AFRIKAANSE JOERNALISTE BY DIE ‘ENGELSE PERS’

Joernaliste wat van huis uit Afrikaans was het deur die jare hul brood by Engelstalige koerante en tydskrifte verdien. Wanneer gelet word op hoeveel selfs redakteurs geword het, kry die storie selfs meer gewig.

Deur Johannes Froneman

Voordat ek ‘n aantal name noem, ‘n opmerking oor die verdwyning van Afrikaanse koerante wat nié die Nasionale Party ondersteun het nie. Die Suiderstem het in 1950 gevou, maar nog ‘n Sap-koerant, Die Vaderland, het sy steun by die (Herenigde) Nasionale Party ingegooi en voortgeleef. In Suidwes-Afrika (nou Namibië) het die Suidwes-Afrikaner tou opgegooi. So ook Die Volkstem. Almal nie-Nasionalistiese publikasies. 

Kortom, die opkoms van die Nasionale Party het veel daartoe bygedra dat Afrikaanse koerante al hoe meer uit een mond die NP ondersteun het en diegene wat nie Afrikanernasionalisme en apartheid ondersteun het nie sonder ‘n Afrikaanse mondstuk gelaat. Afrikaanse joernaliste wat polities sterk gevoel het, het geen ander keuse gehad as om vir Engelstalige koerante te gaan werk nie. Na dié koerante is soms met venyn verwys as die “Engelse pers”.

Afrikaanse joernaliste het sekerlik ook om ander redes by Engelstalige publikasies beland. Hul baie goeie (of ten minste bruikbare) hantering van Engels het hierdie opsie oopgemaak. Soms was dit juis hul kennis van Afrikaans wat bronne ontsluit het en hulle nuttige redaksielede by Engelstalige koerante gemaak het.

Engelse koerante het juis vir lank aansienlike getalle Afrikaanse lesers gehad. Dit was dus nie altyd politiek nie, maar gewoon brood en botter — soos met Eugéne Marais meer as ‘n eeu gelede. Hy het soms gelyktydig vir ‘n Hollands/Afrikaanse koerant én ‘n Engelse publikasie gewerk! — as redakteur van Land en Volk en assistentredakteur van The Press, aldus Leon Rousseau in sy boek Die groot verlange. (Lees meer oor Marais by https://mediamense.com/eugene-marais-onverskrokke-kampvegter-vir-wat-reg-is/)om ons kyk na ‘n paar voorbeelde van Afrikaanssprekende joernaliste wat naam eksklusief gemaak het as redakteurs van Engelstalige koerante: Tertius Myburgh was dalk die bekendste redakteur in sy tyd (by die Pretoria News en die land se grootste koerant, Sunday Times). (Hooffoto bo is van ‘n uitsonderlike kommentaarartikel wat Myburgh geskryf het. Meer oor hom by https://mediamense.com/n-afrikaner-wat-die-sunday-times-met-eer-gelei-het/). René de Villiers (The Star), Koos Viviers (EP Herald en Cape Times) en Mostert van Schoor (Pretoria News) het ook die redakteurstoel van dagblaaie ingeneem.

J.H.P. (Hennie) Serfontein (Sunday Times) en Hans Strydom (Sunday Tribune en Sunday Times) was in die 1960’s en die jare daarna van die bekendste politieke joernaliste. (Hennie het later vir Vrye Weekblad geskryf.) In die Argusgroep (met sy destyds sterk middagkoerante) was mense soos Tos Wentzel en Frans Esterhuizen senior politieke joernaliste.

Bo: Een van Tos Wentzel se hoofberigte in die Argus. Onder: Tos Wentzel in sy studeerkamer. Foto: Philip de Vos

Vir enige van hulle was ‘n loopbaan by die koerante van Naspers (nou Media24) of Perskor byna ondenkbaar.

Max du Preez het by Die Burger begin, later by Business Day gewerk en toe Vrye Weekblad gestig. Ná ‘n draai by die SAUK het Max vir Engelstalige koerante ‘n rubriek geskryf voordat hy Vrye Weekblad laat herleef het. Sy politieke standpunte het sy loopbaan tot ‘n groot mate bepaal. Vir sy standvastigheid het hy verskeie toekennings ontvang, onder meer ‘n eregraad van die Universiteit Stellenbosch.

Chris Louw kan in sekere sin in dieselfde asem genoem word omdat hy die Afrikaner-establishment ewe veel verpes het. (Vandaar sy Boetman-brief.) Nadat hy by Oggendblad begin het, het hy by die Transvaler gewerk en later by die onafhanklike Die Suid-Afrikaan. Daarna volg ‘n tyd by Mail & Guardian en die SAUK, waar hy uitvoerende regisseur van die aktualiteitsprogram Monitor was — tot irritasie van vele luisteraars. Maar hy het die oorgang van die ou SAUK na ‘n oper benadering help bemiddel. Kort voor sy dood het hy verskeie briljante artikels vir Rapport geskryf, wat gewys het waartoe hy in staat was. Hy kon soveel meer vir die Afrikaanse joernalistiek beteken het.

The Citizen, wat met staatsgeld gestig is om die kritiese Engelstalige pers teen te werk, was ‘n sagter opsie vir Afrikaanse joernaliste. So het Tim du Plessis vir ‘n wyle sy loopbaan by Naspers onderbreek en redakteur van The Citizen geword. Hy is egter later terug na sy Afrikaanse tuiste en het redakteur van Beeld en Rapport geword. Sy kollega Henry Jeffreys het redakteur van Die Burger geword, uitgetree en toe vir ‘n wyle The New Age gelei.

Harald Pakendorf het by die SAUK begin, is koerante toe en word toe deur Marius Jooste Rhodesië (nou Zimbabwe) toe gestuur om ‘n (Engelstalige) koerant te begin. Vandaar het hy teruggekeer om Oggendblad te begin voordat hy redakteur van die Vaderland geword het. (Nadat hy daar afgedank is, het hy ‘n aanbod as assistentredakteur van die Sunday Times gekry, maar van die hand gewys.)

Jan-Jan Joubert het vir ‘n aantal jare by Media24 gewerk voordat hy na die Sunday Times is as ‘n assistentredakteur. Sy loopbaan het daarna ander paaie geloop. So het talle knap joernaliste die beroep verlaat en elders ‘n loopbaan uitgekap. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander geleentheid.

Gerhard Burger, sportredakteur by die Vaderland, is twee keer deur sy Perskorbase na The Citizen gestuur, onder meer as assistentredakteur onder die berugte Johnny Johnston. (Dit moes ‘n uitdaging gewees het!) Willie Roux, Rudolph Jacobs, Hannes Schoeman, Jan van der Merwe en Chris Swanepoel het almal as sportskrywers by die blad gewerk. Opvallender was Jaap Theron as politieke beriggewer by dié koerant. Hy het dikwels voorbladhoofberigte geskryf.

Van sportjoernaliste gepraat: Verskeie ander Afrikaanse joernaliste het ook hul brood in die sportredaksies van Engeltalige koerante verdien. So het J.C. Vlok in 1921 by Die Volkstem begin, maar later jare lank by die Pretoria News as sportskrywer gewerk. Gerrit Erasmus was sportredakteur by dieselfde koerant terwyl Stanley Terblanche, voormalige skrumskakel van die Oostelike Provinsie, ‘n sportskrywer by die EP Herald was.

Chris Greyvenstein was sportredakteur by die Cape Times terwyl Fred Labuschagne rugbyskrywer van dieselfde koerant was en in 1970 saam met die All Blacks deur die land getoer het. Die Cape Times was ook vir ‘n wyle die tuiste van twee later baie bekende Afrikaanse joernaliste, te wete Piet Meiring (foto regs) en Herman Steytler. Meiring is ná net ses maand na Die Volksblad, vandaar na Die Burger en word toe in 1937 Die Transvaler se eerste nuusredakteur (onder dr. H.F. Verwoerd). Steytler het by Die Burger en Landbouweekblad naam gemaak.

The Friend van Bloemfontein was ook ‘n veilige (dog baie klein) hawe vir Afrikaanse sportskrywers. So het  Steyn Lureman sportredakteur van die koerant geword (en was later ook by SA Golf en The South African Sportsman). Piet Wessels, Springbok-haker van 1951-52, was ‘n sportskrywer by Die Volksblad, maar was later nuusredakteur van The Friend. Jan Bouwer, wat in die jare veertig in een wedstryd vir die WP as heelagter uitgedraf het, het by Die Suiderstem saam met Apie Greeff gewerk. Toe verhuis hy na Bloemfontein en word The Friend se rugbyskrywer. In die jare vyftig was hy lid van die sportredaksie van Die Volksblad. Sportredaksies was vroeër lief om sportmanne aan te stel …

Jack Botha was vir 61 jaar lank ‘n sportskrywer van die Sunday Times, Sunday Express en Rand Daily Mail. (Hy is op Schweizer-Reneke gebore, maar het as enigste Afrikaanssprekende seun sy skoolloopbaan by Grey High in die Baai voltooi, vertel Herman le Roux.)

‘n Hele paar sportskrywers met Engelse voorname en Afrikaanse vanne en wat Afrikaans vlot praat, het vir Engelse koerante gewerk: Dan Retief, Clinton van der Berg en Rodney Hartman. Dit is hier waar dit moeilik raak om mense se huistaal te identifiseer en hulle te plaas.

Nie so met Caréne Boshoff nie. Sy was ‘n sportskrywer by Perskorkoerante en later sportsub by die Sunday Times. T.J. Botha het vir Engelse koerante in Johannesburg as sportskrywer gewerk. Jaco van der Merwe het by Beeld begin en is reeds sedert 2012 by The Citizen, waar hy lank in die sportredaksie was. Hy is nou vir die motorblaaie verantwoordelik. 

Francois Roux, oud-Kovsie en Junior Springbok-vleuel, was ‘n sportskrywer by Die Vaderland. Hy het later in die destydse Rhodesië (Zimbabwe) by die Southern Chronical gewerk en daarna ook by koerante in Londen. Die sakejoernalis Bert Ferreira het eweneens in Engeland by koerante gaan werk en was later redakteur van Volkshandel, voordat dit by Finansies & Tegniek ingelyf is (waar Bert lid van die redaksie geword het).

Hans Lombard het ook in Engeland as joernalis gewerk. Hy het plaaslik by Die Vaderland gewerk, maar was te vol energie vir die nuuskantoor. Hans het ‘n baie suksesvolle loopbaan as skakelman gehad.

Magnus Heystek, voormalige redaksielid van Beeld en Finansies & Tegniek, het aanbeweeg na The Star en daar bekend geword vir sy rubrieke oor persoonlike finansies. Hy het daarop voortgebou en ‘n suksesvolle finansiële adviseur geword.

Eddie Botha het vir Rapport gewerk voordat hy Financial Mail toe is.  Tydgenote soos Stephen Welz en De Wet Potgieter, het ook tussen ‘n Afrikaanse (Rapport) en Engelse koerant (Sunday Times) beweeg. En dan het die Afrikaanse Corne (Johan) Stoltz) by die Rand Daily Mail gewerk. Dit was nogal ‘n uitsondering.

Noemenswaardig is dat Zelda Jongbloed eers by die EP Herald gewerk het en toe senior posisies by Rapport Ekstra en Die Burger gekry het. Die rubriekskrywer Madelein van Biljon was ewe maklik in Engels en Afrikaans. So ook Cornia Pretorius (onder meer Beeld en ThisDay).

Dene Smuts en Esmaré Weideman het albei hul spore by Afrikaanse publikasies verdien voordat hulle na Engelstalige tydskrifte is. Smuts het by Fair Lady bedank weens die veto van ‘n artikel oor die politikus Denis Worrall terwyl Weideman haar politieke instinkte in toom gehou het en ‘n suksesvolle redakteur van Huisgenoot en You geword het. (En toe word sy die uitvoerende hoof van Media24; Smuts ‘n uitmuntende parlementariër.)

By Sapa, die destydse persagentskap wat sy berigte in Engels uitgestuur het, het Pieter Coetzee rugby gedek, terwyl Francois Krige, sportskrywer van Die Burger, ook later vir Sapa gewerk het. Dieselfde geld Sipke de Vries. In die jongste jare het Fienie Grobler nuusredakteur by Sapa geword voordat sy na News24 is. Sedert 2022 is sy hoof van nuus by TimesLIVE/Sunday Times. En nou produksiehoof by Netwerk24 se Afrikaanse koerante.

‘n Veld waar Afrikaanse joernaliste welig voorkom, is die landboujoernalistiek. Hieronder tel Jan Bezuidenhout, Faan Martin, Annelie Coleman, Susan Marais, Jeandre van der Walt, Lindi Botha en Glenneis Kriel. Van hulle het ook by Landbouweekblad gewerk.

Alita van der Walt … oorlede op 42.

Gemeenskapskoerante was deur die jare meestal tweetalig, waar dié vaardigheid aan talle Afrikaanse joernaliste loopbaangeleenthede gegee het. Johan Pretorius het na jare as SAUK-joernalis redakteur van oorwegend Engelse koerante aan die suidkus van KwaZulu-Natal geword.

Maar daar was natuurlik ook Engelssprekende joernaliste wat Afrikaans goed bemeester het en hul kant in albei tale gebring het. Een so ‘n joernalis was Maurice Hendler van die Paarl Post, ‘n joernalis wat vir dekades die blad gedra het en nog tyd gevind het om sportberiggies vir Die Burger deur te stuur.

Bogenoemde is uiteraard onvolledig, maar gee tog ‘n prentjie van hoe Afrikaanse joernaliste deur die jare ook in die Engelstalige pers  bedrywig was. Vandag is dit minder so, maar Adri Senekal de Wet is nou hoofredakteur by Independent (die ou Argusgroep). Sy het voorheen ook vir Finansies & Tegniek, Beeld en Rapport oor sake verslag gedoen. (Foto: Independent se webblad.)

Met dié dat geleenthede eerder minder as meer word, kan verwag word dat Afrikaanse joernaliste in die toekoms steeds geleenthede in die Engels pers sal benut.

Die artikel is met die hulp van Herman le Roux saamgestel. Laat weet gerus as daar foute is. En vul gerus aan. Skryf aan Johannes by joh.froneman@gmail.com.

Addendum

Hendrik Hancke (voorheen Rapport) laat weet hy is nou die enigste Afrikaanse redaksielid by die Sunday Times. Maar hy is daar.

Willem Steenkamp was ‘n uitmuntende militêre verslaggewer by die Cape Times.

Deon du Plessis het beroemd geword as stigter van die Daily Sun, op sy dag die land se grootste dagblad. Lees meer oor hom by https://www.dailymaverick.co.za/article/2011-09-12-deon-du-plessis-a-man-truly-larger-than-life-goes-on-the-great-sabbatical-in-the-sky/

Poen de Villiers was sportredakteur by The Friend en het ook vir The Citizen en die Rand Daily Mail gewerk.