AKTIVIS WELMA ODENDAAL SE PAD VAN ‘HOOFSTAD’ TOT BY DIE ‘CAPE TIMES’ EN VERDER

Welma Odendaal is skrywer, aktivis en mediamens. Sy het eers geskryf en toe joernalis geword — spoedig ‘n anti-apartheidaktivis geword wat nie in die Afrikaanse hoofstroom ‘n tuiste sou vind nie. Welma vertel aan JOHANNES FRONEMAN meer oor haar soms onstuimige loopbaan.

Welma het in die joernalistiek beland nadat haar eerste bundel kortverhale, Getuie vir die naaktes, in 1974 by Perskor verskyn het. Sy vertel: “Jeanne Goosen het met my ‘n onderhoud vir Hoofstad gevoer en die redakteur, Sam Lake, omgepraat om my ’n kans te gee. Summier het my ‘opleiding’ onder Jeanne begin en het ek vir ‘n ruk agter haar aangedraf en foto’s vir haar baie bisarre stories geneem.”

Welma vertel op K’rant hoe hulle kamstig slange by Hartbeespoortdam moes gaan afneem wat ‘n gevaar vir hengelaars sou inhou. ‘n Bogstorie, maar die slange het Jeanne gereël. Welma moes net afneem.

“[T]erug by die koerant en na die slangfoto’s ontwikkel is, was die resultaat maar vaal en uit fokus soos ek bewerig probeer het om die slange met die Pentax vas te vang terwyl Jeanne van die wal af beveel: ‘Dieper, jong, dieper! Jy moet die goed se tanne kan sien!’

Welma het haar joernalistieke loopbaan by Hoofstad begin, maar nie in dr. Andries Treurnicht se tyd daar as redakteur nie!

“Nietemin, my vaal foto met ‘n verklarende onderskrif het die voorblad gehaal, Eric Ströh, hooffotograaf, het geduldig gebly, en mettertyd het my fokus en beligting ook verbeter. Maar as fotograaf het ek nooit werklik daai ‘killer instinct’ wat Jeanne só aangemoedig het, ontwikkel nie.”

Jy het toe wel ook kans gekry om om veral hofverslaggewing te doen… Vertel meer oor die wonderlike vrou genaamd Anneline Maree” wat jy iewers noem.

Anneline was ‘n fantastiese mens en hoogs gerespekteerde hofverslaggewer. Dit was toe ek besef het dat kontakte ‘n baie belangrike deel van koerantwerk is. Almal in die howe het haar geken – van die hofklerke tot die magistrate en regters. Ek het onder haar leiding geleer om hofverslae te skryf. Daar was daai tyd weird stories in die hof … regtigwaar, en ek het my ten volle uitgeleef. ‘n Goeie intro, het ek instinktief besef, is halfpad die stryd gewonne. Anneline het my regtig raakgesien, en gekoester (onthou ek was 23) en anders as baie mediamense wat ek toe en daarna teëgekom het, was sy totaal onbedreig.

Jy noem dat jy in daardie tyd (by Hoofstad) al hoe meer bewus geword het van “die ongeregtigheid van apartheid”. Wat het jou spesifiek getref?

Die disrespek teenoor swartmense in die hof het my eerste opgeval, en die bruuske behandeling, die voorkeur altyd aan staatsgetuienis, soos die polisie. Maar ek dink die Saso-verhoor van 1975-76, was ‘n groot baken in my politieke bewuswording. As senior verslaggewer, het Anneline die verhoor gedek. Daar was soveel kontrole oor die media, dat net een verslaggewer vir elke koerant toelating tot die hof gekry het. 

Op die buitewyke van die hof het ek en ‘n jong Rand Daily Mail verslaggewer, David Niddrie, bevriend geraak. Hy was radikaal links, het diensplig ontduik, en was reeds op die owerhede se radar. Ons het ure omgesels oor die ongeregtigheid in die land, en die rol van Black Consciousness – die grootste en belangrikste plaaslike politieke beweging in daardie tyd.

Ek het ook begin besef dat Afrikaanse koerante hulle plig versuim om beriggewing te doen oor wat wérklik in die land aangaan. Die wit lesers van Afrikaanse koerante het oningelig gebly. Ek meen, hoekom anders was almal so verbaas toe studente-opstand in 1976 in Soweto uitgebreek het? Asof dit van nêrens af gekom het.

Toe gaan sub jy by die SAUK. Dit was nogal ‘n interessante loopbaanskuif. Wat het jy daar gedoen?

Die hoof van die Engelse nuuskantoor by SAUK-radio was ‘n vriend, en het gereël vir ‘n onderhoud by die Afrikaanse diens. Dis noual 1976. Ek het begin nuusbulletins skryf – eers vir Radio Hoëveld en Springbokradio. My taak was ook om die teleksmasjien dop te hou en as ‘n soort copy-taster berigte in verskillende mandjies gegooi. Natuurlik het ek baie meer te wete gekom as die “nuus” wat die hoofnuus gehaal het … ander invalshoeke as wat die volk gevoer is.
 

Tog het ek dit geniet daar. Om kort en kragtige bulletins te skryf, het sy eie dissipline. My grootste blaps was toe ek die embargo op PW Botha (toe Minister van Verdediging) se toespraak in die parlement gebreek het, en dit in die middagnuusbulletin uitgesaai is toe hy op pad Parlement toe ry. (Embargo’s? Is daar nog sulke goed?)
 Wittes (die nuusredakteur) het net sy skouers opgehaal. Maar ‘n ruk later vergeet ek om die kriekettelling aan die einde van ‘n bulletin in te sit. Toe word ek ingeroep deur die hoof van nuus, en is liederlik oor die kole gehaal!

Maar toe skop hulle jou uit omdat jou tweede boek verban is. Vertel meer.

Was meer as dit. Ek en die digter Rosa Keet het vroeg in 1976 die literêre tydskrif Donga begin en by voorlesings in Daikonia House in Johannesburg, met swart digters en skrywers van Soweto betrokke geraak. Teen 1977 was Donga full-on anti-apartheid, anti-establishment, anti-regering … en alle anties wat jy nog aan kan dink. Die verbod op Keerkring het ek raakgelees in ‘n Sapa-berig wat uit die teleksmasjien agter my rug rolle nuus uitgespu het.

Kort daarna is ‘n uitgawe van Donga verbied, en een oggend, na ek van my oggendskof by die huis aangekom het, staan die manne daar, gee my ‘n wit koevert met my laaste salaristjek in, en fire my. Onverwags, ek was nog vir die volgende ses weke op die skoftelys.

Daarna is jy na die Engelstalige pers. Was hulle al wat jou sou aanstel? Jy kry toe die beat van studente-politiek by The Star..?

Niemand in die Afrikaanse media sou my weer aanstel nie. Rapport se kunsblad was daai tyd op die bôl, en daar was baie publisiteit oor letterkunde, die verbannings en so meer. Rykie van Reenen het selfs ‘n Van alle kante-rubriek daaroor geskryf, en my openlik ondersteun. Maar ‘n job? Nie ‘n kans nie. Toe bel die Star en vra of ek vir hulle wil kom werk.

Dit het seker gehelp dat jy Afrikaans was? Of nie?

Miskien, ek weet nie. Ek was eers nuusverslaggewer, maar het toe oorgeskuif na ‘n meer verantwoordelike pos van Afrikaanse studente-politiek en kultuursake. Dit was tydens die Afrikaanse universiteite (veral Potch) se flikflooi na Nusas (National South African Student Organisation). Maar my grootste plesier was dat dit alle Afrikaanse kulturele gebeure ingesluit het, en ek het ook oor teater en rolprente geskryf vir Star Tonight.

Iewers beland jy toe by die Cape Times en word selfs hoofsubredakteur…  ‘n Afrikaanse dogter van ‘n mynwerker uit Vereeniging en jy sit in daardie stoel! Hoe het jou Engels so goed geword?

In 1977-78 het die politiek woes geraak en niemand in opposisie was eintlik meer veilig nie. Nog manne met vaal Cressidas het voor die deur van my huurhuisie in Mayfair opgedaag met dreigemente as instrumente van intimidasie. ‘n Laagtepunt was toe ek een laatoggend in Maart Aucklandpark toe ry, en die eerste ding wat ek raaksien, is ‘n groot plakkaat van die Star: KRUGER BANS THE WORLD. Verbeel jou …
 Ironies, miskien, maar vir ons almal was dit duidelik dat die apartheidstaat nou met mening gaan toeslaan. ‘n Jaar later, in 1978, het die vervolging van andersdenkendes toegeneem (ook Donga is vir alle toekomstige uitgawes verbied), en die land was nie ‘n veilige plek vir almal nie.

Rykie van Reenen het gereël dat ek by Rapport se korrespondent in Jerusalem uitkom om vervolging vry te spring. Die redaksie van ons nuwe tydskrif, Inspan, is deur Isabel Hofmeyr oorgeneem, en sy is later as redakteur van “godslastering” aangekla. Ek het sowat 5 maande op ‘n kibbutz tussen ‘n klomp volunteers van dwarsoor die wêred in Israel gaan werk.

Dit was dus uiteindelik lekker om te lees van die Inligtingskandaal in verre Suid-Afrika, en ek het my verkneukel aan Eschel Roodie en Mulder wat moes verstik in hulle eie gemors.

Maar die rassisme van die gewone kibbutzniks teenoor Palestyne, het my onder gekry, ek het na my familie verlang, en einde 1978, is ek huistoe. Ek kom Kaap toe en doen aansoek by die Cape Times. Die enigste opening was in die subkantoor en hulle stel my aan vir ‘n drie-maande-proeftermyn. Die eerste dag het die hoofsub my voor ‘n Atex-rekenaarstelsel (ek het nog nooit in my lewe so-iets gesien nie) laat sit, ‘n handboek gegee en gesê iemand van die tegniese afdeling sal my kom touwys maak. Ek is vir die res van die dag geїgnoreer. Hulle was duidelik nie lus vir my nie. Maar daar is niks wat my só kan motiveer soos om onderskat te word nie, en ‘n dag later het ek die ding uitge-figure, en gevra of ek kan begin sub.

Welma met blonde hare agterlangs by die Cape Times se subspan. Later was sy die hoofsub.

Dieselfde met Engels. Ek het nie in ‘n tipiese Afrikaanse huis grootgeword nie. Ons het baie rondgetrek, daar was altyd Engelse kinders om my in hotelle en woonstelle, en altyd Engelse koerante in ons huis. Toe ek so 10-jaar oud was, het ons uiteindelik in Pretoria nesgeskop. Ek het geel bioblioteekkaartjies gekry en eenkeer ‘n week met die bus stad toe gery en ure in die stadsbiblioteek deurgebring. Daar het ek Engelse letterkunde ontdek. Vyf jaar van Latyn as matriekvak was beslis ook ‘n bydrae tot my aanleg vir tale.
 

Hoe ook al, by die Cape Times was daar ‘n style book, ‘n Oxford Writers and Editors, en baie gretige mans in die subkantoor om my by te staan (ek was die enigste vrou in die nagkantoor). In die begin het ek soms liederlike taalfoute gemaak, en is vir jare daarna gespot oor my opskrif vir ‘n hofberig wat in bonkige 24pt Times Roman verklaar het: Estate agent trialled for fraud. Ugh.

Ek was agt jaar by die Cape Times en is deur al die fases in die subkantoor, maar het ‘n aanleg getoon vir bladontwerp: eers buitelandse sake (world page) begin uitlê, toe die middelblaaie; toe word ek copy-taster en deputy chief-sub. Ek was ook openlik ‘n feminis en het my moer gestrip vir foto’s van half-kaal meisies op die binneblaaie wat een of ander nuwe kar adverteer, en ‘n veldtog daarteen gevoer. Senior mense het my begin ondersteun – onder andere Chris Greyvenstein (assistent-redakteur) en die redakteur Tony Heard, en in 1982 word ek chief-sub.

Jou aktivistiese streep het egter vrye teuels gekry toe Tertius Myburgh jou as redakteur van die Sunday Times Extra aanstel. Dit was ‘n blad vir hoofsaaklik bruin mense?

Jy sê iewers: “Ek en Elsabé Wessels vorm (toe) ‘n hegte band in alternatiewe joernalistiek by ‘n taamlik konserwatiewe Sondagkoerant. Elsabé was later instrumenteel in die begin van Vrye Weekblad. Ons het net gekliek, en die Sunday Times Extra (‘n bylae tot die hoofkoerant) omskep in ‘n tuiste van bewustelike verslaggewing, van ongeregtighede in informele gemeenskappe, wynplase, townships, ens. in die Wes-Kaap. Oom Tertius het gemor, maar sirkulasie het gestyg, en die die burohoof, Ray Joseph, het ‘n skerm om ons gegooi. Dit was nou pret … vir ‘n ruk.

Welma en haar vriendin Elsabé tydens ‘n onlangse rit na die KKNK.

Net ‘n ruk? Wat het gebeur? Is jy van nature maar moeilik, of was dit net jou politiek? Was jy te links vir die Sunday Times?

Ek is te links vir almal! Maar nee, ek is genader om te help om ‘n struggle koerant, South, op die been te bring, as hoofsub. Dit was mense van die destydse UDF, en ek was natuurlik simpatiek. Hoewel, vir die rekord: ekself het nog nooit aan enige party of politieke beweging behoort nie. Iewers het ek nog altyd geglo dat ‘n joernalis met ‘n onpartydige oog moet probeer kyk. Daar is altyd ‘n ander kant. Maar ja, mens sal altyd jou storie oor die boeg van jou eie oortuigings gooi, en natuurlik het ek ook. Iewers moet jy kant kies … Veral as persvryheid en menslikheid ter sprake is.

Jy het nooit weer in Afrikaans verslag gedoen tot einde 1987 toe Riaan de Villiers van Die Suid-Afrikaan jou genader het om by hulle aan te sluit.Vertel asb meer oor dié tydskrif — en die mense wat saam met jou daar gewerk het.

Riaan het my kom red! Die tydskrif is begin deur André du Toit en Hermann Gilomee, reeds in vroeë tagtigerjare. Mense soos Johan Degenaar, Jakes Gerwel, André Brink en so aan, was ook betrokke op vroeë redaksies. Riaan wou hê ek moes oorwegend produksie behartig, maar die redaksie was baie klein en ek het ook stories geskryf. Chris Louw was ook op die redaksie – en later Piere de Vos. Ons twee het groot pret gehad met trips Jo’burg toe agter die Gereformeerde Blues Band aan! 

Ek het ook vir Chris Gutuza van South oortuig om Suid-Afrikaan toe te kom. Ek en hy en ‘n politieke sub van die Cape Times, Rob Meintjes, het later saamgespan om die opleidingsprogram vir ‘n koerant in Namakwaland te dryf en ook ‘n streekskoerant op die been te bring. Die Suid-Afrikaan was die moederskip van die projek, en het dus ook befondsing gekry. Dit was ‘n tydskrif wat ‘n bewustheid veral by Afrikaners wou kweek. ‘n Alternatiewe beeld en menings wou gee oor verandering wat in die land nodig was.

Van die beste Afrikaanse joernalistiek in die land, het jy dáár gelees. Anjie Krog was ook later op die redaksie – maar teen 1990 het ek voltyds die Namakwaland-opleidingswerk en koerant, Namaquanuus, behartig. Ek het ook vryskutwerk begin doen, en tyd afgeneem om ‘n volgende boek (Verlate plekke) te skryf wat in 1991 uitgekom het.

As jy vandag terugkyk, wat was jou beste oomblikke in die joernalistiek?

‘n Groot trots vir my persoonlik as joernalis was in 1985. Die redakteur van die Cape Times, Tony Heard, het my laat op ‘n Vrydagmiddag in November ingeroep en gevra om die komende Sondagaand te werk in plek van die nagredakteur. Hy het pas teruggekom van Londen en het ‘n onderhoud met Oliver Tambo gevoer wat hy Maandagoggend in die koerant wou publiseer. Daar was groot geheimhouding daar rondom. Jy moet onthou, die staat het ongekende mag gehad en hulle kon ons toemaak. Die ANC was ‘n verbode organisasie, ‘n noodtoestand is in sy (Heard se) afwesigheid verklaar, en dit was dus uiters gewaagd van Heard. Hy het gevoel dat gewone mense moet kan lees wat die ANC-leierskap werklik dink; my ook gewaarsku dat as hulle kom, ek gearresteer sou word.

Ek het ingestem en met ‘n verminderde personeel in die Sondagaand subkantoor, die koerant uitgebring. Maandagoggend het Kaapstad wakker geword met groot Cape Times-plakkate op straat: OLIVER TAMBO SPEAKS. Dit was ‘n groot oorwinning en het na my mening die deure begin oopmaak wat sou lei tot verandering in die land. (Foto heel bo: Die onderhoudstorie met Tambo soos dit in die Cape Times verskyn het.)

En wat het jou die meeste in die joernalistiek geïrriteer?

Die skynheiligheid van groot Afrikaanse koerante wat na álles maar aangegaan het, soos in: business as usual, en nooit werklik pa gestaan het vir hulle aandeel in die instandhouding van apartheid en onderdrukking nie.

‘n Laaste woord oor die huidige media-aanbod in Suid-Afrika. Lees jy nog enige koerante of nuuswebwerwe?

Ja, altyd. Natuurlik hou die onmiddellikheid van nuusberigte aanlyn ‘n groot voordeel in vir ons; dit herinner my selfs aan telekse van ouds! Maar ek mis die afgerondheid van gedrukte koerante. Aanlynmedia beoefenaars se voorliefde vir hulle eie opinies (veral TV-“nuus”!), grief my tot in my tone. Ook swak taalgebruik, taalfoute en “purple prose” (van veral sportskrywers) in Engelse aanlynmedia, is werklik irriterend. Ek is hartseer dat koerante toegemaak is (selfs die apartheidsregering se Jimmy Kruger kon dit nie regkry nie!) en dat dié wat wel nog op straat verskyn, soos die Cape Times, ‘n skadu van hulle vroeë self is.

Maar oral waar ek op oorsese lughawens beland, is my eerste besoek aan die boekwinkels waar ek koerante opraap en in ‘n hoek gaan sit met ‘n koffie en my verlustig aan stories en onderhoude, ingeligte artikels met hoofopskrifte en lieflike foto’s; die “nuus van die dag” … al is dit dan nou ook gister se nuus.