ANDRIETTE STOFBERG — LEGENDE IN HAAR TYD

Wanneer ‘n Engelstalige publikasie soos die Sunday Times berig oor die afsterwe van ‘n Afrikaanse joernalis, weet jy dat hy/sy iemand besonders was. So was dit met Andriette Stofberg, ‘n “newsroom legend”, soos die blad se opskrif gelui het.

Rapport het met ‘n groot opskrif hulde aan haar betoon: Mentor en inspirasie van ‘n hele geslag. In haar artikel skryf Christi van der Westhuizen dat Andriette sonder ego in ‘n ego-gedrewe bedryf was. (Sy het wel gestaan op die korrekte spelling van haar voornaam — dus sonder ‘n deelteken.)

Sy was ‘n “vernuftige features-skrywer” en nuusredakteur met “ ‘n nuussin sonder weerga”.

En sy kon vuurmaak onder verslaggewers… versag deur hulle “Bokkie” of “Poplap” te noem.

Andriette het reeds by Oosterlig in Port Elizabeth naam gemaak as uitsonderlike joernalis met ‘n besondere taalaanvoeling. Later, by Beeld, word sy die blad se eerste vroulike nuusredakteur en slegs die tweede vrou in ‘n  adjunkredakteurspos by dié koerant.

Sodoende het sy die pad, op spoor van Rykie van Reenen, help oopkap vir ander vroue. 

Haar loopbaan had vele hoogtepunte, soos haar beriggewing oor die moord op AWB-lede in Bophuthatwana kort voor die April 1994-verkiesing.

As meningsredakteur was haar hantering van die Boetman-debat in Beeld  trefseker. Sy het geweet wat senuwees gaan raakboor en ‘n langdurige debat oor die verligte “ooms” sou ontketen.

Kollegas onthou haar laggie en onverstoorbare toewyding aan ‘n storie. Dit is daardie volgehoue werketiek en humor wat talle bybly, want dit is wat sy by uitstek was: ‘n toegewyde joernalis wat dikwels agter die skerms ‘n wesenlike verskil gemaak het. Inderdaad ‘n legende in haar eie tyd. — Johannes Froneman