Die joernalis BEN LOUW het ‘n lang loopbaan in die joernalistiek gehad. Hy vertel hier van sy beginjare by die detydse Oosterlig.
TYDENS my matriekjaar in 1957 by die Hoërskool Despatch het die destydse Nasionale Pers se Oos-Kaaplandse nuusblad, Die Oosterlig, vir ‘n redaksionele aanstelling met die verskillende skole se top-ouens in veral Afrikaans onderhoude gevoer. (Die Oosterlig is van sy kantore in Noordeinde, Port Elizabeth, in daardie stadium net Maandae, Woensdae en Vrydae gepubliseer en het later ’n dagblad geword.)

Dirkie de Villiers, wat later ook Huisgenoot se redakteur was, het as redakteur van Die Oosterlig die onderhoude gevoer. Soos net die Here dit beskik het, is net ek en Jacques van der Elst, wat later by die Potchefstroomse Universiteit vir CHO professor sou wees, van Januarie 1958 af in die nuusredaksie aangestel.
Die Oosterlig het vir nog ’n professor uit sy redaksie gesorg. Dié keer was dit my jonger broer Gert Louw, wat nadat hy aan die Universiteit van Stellenbosch sy graad ontvang het, as verslaggewer vir Die Oosterlig begin werk het. Maar toe die nuusredakteur Gert se nuusberig met minagting na hom teruggooi, het my broer sy tassie gepak en verder gaan studeer. Later het hy aan die Universiteit van Port Elizabeth sy doktorsgraad verwerf en ’n Unisa-professor in didaktiek geword!
Links: Ben Louw rondom 1970.
Hooffoto: Die Oosterlig se gebou in Port Elizabeth. (Erkenning: Sonop in die Suide deur C.F.J. Muller.)
Ek het op Despatch, waar ek in my seunsdae nog self Die Oosterlig by huise afgelewer het, suiwer Afrikaans grootgeword en moes gou leer om in Port Elizabeth, wat toe nog oorheersend ’n Britse Setlaarstad was, in die “rooi taal” onderhoude te voer.
En sommer met die intrapslag is ons groentjies gewaarsku: “Vir ‘n koerantman is daar nie so iets soos werkure nie; jy moet 24 uur in elke dag gereed wees om vir werk opgekommandeer te word! En daar is nie so iets soos oortydbetaling vir joernaliste nie!”
Binne die eerste week van my eerste dienstermyn by Die Oosterlig het die sportredakteur Alex Kellermann hom as ‘n informant voorgedoen en my gebel met die fopnuus dat die groot motorfabriek General Motors besig is om af te brand! Ek het nou nie juis goed in die toets gevaar nie, maar Die Oosterlig het darem moontlikhede in my gesien. Later is ek in die sportredaksie aangestel.
Oom Dirk van Zyl
Later jare, nadat ek ’n aantal jare ’n draai by nuusblaaie in Johannesburg, Pretoria en Rustenburg gemaak het, het Oom Dirk van Zyl, die redakteur van Die Oosterlig, my vir ‘n tweede termyn by dié middagblad terugverwelkom. Hy het my ook later as hoofsubredakteur aangestel en dikwels moes ek ook as nuusredakteur waarneem.
Wyle Oom Dirk was ‘n wonderlike, nederige mens vir wie se integriteit sy redaksie groot respek gehad het. In die destydse Nasionale Pers het ons dikwels die storie gehoor van Oom Dirk wat as jong verslaggewer van Die Burger in Kaapstad anderkant die Oranjerivier ’n verslag van gebeure moes gaan doen. Die magtige rivier was in vloed en die enigste brug was gans te ver weg; dus het hy deur die vol Oranje geswem en getrou sy verslag vir Die Burger gelewer!
Daardie tyd het redaksielede net een Sondag elke veertien dae vry gehad. En as jy sportwedstryde gedek het, moes jy nog die Saterdagaand voor daardie vry-Sondag jou verslag van die middag se sport op kantoor gaan skryf en sorg dat dit die volgende oggend vir publikasie beskikbaar is. Anders moes jy daardie vry-Sondagoggend kantoor toe gaan om jou verslag daar klaar te skryf.
Daardie dae was daar mos geen selfone nie. Ons het ons verslae op tikmasjiene geskryf. Die nuusagentskappe se stories is via Sapa na teleksmasjiene in die kantoor gestuur. Dit het aanhoudend op rolle papier uit die teleksmasjiene gestroom. Die subkantoor moes gedurig die papier met die nuusverslae van die masjien afskeur en gou beoordeel vir gebruik in daardie dag se uitgawe.
Om die middaguitgawe betyds gereed te kry, moes ons soggens halfsewe op kantoor wees en onder groot druk die een opgemaakte koerantblad na die ander volgens vaste tydskedules by die settery kry.
Die setproses op lood
Die volle proses om die koerant betyds op straat en by die lughawe te kry, het dan verder kortliks so verloop:
Die span setters onder die beheer van Bakkies Goosen moes elke letter van elke nuusberig in loodreёls set. Dan moes die bladpakkers die volle blad se berigte volgens die bladplan van die redaksie loodreёl vir loodreёl binne ’n raam, wat so groot soos ’n koerantblad was, inpak.
Daarna moes elke blad afgedruk word sodat daar dan uiteindelik ’n blad gemaak kon word wat op die silinders in die drukkery se tweeverdieping-drukpers moes pas. Die drukpers moes gedurig genoeg ink op die rollers kry sodat die nuusblaaie dan op die enorme rolle koerantpapier, wat teen groot spoed deur die drukpers gevoer word, afgedruk kon word.
Die eerste uitgawe moes soggens al teen halfelf volledig aan die settery gelewer word sodat die koerant betyds klaar gedruk kon word om nog daardie oggend se vlug van Port Elizabeth na Oos-Londen te kon haal. Daarby moes ons middagblad betyds gedruk wees om nog oral in die Oos-Kaaplandse platteland versprei te kon word.
Enkele kere wanneer die koerant te laat was om die vliegtuig te haal, moes van die redaksielede met die motor met die oplaag koerante vir die Grensgebied deurjaag na Oos-Londen!
Saam met die Pollocks
Toe ek nog tydens my eerste termyn by Die Oosterlig sportverslaggewer was, was ek en Peter Pollock dikwels in Port Elizabeth saam in die persbank om oor rugbyligawedstryde verslag te doen. Ons het dit geniet om veral oor die Olympics-rugbyklub in Port Elizabeth se wedstryde verslag te doen, want hulle het die persmanne op ’n Saterdagmiddag daar in die persbank gereeld met koek en tee bedien! (Peter was die seun van Mac Pollock, die redakteur van The Herald in Port Elizabeth, en het later saam met sy jonger broer, die beroemde Graeme Pollock, op die internasionale krieketvelde vir Suid-Afrika groot roem verwerf. Peter se seun Shaun het boonop kaptein van die SA span geword.)
In die Nasionale Pers se destydse Die Byvoegsel, wat ook ’n bylaag vir die naweek-uitgawes van Die Burger en Die Volksblad was, het ek ’n artikel oor Graeme Pollock geskryf nadat hy as kaptein van die SA skolekrieketspan aangewys is en al as sestienjarige vir die Oostelike Provinsie se Curriebekerspan sommer in sy eerste wedstryd ’n indrukwekkende vyftigtal aangeteken het.
Kort daarna het Graeme Suid-Afrika se jongste kolwer geword wat in ’n Curriebeker-krieketwedstryd (vir die O.P.) ’n dubbele honderdtal geslaan het. Ek het met Graeme by sy ouers se huis in Walmer, Port Elizabeth, die onderhoud gevoer, en daarna het ek, Peter en Graeme nog kamstig so ’n bietjie krieket op hul grasperk gespeel.
Dagbreek toe
My loopbaan by Die Oosterlig het voorlopig geёindig toe Roelf Theunissen, die sportredakteur van Dagbreek en Sondagnuus wat ek deur ons sportskrywery goed geken het, my einde 1961 genader het om by hierdie eerste Afrikaanse Sondag-koerant se nuusredaksie in Johannesburg aan te sluit. Van 1 Januarie 1962 was ek toe lid van DagbreekenSondagnuus se nuusredaksie.
Ook Die Transvaler, Transvaal se Afrikaanse oggendblad wat in Johannesburg uitgegee is, het my in ‘n stadium ‘n aanbod gemaak, maar ek het Dagbreek, waar Dirk Richard toe redakteur was, verkies. Dagbreek, Die Vaderland, met A.M. van Schoor as redakteur van hierdie middagblad, en die tydskrif Die Brandwag was toe nog saam in dieselfde gebou langs Empireweg in Aucklandpark, Johannesburg.
Maar Johannesburg was daardie tyd by ons Afrikaners op Despatch berug as “Sodom en Gomorra”; dus moes ons predikant op Despatch kom help om van ons familielede en my vrou, Annette (Bellingan), wat op Aberdeen in die Karoo opgegroei het, te oortuig dat ons met ‘n geruste hart Johannesburg toe kon gaan!
By Dagbreek was ek ‘n paar jaar nuusverslaggewer, en het daar saam met onder andere Ton Vosloo, die latere besturende direkteur en voorsitter van Nasionale Pers, in die nuusredaksie gedien.
Ton Vosloo
Ton was ook op Uitenhage, Despatch se buurdorp, op skool by die Hoёrskool Brandwag teen wie ons (Hoёrskool Despatch) gereeld rugby gespeel het. Gedurende sy tyd by Die Oosterlig het hy ook gereeld vir ons krieketspan gespeel met ‘n opvallende selfvertroue wat hom vorentoe in sy loopbaan in die perswese baie sou help.
En hoewel Ton so vlymskerp daarop ingestel was om die ware storie agter die storie vas te stel, was dié begaafde koerantman al die jare wat ek hom ken nooit hoogmoedig nie. Selfs toe hy voorsitter van Naspers se direksie was, het Ton ‘n mooi verhouding met ons, die voetsoldate, gehandhaaf en nooit sy ou vriende en destydse Oosterlig-kollegas vergeet nie.
Onder hulle was ook ek en my goeie jarelange vriend Schalk Burger, wat later Landbouweekblad se assistent-redakteur sou word en wat toe ook vir my ’n pos by dié grootste landboublad in die land beding het. So ’n jaar of wat gelede het Ton nog vir my en Schalk met ’n aangename ete by On the Rocks in Blouberg onthaal en ou vriendskappe hernieu.
Deel II
Nou ja, van 1 Januarie 1962 het ek toe in Johannesburg by Dagbreek en Sondagnuus se redaksie aangesluit. Ek het inderdaad op 1 Januarie by die redaksiekantore in Empirewegverlenging, Aucklandpark, Johannesburg, gaan aanmeld, en Neels Haupt, wat saam met Jan Syfert Dagbreek se subredakteurs was, daar ontmoet.
Dagbreek se hoofredakteur was toe Dirk Richard met Johan Vorster die nuusredakteur. Van die ander redaksielede was John Moody, Herman Snyman, Mike Meiring, Chris Vermaak, Douglas Jones, en, later, Johan Meiring (Mike se seun). My ou goeie vriend Schalk Burger, later Landbouweekblad se assistent-redakteur, het ook in my tyd die aanbod aanvaar om by Dagbreek se nuusredaksie aan te sluit.
Terwyl ek in Dagbreek se nuusredaksie was, moes ek ook tydens Nelson Mandela, later ons land se President, en sy makkers, soos Arthur Goldreich, Ahmed Kathrada en Howard Wolpe se verhoor, agtergrond-verslae doen. Die verhoor, met regter Quartus de Wet as die verhoorregter, het in die Paleis van Justisie in Pretoria plaasgevind en was bekend as die Rivonia-verhoor.
Die dorpsgebied Rivonia in Johannesburg was daardie dae nog bekend as die “Sleepy Hollow”, maar die val van die apartheidsbewind wat daar beplan is, was toe glad nie so vredevol nie. Die “Rivonia”-aangeklaagdes het, getrou aan Rivonia se karakter as die “Sleepy Hollow”, ganse of eende as waghonde gebruik om hulle te waarsku sou iemand hul kleinhoewe betree.
Tydens die verhoor het regter De Wet ingestem om my vir ’n onderhoud in die aand by sy huis in Johannesburg te ontvang. Maar synde ’n vlymskerp regter het hy niks opsienbarends buite die verhoor te sê gehad nie. Ek het wel gehoor verskeie polisiemanne, wat snags in sy tuin versteek was om hom en sy huis te beskerm, het elke tree van my by die regter se huis dopgehou, maar self het ek daardie aand nie enigeen van hulle gesien nie.
Daardie tyd was ek bevoorreg dat advokaat Percy Yutar, die staatsaanklaer in die Rivonia-verhoor, my toegelaat het om die landmyne wat Umkhonto we Sizwe wou gebruik om die wit regering tot ’n val te bring, in keldervertrekke onder die hofsaal in die Paleis van Justisie te kom afneem. Van daardie landmyne was in eenvoudige houtkissies bewaar.
Die bladsy foto’s van die landmyne wat in Dagbreek verskyn het, het heelwat belangstelling gewek. So het die Sunday Express, ’n nasionale Sondagblad wat in Johannesburg uitgegee is, Dagbreek se landmynfoto’s oorgekoop en ’n week ná Dagbreek ’n volblad daarvan geplaas.
Tydens die verhoor het my nuusredakteur, Johan Vorster, my en kollega Schalk Burger op ’n Vrydagaand gestuur om mev. Goldreich vir ’n onderhoud op te spoor. (Ons het sulke opdragte gewoonlik vroeg Vrydagaande van die nuusredakteur ontvang.)
Ons inligting was dat sy in Hillbrow, Johannesburg, skuil, maar natuurlik laat sulke mense nooit spore van waar hulle skuil nie. Met Harold Wolpe in daardie stadium blykbaar al veilig na Londen gevlug, was dit duidelik dat ons nagtelike soektog in Hillbrow na mev. Goldreich niks sou oplewer nie.
’n Ander keer het Dagbreek my gestuur na die wildtemmer Clyde Sussens, wat toe in die Tuli-blok in Botswana geboer het. Clyde se dogter het gewoonlik met hul luiperds gespeel asof hulle mak katjies was. Maar op ’n dag het ‘n luiperd haar aangeval en byna haar hele kopvel afgeskeur voordat sy gered is.
Tydens my onderhoud met Clyde in sy sitkamer in die Tuli-blok het hy my gewaarsku daar is ’n mamba in sy slaapkamer langsaan, maar ek kan gerus wees: Hy het darem die deur van die slaapkamer na die sitkamer toegemaak om later die mamba uit sy slaapkamer te verwyder. Dus het ek maar gesorg dat ek so sit dat ek kon sien as die mamba dalk onder die deur uit die kamer seil!
Nou, by Dagbreek was die redaksie Saterdagaand tot Sondagoggend twee-uur op kantoor om nog die jongste laat-nuus daardie Sondagoggend vir die land te voorsien.
Die eerste uitgawe van ons blad het Saterdagaand omstreeks elfuur afgesluit. Dan het die res van die aand en nag dikwels stiller verloop, en so kon ons, Ton Vosloo (later besturende direkteur van Naspers en daarna voorsitter van Naspers se direksie) en ander redaksielede, dikwels in die lang gang voor die kantore van Die Brandwag (‘n destydse tydskrif) en Dagbreek met ’n tennisbal krieket speel.
Soms wou van die bestuurslui weet wat die kolle op die gangmure veroorsaak het, maar hulle het nooit vasgestel dat Ton met sy kolfvernuf een van die groot oortreders was nie.
Ja, daardie tyd het Dagbreek nog motorbestuurders gehad wat ons na ons afsprake moes neem, veral omdat ons dikwels haastig ’n afspraak in Johannesburg se middestad moes nakom. So het ‘n bestuurder, Harry, een keer die persmotor vir my na die Noord-Vrystaat bestuur. Maar Harry het daardie vorige nag seker nie geslaap nie, want op pad het sy kop agter die stuur van die Anglia begin knik en het sy kop op my skouer begin sak waar ek voor langs hom gesit het.
Net die HERE my God het my betyds laat merk wat gebeur, en dus kon ons die motor nog veilig tot stilstand bring. Veiligheidshalwe het ek toe maar self die res van die pad bestuur.
Seker op grond van my ervaring as sportverslaggewer het Dagbreek my omstreeks 1964 as assistent-sportredakteur onder sportredakteur Gert le Roux aangestel. Gert was veral ‘n atletiekkenner en ek moes dus oor verskeie rugby- en kriekettoetse verslag gaan doen. In die sportredaksie was daar onder andere Willie le Roux, asook Die Vaderland se sportskrywers, waaronder Gert Kotzé (die sportredakteur), Wynand Strydom en Tienie Fourie, het wat gereeld vir Dagbreek verslag gedoen het.
Dagbreeken Die Vaderland het my in die 1966/67-seisoen gestuur om verslag te doen van Bobby Simpson se Australiese krieketspan se toer deur Suid-Afrika en die destydse Rhodesiё (nou Zimbabwe).
Met die aankondiging van die Australiese span vir die toer was daar groot politieke opslae in Suid-Afrika omdat die toerspan ’n speler van kleur, Grahame Thomas van Nieu-Suid-Wallis, ingesluit het. Die toer het egter voortgegaan en ek en Grahame, ’n nederige mens, asook Graham McKenzie, Australiё se beste snelbouler, het op toer goeie vriende geraak.
Van die toer staan veral ’n paar sake vir my uit en veral paaltjiewagter Dennis Lindsay se ongeёwenaarde prestasies in die toetsreeks wat Suid-Afrika die toetsreeks met drie oorwinnings teenoor een laat wen het. Lindsay het in die reeks drie honderdtalle geslaan om die reeks te eindig met ’n kolfgemiddelde van 86,57, met die naasbeste kolwer, die beroemde Graeme Pollock, ver agter hom!
Boonop het hy in die eerste toets op die Wanderers in Johannesburg in Australië se eerste beurt ses kolwers agter die paaltjies uitgevang. In daardie toets het hy met sy 69 lopies gesorg dat Peter van der Merwe se Springbokspan darem 199 lopies bymekaar kon skraap nadat Trevor Goddard, Eddie Barlow, Colin Bland, Ali Bacher en Graeme Pollock reeds voor ete uit was met net 41 lopies op die telbord. Danksy veral Lindsay se 182 lopies in Suid-Afrika se tweede beurt, kon ons span die reuse-telling van 620 lopies opstapel om uiteindelik die toets te wen.
Op daardie toer het my vrou, Annette, met wie ek nou 63 jaar getroud is, vir my in ons hotel in Oos-Londen kom kuier. Die oggend waarop die Australiese span na Bloemfontein vir sy volgende wedstryd sou vertrek, het ek en Annette rustig in die hotelkamer ontbyt geniet. Eintlik te rustig, want ek het as lid van die toergroep nooit vasgestel hoe laat ons sou vertrek nie.
Toe ek hoor die toergroep het reeds vroeg vertrek, het ek die Oos-Londense lughawe in nood gebel, want vlugte na Bloemfontein was nie elke dag beskikbaar nie. En toe stem die lughawe sowaar in om die vlug ’n paar minute vir my te vertraag. Gelukkig was Annette se broer, Gerrie Bellingan, ook daar en kon hy met sy VW Kewer met ons lughawe toe jaag. Op pad was sy brandstof gevaarlik min en moes hy na die reserwetenk oorskakel, maar ons was toe darem betyds vir my vlug na Bloemfontein saam met die span.
Vir Dagbreek het ek ook die voorreg gehad om oor verskeie van die Springbokke se rugbytoetse verslag te doen. Ek het ook gereis saam met die eerste Argentynse nasionale rugbyspan wat in Suid-Afrika getoer het. Dit was in 1965 en ek het nog ’n foto van my onderhoud met Ronnie Foster, die kaptein van daardie span wat toe nog net teen die Junior Springbokke kon speel.
Argentiniё se nasionale rugbyspan is op daardie toer vir die eerste keer Poemas genoem, soos hulle vandag nog bekend staan. Dit het gebeur danksy Carl Kohler, sportskrywer van Die Transvaler, se pogings om ’n maklike naam, soos die “Springbokke”, vir die Argentynse span te kry. (Op hul truie was egter ‘n jaguar, iets wat eers onlangs reggestel is.)
Een van die ander foto’s wat ek nog as aandenking van my sportskrywery het, is van waar ek in die Krugerwildtuin ’n onderhoud voer met sir Len Hutton, Engeland se beroemde krieketkaptein. Daar is ook ’n foto van my en Graeme Pollock saam waar ek tydens die middagete van die vierde toets in Johannesburg Perskor se prys aan Graeme Pollock oorhandig vir sy indrukwekkende prestasies vir Suid-Afrika met die kolf.
Toe breek daar ’n nuwe era in my loopbaan aan, maar daaroor gesels ek graag ’n volgende keer.