BETS STEYN VERTEL OOR HAAR LOOPBAAN BY KOERANTE, RGN, SAKD EN RADIO PRETORIA

Bets Steyn het ‘n lang loopbaan by koerante en die radio gehad. Hier is flitse uit ‘n vorige era … waar Andries Treurnicht nog koerantredakteur was en Radio Pretoria sy pad moes vind.

“Ek is sedert 1968 in die mediawêreld toe ek by Perskor se Pretoria-koerant Hoofstad en later ook by Oggendblad betrokke was. Ek is as redaksiesekretaresse aangestel, maar is gou-gou deur die joernalistiekgogga gebyt, “ vertel Bets.

“Dr. Andries P. Treurnicht was die redakteur, ‘n baie beginselvaste man vir wie ons groot respek gehad het. Saam met hom het At de Beer, Beaumont Schoeman, Piet Myburgh en Blaar Grobbelaar ‘n sterk span gevorm.

“In 1969 het mnr. Jaap Marais (later leier van die HNP) dr. Treurnicht by die koerant kom besoek. Ek is aangesê om die tee te maak en te bedien. Dit was ‘n heftige gesprek en mnr. Marais het driftig geraak. Toe ek dr. Treurnicht se kantoor binnetree, hoor ek hom sê: ‘Jaap, nee, jy is te haastig. Wag, gee nog bietjie tyd. As jy so gaan optree, gaan jy die volk skeur,” waarop mnr. Marais opvlieg en al armswaaiend uitroep: ‘Apie, jy is ‘n verraaier! – en daarmee die hele skinkbord met fyn koppies en tee uit my hande klap … alles stukkend op die vloer en papnat.”

Dit klop met ander beskrywings oor daardie tyd toe Treurnicht nie saam met dr. Albert Hertzog en Jaap Marais van die Nasionale Party wou wegbreek nie. Hy het dieselfde taal as Hertzog-hulle gepraat, maar binne die party gebly en minister geword, maar op die ou end in 1982 weggebreek om die Konserwatiewe Party te stig.

“By Hoofstad was ek baie betrokke by beriggewing vir die vroueblad, kinder- en pretblad en verskeie ander afdelings, maar veral Saterdae se volblad kerknuus. Toe het ek al wat ‘n predikant in Pretoria was geken; ook die dekane by die twee teologiese fakulteite by Tukkies. By die bekendstelling van die nuwe Bybelkonkordansie was ek die enigste vrou teenwoordig …”

Bets was by Oggendblad ‘n kollega van Koos du Plessis, Harald Pakendorf, Koos Liebenberg, Herman Snyman en ander. Later is sy na die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar sy by die Instituut vir Taal en Kunste (INTAK) se publikasie-afdeling onder Charles Malan gewerk het. Daar het sy met bekende skrywers vanoor die hele land te doen gekry: Jakes Gerwel, Etienne Leroux en andere … (Hooffoto bo: Charles Malan heel links; Bet net voor regs van borsbeeld.)

“Ná bietjie meer as drie jaar is ek op aanbeveling van oud-kollegas na die Departement van Inligting – in die stormtyd van die sogenaamde Inligtingskandaal. Dit was ook die tyd toe mnr. Pik Botha die departement gesluit en by Buitelandse Sake ingelyf het en dit na die SA Kommunikasiediens verander is. Ek het vir die SA Panorama, SA Today en ander publikasies eerstens as redaksiesekretaresse opgetree, maar later ook artikels gedoen, soos oor die beroemde Cullinandiamant.

SA Panorama het in Suid-Afrika in Afrikaans en Engels verskyn – ‘n prestige-tydskrif. Dit het gewoonlik 32 bladsye beslaan. Daarna is dit na Bern, Switserland, gestuur, waar dit in ses Europese tale – 16 bladsye – gepubliseer is. Daarna is dit na Taiwan waar dit in Mandaryns vertaal is vir publikasie aldaar,” aldus Bets.

Haar loopbaan draai toe na die radio. Sy sluit in 1995 by Radio Pretoria aan en doen heelwat kinder- en joernaalprogramme saam met Karen Zeelie en Gideon van den Berg, asook boekvoorlesings. Maar sy beland in die diskoteek, waar sy18 jaar lank hoof was en waar sy haar uitgeleef het in musiek.

“Ek het in ‘n stadium 12 programme opgestel en selfs sommige aangebied. Dit het  gewissel het van boeremusiek tot Bach en alles tussenin! Ek het met al wat kunstenaar is te doene gekry, selfs oorsese mense.

“Met die oorname van die radiostasie het Willie Spies as grootbaas van die nuwe stasie – Pretoria FM –  die meeste van ons ‘ou’ hande vervang met jong, soms ook onervare, mense. Spies het by drie vergaderings (waar ek by was) gesê hy wil die stasie in lyn met Jakaranda en RSG bring  — en hy het daarin geslaag!

“Die hele stasie het verander: die inhoud en veral die musiek … Die jonges wat ingekom het wou alles verander en – soos James Kemp dit daardie tyd duidelik gestel het: ‘Ons wil ontslae raak van die ou beeld, ons wil vir die jonges ‘n stasie gee …’”

Bets is ná 25 jaar weg by Pretoria FM en hou haar steeds besig met artikels vir plaaslike blaaie. Maar sy dink met heimwee terug aan haar jare in die media. — Johannes Froneman