BEELD

Beeld word in 1974 Nasionale Pers (die latere Naspers/Media24) se eerste dagblad in die noorde van die land. Die koerant het gevolg in die voetspore van die Sondagkoerant Die Beeld wat in 1965 Dagbreek in die bevolkingrykste deel van die land kom aandurf het – tot groot ontsteltenis van Nasionaliste in die noorde wat ‘n politieke motief agter die stigting van die koerant gesien het.

Beeld is ingewag deur vier Afrikaanse dagblaaie in die Perskorgroep: Die Transvaler, Die Vaderland, Hoofstad en Oggendblad. Die mededinging was straf, maar uiteindelik bly net Beeld oor.

‘n Kombinasie van onder meer swak ekonomiese toestande en die opkoms van die digitale media laat Beeld egter saam met alle ander dagblaaie swaar leef.

 Die eerste uitgawe van Beeld op 16 September 1974.

Schalk Pienaar, eerste hoofredakteur van sowel die Sondagkoerant Die Beeld as die dagblad Beeld, skryf in die eerste uitgawe oor die enorme belegging en moeite wat ingesit is om die eerste Beeld op straat te kry.

Drie sleutelmanne met die eerste Beeld: Adv. Langdavid de Villiers (besturende direkteur van Nasionale Pers, dr. Phil Weber (voorsitter) en Schalk Pienaar, redakteur. Regs is Dawie, rubriekskrywer van Die Burger, se “profetiese woorde” oor die stigting van Beeld. (Met erkenning aan Beeld 21, gedenkbylae tot Beeld in 1995.)

Beeld het met volgehoue gehalte en voorblaaie soos hierdie lesers getrek. Die wenresep was om ‘n groot storie baie hard te slaan.

‘n Jaar na die 9/11-terreuraanval in die VSA was almal op hete kole.

Beeld se grootste opskrif wat die koerant dalk tot nog toe gebruik het: Dr. Connie Mulder, kroonprins van die Nasionale Party, tree weens die Inligtingdebakel in 1978 uit die kabinet. Dit wás ‘n groot storie, maar onderliggend aan Beeld se dekking was dalk ook ‘n politieke motief: Mulder se groot opponent was P.W. Botha, wat ‘n lang verbintenis met Naspers en sy dagblaaie gehad het. Botha het dan ook premier John Vorster in die nadraai van die Inligtingdebakel opgevolg.

In 1980 kom ‘n gekonkel met sirkulasiesyfers by van Perskor se koerante aan die lig. Dit neem egter tot 1983 voordat tot ‘n vergelyk gekom is. Daarvolgens het Perskor sy Afrikaanse koerante aan die oggendmark onttrek en het Beeld die enigste Afrikaanse oggendblad in die noordelike provinsies geword.

Met Beeld nou sonder Afrikaanse mededingers skiet die  sirkulasie op en bereik spoedig 100 000, ‘n ongekende syfer vir ‘n Afrikaanse dagblad.

Lewendige dog netjiese tipografie is ‘n kenmerk van Beeld. En om byderwets te bly, word dit van tyd tot tyd vernuwe. In ‘n stadium was grafika hoog mode, soos uit hierdie voorblad blyk.

In sy gejaag na verkope, het Beeld se oordeel hom soms in die steek gelaat – soos met dié voorbladdekking wat aan Big brother, ‘n TV-realiteitsreeks, gegee is.

Voorblaaie soos dié het koerante verkoop.

‘n Soortgelyke foto het reeds die vorige dag in die Sunday Times verskyn, maar die gebeure was so skokkend en belangrik vir Beeld se lesers dat dit tog saam met Andriette Stofberg se verslag geplaas is.

Politiek was nog altyd stapelkos vir Beeld. Met dié voorblad praat die koerant op 27 April 1994 sy lesers by monde van die voorsitter van die Verkiesingskommissie, regter Johann Kriegler, moed in.

Hierdie voorblad onder die redakteurskap van Adriaan Basson het ‘n storm veroorsaak en Beeld se sirkulasie, wat reeds gesukkel het, ‘n kwaai knou gegee.

Die volksheld AB de Villiers se prestasies gee aanleiding tot voorblaaie soos dié:

Die Zuma-presidentskap gee aanleiding tot sterk voorblaaie soos hierdie een.

Beeld gebruik in die jongste jare gereeld ‘n wit mashoof, soos met hierdie ongewone voorblad waar die hoofberig nie tipiese harde nuus is nie, maar een met ‘n sterk menslik inslag.

Beeld het ‘n besondere toegeneentheid teenoor Nelson Mandela gehad. As leser van Beeld is hy by geleentheid gevra om as “gasredakteur” op te tree. Regs: Hierdie gedenkbylae oor Nelson Mandela is deels in Engels uitgegee.

By hoë uitsondering wyk Beeld ook vir ‘n bepaalde geleentheid of ‘n groot nuusgebeurtenis af van sy rooi mashoof (ook genoem gewel of kopstuk), soos by hierdie twee geleenthede.

Beeld het in 1996 sy Saterdaguitgawe met hierdie ongewone mashoof laat uitstaan. Later, in 2001, het die Saterdagkoerant ‘n meer konvensionele mashoof gekry. (Vir sirkulasiedoeleindes word Saterdaguitgawes apart van die weekdaguitgawes beskou; vandaar die ander titel.)

In die jongste jare word die Saterdaguitgawe van Beeld in die hanteerbare ponieformaat gedruk, maar die bylaag By het verdwyn en beslaan nou ‘n paar bladsye binne die hoofkoerant.

In die 1980’s het Beeld met ‘n suksesvolle gratis buurtkoerant, Ooster-Beeld begin. Later is ‘n Noorder-Beeld en Suider-Beeld bygevoeg, wat toe saamgesmelt het met ander soortgelyke koerante. Hier is die laaste Ooster-beeld se voorblad.

Beeld se prikkelende plakkate het tot sy sukses bygedra. Hier is enkeles.

Beeld het sy prestasies telkens met gedenkuitgawes gevier. Dit is vandag waardevolle inligtingsbronne omdat redakteurs en redaksielede daarin vertel oor van die uitdagings en oorwinnings wat hulle beleef het. Daarin word Ton Vosloo telkens genoem as die redakteur wat Beeld na oorwinning gelei het, maar hy is bygestaan (en opgevolg) deur verskeie knap joernaliste. Van ‘n sterk redaksiespan het daar in vandag se digitale era min oorgebly en maak Beeld sterk staan op nuus wat deur Netwerk24 se span gelewer word.

Lees meer…

Lees meer oor Beeld se koms en eerste jare in J.J.J. Scholtz, Tim du Plessis en A.S. de Beer se hoofstuk oor Beeld in Oor grens heen (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992), en

Dirk Richard se Moedswillig die uwe (Perskor, 1985).

Ton Vosloo skryf ook oor Beeld in sy Oor grense – ‘n lewe in die media in ‘n tyd van verandering (Jonathan Ball, 2018).

Lees meer oor Schalk Pienaar se redakteurskap in Alex Mouton se Voorloper – Die lewe van Schalk Pienaar (Tafelberg, 2002). Pienaar skryf oor sy lewe in Getuie van groot tye (Tafelberg, 1979).

Die sirkulasiestryd word deur J.J.J. Scholtz beskryf in Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992).

Kyk ook Harald Pakendorf se herinneringe in sy boek Stroomop (Penguin, 2018).

Nog ‘n perspektief: Herman Wasserman en Gabriël J. Botma se artikel Having it both ways: balancing market and political interests at a South African daily newspaper. Op 31 Julie 2008 gepubliseer by https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/02560040802166193