AFRIKAANSE KOERANTE IN SUIDWES-AFRIKA EN NAMIBIë

Verskeie Afrikaanse koerante het in die 20ste eeu in die destydse Suidwes-Afrika bestaan. Onder hulle was Die Suidwester en Die Suidwes-Afrikaner, wat lank (1927-1976) die mondstuk van die Verenigde Nasionale Suidwes-party (VNSWP) was. Dié party het die beleidsrigtings van genl. Jan Smuts se Verenigde Party (VP) in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) verteenwoordig. Maar politieke veranderinge het ook die koerantlandskap verander.

Die eerste uitgawe van Die Suidwes-Afrikaner het op 8 April 1927 verskyn met Ernst Schlengeman as redakteur. Hy is egter reeds in 1930 oorlede.  Later was Frans Venter (die skrywer F.A. Venter) die redakteur.

Met die hulp van Nasionale Pers, het Die Suidwester die Suidwes-Afrikaner opdraand gegee. Soos wat die wit kiesers toenemend na die Nasionale Party gedraai het, het dit al hoe moeiliker met die Suidwes-Afrikaner gegaan en die blad is in 1976 gestaak. 

Die Suidwester het in ‘n stadium volledig aan die Nasionale Party behoort, maar aandele is later aan individue verkoop, vertel Dirk Mudge in sy boek Enduit vir ‘n onafhanklike Namibië (Protea, 2015). In 1977 begin Mudge en sy kollegas Die Republikein as mondstuk van die Republikeinse Party, wat deel van die DTA geword het en Swapo sterk geopponeer het.

Hulle het geen geld gehad nie en ook nie ‘n redakteur. Aanvanklik is selfs aan Dirk Richard as redakteur gedink, wat toe by die Vaderland in Johannesburg was. Dr. Jan Spies se naam het toe opgeduik en Mudge het hom per radiotelefoon gebel waar hy iewers in Kaokoland besig was met die maak van ‘n dokumentêre film. Mudge het Spies oorreed om redakteur van die nuwe koerant te word.

Die Republikein het onverwags hulp uit Johannesburg gekry. Duimpie Opperman van Perskor het Mudge geskakel en aangebied om die koerant te druk. Omdat die rekenaartegnologie nog nie so gevorderd was nie, moes die koerant in Windhoek geset en opgemaak word en die plate per vliegtuig Johannesburg toe gevlieg word. Die hele oplaag koerante moes dan per vliegtuig na Windhoek vervoer word.

In die eerste uitgawe van die blad skryf die redakteur: “Sommer met die intrap en bladskud wil ons alreeds sê dat ons nie gekom het om te kuier en te ginnegaap nie. Ook nie om agter die hand langs te fluister nie. Ons het gekom om te werk om uit die moontlikhede wat hierdie land bied, iets groots en waardig te skep.” Dit het iets ge-eggo van Schalk Pienaar se eerste skrywe in Die Beeld.

Mudge skryf voorts:

Teen 1990 het Die Suidwester gesluit en was die Republikein die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Die eienaar, Democratic Media Trust, het ook die Allgemeine Zeitung en Namibian Sun besit en het in 2008 50% van sy aandeel aan Media24 verkoop. Die ander helfte is in 2012 aan ‘n beleggingsgroep, Stimulus, verkoop, wat in 2016 ook die ander helfte by Media24 gekoop het. Al die geld uit die verkoop van die trust is vir verskillende ontwikkelingsprojekte aangewend. Die groep behoort nou aan die Namibian Media Trust.

Só lyk die Republikein vandag.