ALBE GROBBELAAR: RADIO- EN TV-MAN, BESTUURDER EN DOSENT

Radio- en TV-man Albe Grobbelaar vertel in hierdie epos-onderhoud met Johannes Froneman meer oor sy loopbaan waarin hy twee Artes-toekennings ontvang het — vir radio- én TV-werk — asook ‘n ATKV-Veertjie vir sy werk by Radio Oranje/Ofm, waar hy ‘n leidende rol gespeel het.

Vertel ons iets oor jou agtergrond: skool, opleiding, eerste werk

My pa was ’n bankbestuurder, wat beteken het dat ons gereeld rondgetrek het. Ek is op Heilbron in die Vrystaat gebore, die jongste van vier kinders. Na Heilbron het ons ook op Brits, Standerton, Pretoria, Vrede, Senekal, Vryburg en Potchefstroom gewoon. Ek het in 1973 aan die Hoërskool Vryburg gematrikuleer, en het in 1974 my dienspligjaar by Lenz en ook Voortrekkerhoogte gedoen.  

In 1975 het ek my as eerstejaarstudent vir die graad BA (Admissie) ingeskryf by die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Ek wou predikant word. (Destyds moes jy in die NG Kerk eers ’n BA-graad behaal met onder andere Grieks en Hebreeus as vakke, die sg. “Admissie”, voordat jy teologie kon gaan studeer.) Ek was vier jaar by Kovsies, waar ek in 1978 ’n honneursgraad in filosofie voltooi het voordat ek in 1979 by die Universiteit van Pretoria begin het met teologie. Hier by Tukkies (waar ek by o.a. proff. Johan Heyns en Carel Boshoff klas gehad het), het ek gou besef dat ek nie ’n dominee wou word nie. Ek het na sewe maande opgeskop en begin werk soek. 

Wanneer en hoe beland jy toe by die SAUK? Was dit ‘n ou ideaal?

Toe ek by Tuks weg is, is ek vir ’n kort rukkie terug Bloemfontein toe. Terwyl ek boeke in die universiteitsbiblioteek by Kovsies gestempel het om aan die lewe te bly (R2 per skof), het ek by beide die SAUK en Die Volksbladaansoek gedoen vir werk. My belangstelling in die joernalistiek was geprikkel deur my vroeëre betrokkenheid by Kovsies se studentekoerant, Irawa, en ook deur ’n ouer suster en ’n swaer wat joernaliste was. My swaer Gustaf Pienaar was in daardie tyd ’n omroeper by die SAUK in Johannesburg, en my sussie Anina Roux (van latere blokkiesraai-faam), het by o.a. Hoofstad, Rooi Rose en later ook Sarie en Huisgenoot gewerk.

Net voordat Die Volksblad my laat weet het dat hulle ’n pos vir my in Bethlehem het, het ek ook ’n omroeperstoets by die SAUK in Johannesburg gaan aflê. Ek het die toets geslaag en is toe as “junior omroeper-regisseur” by die destydse Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika (die latere RSG) in die Goudstad aangestel. (My salaris was ’n allemintige R450 per maand.) 

Om die vraag dus te beantwoord: Uitsaai was nie ’n “ou ideaal” nie, dit het so half toevallig gebeur. En ek het my uitsaailoopbaan by die SAUK se hoofkantoor in Aucklandpark, Johannesburg, op 1 September 1979 begin.

En hoe ontwikkel jou loopbaan by die SAUK toe?

Na sowat elf maande by die Afrikaanse Diens in Johannesburg het die SAUK my Kaapstad toe verplaas. Hier het ek drie wonderlike, stimulerende en kreatiewe jare in Seepunt as omroeper gewerk voordat ek aan die einde van 1983 in ’n bestuurspos as programorganiseerder van die Afrikaanse Radiodiens in Pretoria aangestel is. Na vyftien maande in Pretoria het ek aansoek gedoen vir die pos van programbestuurder by die beoogde nuwe radiostasie vir die Vrystaat, Noord-Kaapland en Wes-Transvaal, Radio Oranje, in Bloemfontein. Ek het die pos gekry en in Maart 1985 is ek terug na my hartland, die Vrystaat. Ek het dus binne die bestek van vyf jaar in vier stede vir die SAUK gewerk. 

Net kortliks iets oor my tydjie as omroeper, veral die drie jaar in die Kaap: My loopbaan én menswees is beslis in ’n groot mate gevorm deur die vrugbare en vervullende tyd by die SAUK in Seepunt. My bestuurder, wyle Johan Stemmet (nie familie van die sanger nie), was ’n streng baas (“bedonnerd” is dalk nader aan die waarheid), maar hy was ’n hoogs begaafde mentor. By hom het ek oneindig baie geleer, soos ook by my drie kollegas met wie ek ’n kantoor gedeel het, André Blom, Thinus de Villiers en Nico Roos (al drie ook al oorlede). 

In die Kaap moes jy iets van alles doen. Ons het streeknuus gelees. Daar was die plaaslike versoekprogram, In my kontrei, waarvoor die luisteraars poskaarte ingestuur het. Ons het dikwels buite-uitsendings by plattelandse skoue gehou. Daar was gereelde inbelprogramme en geselsprogramme. (Ek onthou my uurlange, regstreekse kuier-onderhoude in die programreeks Sommer ’n nommer, met Margaret Gardiner, Madelein van Biljon en Pieter-Dirk Uys veral goed.) Ek moes tot op ’n keer regstreeks in ’n saal voor ’n klomp mense die boeremusiekprogram Konsertinaklub aanbied.

Dit was veral hoorbeelde (dokumentêre programme vir radio) wat my geïnteresseer het in daardie jare, en ek het die voorreg gehad om verskeie hiervan saam te stel. Die onderwerpe wat ek aangepak het, het gewissel van die Hel (die een in die Gamkaskloof), tot by historiese figure soos die komponis Danie Bosman, die politikus N.C. (Oom Klasie) Havenga, en die geliefde veggeneraal van die Tweede Wêreldoorlog genl. Dan Pienaar. 

Ek was ook bevoorreg om tydens my drie jaar in die Kaap die program Skrywers en boeke saam te stel en aan te bied. Die kennismaking en onderhoude met van ons land se voorste skrywers, uitgewers en literatore het my eindeloos verryk en tot onvergeetlike herinneringe gelei. 

’n Ander program uit daardie tyd, wat my groot vreugde verskaf het, was ’n musiekreeks wat ek en die koerantman/skrywer/uitgewer Kerneels Breytenbach saam aanmekaargesit het. Kerneels het die navorsing gedoen en die tekste geskryf, terwyl ek die aanbieder was. Die titel was Op die spoor van rock. Dit was ’n eerste vir die Afrikaanse Radiodiens, wat tradisioneel nie sulke sondige en opruiende musiek uitgesaai het nie. 

Radio Oranje het daarna gekom?

Soos genoem, is ek vroeg in 1985 van Pretoria af terug Bloemfontein toe as een van die drie bestuurders wat die nuwe te stigte radiostasie Radio Oranje van die grond af moes kry. Dit was vir ons spannetjie onder leiding van die bekende en gerespekteerde radio- en TV-man Christo Olivier ’n groot uitdaging om uit niks uit nie ’n nuwe radiostasie te vestig. (Christo was die hoof, Bill Otto was die advertensiebestuurder en ek die programbestuurder.) 

Die SAUK was, soos jy weet, sedert 1936 (toe dit gestig is), die enigste “uitsaaier” in Suid-Afrika. (702 Talk Radio en Capital Radio, as “tuislandstasies”, was in die vroeë 1980’s teoreties nie deel van die amptelike lys radiostasies in die land nie.) Die koms van die SAUK se drie nuwe streekradiostasies in 1985, nl. Radio Oranje, Radio Algoa en Radio Jakaranda, was die eerste “nuwe” radiostasies in meer as twintig jaar. Daar was dus geen handleiding nie. Dit was grootliks probeer-en-tref, en ook heelparty kere probeer-en-mis! Maar dit was ’n wonderlike, opwindende tyd en my betrokkenheid by Radio Oranje (wat later Ofm sou word), was die begin van ’n uiters vervullende deel van my loopbaan, wat uiteindelik oor altesaam byna dertig jaar sou strek. Ek het in 1989 as die SAUK se Radiohoof: OVS en Noord-Kaap, die uitvoerende hoof van Radio Oranje geword, en was in hierdie hoedanigheid direk betrokke by die uiteindelike verkoop en privatisering van die radiostasie in 1996. Hierna was ek vir nog sowat sewe jaar (tot in 2003) hoofbestuurder (HUB of CEO) en tot in 2015 lid van die direksie van Ofm. 

My werk as verslaggewer by televisienuus was vir ’n periode van slegs sowat agttien maande in 1987/88. Ek was lus vir iets anders, en toe die pos van nuusredakteur by die SAUK se televisiespan in Bloemfontein geadverteer is, het ek die geleentheid aangegryp om darem ook iets van die blink liggies van TV te ervaar. (My diens by Radio Oranje is dus vir hierdie kort tydperk onderbreek.) Die woord “nuusredakteur” het bitter min bestuurswerk geïmpliseer. Soos die res van ons klein Vrystaatse TV-spannetjie, moes ek vinnig leer om iets van alles te doen, wat dikwels my eie kamerawerk en ook die redigering van stories ingesluit het.  

Hierdie jaar en ’n half by televisienuus, ná my paar jaar agter die skerms aan die bestuurskant by radio, het ongetwyfeld van die mees opwindende en stimulerende tye in my lewe opgelewer. Daar was toevallig dat daar juis in hierdie tydjie dat ek nuusman in Bloemfontein was, ’n verstommende aantal groot, nasionale nuusstories opgeduik het wat ons span in die Vrystaat en Noord-Kaap moes dek. Dit het ingesluit die pous se besoek aan Lesotho, die grootste vloede en oorstromings in menseheugenis in Sentraal-Suid-Afrika, ’n tragiese vliegongeluk naby Hennenman, waarin meer as twintig mense omgekom het (onder wie ’n aantal jokkies wat vroeër aan ’n perdewedren in Bloemfontein deelgeneem het), en ’n gewelddadige tronkopstand by die Goedemoed-tronk naby Aliwal-Noord. 

Albe en SAUK-kameraman Russell Belter tydens die pous se besoek aan Lesotho in 1988. Hy vertel meer hieroor in die afdeling By Nabaat.

Ek het ook die geleentheid gehad om verskeie dokumentêre programme en programinsetsels vir televisie te maak, o.a. oor die geskiedenis van die ou Suid-Afrikaanse landsvlag, die Kalahari-Gemsbokpark (soos dit toe nog bekend was), Bloemfontein se historiese sandsteenbrûe en selfs ’n Aprilgek-tong-in-die-kies-programmetjie waarin ons “verslag gedoen het” oor die stadsraad se “besluit” dat Bloemfontein se geliefde Naval Hill volledig met die grond gelyk gemaak sou word om plek te maak vir “ontwikkeling”. (Talle kykers het dit vir soetkoek opgeëet.) 

My tydjie by televisie het ten einde geloop toe ek as radiohoof terug is na Radio Oranje. Die ontydige dood van die bekende en geliefde SAUK streekdirekteur en oud-nuusman Carel Leonhardt het daartoe gelei dat Christo Olivier in sy pos aangestel is en dat ek vir Christo opgevolg het by Radio Oranje.

Jy is dus nou al lank in Bloemfontein?

Bloemfontein is my hartland. Saam met my studentejare woon ek reeds veertig jaar in die Rosestad. Ek dra met trots my T-hemp I LOVE BLOEMFONTEIN. (Nie eens Ace kon my hier wegkry nie …)

Jy het ‘n groot belangstelling in geskiedenis, as ek dit nie mis het nie? Het jy nie ook ‘n dagboek vir Monitor gedoen nie?

Dit was in my Kaapstad-jare dat ek begin het met die aanbieding van Historiese almanak, ’n daaglikse praatjie van sowat drie minute oor gebeure uit die geskiedenis wat aan ’n bepaalde dag se datum gekoppel kon word. Dit is elke weeksdag op die oggend-aktualiteitsprogram Monitor uitgesaai. Ek sou hierdie rubriek uiteindelik, met ’n paar onderbrekings, langer as tien jaar aanbied. Dit was vryskutwerk, wat beteken het dat geen navorsing, oplees- of skryfwerk gedurende amptelik werksure op kantoor gedoen kon word nie. Die gevolg was eindelose laatnagte se geswoeg en gesweet in my studeerkamer tuis. En dit was vóór die era van die internet. Elke datum, elke feit, elke staaltjie, moes fisies in boeke (dikwels in biblioteke) nagevors en geverifieer word. Ek het destyds ook ’n omvattende knipselversameling opgebou van artikels uit koerante en tydskrifte wat my kon help in die saamstel van Historiese almanak

Vertel meer oor jou werk as dosent by die Vrystaatse Universiteit… Was jy voltyds daar?

Dit was vir my ’n groot vreugde om aan die einde van my loopbaan vir byna ’n dekade lank (van 2008 tot 2017) te kon klas gee by my alma mater, die Vrystaatse Universiteit. En dit ten spyte daarvan dat my hoogste akademiese kwalifikasie ’n stokou honneursgraadjie in filosofie was.

Daardie ou gesegde, “Dis nie wat jy is nie, dis wie jy ken”, is seker van toepassing. Die destydse hoof van die Dept. Kommunikasiewetenskap aan die UV, prof. Johann de Wet, was ’n brug- en tennisvriend. Ek het semi-deeltyds geboer in daardie stadium, en, terug in die stad na ’n week op die plaas speel ons die Saterdagmiddag tennis. Net daardie oggend, terwyl ek saam met my vrou in ’n restaurantjie koffie drink, slaan ek tot haar groot ontsteltenis ’n lastige vlieg teen die restaurantmuur met my Croc-sandaal dood. “Johann,” vra sy die middag by die tennis vir hom, “het jy nie werk vir Albe nie? Dis tyd dat hy sy plaasmaniere afskud!” 

Soos die geluk dit wou hê, is hulle toe juis op soek na iemand met ’n bietjie “praktiese ervaring” van die media. En voor ek kon sê dankie-maar-nee-dankie, toe staan ek bewend voor my eerste klas. Ek het mediastudies en praktiese joernalistiek vir tweedejaars, derdejaars en ook ’n spannetjie honneursstudente doseer. Dit was boonop ’n kontrakpos, wat beteken het dat ek genoeg vrye tyd gehad het vir ander belange (soos die boerdery). 

Daardie geleentheid om met jongmense in ‘n universiteitsomgewing te kon werk, sal my lewenslank bybly. Die interaksie met die studente, sommige met wie ek steeds kontak het, was kosbaar.

Jy is nou al ‘n paar jaar “afgetree”. Waarmee hou jy jou besig?

Ek was die afgelope aantal jare as beoordelaar betrokke by sowel  Vodacom se Joernalis van die Jaar-kompetisie (VJOY) as die radioafdeling van die ATKV se Mediaveertjies.  Ek het ook tot onlangs ’n rubriek vir ’n plaaslike weekblad, Bloemfontein Courant, geskryf. Verder doen ek bietjie konsultasiewerk vir radiostasies en ook opleiding van omroepers en nuuslesers. En dan plaas ek soms ook ietsie op Facebook in die hoop dat dit ’n paar laaiks gaan kry!

Wat was die lekkerste aspekte van jou loopbaan as uitsaaier?

Uit alles hierbo, kan ’n mens hopelik sien dat daar min aspekte van my loopbaan was wat nié vir my lekker was nie. Ek is innig dankbaar oor die wonderlike geleenthede, nie net in die kollig voor die kameras of die mikrofoon nie, maar ook ágter die skerms aan die bestuurskant. 

Vertel iets oor jou gunstelingkollegas.

’n Hele paar name het ek reeds genoem. As ek enkeles kan byvoeg, sal dit Fanus Rautenbach insluit, wat nooit te belangrik was om ook dáár te wees vir ’n onervare groentjie nie. Hy was ’n ware vriend. Manie Kitching by Radio Oranje (Ofm) was die heel beste en mees natuurlike uitsaaier met wie ek ooit te doen gehad het. Alewyn Lee, en later Anton Prinsloo, beide taaladviseurs by die SAUK, was legendaries. En dan Nic. Wyle Nic Swanepoel het vroeg in my loopbaan ’n groot invloed op my gehad. Ek sal sy aansporing in daardie beginjare, toe ek gedink het ek sal nooit die mas opkom nie, altyd onthou. En, en, en … Daar is te veel om op te noem.

Albe saam met Manie Kitching (links) en Christo Olivier (middel).

Betaal hulle mens om jouself so te geniet? Want ek het altyd die indruk gekry dis vir jou lekker om uit te saai… Mis jy dit?

Mis ek dit? Ja en nee. Ek dink dikwels terug aan my loopbaan. En jy is reg, ek hét dit geniet. Maar die tyd stap aan en daar kom nuwe belangstellings en vreugdes. Jy sal sien as jy eers kleinkinders het …