeks, asook van die draaiboek vir die rolprent Sing vir die harlekyn.
Hy het op relatief jong leeftyd die radiobedryf verlaat en met sy dood ʼn gastehuis in die Oos-Kaap bedryf waar hy in 2005 in die ouderdom van 59 oorlede is.
Hersien: Oktober 2019
Elsabé Retief
Elsabe Retief het in 2012 na tien jaar die redakteurskap van die Eikestadnuus neergelê. In dié tyd het die koerant naam gemaak as een van die voorstes in die gemeenskapskoerantwêreld.
Sy was altesame meer as twintig jaar by die Eikestadnuus en hou later ʼn oog oor Boland Media se subkantoor in die Strand.
Elsabé het eers op 42-jarige leeftyd (deeltyds) in die koerantwêreld beland. Metterwyl het sy voltyds by Eikestadnuus begin werk en naam gemaak as ondersoekende skrywer oor sake soos die omgewing. Daarvoor ontvang sy verskeie Sanlamtoekennings.

Elsabé in op Fort Beaufort in die Oos-Kaap gebore. Sy het haar skoolopleiding by Laer- en Hoërskool Groote Schuur ontvang en is in 1966 Universiteit Stellenbosch toe waar sy ʼn honneursgraad in Afrikaans behaal het.
Sy sê: “Die dorp se mense is ongelooflik passievol, vol causes en kwessies! In my 20 jaar plus by Eikestadnuus het ek soveel vriende gemaak, en wonderlike mense leer ken. Dit was ʼn voorreg vir my om by Eikestadnuus betrokke te wees en nuus vir almal te probeer bring.”
Hersien: Oktober 2019
J.H.P. (Hennie) Serfontein
Hennie Serfontein was een van die land se bekendste politieke korrespondente, veral toe hy by die Sunday Times gewerk het en onthullings oor die Afrikanerpolitiek gedoen het.
Hy skryf later vir Vrye Weekblad en verskeie oorsese publikasies en doen heelwat werk vir buitelandse TV-stasies.
Hy is op 26 Augustus 1933 in Pretoria gebore en matrikuleer in 1949 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Serfontein studeer in die regte, maar sluit in 1964 aan by die Sunday Times, waar hy bekendheid verwerf vir sy beriggewing oor die Afrikaner-Broederbond en die regse rebellie deur Albert Hertzog en andere laat in die 1960’s teen die leierskap van eerste minister John Vorster.
Serfontein was die skrywer van onder meer Die verkrampte aanslag. Hy is in 2017 oorlede. — JDF
Hersien: Oktober 2019
Johannes Steinmeyer
Johannes Steinmeyer was ʼn gebore Hollander en lid van die eerste redaksie van De Burger. Hy speel ʼn sleutelrol in die vestiging van die koerant en dien as nuusredakteur en rubriekskrywer.
Steinmeyer was vroeër parlementêre verslaggewer vir De Volkstem en het in 1948 by Die Burger afgetree en is in 1963 oorlede.
Sy boek Spyker met koppe is een van die min wat handel oor die persgeskiedenis van die eerste helfte van die twintigste eeu.
Hersien: Oktober 2019
Pieter Spaarwater
Pieter Spaarwater het vir twaalf jaar (tot 2001) die gewilde rubriek Van alle kante daagliks in Die Burger gehanteer. Hy was ook motorredakteur van Die Burger en van Huisgenoot.
Spaarwater het sy loopbaan in 1960 by die SAUK in Seepunt, Kaapstad, begin. Hy werk daarna drie jaar in die Afrikaanse afdeling van Radio Nederland se Wêreldomroep, toe ʼn jaar as omroeper in Kaapstad en daarna weer drie jaar by die Wêreldomroep.
(Met insette deur Ben van Rensburg)
Hersien: Oktober 2019
Humphrey Simes
Humphrey James Roy Simes, wat op 26 Junie 1925 op Kestell gebore is en daar grootgeword het, het die graad BA Honneurs aan die Vrystaatse Universiteit behaal. Hy het in die Argief in Bloemfontein en in die vleisbedryf (Asokor) gewerk voordat hy hom by Die Volksgenoot in Suid-Rhodesië aangesluit het. Enkele maande later het Wiets Marais die koerant verlaat. Simes het as redakteur oorgeneem en dié pos tot September 1951 beklee.
Daarna het hy en sy gesin teruggekeer na Suid-Afrika waar hy as organiseerder van die Nasionale Party se Jeugbond aangestel is. In 1971 het hy lid van die Provinsiale Raad in die Vrystaat geword, en van 1982 tot 1986 was hy lid van die Uitvoerende Komitee. Hy is op 17 Januarie 1998 in Bloemfontein oorlede.
Afrikaans was ongewild by sommige Engelssprekende Rhodesiërs. Toe familielede uit Suid-Afrika die gesin Simes by geleentheid besoek en by die grenspos Afrikaans met mekaar gepraat het, het ʼn amptenaar aan hulle gesê: “Here we fly the Union Jack. If you want to speak that language you can go right back to where you come from.”
By Barbers, die grootste winkel in Salisbury, was ʼn kennisgewing wat gelui het: “No dogs and natives allowed”. Symes het ʼn foto van die kennisgewing in Die Volksgenoot geplaas en geskryf dat so ʼn diskriminerende benadering verkeerd is en die koloniale owerheid daarvan moet afsien. Sir Godfrey Huggins (later Lord Malvern), die eerste minister, het Simes toe na sy kantoor ontbied en hom tereggewys omdat die beriggewing mense die harnas kon injaag. — IM.
(Inligingverskaf deur sy weduwee, mev. Babs Simes.)
Hersien: Oktober 2019
Willem (Wollie) van Heerden
Willem van Heerden is dalk minder bekend, maar was ‘n betekenisvolle figuur in die Afrikaanse joernalistiek van die 20ste eeu. Hy was redakteur van Die Vaderland, voorsitter van Perskor en ook voorsitter van die direksie van Rapport, toe die blad om die helfte deur Perskor en Naspers besit is.
Hy begin sy loopbaan by Die Volksblad en skuif ná ʼn jaar na Die Burger in Kaapstad voordat hy in 1928 Nasionale Pers se spesiale verteenwoordiger in Pretoria word. In 1931 aanvaar hy ʼn pos as assistent-redakteur van Die Vaderland, waarmee hy onherroeplik deel van die noordelike Afrikaanse pers van destyds word.
Toe die Nasionale Pers in 1965 met die Sondagkoerant Die Beeld en in 1974 met die dagblad Beeld sy kleim in die noorde afsteek, het Van Heerden aan die ander kant van die draad gestaan. Maar hy is deur almal in die bedryf gerespekteer.
Hersien: Oktober 2019
Hierdie stuk het oorspronklik in effe ander vorm in Die Volksblad verskyn.
A.M. (Mynhardt) van Schoor
A.M. van Schoor was een van die kleurrykste Afrikaanse joernaliste van die twintigste eeu. Hy was redakteur van Die Vaderland en vroeër stigterredakteur van die tydskrifte Fleur en Rooi Rose.

Van Schoor het sy loopbaan as joernalis by Die Burger begin en was selfs vir 18 maande redakteur van Die Huisgenoot. Hy trek egter noorde toe en word en sluit aan by Die Vaderland.
Hy was later die eerste sekretaris van die SA-Stigting en ook nuushoof van die SAUK, waar hy ‘n gereelde buitelandse nuusoorsig op die Afrikaanse Diens met sy kenmerkende Swartlandse bry gehanteer het.
Na sy uittrede uit die joernalistiek word hy ‘n NP-senator.
Johannes van der Walt
Johannes van der Walt was meer as 50 jaar agter die mikrofoon, waarvan 38 jaar as omroeper by die Afrikaanse Diens (RSG). ʼn Jaar ná sy uittrede in 1992 het hy by Radio Pretoria aangesluit en as programhoof opgetree. Voor sy dood in 2007 was hy programkonsultant en taaladviseur vir die stasie.
Van der Walt was veral bekend vir sy noukeurige lees van radio- en TV-nuus. Hy was ook ʼn sportomroeper van formaat (veral gholf en tennis) en het graag programme oor ou populêre musiek aangebied.
Edwill van Aarde, ʼn oudkollega, het by sy dood genoem dat Van der Walt na homself as “vaalseun” verwys het — ʼn aanduiding van sy nederigheid.
Hersien: Oktober 2019
Anna van Zyl
Anna van Zyl het langer as 30 jaar by die (Die) Volksblad gewerk en onder meer die rubriek Soos ek dit sien gehanteer. Sy was ook jare lank boekeresensent en het destyds die Kokkewiet-boekklub by die koerant begin.
Van Zyl is in 2012 in die ouderdom van 84 oorlede. Op haar begrafnisbrief is ʼn brief deur Septimus Smuts afgedruk wat op 9 Oktober 1986 onder die opskrif Sy verdien ereplek in Die Volksblad verskyn het. Dit het onder meer gelui:
“As daar ʼn vrou is wat ʼn ereplek in die samelewing verdien, is dit Anna van Zyl van Die Volksblad se redaksie … Sy … besig die keurigste taal, soos haar boekbesprekings getuig. Oor haar uitgebreide mensekennis spreek haar Saterdag-rubriek Soos ek dit sien.
“Maar waaroor sy die hoogste lof verdien, is haar nugter siening van ʼn praktiese lewenswyse, vol diepe wysheid wat oral uitslaan by enigiets wat wissel van godsdiens tot by die onnodige vermorsing van geld op matriekafskeide.
“Sy skryf dringend oor sake wat ons hele volk raak. (Oorle’ Salomo sou hierdie vrou baie hoog aangeslaan het, lees maar Spreuke 31.) Hierdie uiters bekwame persoon is innerlik beeldskoon.”
Van Zyl het verskeie kere as dosent by die departement Afrikaans aan die UOVS afgelos. Sy het ook by kultuurgeleenthede soos Geloftefeeste as spreker opgetree.
Sy was ʼn toegewyde gelowige met sterk beginsels. Daarvoor het mense haar gerespekteer.
Van Zyl is op 24 Oktober 1928 gebore en het op Bethulie grootgeword en gematrikuleer.
Nadat sy ernstig verbrand het, het sy steeds die grade B.A. en B.A. Hons. (cum laude) aan die UOVS (nou UV) behaal.
Met dank aan Sarel Venter.
Hersien: Oktober 2019
Sarel van Vuuren
Sarel Hendrik Janse van Vuuren was (Die) Landbouweekblad se derde redakteur, van Junie 1935 tot September 1950. Hy het van vryskutskrywer tot die hoogste pos by die blad gevorder.
Van Vuuren is op 12 September 1998 op die plaas Sterkfontein in die distrik Heidelberg (Transvaal, nou Gauteng) gebore. Sy ouers was Jan Lodewicus Janse van Vuuren en Anna Catarina van der Walt.
In die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het hy saam met sy ma in die konsentrasiekamp in Kroonstad beland. Sy ma is in die kamp oorlede en hy is liefdevol deur sy pleegma, Johanna Adriana van der Walt (sy eie ma se suster en later sy stiefma), grootgemaak.
Vanaf Sterkfontein het hy elke dag 6 km heen en weer ver gestap na ʼn plaasskooltjie met ʼn rou Engelsman in bevel. Ná standerd vier (graad ses) het hy by sy oupa Charl Hendrik Janse van Vuuren op Heidelberg gaan woon. Daar het hy in 1918 aan die Volkskool gematrikuleer waar hy Christelik-Nasionale onderwys ontvang het.
Die volgende jaar is hy na die Heidelbergse Onderwyserskollege nadat hy, soos die gebruik destyds was, ʼn tyd lank proefonderwys gegee het. Sy proeftyd was by die Goede Hoopskool op Germiston aan die Oos-Rand.
Van Vuuren het sy onderwysloopbaan begin as hoof van ʼn tweemanskool by Rooipoort in Wes-Transvaal (nou Noordwes). Daar het hy sy toekomstige vrou, Johanna Judith, wat as assistent aangestel is, ontmoet en hulle is in 1926 getroud. Terwyl hy skool gehou het, het hy deeltyds verder gestudeer en onder meer ʼn landboukursus aan die Landboukollege Potchefstroom voltooi.
Vir ʼn ekstra verdienste het hy artikels vir Die Landbouweekblad geskryf. Hy was aan die Orientskool, wes van Krugersdorp (Transvaal), verbonde toe die Kaapstadse dagblad Die Burger ʼn landbouredakteur wou aanstel. Die koerant se redakteur het by Die Landbouweekblad se redakteur van Van Vuuren gehoor en hom ná onderhandelinge die pos aangebied.
Van Vuuren het ná sewe jaar in die onderwys bedank en hom by Die Burger in Kaapstad aangesluit. Nog sewe jaar later is hy aangestel as redakteur van Die Landbouweekblad, wat destyds in Bloemfontein uitgegee is. Hy en sy vrou en die eerste twee van hul drie kinders, Jannie en Mimi, het gevolglik in 1935 na die Vrystaatse hoofstad verhuis.
Die Landbouweekblad was gesetel in dieselfde gebou as die dagblad Die Volksblad in Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan), Bloemfontein. As redakteur het Van Vuuren self boere besoek en artikels vir die tydskrif geskryf. Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-45) het die staat brandstof gerantsoeneer. Vervoer was tot die minimum beperk en hy het byvoorbeeld tussen sy huis en die kantoor gestap.
In September 1950 het Die Landbouweekblad se hoofkantoor na Kaapstad verskuif. Omdat Van Vuuren na aan aftrede was, het hy besluit om in Bloemfontein aan te bly en as Vrystaatse en Noord-Kaapse verteenwoordiger van die tydskrif te werk. Hy het einde Julie 1963 afgetree en daarna nog vryskutwerk gedoen.
Van Vuuren is op 30 April 1985 oorlede en het drie kinders nagelaat. Hy en sy vrou is albei op die Vrystaatse dorp Trompsburg begrawe.
Oorspronklik in Februarie 2015 op Mediamense.co.za geplaas.
Nic de Jager
Nic de Jager was ‘n bekende stem op die radio in die jare 1966-1974. Toe was hy omroeper by die Afrikaanse Diens en held in menige radioverhale, soos Willie van Rensburg se Die Wildtemmer.
Nadat hy weg is by die SAUK weens die base se “nasionalistiese vroomheid”, het hy as vryskut ‘n goeie bestaan gemaak. Nic het nuus op televisie gelees en is in letterlik honderde advertensies gehoor.
Sy sterk stem en effe siniese trek om die mond het hom die ideale televisie- en rolprentskurk gemaak. So speel hy in Dubbele alibi en flieks soos Snip en Rissiepit en Gods must be crazy. Hy het ook die kans gekry om as regisseur op te tree — in reekse soos die uitmuntende 1945.
In die jongste jare herleef Nic as radio-aanbieder op RSG met sy Sondagmiddagprogram Nic se goed waarin hy meestal musiek uit sy eie groot versameling speel. Klassieke musiek word afgewissel met ‘n verrassende keuses uit ander genres.
Nic is in 2023 reeds 82 jaar oud en gewilder as ooit.
Geplaas Maart 2023