BESTE ANEKDOTES UIT PERSKOR-BINNEKRING

Dirk Richard was ‘n tydskrif- en koerantredakteur, politieke voorloper en gewaardeerde optekenaar van persgeskiedenis. Hierdie twee boeke deur hom is andersoortig, maar ewe leesbaar.

TUSSEN BID EN DROOM — ’n koerantman het albei nodig

Dirk Richard

Constantia, Pretoria

1986

Aan die einde van sy loopbaan by Perskor, het Richard vir ‘n paar maande sy aftrede sit en inwag deur ‘n boek oor perspersoonlikhede van die Noorde te skryf (Moedswillig die uwe — kyk bespreking elders). Daardie titel moes hy eintlik vir hierdie boek gebêre het, want Tussen bid en droom bevat van Richard se mees skerpste stukkies. Dit is ‘n hoogs leesbare wandeling deur die politiek en persomgewing van vroeër.

As senior joernalis het hy Verwoerd en Vorster beleef, Oom Ben Schoeman en die kerkvaders wat hom oor sy Sondagkoerant kom aanspreek het, en les bes, Marius Jooste. Hy het hom teen klein apartheid verset, kritiek op swak ministers uitgespreek en met die Broederbond gebots…

Dirk Richard is deur die meule en het met humor anderkant uitgekom. Die stories wat hy hier vertel, is enig. Dit gee insig in veral die NP-politiek van die 1960’s en 1970’s, asook die binnewerking van Perskor, die eens magtige persmaatskappy.

Die boek is lank reeds uit druk; raap dus enige gebruikte eksemplaar op. Daar is niks leesbaarder oor die Afrikaanse pers op papier nie. — JDF

SAKTYD VIR DIE PERSBAAS

Dirk Richard

Human & Rousseau, Kaapstad

1995

Richard het verskeie kortverhaalbundels geskryf, maar hier is ‘n volbloed roman. Dis egter ‘n roman sterk gebaseer op die werklikheid — so na daaraan dat een resensent (prof. H.J. Grosskopf) in sy resensie sommer skryf: “Ek los nou die skuilname en noem koerante en mense soos hulle was/is.”

Die roman vertel die verhaal van die Afrikaanse pers in die Noorde, maar uiteindelik veral die jare nadat Naspers met ‘n dagblad (Beeld) begin het. Daarom is dit noodwendig die uiteindelik tragiese verhaal van Marius Jooste.

As jy gou uitwerk wie is wie, kan jy die roman maar as nie-fiksie lees. Maar dit verg seker ‘n bietjie voorkennis.

Die befaamde Rykie van Reenen merk in haar resensie van die boek op dat daar iets “ongemakliks” is aan hierdie “mengelgenre”. Opwindend vir hulle wat dit meegemaak het, maar ander? Uiteindelik meen sy is dit ‘n boek om te lees — ter wille van die kennismaking met koerantmense en hul dinge. Soos ‘n karakter in die boek opmerk: Hulle is nie beter nie, net anders.

Vir enigeen wat in mediageskiedenis belangstel, is dit ‘n moet-lees. — JDF