In 1968, die jaar waarin ek by Hoërskool Port Natal in Durban gematrikuleer het, was daar twee universiteite wat grade in joernalistiek aangebied het. Rhodes op Grahamstad was by verre my keuse; Puk, nou NWU, was ‘n saai tweede moontlikheid. Met ‘n kursusnaam soos “Perswetenskap” en een van die lektore se voornaam “Calvyn” het Potch geklink soos ‘n voortsetting van skool of katkisasie.
Maar my pa het voet neergesit en in Januarie 1969 het ek my tassie in die koshuis Karlien uitgepak. Ek was wel vasbeslote om nie ‘n graad met so ‘n oninspirerende naam te studeer nie en het terstond my vakke na Engels, Frans, Afrikaans-Nederlands, politieke wetenskap en, les bes, drama, verander.

Annelize het beskeie genoeg by die SAUK Bulletin begin, maar haar merk by Die Transvaler, Beeld en Finansies & Tegniek gemaak.
Hooffoto bo: Annelize is aan die diepkant ingegooi en moes vroeg reeds ‘n rubriek vir die SAUK Bulletin skryf.
Ondanks my ouers se erge kommer dat Frans Marx, daardie tyd lektor in toneelkunde by die Puk, my tot fliekvlooiery sou verlei, het die drama-ervaring vir my eerste toegang tot joernalistiek gesorg. Die SAUK Bulletin by die SAUK in Commissionerstraat, Johannesburg, het my aangestel en gou was dit duidelik dat die stories van mense en hul dinge vra om vertel te word.
Die mees verstommende ding was dat iemand nog nat agter die ore onderhoude met gewigtige mense soos Esmé Euvrard, Pieter en Johan de Bruyn, Nic de Jager, Bill en Fred Sharp, Charles Fortune en al die ander kleurvolle radiosterre van daardie tyd kon voer, hul stories kon vertel en daarvoor betaal word.
Harde nuus het nietemin gelok. Die Transvaler en Perskor was die noorde se spreekbuis van die Nasionale Party. Carl Nöffke was redakteur toe ek in 1972 as groentjie by die stowwerige kantore van die magtige persreus in Aucklandpark instap.
Regs: Die joernalistiek gee toegang tot bekendes, maar stel jou ook bloot aan lawwe opdragte deur nuusredakteurs.
Bo staan Annelize heel links en gesels met onder andere die akteur George Peppard. Hy was bekend as Hannibal Smith in die TV-reeks The A-Team.
Onder: Annelize in wit haal passies uit saam met akteurs wat in The Villagers, ‘n TV-reeks, gespeel het. Jan Hamman het hierdie poging tot ‘n myndans afgeneem.

Willie Buys was ons groep se mentor. Hy het sy hande met ons vol gehad maar was ruimhartig met sy kennis en het ons vele geleenthede gegee om te blom. So kon ek op net my tweede dag by die koerant saam met die vermaarde Rykie van Reenen in ‘n gehawende witpers-Peugeot inskuif om ‘n perskonferensie met Neil Armstrong by te woon. Sy het vir Rapport gewerk en ons was in dieselfde gebou.
Sy was so warm en gerusstellend. Na die konferensie, op pad terug na die pers, merk sy op: “Ek het jou geen vraag hoor vra nie, mevrou Slabbert? Jy moet jou nie laat intimideer nie.”
Die kop van my eerste voorbladstorie was nogal kru en nie my kopie nie: Die PIL binne die huwelik is hoerery. Voorbehoedmiddels was nog ‘n nuutjie vir baie en die moderator van die Suid-Transvaalse NG sinode het sy afkeer daarvan baie duidelik uitgespel, tot Willie Buys se genoegdoening. Ek wou nog wal gooi, maar Willie, wat effens gelispel het, jaag my weg met “jy skryf baie goed, mevrou, maar jy kort nuuth-thin!”
Een Sondagoggend, kort nadat dr. Willem de Klerk as redakteur van Die Transvaler begin het, word ek na die huis van die skrywer Chris Barnard gestuur vir ‘n onderhoud met die pasaangewese Herzogpryswenner. Daardie Maandagoggend kyk ons jonges verdwaas toe hoe die kunsredakteur, Phillipa Breytenbach, Sondag se nuusredakteur uitskel oor die “poppie” wat haar onderhoud voor haar neus weggeraap het.
Sy was nog meer boos toe sy verneem van my skuif na Huisgenoot net twee maande later. Chris was die Transvaalse redakteur en het my aangestel vir my skryfvermoёns. Hy het niks van “nuus-sin” gemeld nie.
Daar kon geen beter tyd vir ‘n liefhebber van Afrikaanse letterkunde gewees het as die jare sewentig nie. Danksy Chris Barnard kon ek in stimulerende gesprekke tussen hom, John Miles, PG du Plessis, Abraham de Vries en Ampie Coetzee deel.
Die groot vraag in die lig van die opslae oor André P. Brink se Kennis van die aand en later die boek se verbanning was in welke mate Afrikaanse skrywers geroep is om “betrokke” te skryf. Kobus Louw, ook toe ‘n redaksielid en die skrywer van gewilde radioreekse soos Seepsteenbataljon en later die TV-reeks Willem het stil geluister, maar later skuinsweg laat val: “Niks verkeerd met ‘n goeie storie nie.” Ek stem.
Tog was die middel sewentigs so politiek gelaai dat geeneen met ‘n halwe nuusneus anders as “betrokke” kon wees nie. Danksy Ebbe Dommisse is ek in 1978 by Beeldaangestel. Ton Vosloo was redakteur, Hennie van Deventer een van die assistent-redakteurs en Jack Viviers die nuusredakteur.
Die energie in daardie nuuskantoor het elke dag ‘n avontuur gemaak. Van ure verwyl by Jan Smuts-lughawe se aankomssaal om uit te kyk vir Eschel Rhoodie se terugkeer uit Frankryk, tot jaagtogte agter die ontwykende glampaar Richard Burton en Liz Taylor aan.
Van ‘n onderhoud met Joanna Lumley (destyds baie gewild vanweё ‘n TV-reeks) tot ‘n naalskraapse onderonsie met ‘n rifrug om ‘n foto van ‘n beweerde bedrieёr te steel. En tussendeur die verwoede wedloop met Die Transvaler se sirkulasie wat almal op hete kole gehou het.
Die begin van Finansies & Tegniek het nuwe horisonne vir my oopgemaak. Pas klaar met ‘n HBA van die Nagraadse Bestuurskool van NWU was die geleentheid om met Salie de Swardt as redakteur en redaksielede Curt von Keyserlinck, Bert Ferreira, Tielman de Villiers, Magnus Heystek, Esmaré Weideman, Deon Basson, Dallen van Wyk en David Moolman ‘n nuwe tydskrif te begin, ‘n droom.

Links: By Finansies & Tegniek was Curt von Keyserlinck en Magnus Heystek kollegas en deel van die beginspan onder Salie de Swardt.
Onder: Annelize geniet haar aftreejare by die see en is nog bedrywig.

Weereens het stories oor mense, bedryfsleiers soos Chris Ball, GT Ferreira, Piet Badenhorst, Piet Liebenberg, Danie Cronjé, Meyer Kahn, Raymond Ackerman, Peet en Johan van der Walt, gesorg vir ‘n stimulerende werk. Suksesvolle sakemense met min tyd het hul kantore en lewens aan ons oopgestel vir vrae en ontleding en gedweё vir foto’s geglimlag.
As daar iets is waaroor ek spyt is, is dit dat omstandighede verhinder het dat my loopbaan daar verder ontwikkel het.
Na F&T was daar nog soveel geleenthede om stories te vertel. In die Baai het Hoogland-gemeente ‘n koerantjie (Jack Viviers sou dit ‘n “traktaatjie” genoem het) geborg waarin ek onderhoude met perlemoenstropers, dobbelaars, prostitute en ander randfigure kon voer.
Vandaar het interaksie met leeus, luiperds, ratels, aardwolwe, muise en Boesman in my sewe jaar by Deception Valley Lodge in die Kalahari, Botswana, beslag in ‘n boek, ‘n Luiperd in my bed, gevind. Om die boek te kon skryf, was die waarmaking van ‘n kleindogtertjiedroom om ‘n storie te vertel wat op ‘n boekrak kan staan.
Deesdae kruis ek strande en woude in Munster, hou walvisse dop, lees steeds verwoed elke stukkie nuus en vertel stories vir my kleinseun. My “nuuth-thin” het tot nog toe nie ontwikkel nie.
Annelize Slabbert, projekleier van Munster Herleef en Leah van Niekerk, aanbiedster van die program, tydens die verfilming van Lottoland Help ‘n Dorp, September 2024.