Die joernalis BEN LOUW het ‘n lang loopbaan in die joernalistiek gehad. Hy vertel hier van sy beginjare by die destydse Oosterlig. Daarna kom sy jare by Dagbreek, Hoofstad, Die Afrikaner, Landbouweekblad en meer. Hy noem ook die talle mense met wie hy in sy loopbaan saamgewerk het.
Beginjare by Die Oosterlig in Port Elizabeth
IN my joernalistieke loopbaan wat in Januarie 1958 by Die Oosterlig begin het en tot 2001 geduur het, was ek grootliks bevoorreg om met groot mense soos die latere mediareus Ton Vosloo, oom Dirk van Zyl (redakteur van Die Oosterlig) en Schalk Burger (assistent-redakteur van Landbouweekblad) saam te werk.

Bo: Ben Louw rondom 1970. Regs: Ton Vosloo, saam met wie Ben by Die Oosterlig gewerk het.

Ek het met verskeie ander begaafde joernaliste en ampsdraers in my loopbaan te doen gehad, maar vir my erelys van grotes noem ek graag ook Roelf Theunissen (Dagbreek en Sondagnuus se sportredakteur), Gert le Roux (wat Roelf as sportredakteur opgevolg het) en Herman le Roux (sportredakteur van Die Volksblad) se name.
Hooffoto: Die Oosterlig se gebou in Port Elizabeth. (Erkenning: Sonop in die Suide deur C.F.J. Muller.)
Van die ampsdraers op die erelys van my loopbaan troon prof. Fritz Eloff, die Universiteit van Pretoria (UP) se Dierkunde-professor, bo almal uit. Hier noem ek graag ook die name van prof. Daan Swiegers, wat van 1971 tot met sy aftrede in 1989 Sielkunde-professor by UP was, en brig. Buurman van Zyl, die beroemde afrigter van Noord-Transvaal se rugbyspan.
Maar ek wil hier eintlik graag meer op kollegas fokus wat in my joernalistieke loopbaan groot indruk op my gemaak het. Dus sal ek eers in my verslag oor my loopbaan by Hoofstad (die derde deel) verder oor die rolle van dié drietal grotes onder die ampsdraers gesels.
Heel bo-aan my erelys van kollegas in die joernalistiek is Ton Vosloo, wat ná sy aftrede ’n openhartige, lekkerlees-boek oor sy indrukwekkende media-loopbaan geskryf het. Dié boek, Oor grense — ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, is in 2018 deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee is.
Op die flapteks op die agterblad van sy boek som die uitgewers Ton se reuse-bydrae tot die groei van Nasionale Pers netjies op: “Onder sy leiding het Naspers gegroei van ’n Suid-Afrikaanse gedrukte mediamaatskappy tot ’n internasionale mediareus met uitgebreide belange in lande soos China, Rusland, Pole en Brasiliё.”
Voor in sy Oor grense-boek het Ton tydens ’n ete saam met my en Schalk Burger in sy klein handskrif dit gewaag om te skryf: “Ben. Liewe vriend en kollega oor vele jare: dis my voorreg om die lewe saam met jou te kon deel.”
Nou ja, Ton, Schalk en my lewenspaadjies het baie jare saam geloop:
Ton was op Uitenhage, buurdorp van Despatch, op skool by die Hoёrskool Brandwag teen wie ons (Hoёrskool Despatch) gereeld rugby gespeel het. Hy het meermale op Despatch by oom Bunny Pienaar se gesin – ek dink hulle was van Ton se ma se familie – in Vleistraat in die onderdorp, waar ook ons in Hertzogstraat 11 gewoon het, kom kuier. André, een van die seuns van oom Bunny, wat ’n kafee op Despatch besit het en die rugbyklub Olympics se topspanne afgerig het, was later ’n rekenmeester by Nasionale Pers. Hy was ook in 1957 saam met my in ons matriekklas op Despatch.
Ton se skoolseun-droom om ’n koerantman te word, is verwesenlik toe redakteur Dirkie de Villiers hom van 1 Mei 1956 as verslaggewer by Die Oosterlig, toe die Nasionale Pers se Oos-Kaaplandse nuusblad, aangestel het. Destyds het Die Oosterlig, wat vanuit sy geboue in Cawoodstraat, Noordeinde, Port Elizabeth, uitgegee is, eers net drie dae in die week verskyn. Later het dit ’n wel volwaardige dagblad geword..
Dirkie de Villiers het tydens my matriekjaar in 1957 met verskillende Oos-Kaaplandse leerlinge onderhoude gevoer. Genadiglik is ek toe van Januarie 1958 af in Die Oosterlig se sportredaksie aangestel. Ton was toe al ’n geskoolde verslaggewer oor onder meer polisie-sake.
Jacques van der Elst, wat in Nederland gebore is, was toe die enigste ander kandidaat wat saam met my in die redaksie aangestel is. Jacques was later professor in Afrikaans-Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoёr Onderwys en daarna uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
(Die Oosterlig het destyds vir nog ’n professor uit sy redaksie gesorg. My jonger broer, Gert Louw, het nadat hy aan die Universiteit van Stellenbosch sy graad ontvang het, as verslaggewer vir Die Oosterlig begin werk. Hy was van 1964 tot 1965 so net meer as ’n jaar by Die Oosterlig voordat hy aan die universiteit in Somerstrand, Port Elizabeth, sy doktorsgraad verwerf en ’n Unisa-professor in Didaktiek geword het.
Kort voor my Oosterlig-aanstelling het ek nog in my matriekjaar self gereeld Die Oosterlig by huise op Despatch afgelewer. Ook Ton het as skoolseun op Uitenhage (deesdae Kariega) die koerant vir sakgeld verkoop
Destyds was Despatch ook so Nasionale Party-gesind dat ons die arme mnr. Wilson, wat ’n negosiewinkel op Despatch gehad het, sommer maklik ’n kommunis genoem het bloot omdat hy die Verenigde Party gesteun het!
Jurie Naudé was in my eerste Oosterlig-skof die assistent-redakteur en Twakkies Laubscher die nuusredakteur wat vir sy treffende skryfstyl bekend was, Abe de Klerk die hoofsubredakteur, en Alex Kellerman die sportredakteur. Alex, wat gereeld ook op die radio sportverslae uitgesaai het, is later deur dr. Danie Craven gelok om die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyraad se sekretaris te word. Christine Louw was in my dae daar Die Oosterligse vroueredaktrise.
Onder my kollegas was ook Schalk Burger bekend as ’n joernalis wat met woorde kon toor en baie lief vir digwerk was. Ek was bevoorreg om meer as drie jaar by Die Oosterlig met Schalk saam te werk voordat hy in 1962 Port Elizabeth gegroet het.
Daardie jare het Die Oosterlig dikwels ‘n tekort aan verslaggewers gehad en dus is soms swaar geleun op beriggewing deur Die Burger om ons nuusblaaie vol te kry. Die Burger se leuse daardie tyd was: “Dit was in Die Burger!” Uit moedeloosheid oor dié situasie het Schalk altyd gesê “Die Oosterlig se leuse is dieselfde.”
Onder ons ander Oosterlig-redaksielede was Bakkies Rossouw en Louis Wessels (wat albei tydelik van Die Burger oorgeplaas was), Kowie Burger (wat op pad Grahamstad toe in Oosterlig se VW-Kewer tragies verongeluk het toe hy daar oor ’n politieke vergadering verslag gaan doen het), Boet Uys, Johan Swanepoel, Joe Venter, Franz Kemp (wat later by nasionale koerante en tydskrifte met sy verslae naam sou maak), Gerhard Burger en Phil Zaayman (wat albei later as sportskrywers by nasionale publikasies meer bekendheid verwerf het) en Hermien Oberholzer (later by Rapport).
Van die ander destydse Oosterlig-verslaggewers onthou ek ook Ronnie Kruger, wat ná sy Oosterlig-loopbaan Volkswagen se skakelbeampte geword het. Ruben Els, ’n ander Oosterlig-skrywer van daardie jare, was later Ford se nasionale skakelbeampte. Ook Lorna van der Merwe, self ’n knap joernalis en onderwyseres wat van Molteno gekom en later Ton se vrou geword het, het ’n belangrike bydrae in Die Oosterlig se redaksie gelewer.
Destyds was Ben Meades Oosterlig se fotograaf, maar ook Blondie Jooste en Paul Verkammen se Mayfair-Foto-ateljee in Port Elizabeth se middestad het dikwels fotografiese werk vir Die Oosterlig gedoen.
Kort nadat ek by Die Oosterlig begin het, is redakteur Dirkie de Villiers as redakteur van Die Huisgenoot in Kaapstad aangestel. Sy opvolger, oom Dirk van Zyl, was ‘n wonderlike, nederige mens vir wie se integriteit sy redaksie groot respek gehad het.
In die destydse Nasionale Pers het ons soms die storie gehoor van Oom Dirk wat as jong Burger-verslaggewer met kamera en al deur die magtige Oranjerivier in vloed geswem het om getrou sy verslag betyds vir Die Burger te lewer!
Eweneens het Schalk Burger al destyds met sy integriteit, betroubaarheid en fyn aanvoeling vir woorde by sy Oosterlig–kollegas vertroue ingeboesem. Nadat hy sy graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het hy op Swellendam skoolgehou voordat hy in Die Oosterlig-redaksie aangestel is. Mettertyd het ons (ek en my vrou, Annette) Schalk en sy vrou, Erma, hegte vriende geraak.
Daardie tyd, omstreeks 1960, tydens my eerste skof by Die Oosterlig, val ’n kort, onindrukwekkende man, toe ook mank-mank by ons redaksiekantore in Port Elizabeth in. Ons hoor hy is John Horak, die seun van ’n voorbok in die Verenigde Party (die Sappe), wat toe die Nasionale Party (die Natte) se grootste vyand was.
Schalk Burger, wat van 1959 tot 1962 in Die Oosterlig se redaksie was, onthou die geheimsinnige, mank John Horak nog goed. Hy vertel:
“Min sal seker vandag weet dat Die Oosterlig destyds vir John Horak as goeie wegspringplek gedien het om sy eintlike beroep as geheime agent in die destydse Suid-Afrikaanse Veiligheidsdiens tot ’n baie hoё vlak te voer.
“John Horak, is in 1960, as ek reg onthou, as verslaggewer by Die Oosterlig aangestel.
“By ons as gewone redaksielede was daar baie vrae oor sy aanstelling. John het ‘n buitekamer met my gedeel en dit was vir my vreemd dat John, wat erg mank geloop het, soms eers rondom middernag by ons kamer opgedaag het. Later het dit geblyk dat dit die tye was toe hy aan sy hanteerder by die Veiligheidspolisie verslag oor sy doen en late moes gaan doen het!
“In 1962 het John skielik ’n aanstelling by die destydse SAUK gekry, wat vir ons by Die Oosterlig weer taamlik onverstaanbaar was. Daarna het hy as suksesvolle joernalis vir meer as 27 jaar by verskeie toonaangewende Engelse koerante, soos die Rand Daily Mail, The Star en die Sunday Times, in Johannesburg gewerk. Maar heimlik was hy natuurlik ook heeltyds ’n agent wat belangrike inligting vanuit koerantkantore aan die Veiligheidspolisie deurgevoer het.
“John Horak het destyds goeie opgang gemaak en algaande hoё range beklee. Voordat hy in 1990 uit die Veiligheidspolisie bedank het, het hy die rang van luitenant-generaal gehad en was hy voorsitter van die Staatsveiligheidsraad se kommissie vir strategiese kommunikasie.
“Ná sy bedanking het hy ter wille van sy eie veiligheid landuit gevlug!”
Tydens my eerste Oosterlig-termyn, eers as sportverslaggewer, was ek en die Herald-sportskrywer Peter Pollock, later ’n gevreesde snelbouler vir Suid-Afrika se krieketspan, dikwels saam in die persbank om Saterdagmiddae oor rugbyliga-wedstryde verslag te doen. Ons het dit geniet om veral oor die Olympics-rugbyklub se wedstryde te skryf, want hulle het ons gereeld in die persbank met koek en tee bedien! (Ek hoop ons kon daarna nog steeds Olympics se teenstander in ons verslae regverdig behandel!)
Peter het saam met sy jonger broer, die beroemde Springbokkolwer Graeme Pollock in internasionale wedstryde vir Suid-Afrika groot krieketroem verwerf.
Destyds het die Nasionale Pers ook Die Byvoegsel (later die By) as ’n naweek-bylaag vir Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig uitgegee. Die Byvoegsel is by die Oosterlig se Vrydag-uitgawe gevoeg, want ons koerant het nie ’n Saterdag-uitgawe gehad nie.
Ek was ook bevoorreg om ’n paar artikels vir Die Byvoegsel te skryf. Een daarvan was juis oor Graeme Pollock pas nadat hy as kaptein van die SA skolekrieketspan aangewys is. Graeme het later een van die beste kolwers geword wat Suid-Afrikaanse krieket nog opgelewer het.
Ek het met Graeme en Peter by hul ouers – hul pa was Mac Pollock, toe redakteur van The Herald, die Engelse oggendblad in Port Elizabeth, se huis in Walmer, Port Elizabeth, die onderhoud gevoer. Daarna het ek, Peter en Graeme nog kamstig so ’n bietjie krieket op hul grasperk voor die huis gespeel.
Toe eindig my eerste skof by Die Oosterlig op 31 Desember 1961, want Dagbreek en Sondagnuus, Suid-Afrika se grootste Afrikaanse Sondagkoerant destyds, het my uit Johannesburg ’n goeie aanbod gemaak.
Nuwe weivelde by Dagbreek in Johannesburg
Ek was gelukkig om in 1961 redaksionele aanbiedings van sowel Dagbreek en Sondagnuus as Die Transvaler uit Johannesburg te ontvang. Dagbreek het my deur sy gewilde sportredakteur, Roelf Theunissen, genader en Die Transvaler weer deur sy ervare sportredakteur Willie Muller.
Van 1 Januarie 1962 het ek toe in Dagbreek se nuusredaksie begin. Dagbreek, Die Vaderland (met A.M. van Schoor as redakteur) en die tydskrif Die Brandwag was toe nog saam in dieselfde gebou langs Empireweg-verlenging in Aucklandpark, Johannesburg.
By Dagbreek het ek ‘n paar jaar weer saam met Ton Vosloo (spesialis-verslaggewer) en Schalk Burger (artikelskrywer) gewerk, asook die sportredakteurs Roelf Theunissen en Gert le Roux (wat Roelf as sportredakteur opgevolg het).
Ton was altyd vlymskerp daarop ingestel om die ware storie agter die hoёlui se versuikerde stories vas te stel. Daarvan kan onder andere ’n grootkop van ’n versekeraar in Johannesburg en ander sakelui getuig wie se verdagte streke deur Ton se deurdringende vrae in Dagbreek blootgelê is. Ton is egter in 1965 van Dagbreek weggelok toe Die Beeld, die meer liberale Suide se teenvoeter vir Dagbreek, hom hul politieke korrespondent gemaak het.
Ondanks die oorheersende rol wat Ton later in die groei van die Afrikaanse perswese gespeel het, was dié begaafde koerantman al die jare wat ek hom ken, nooit hoogmoedig nie. Selfs toe hy voorsitter van Naspers se direksie was, het Ton ‘n mooi verhouding met ons, die voetsoldate, gehandhaaf en nooit sy ou vriende en destydse Oosterlig-kollegas vergeet nie.
Schalk het in 1963 die aanbod aanvaar om by Dagbreek se nuusredaksie aan te sluit en was tot 1966 by Dagbreek. Hy het later Landbouweekblad se assistent-redakteur geword en toe ook vir my ’n pos by dié grootste landboublad in die land help beding.
Herman Snyman, wat van 1958 tot 1963 by Dagbreek was, het myns insiens sy gawe om mense se belewenisse getrou emosieryk in sy berigte weer te gee, by Dagbreek uitgeleef. Sal ek dan ooit sy aangrypende Dagbreek-weergawe vergeet van ’n gesin se vergeefse dramatiese stryd om oorlewing toe hul motor deur ’n Vaalriviervloed van ’n brug by Standerton af meegesleur is!
Nou, by Dagbreek was die redaksielede van Saterdagoggend nege-uur tot elfuur die aand aan diens. Dit was ook die saktyd van die eerste uitgawe. Daarna het die res van die aand en nag dikwels stiller verloop. Dus moes ’n paar redaksielede sake tot Sondagoggend twee-uur dophou om nog die jongste laat-nuus aan die land te kon lewer.
Tydens die druk tye op Saterdae moes baie van Die Vaderland se redaksielede by Dagbreek inval om ons koerant betyds klaar te kry. Onder hulle was Vaderland se subredaksielede Frans du Toit (die hoof), Tom Buys, Stoffel Mynhardt en Piet Ayres. Van die ander Vaderland-manne wat gehelp het, was: Piet Myburgh (later Hoofstad se nuusredakteur), Koos Liebenberg (politieke beriggewer), Gert Kotzé (die sport-redakteur), Wynand Strydom (wat veral oor groot boksgevegte berig het), Jaap Swanepoel (’n veelsydige joernalis wat in ’n SAL-lugramp naby Mauritius sy lewe verloor het), Bertus Dreyer (wat later in Hoofstad se sportredaksie gedien het), Eddie Strydom en Hoffie Hofmeister (fotograaf). Die misdaad-skrywer Hermie Hendriks was toe Vaderland se nuusredakteur.
Ook die hulp van Nasionale Pers se Randse kantoorredaksielede is Saterdae vir Dagbreek ingeroep. (Dis nou voor Die Beeld gestig is.) Onder hulle was Arrie Joubert (’n atletiekkenner en veelsydige koerantman), die veelsydige Bakkies Rossouw en Blaar Coetzee.
Van ons ander voormalige Oosterlig-kollegas was toe ook by publikasies in Johannesburg. Onder hulle was Franz Kemp (by Die Beeld en, later, Die Huisgenoot) en Joe Venter (Die Transvaler, Rapport en Beeld).
Tydens my Dagbreek-dae was die wêreldpers se aandag op die Rivonia-verhoor van onder andere Nelson Mandela, later ons land se president, in Pretoria gefokus.
In die Rivonia-verhoor in die Paleis van Justisie op Pretoria se Kerkplein was regter Quartus de Wet die verhoorregter, dr. Percy Yutar die staatsaanklaer en Bram Fischer die advokaat vir die verdediging.
Daardie tyd was ek bevoorreg dat advokaat Percy Yutar my tydens die Rivonia-verhoor toegelaat het om die landmyne wat Umkhonto we Sizwe wou gebruik om die wit regering tot ’n val te bring, in keldervertrekke onder die hofsaal in die Paleis van Justisie af te neem. Van daardie landmyne was in eenvoudige houtkissies bewaar.
Dagbreek se bladsye vol foto’s van dié landmyne het heelwat belangstelling gewek. So het die Sunday Express, ’n nasionale Sondagblad wat in Johannesburg uitgegee is, nog ’n week later ’n volblad van Dagbreek se landmynfoto’s geplaas.
Omstreeks 1964 het Johannesburg se verkeershoof ’n lastereis (vir R135 000) teen Dagbreek ingestel weens ’n berig wat ek oor hom geskryf het. Maar van sy eis het niks gekom nie, want, soos ander mediamaatskappye, het ons altyd ons regsadviseurs geraadpleeg om ons berigte wat dalk tot hofsake kon lei, veilig te bewoord.
Seker op grond van my ervaring as sportverslaggewer het Dagbreek my omstreeks 1964 as assistent-sportredakteur aangestel. Gert le Roux het toe al vir Roelf Theunissen as sportredakteur opgevolg, want Die Beeld, die Nasionale Pers se nuwe Sondagblad wat in 1965 begin verskyn het, het Roelf hul sportredakteur gemaak.
Dagbreek en Die Vaderland het my in die 1966/67-seisoen ook gestuur om verslag te doen van Bobby Simpson se Australiese krieketspan se toer deur Suid-Afrika en die destydse Rhodesiё.
Met die aankondiging van die Australiese span vir die toer was daar groot politieke opslae in Suid-Afrika omdat die toerspan ’n “speler van kleur”, Grahame Thomas van Nieu-Suid-Wallis, ingesluit het. Die toer het egter voortgegaan en ek en Grahame, ’n nederige mens, asook Graham McKenzie, Australiё se beste snelbouler, het op toer goeie vriende geraak.
Van die toer staan ’n paar sake vir my uit — veral paaltjiewagter Dennis Lindsay se drie honderdtalle wat Suid-Afrika die toetsreeks met drie oorwinnings teenoor een help wen het. Boonop het Lindsay in Australiё se eerste beurt in die eerste toets op die Wanderers in Johannesburg ses kolwers agter die paaltjies uitgevang.
By Ðagbreek het ek ook die voorreg gehad om in 1965 saam met die eerste Argentynse nasionale rugbyspan in Suid-Afrika te toer Ek het darem nog ’n foto van my onderhoud met Ronnie Foster, die kaptein van daardie span wat toe nog net teen die Junior Springbokke kon speel. Op daardie toer is die Argentyne deur die vindingryke Izak van Heerden van Natal afgerig.
Nou ja, mense sal seker verbaas wees as hulle hoor dat die salaris wat die Afrikaanse Pers nog op 26 Januarie 1967 op my Volkskas-bankrekening inbetaal het, net R261 was. Maar ek kon met ’n bietjie groter salaris nog in 1975 ’n Ford Cortina 1,6 L nuut vir net R3 250 koop. Vandag kos ’n soortgelyke nuwe motor nie sommer minder as R450 000 nie.
Aan my Dagbreek-dae het daar egter ook ’n einde gekom toe ’n pos in Pretoria my na ons land se uitvoerende hoofstad gelok het.
Hulle was van Ben se kollegas
Ons drie oud-Dagbreek-kollegas, Schalk Burger, Herman Snyman en ek, wat vandag al drie al diep in die tagtig jaar oud is, het saam ’n lys van redaksielede saamgestel met wie ons by Dagbreek en Die Vaderland saamgewerk het:
Met my aanstelling by Dagbreek was Dirk Richard die hoofredakteur. Johan Vorster was die wakker nuusredakteur en Johan Bekker was later, ná Johan Vorster se dood in ’n motorongeluk, die nuusredakteur. Die subredaksie het uit Neels Haupt (die hoofsubredakteur) en Jan Syfert bestaan, asook, later, Manie Ackerman en Ena Jansen.
Dagbreek se artikelskrywers en verslaggewers was Ton Vosloo, Sarel van der Walt , John Moody, Mike Meiring, Chris Vermaak, Douglas Jones, Jan van Vreden, Johan van Heerden, Tienie Fourie, Johan Vosloo, Bienkie Wessels, Willie Buys, Peet Simonis, Johan Meiring (Mike se seun) en Chris van der Walt.
Dagbreek was geseёn met toonaangewende sportskrywers soos Roelf Theunissen en Gert le Roux. Ons publikasie was ook gelukkig om oor Johan (Bronkie) Bronk-horst en, later, Willie Roux as sportskrywers te beskik. Bronkie het later op Bredas-dorp ‘n streekkoerant uitgegee.
Bill Bosch, ’n gewilde Johannesburgse slaghuis-eienaar van Blairgowrie en bokskenner soos min, het ook gereeld ’n interessante boksrubriek vir Dagbreekgeskryf.
Dagbreek se treffer-spotprente is destyds deur die begaafde spotprenttekenaar en grapmaker, Len Lindeque, asook deur die Hongaar “Oom Jacob” Jacobi en Victor Ivanhoff geteken.
Ons Sondagkoerant se fotograwe was die ervare Dick Prestwich, wat altyd sonder enige klagte gereed was om te help, en Bernard Jordaan.
Nog mediamense op my pad
Daarby was ek bevoorreg om ook ander talentvolle mediamense tydens veral my Dagbreek-dae te ontmoet. Onder hulle was die onvergelyklike krieketkommentator Charles Fortune, Neil Steyn (die rugbyskrywer van Die Transvaler wat dikwels eerste nuwe sportnuus uitgegrawe het), George Scott (SAPA), Quintus van Rooyen (’n Volksblad-sportskrywer), Hennie Viljoen (Die Beeld), Fritz Joubert (Die Burger), Trevor Bisseker (The Star), Louis Duffus (The Argus) en Charlie Farquharson (Sapa).
Terug by die dagbladpers: Hoofstad
My Dagbreek-dae het geёindig toe Afrikaanse Pers (1962) Beperk en Voortrekkerpers, die uitgewer van Die Transvaler, saam op 1 April 1968 die nuwe dagblad Hoofstad in Pretoria begin het. (Hierdie twee maatskappye het later saamgesmelt om Perskor te vorm.) Ek is toe as Hoofstad se eerste sportredakteur aangestel.
Die stigters van Hoofstad het ons nuwe dagblad se koms met ’n groot verwagtinge in spesiale bylae in Die Vaderland van 27 Maart 1968 en in Dagbreek van 31 Maart 1968 aangekondig. Hulle het in die bylae beloof dat Hoofstad veral op regerings- en Nasionale Party-politiek sou fokus, asook ’n positiewe Christelike lewensbeskouing sou verkondig en Afrikaner-belange sou dien.
Daarom was sy direksie uit die staanspoor met invloedrykes in Afrikaner-geledere gelaai. Sy direksie het bestaan uit prof C.H. Rautenbach (rektor van die Universiteit van Pretoria), Marius V. Jooste (besturende direkteur van Hoofstadpers en die voorsitter), W.B. Boshoff (besturende direkteur van die Boshoff-myngroep), H.L. du Toit (besturende direkteur van die Voortrekkerpers), prof. S. Pauw (prinsipaal van die Universiteit van Suid-Afrika), J.H. Steyl (L.P.R. en hoofsekretaris van die N.P. in Transvaal), N.L.P. van der Walt (’n sakeman van Pretoria) en senator J.H. Grobler (alternatief).
Ook politieke swaargewigte het hulle in die begin openlik agter Hoofstad geskaar. Onder hulle was daar mnr. Ben Schoeman (minister van vervoer en voorsitter van die Dagbreek-trust), mnr. Jan de Klerk (Minister van Nasionale Opvoeding en voorsitter van die Afrikaanse Pers (1962) Beperk) en mnr. M.C. Botha (Minister van Bantoe-Administrasie en Ontwikkeling en voorsitter van die direksie van Voortrekkerpers Beperk).
Hoofstadse hoofbestuurder was Rudolf Opperman en Jan Schoeman die drukkerybestuurder van Aurora-Drukpers, Hoofstad se filial, wat ons dagblad in Pretoria gedruk het. (Opperman het later Rapport se bestuurder geword.)
Die stigters van Hoofstad het aanvanklik rede gehad om te glo ons nuwe dagblad sou van krag tot krag gaan. Het Hoofstad dan nie die ongewone prestasie behaal deur ná net drie maande se bestaan sy eerste wins te toon en daagliks gemiddeld sowat 20 000 koerante te verkoop nie. (Tog was sy sirkulasie steeds heelwat minder as dié van die Pretoria News, sy Engelse eweknie.)
‘n Spesiale uitgawe van Hoofstad ná ‘n rugbytoets in Pretoria. Ben Louw se naam staan bo-aan die hoofstorie.

Feitlik die hele nag voor Hoofstad se begin op 1 April 1968 het die kernpersoneel geskarrel om met ’n proeflopie van ons nuwe koerant seker te maak dat alles met Hoofstad se aanvang glad sou verloop. Ons het aanvanklik gehoor premier John Vorster kom Hoofstad amptelik van stapel stuur. Uiteindelik het grootbaas Marius Jooste se eggenote die oggend van 1 April 1968 die knoppie gedruk om die nuwe rolpers amptelik aan die rol te sit.
Hoofstad se eerste hoofredakteur was dr. Andries Treurnicht, voorheen redakteur van Die Kerkbode. Beaumont Schoeman was Hoofstad se assistent vir die redakteur totdat hy in 1970 die redakteur van die nuutgestigte Die Afrikaner, die Herstigte Nasionale Party se mondstuk, in Pretoria geword het. (Dr. Willie Lubbe is egter as hoofredakteur aangestel.)
At de Beer was met Hoofstad se stigting die assistent-redakteur belas met nuus, maar hy het later die redakteur geword. As redakteur is hy deur die skrywer P.G. du Plessis opgevolg. Piet Myburgh, voorheen van Die Vaderland was ook in ’n stadium Hoofstad se nuusredakteur. Jan van Vreden was die assistent-redakteur en Felix Calitz aanvanklik die hoofverslaggewer.
Die stigters het in hul bylae ook belowe ons sportredaksie sal “Alles wat daar te wete is oor Pretoria se sport” in Hoofstad vertel.
“Alles”? Sjoe!
Tog glo ek ons sportredaksie het Pretoria se sportliefhebbers heel skaflik ingelig gehou. Daarvoor het die goedhartige en geesdriftige Leon Gouws as assistent-sportredakteur help sorg. Net so het die ervare Bertus Dreyer (voorheen van Die Vaderland) en Sys Meyer (wat as groentjie verrassend goed op ewewigtige verslae ingestel was) Pretoria se sport met hul beste gedien. Boonop kon ons op die ervare Pierre de Villiers (die subredakteur) reken om ons sportverslae vir ons lesers interessant aan te bied.
Nodeloos om te sê ons het veral op rugby gefokus, want dit was ongetwyfeld die groot liefde van Pretoria se sportliefhebbers. Ons kon ons lesers taamlik goed ingelig hou, want uit die binnekringe van Noord-Transvaal se rugby, het die top bestuurslui ons op die hoogte van sake gehou. Ons skrywers het altyd goeie toegang tot veral prof. Fritz Eloff, prof. Daan Swiegers en Buurman van Zyl geniet
Prof. Fritz Eloff was nie net 26 jaar lank president van die Noord-Transvaalse Rugby-unie nie, maar ook voorsitter van die Internasionale Rugbyraad. Ná dr. Danie Craven se afsterwe in 1993 was hy ook president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad. Myns insiens het hierdie Dierkunde-professor van die Universiteit van Pretoria (UP) en Oosterlig-redakteur Dirk van Zyl as ware gentlemen nie hul gelyke gehad nie. Een van prof. Eloff, wat in 2013 oorlede is, se groot kenmerke was juis sy eerbied vir alle mense.
Eweso was prof. Daan Swiegers, sameroeper van die keurkomitee wat Springbok-rugbyspanne saamgestel het, joernaliste se droom. Ons persmanne het geweet hy sal ons nie sommer sonder ’n stukkie nuuswaardige inligting groet nie. Prof. Swiegers was ook die Noord-Transvaalse Rugby-unie se vise-president en sameroeper van die Ligbloues se keurkomitee. Hy was van 1971 tot met sy aftrede in 1989 UP se Sielkunde-professor, en is op 12 Augustus 2011 oorlede.
Boonop was Hoofstad se sportskrywers gelukkig dat Polisie-brigadier Buurman van Zyl, die legendariese afrigter van Noord-Transvaal, sy rugbywyshede met ons gedeel het. Onder sy afrigting het Noord-Transvaal ’n paar keer die Curriebeker gewen.
In my Hoofstad-dae het die Ligbloues in 1968 die Curriebeker gewen deur Transvaal in die eindstryd met 16-3 te klop. Die volgende jaar het Noord-Transvaal weer die beker verower deur dié keer die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld oortuigend met 28-13 pak te gee.
Maar daar was ook dié kere wat Hoofstad bra langtand oor Noord-Transvaal se rugby verslag gedoen het. So was dit maar moeilik om mooi in Hoofstad te verduidelik waarom Griekwaland-Wes, ’n veel kleiner rugbybond, in 1970 Noord-Transvaal se bulspan in die Curriebeker-eindstryd in Kimberley 11-9 geklop het. (In daardie wedstryd het Chris Luther, Noord-Transvaal se heelagter, sy been gebreek juis toe hy die gunsteling was om kort daarna vir die Springbokspan gekies te word.)
Twintig jaar later was dit weer so toe Natal Noord-Transvaal se rugbytrots blou gekneus het deur die Ligbloues op Loftus Versfeld, in 1990 se eindwedstryd van die Curriebekerreeks met 18-12 te klop! Gelukkig moes ek toe nie weer verduidelik hoe dit gebeur het nie.
Hoofstad het ook op ’n Saterdagmiddag ’n geskiedkundige spesiale uitgawe uitgebring toe die Britse Leeus in 1968 op Loftus Versfeld in ’n toetswedstryd teen die Springbokke gespeel het.
Ons dagblad het daardie dag my verslag met banier-opskrifte op sy voorblad die Springbokke se pragsege uitgejubel. Ek onthou veral hoe Frik du Preez, wat later tot Suid-Afrika se rubyspeler van die eeu gekroon is, van ’n lynstaan naby die middellyn weggebreek en met verbasende spoed onkeerbaar sy pragdrie naby die hoekvlag gaan druk het.
Frik du Preez het meesal met sy spel op slot of kantman dinamies tot Noord-Transvaal se rugbyprestasies bygedra. Wie sal dan ooit daardie wedstryd op Loftus Versfeld vergeet toe die W.P. Noord-Transvaal in die eerste helfte omtrent platgevee het om so ’n groot voorsprong (van so 21-3, as ek reg onthou) op te bou dat die tuisskare skoon stil geraak het. Maar toe tref die Frik du Preez-orkaan die W.P. Frik het, soos een ou dit beskryf het, daardie dag ge-“drop” (skepskop) en ge-“place” (stelskop) en ge-”score” (met ’n pragdrie) om die wedstryd 24-24 gelykop te laat eindig!
Op Loftus Versfeld het ons ook wonderlike tweestryde tussen talentvolle rugbyspelers aanskou. Een van die onvergeetlike tweestryde was die stryd tussen die stewige Koos Meiring, Noord-Transvaal se weergawe van Jonah Lomu, Nieu-Seeland se onstuitbare stoomroller-vleuel, en Kobus Koorts, die klein en ligte Natalse vleuel. Koorts het vroeg in die wedstryd disnis op sy rug beland toe hy Meiring skuins van voor pobeer stuit het. Maar hy het daarna met leeuemoed sy groot teenstander dermate vasgelê dat selfs die Ligbloues se ondersteuners hom later toegejuig het.
Daardie tyd is ek toe ook aangewys om vir Hoofstad en Die Vaderland oor die Springbokke se rugbytoer van end Oktober 1969 tot begin Februarie 1970 in Brittanje en Ierland verslag te gaan doen. Ek het egter gelei gevoel om die aanbod om die toer in Brittanje te gaan dek van die hand te wys.
Ook maar goed so, want te midde van al die betogings wat Peter Hain weens Suid-Afrika se apartheidsbeleid teen die Springbokke gereёl het, kon die Springbokke nie een van hul vier toetse op daardie toer wen nie. Boonop het die Springbokke toe nog drie ander wedstryde teen streekspanne verloor. Geen span kan in sulke onstuimige politieke tye volgens sy volle potensiaal speel nie.
Al het rugby daar oorheers, het Hoofstad se sportredaksie tog ook hard probeer om die kleiner sportsoorte regverdige dekking te gee.
Ongelukkig het ook Hoofstad se drukkerye tot stilstand geknars, want op 19 Februarie 1983 het hierdie waardevolle inligtingsbron sy einde bereik. Gelukkig was ek toe nie meer by Hoofstad om hierdie treurige dag te beleef nie.
‘n Tydjie by Die Afrikaner
Destyds het politieke ontevredenheid met die Nasionale Party en premier John Vorster se beleid in konserwatiewe Afrikaner-geledere en veral in Pretoria oorgekook. Dit het in 1970 tot die stigting van Die Afrikaner, die Herstigte Nasionale Party se nuusblad-mondstuk gelei. Strydpers Beperk, ’n uitgewer van Pretoria, het die Ster-tydskrif oorgeneem en Die Afrikaner begin uitgegee.

J.M. (Johan) Fourie, die gesamentlike besturende direkteur van Republikeinse Publikasies, wat Ster oorspronklik uitgegee het, is as Strydpers se besturende direkteur aangestel. Daan P. Goosen, voormalige direkteur van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, was Strydpers se Ontwikkelingsdirekteur. Hy en Johan Fourie was albei hoofbestuurslede van die HNP.
Links: Die eerste uitgawe van Die Afrikaner, waar Ben Louw kortliks as sportredakteur gedien het.
Beaumont Schoeman, onder wie ek by Hoofstad gedien het, het my genader om my pos by Hoofstad vir die pos van sportredakteur van die nuwe koerant te verruil. Omdat ook ek geglo het die premier en die NP het ’n risiko vir Afrikaner-belange geword, het ek by die HNP en Die Afrikaner ingeval. M.T. (Theuns) Steyn, wat vir Natal rugby gespeel het, was Die Afrikaner se eerste sportverslaggewer. Ander (onervare) sportverslaggewers is eers later aangestel, want ervare, gevestigde sportskrywers het dit òf as ’n te groot risiko beskou om na Die Afrikaner te verskuif, òf het nie met die nuwe blad se politiek saamgestem nie.
Nietemin kon ’n mens op grond van die gehalte en talente van die voorgenoemde mediamense verwag het dat Die Afrikaner in die mededingende mediamark goed sou presteer.
Maar, ondanks al die meesleurende H.N.P.-politiek wat veral Jaap Marais so oortuigend verkondig het, het Die Afrikaner nooit werklik in Afrikanerkringe goed gevestig geraak nie. Dus het ons redaksielede mettertyd maandeindes met kommer begin dophou.
Om sout in ons wonde te vryf, het Beyers Hoek, sekretaris van die Noord-Transvaalse Rugby-unie, Die Afrikaner (eintlik meer vir my as sportredakteur) namens die unie uit Loftus Versfeld se persbank verban. Hulle was ontstoke omdat ek die internasionaal beroemde en geёerde dr. Danie Craven, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, in Die Afrikaner dikwels gekritiseer het en die Springbokkeurders gereeld daarvan beskuldig het dat hulle die Westelike Provinsie voortrek. Vandag moet ek egter onglukkig erken my kritiek teen dr. Craven, ’n rugby-genie, was te dikwels op provinsiale vooroordeel gegrond. Maar was Noord-Transvaal se drastiese optrede teenoor my werklik geregverdig?
Boonop het ek ook destyds besef politiek is gewoonlik eenogig en dikwels oneerlik, dus het ek ook ’n ander heenkome vir my loopbaan begin soek.
By Die Magaliesberger
In 1970 is ek toe aangestel as redakteur van Die Magaliesberger, Noordwes-Transvaal se vernaamste streekkoerant wat onder meer die dorpe Rustenburg, Brits, Thabazimbi, Koster, Mooinooi, Kroondal en Swartruggens bedien het.
Hierdie streekkoerant, wat aan Dan van Niekerk en sy seun, ’n prokureur op Rustenburg, behoort het, het gesukkel om die stryd teen die Rustenburg Herald te wen. Ons redaksie, die bestuur en drukkery (onder beheer van Tom Ferreira) was egter geseёnd om Die Magaliesberger se sirkulasie gou te verdriedubbel tot 7421 per week (op 1 Okt. 1970), volgens die amptelike CAPRO-syfers), wat dubbeld dié van die Rustenburg Herald (3 600) was.
Veral Rustenburg-verslaggewers Johan Venter en Ben Buys, asook Obie Odendaal (hoof van ons Brits-kantoor) en advertensie-bestuurders Jan van Wyk en Frik Botes het ’n sleutelrol in hierdie prestasie gespeel.
Die Magaliesberger het ook onbevooroordeeld oor hofsake van bekendes verslag begin doen, en dit was een van die groot redes waarom so baie mense ons koerant weekliks op Vrydae gekoop het. Juis oor sulke verslae het plaaslike leiers ons daarvan beskuldig dat ons koerant in rioolslote rondploeter. Maar Dick Merckel, bestuurder van Die Magaliesberger en van Kloof Drukkers, wat ons koerant gedruk het, en die eienaars het nie voor die kritiek geswig nie, dus kon ons vrylik met ons verslae voortgaan.
Eintlik het ons gesin ons tyd daar op Rustenburg baie geniet. As redakteur het die plaaslike inryteaters, onder meer die Maanlig-inry by Rustenburg-Kloof, my en my gesin altyd gratis toegang gegee, natuurlik sodat Die Magaliesberger hul inry in die kollig moes hou.
Maar so byna-byna het my werk vir Die Magaliesberger ook onregstreeks tot ’n tragedie vir ons gesin gelei. Dit het gebeur toe die ontwikkelaars van Utopia, ’n nuwe ontspanningsoord buite Rustenburg, ons gesin vir ’n naweek se kostelose kuier in Utopia genooi het, natuurlik sodat Die Magaliesberger hul oord kon bemark.
Nou ja, terwyl ons kinders die middag daar in ’n bergstroom in Utopia gespeel het, het ek ’n vreesaanjaende gerammel en ’n dreuning gehoor. Toe ek opkyk, sien ek hoe aanstormende vloedwater die lang gras en bossies platvee. My oudste dogter (Mara) was aan die oorkant van die stroom, en kon ons weens die geraas nie hoor roep nie. Net deur die Here Jesus Christus se genade kon ons haar naelskraap voor die geweldige vloedwater uit na veiligheid bring.
Maar nou, terug na die joernalistiek: Ongelukkig het daar spanning tussen my en Dick Merckel, bestuurder van Die Magaliesberger, ontstaan oor sekere omstrede berigte wat ek geskryf het. Hoewel ons gesin en die Merckels ook goeie vriende was, het hierdie verskille my wyslik na ander moontlikhede laat kyk.
Ek het egter gedink ek sou weens die felle politieke stryd tussen die konserwatiewe Noorde en die liberale Suide en weens my vorige verbondenheid aan die “verkrampte” Die Afrikaner waarskynlik nie so welkom by die Nasionale Pers se “verligte” publikasies wees nie.
Terug by Die Oosterlig
Omdat ek voorheen in Die Oosterlig se redaksie onder redakteur Dirk van Zyl, ’n goeie mens met ware integriteit, gewerk het, het ek hom vir ’n pos genader. Genadiglik het hy my van 1 Augustus 1971 weer as een van die vyf subredakteurs in sy redaksie aangestel. My begin-salaris was toe R410 per maand, heelwat minder as by Die Magaliesberger.

Onder oom Dirk se bekwame leiding het dit met my in my tweede skof by Die Oosterlig goed gegaan. Mettertyd is ek as hoofsubredakteur ingespan en dikwels moes ek ook as nuusredakteur waarneem.
Tydens my tweede skof by Die Oosterlig was daar in Dirk van Zyl se redaksie onder andere Louis Oosthuysen (die assistent-redakteur), Flip Oosthuizen (die nuusredakteur), Jasper Schellingerhout (die hoofsubredakteur, wat later ’n pastoor geword het), Retief Pienaar (’n subredakteur wat later assistent-redakteur van Die Burger in Kaapstad was), Willie Muller (hoofverslaggewer, wat veral op stadsbestuursake gefokus het en voorheen sportredakteur van Die Transvaler in Johannesburg was), Alex Kellerman (sportredakteur), Christine Louw (vroue-redaktrise) en Yvonne Steynberg (die latere vroue-redaktrise).
Ander redaksielede van Die Oosterlig in my tyd was Les Barnes (wat later ook die sportredakteur was en graag oor veral atletiek geskryf het), Stanley Terblanche (wat skrumskakel van die Oostelike Provinsie-rugbyspan was en later afrigter van die O.P-span), Alex Hofmeyr en sy vrou, Elize, (wat albei subredakteurs was), Kobus van Heerden (wat ’n subredakteur was en van Cradock in die Oostelike Provinsie gekom het) en Maryna Potgieter (’n subredakteur).
Onder die ander Oosterlig-verslaggewers was daar Kobus Terblanche, Hoepel Scheepers, Chris Wessels en Essie Esterhuysen. Ben Meades en Nardus Nel was die fotograwe en Bakkies Goosen die settery-bestuurder. Ons subredaksie het goed geweet Bakkies is ’n man “wat nie sommer nonsens gevat het nie” wanneer die redaksie nie by die fabriek se spertye gehou het nie!
Juis weens die gedurige druk waaronder ’n subredaksie werk, het ek met Schalk Burger (Landbouweekblad) begin gesels oor my begeerte om na die rustiger omgewing van ’n tydskrif te verskuif. Met Schalk se hulp en deur die bestiering van die Almagtige God het my laaste skof in die rustiger joernalistiek toe inderdaad aangebreek.
Laaste skof — by Landbouweekblad
Soos elke subredakteur maar te goed weet, werk die subredaksie van ’n dagblad bykans gedurig in die hoogste rat om die berigte persklaar te maak en bladplanne vir die settery gereed te kry sodat die koerant betyds versprei kan word. Veral waar groot nuusgebeure op die laaste nippertjie plaasvind, moet die subkantoor meer uithaal om te help om ons nuusblad nog betyds op straat te kry.
Ek het jare van hierdie druk by Die Oosterlig deurgemaak, meesal as waarnemende hoofsubredakteur. Dus het ek mettertyd na die rustiger joernalistiek van ’n weeklikse tydskrif begin verlang.

So het ek my goeie vriend Schalk Burger, toe die assistent-redakteur van Landbouweekblad, verreweg Suid-Afrika se grootste landboutydskrif, genader. Selfs Oosterlig se Dirk van Zyl, die redakteur, het vir my ’n goeie woord by Nasionale Pers se hoofkantoor in Kaapstad gedoen. Danksy Schalk en oom Dirk se hulp het redakteur Piet van Niekerk my toe in 1975 as subredakteur van Die Landbouweekblad in Kaapstad aangestel.
Ons eerste aand in die Kaap wou ‘n hotel in Kuilsrivier ons egter nie huisves nie! Gelukkig het Nasionale Pers ons gesin (ek, my goeie vrou, Annette, en, destyds nog ons drie kinders, Mara, Gert en Annette-Louisa) vir ons eerste maand in die Kaap kosteloos in die Libertas Hotel in Goodwood gehuisves.
By Landbouweekblad het ek as ’n subredakteur begin; toe word ek redakteur van swartwit-artikels, daarna redakteur van kleur- en swart/wit-artikels en, tot my aftrede, redakteur van landbou-aktueel en kleurartikels.
By Landbouweekblad het ek uiteindelik onder drie redakteurs gedien. Eers was dit Piet van Niekerk, en ná sy skielike dood, was dit Pienaar Smit. Pienaar was ’n skerpsinnige mens wat veral nuttige, praktiese inligting in artikels vereis het, maar hy het sy personeel altyd regverdig probeer behandel.
Min van Pienaar se redaksielede het geweet hoe hy in die stilligheid by die hoofbestuur vir beter voordele vir ons geveg het. Ook vir my het hy nooit laat blyk dat hy ampsmotor-voordele vir my probeer beding nie. Tog het Louis Fourie, die hoof-bestuurder van Nasionale Tydskrifte, dit op 1 Desember 1988 in ’n briefie so aan my bevestig nadat die Pers aan my ’n ampsmotor toegeken het: “Ek wil darem net byvoeg dat Pienaar Smit al lankal en kort-kort aan jou motorstorie geroer het. Met Landbouweekblad se resultate so goed soos dit tans is, was die tydsberekening hierdie keer 100%.”
Ook Pienaar is egter skielik oorlede, en toe het Jean du Preez redakteur van Landbouweekblad geword. Jean het op ’n koringplaas tussen Riversdal en Stilbaai grootgeword en het dikwels op die plaas self agter die stuur van die stroper ingeklim. Ook hy het sy personeel werklik regverdig probeer behandel.
Ná my aftrede het eers Ainsley Moos en toe Hugo Lochner redakteur geword.
Van die ander Kaapse Landbouweekblad–redaksielede saam met wie ek bevoorreg was om te werk, was Schalk Burger (’n diepsinnige mens op wie jy altyd kon reken.), Andries Gouws (wat André Strydom as assistent-redakteur in Pienaar Smit se redakteursdae opgevolg het), Danie Smith (wat in Jean du Preez se redakteurstyd assistent-redakteur was), André Strydom (’n deeglike landboujoernalis en motorskrywer), en die alomgeliefde Albert de Jager (die kunsredakteur wat ná sy dienstydperk deur die kunstige Mary-Anne Stone vervang is).
In die redaksie was daar ook Danie de Villiers (’n subredakteur wat later as prokureur gekwalifiseer het), Reg Weiss (’n ervare joernalis van die Paarl), Izak Malherbe (eindredakteur van Landbouweekblad), Frits Schlesinger (’n uitstekende nuusjagter en landbounuus-redakteur), Hettie Haumann (die vroueredaktrise wat ons redaksielede dikwels met baie lekker eetgoed verras het) en Mariёtte Immelman (’n subredakteur wat later nuusredakteur was).
Johanna Fourie was die hoofsekretaresse en sy is goed deur Aletta de Vos, Ina Viljoen en Linda van Staden bygestaan Ina Viljoen was later ‘n persoonlike sekretaresse vir top bestuurslui.
Landbouweekblad moes in daardie dae seker ook streng op besparing ingestel gewees het, want die einste Johanna Fourie wou destyds altyd eers redaksielede se potlood-stompies sien voordat sy vir ons ’n nuwe potlood sou gee!
In Landbouweekblad se takkantore was onder andere Henk van der Merwe, die seun van die NG Kerk se destydse moderator, hoof van die belangrike Pretoria-kantoor wat Transvaal bedien het. Ook Jorrie Jordaan (’n ywerige joernalis wat lank ná sy aftrede steeds as joernalis gewerk het) en Andries Gouws (wat later in Kaapstad Landbouweekblad se asssistent-redakteur was en wat, al was hy kleurblind, gereeld besonder treffende wildsfoto’s vir artikels uit sy geliefde Namibiё voorsien het) was in verskillende stadiums redakteurs van die Pretoria-kantoor. Louw Pretorius, ook ’n kunstenaar wat veral vir sy goeie foto’s bekend was, was later assistent-redakteur in Pretoria.
Theuns Botha, self ’n ywerige joernalis, wolskaapkenner en knap fotograaf, het tydens my laaste jare by Landbouweekblad met sy uitstekende bydraes as hoof van die takkantoor in Port Elizabeth my lewe as redakteur van landbou-aktueel en kleurartikels baie makliker gemaak.
Hennie Basson was hoof van die Vrystaat-takkantoor en het later ook in die hoofkantoor in Kaapstad gewerk.
Veral die takkantore se artikelskrywers moes altyd self die nodige foto’s neem om hul bydraes toe te lig. Gewoonlik moes hoofkantoor se skrywers dit ook self doen, maar ons kon soms darem van Die Burger se fotograwe, soos Bart Steyn en Dawid Briers, wat in sy jong dae ’n Springbokstoeier was, se knoppie druk om te help.
Landbouweekblad het ook gereeld Die Burger-kunstenaar Fred Mouton gebruik om die gewilde weeklikse spotprent op ons hoofartikelblad te skep.
Tydens my Landbouweekblad-loopbaan het Tafelberg-Uitgewers my ook dikwels vir die nasien van hul boeke voor publikasie gebruik. In ’n stadium het Tafelberg se George Louw, wat ook ’n bekende digter was, my ’n pos as ’n boeke-redakteur (nie-fiksie) in hul redaksie aangebied. Maar ek het dit nie aanvaar nie, en glo dit was weer die Here wat my, sonder dat ek dit toe besef het, die regte besluit laat neem het. Dus het ek by Landbouweekblad voortgegaan en later het Pienaar Smit my as artikel-redakteur en redakteur van landbou-aktueel aangestel..Dit was ook my pos toe ek net ná die eeuwisseling op 61-jarige leeftyd weens gesondheidredes afgetree het.
Ek is vandag dankbaar dat redakteur Jean du Preez destyds sy bes gedoen het om vir my goeie aftree-voordele by die hoofbestuur te beding.
Al die gebeure in my loopbaan het my weer laat besef ons Almagtige God weet altyd vooruit wat die beste vir ons is. Ek glo vandag die Here Jesus Christus, die Lewende God, het dit genadiglik so beskik dat alles vir my in my loopbaan uiteindelik baie goed uitgewerk het.
Vandag, 85 jaar oud en reeds 63 jaar getroud met my Godgegewe vrou, Annette, woon ons, nog, genadiglik gesond, by ons enigste seun, Gert, en sy goeie vrou, Suzette, in ’n woonstel aan hul huis in Bloubergrant, Milnerton, Kaapstad.
Geplaas: 28 Augustus 2025
Lees die artikel oor Landbouweekblad elders op hierdie webblad waar Ben Louw sy kollegas en hul posisies by die tydskrif noem.