VRYE WEEKBLAD SE GEBRUIK VAN BOER AS PRYS- EN SKELDNAAM IN ‘N KULTURELE TUSSENRUIMTE

Opsomming van artikel deur Cornia Pretorius en Johannes D. Froneman, Skool vir Kommunikasiestudies, Noordwes-Universiteit

Agtergrond

Die alternatiewe, anti-establishment Vrye Weekblad (1988-1994) het deur die nuustemas wat gepubliseer is, die aanbieding daarvan en die manier waarop Afrikaans gebruik is, die Nasionale Party-regering, die apartheidsideologie en euwels wat daarmee gepaardgegaan het aan die kaak gestel.

Op dié wyse het die Vrye Weekblad (VWB) ‘n identiteits(her)konfigurasie van wit Afrikaanssprekendes aangemoedig. Ter ondersteuning van dié poging is die konstruk Boer gebruik as positiewe en negatiewe identiteitsmerker — prysnaam én skeldnaam.

Vir die artikel is Boer/boer verder ondersoek en word dit in drie dele bespreekIn deel een word die historiese betekenisverruiming en die mitologisering van die Boer, wat in die hede ook gereeld omstredenheid ontketen, uiteengesit. In die tweede deel van die artikel word ‘n ontleding gedoen van die gebruik van Boer/boer in koppe, prikkels en fotokoppe op die 226 beskikbare voorblaaie van VWB in die digitale versameling van die Universiteit Stellenbosch. Die derde deel van die studie bevat die resultate van ‘n doelbewuste steekproef op die binneblaaie van 90 uitgawes van VWB. Die fokus was op koppe en onderkoppe.

Die ontleding van Boer is benader vanuit ‘n postkoloniale oogpunt met spesifieke verwysing na hoe VWB ‘n kulturele tussenruimte geskep het waarin andersdenkende Afrikaners ‘n weerstandsidentiteit kon aanneem sonder om afstand te doen van alle aspekte van hul Afrikaneridentiteit. Die posisie tussen kulture, hibridisering, wat as ‘n dinamiese, vloeibare proses vertolk word, het ook ‘n brug gebou tussen Afrikaners en hul landgenote. 

Slot

Deur die gebruik van Boer as prysnaam is ‘n nierassige ruimte geskep waarbinne wit gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes ‘n nuwe identiteit kon skep en in gesprek kon tree met die kulture van sowel “ander” Afrikaners as “ander” rasse.

Indien identiteitsformasie as ‘n dinamiese proses gesien word, beteken dit dat wit Afrikaners nie nodig gehad het om alle aspekte van hul bestaande Afrikaneridentiteit summier te verwerp nie.

Die wisselwerking tussen die ou en die nuwe identiteit het die weg gebaan vir ‘n transformasieproses. In die postkoloniale konteks het VWB Boer dus gebruik om ‘n alternatiewe Afrikaneridentiteit te probeer skep. As deel van dié dinamiese en vloeibare proses het VWB probeer sin maak van wie of wat Afrikaners en Boere is.

In die proses, soos blyk uit VWB se taalgebruik, het dit nie volledig en permanent gebreek met identiteite wat met die heersende onderdrukkende ideologie geassosieer is nie. Trouens, deur Boer sowel positief as negatief te gebruik, is juis uitgewys dat ‘n Boer of ‘n Afrikaner goed óf sleg kon wees – daar was skurke, maar ook helde. 

VWB het in ‘n tussenruimte tussen kulture (en rasse) gewerk vanwaar dit kon probeer om aan sy lesers die noodsaak uit te wys van identiteits(her)konfigurasie sodat ook hulle uiteindelik na mede-Suid-Afrikaners kon uitreik.

Lees die volledige artikel by http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512018000400009

Dit is gepubliseer in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vol.58 n.4-1, Des. 2018