AFRIKAANS IN DIE ‘RAND DAILY MAIL’ EN ENGELS IN ‘DIE BURGER’

Afrikaanse en Engelse koerante was polities voor 1994 dikwels haaks. Hennie van Deventer het egter ‘n paar gevalle onthou waar die hand van vriendskap tog na mekaar uitgesteek is. Daar was ook van Engelse kant redakteurs wat die stryd en vrede onthou.

Hierdie afdruk uit sy boek Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (Naledi, 2023) vertel iets daaroor: eers oor die Rand Daily Mail se hoofartikel by die viering van “Die wonder van Afrikaans” in 1959 en dan oor die sluiting van The Friend.

Die Burger en Cape Times het lank hoofartikels uitgeruil — al het hulle so drasties van mekaar verskil. As ek reg onthou is dit tydens Piet Cillié en Tony Heard se redakteurskappe gereël. (Die Burger se hoofartikel is deur die Times in Engels vertaal; die Cape Times s’n is in Engels in Die Burger geplaas.) Totdat Heard tydens ‘n verkiesingstyd besluit dit gee aan Die Burger ‘n onregverdige voordeel. Hy plaas toe Die Burger se artikel in die oorspronklike Afrikaans, tot groot onsteltenis van Wiets Beukes, wat by Cillié as redakteur oorgeneem het.

Ná die verkiesing het Heard hom bedink en die artikel weer na Engels laat vertaal sodat sy eentalige lesers ook kon lees wat Die Burger sê.

By Naspers se eeufees in 2015 het ‘n boek (‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange, saamgestel deur Lizette Rabe, Tafelberg) verskyn met ‘n vriendelike bydrae deur Heard oor hul samewerking — en die verskuiwing by Naspers se koerante na ‘n verligter siening.

Die verskille was egter diepgaande, soos wat Raymond Louw, gewese redakteur van die Rand Daily Mail, in sy hoofstuk in die Naspers-boek tereg uitwys. Hy herinner ook aan die veranderinge van die 1990’s wat die einde van die konflik tussen Afrikaanse en Engelse koerante meegebring het:

Trouens, Louw sê: “It is almost as if the war never happened.”

Of soos Stanley Uys, lank die Sunday Times se bittere kritikus van apartheid dit gestel het (aangehaal deur Louw):

Maar toe val Independent in Iqbal Survé se hande en redakteurs word aangestel wat klaarblyklik geen erg het aan die nuutgevonde vrede. Hul eie voortbestaan lyk boonop wankelrig. Ondanks ‘n Afrikaanse hoofredakteur lyk dit nie of die koerante meer iets vir mekaar te sê het nie.

En nou neem die koerantgeskiedenis weer ‘n wending: met die uitsondering van Die Burger sluit die laaste van die noordelike Afrikaanse dagblaaie, Beeld, in 2024.

Die verhouding tussen Afrikaanse en Engelse koerante bly ‘n ingewikkelde storie waaraan hierdie paar woorde nie reg laat geskied nie. Dalk is dit op die ou end nie meer as ‘n paar kantaantekeninge werd nie.

Vir diegene wat midde-in die politieke en joernalistieke stryd van die twintigste eeu gestaan het, is dit egter nie ‘n terloopse saak nie. Dit vertel eintlik ook die verhaal van hoe ons as wit Suid-Afrikaners ons plek deur stryd heen gevind het. En nog steeds vind.

Johannes Froneman