ADRI-LOUISE VAN RENEN: BAANBREKER BY ‘KERKBODE’ EN ‘LiG’

Die Moderamen van die algemene sinode van die NG Kerk het in 2014 die volgende huldeblyk gelewer by die dood van ‘n voormalige redakteur van Kerkbode en LiG.

Adri-Louise van Renen-Fourie was 25 jaar lank, haar hele beroepsloopbaan, gemoeid met Christelike publikasies – eers as joernalis en later as redakteur. As joernalis kon sy die hart van ’n storie voel klop, en dit só aan haar lesers oordra. Wie sal haar artikel oor die bestuurders van langafstand-vragmotors vergeet – toe sy in ’n trok se passasiersitplek geklim het en die hele rit, van die Kaap tot in die verre Noorde, meegemaak het?

Dit was as redakteur dat sy haar diepste spore in die professionele en kerklike lewe getrap het.

Na ’n hele aantal jare waarin sy Kerkbode se leisels help vashou het, het sy uiteindelik die erkenning daarvoor gekry en is sy in 2011 aangewys as dié blad se redakteur – die eerste vrou en slegs die tweede nie-predikant wat dit kon vermag.

Toe die uitvoerende raad van die Andrew Murray-prysfonds heel onlangs aan haar ’n spesiale toekenning gemaak het, is daar gesê dat sy ’n mensliker gesig aan Kerkbode gegee het. Dat sy tussen die onvermydelike polemieke en strydgesprekke deur, baie ruimte gegee het aan – só is dit gestel – die sagter kant van kerkwees.

Oor ’n heelwat langer tydperk was sy die hartklop van haar geliefde LiG. Reeds in 1992 word sy assistent-redakteur van die destydse Die Voorligter. Rondom die eeuwisseling is Die Voorligter se voorkoms drasties aangepas en het dié kerklike tydskrif ook ’n naamsverandering ondergaan en LIG geword. Die uitgesproke klem was nou op gesinsake.

Dit was Adri-Louise se ideaal om die nuutgeposisioneerde tydskrif – toe nog net by NG gemeentes en aan individuele intekenaars beskikbaar – op winkelrakke landwyd te kry. In Oktober 2004 is dié ideaal verwesenlik. En presies ’n jaar later het sy die erkenning hiervoor ontvang deur as LIG se redakteur aangewys te word.

Adri-Louise van Renen-Fourie … eerste vrou om redakteur van die Kerkbode te word.

Sy sou ook die dryfkrag agter ’n tweede groot herposisionering wees en in April verlede jaar kon sy die vrug hiervan beleef – met onder meer ’n nuwe mashoof: LiG. Vandag is haar tydskrif ’n markleier, en in die huidige onseker wêreld van die gedrukte media gee LiG in baie opsigte die toon aan.

In Augustus 2013 het Adri-Louise ’n vervroegde uittrede aanvaar. Sy en haar man, Danny Fourie, het daarna enkele reise onderneem en heelwat meer beplan, toe haar gesondheidstoestand onverwags skerp verswak het. Sy is op Sondag 15 Junie oorlede. Sy laat haar eggenoot, haar pa en drie susters agter.

Adri-Louise was ’n fyn mens – ’n kunsliefhebber, ’n teater- en musiekmens. Iemand met ’n oog en ’n hart vir mooigoed.

Sy was ’n bobaas kok (sy het immers ’n graad in huishoudkunde gehad); sy was ’n fynproewer, ’n onthaler van formaat.

Haar kennisse en medewerkers, en seker veral haar vriende, sal haar onthou as ’n géwer. Sy het nooit met leë hande by jou opgedaag nie; daar was altyd ’n nommerpas geskenk, spesiaal uitgesoek vir jou, en keurig toegedraai of verpak. En só was dit dikwels ook wanneer jy by háár besoek afgelê het; jy is met iets moois en goeds daar weg.

Maar sy was nie net ’n gewer van verjaardag-, afskeids-, en dankiesê-geskenke nie. Sy was bo alles ’n gewer –’n meedeler, ’n uitdeler – van haarself. Hoewel sy in baie opsigte ’n hoë premie op haar privaatheid geplaas het, was sy gul en onbevange in haar uitgee van die kennis en vaardighede waaroor sy in so ’n ruim mate beskik het.

Hoeveel jong joernaliste en bladuitleggers is nie onder haar noukeurige, besliste hande deur nie – om uiteindelik te weet hoe werk ’n behoorlik-geskryfde stuk kopie, hoe klink en lyk Afrikaans régtig, en presiés hoe lyk ’n voorblad.

Onder Adri-Louise het LiG steeds vernuwe.

Haar onverwagse ernstige siekte was ’n enorme skok vir haar familie, vriende en kollegas. Sy het toe boonop op trou gestaan. Die wyse waarop sy die ongelyke geveg teen gevorderde kanker aangeknoop en in die loop van twee jaar met mening gevoer het, het landwyd mense se verbeelding aangegryp. Vir sóvele het sy moed gegee en inspirasie gebring. ’n Voorbeeld gestel. Haar onwrikbare geloof in haar hemelse Vader se wil en doel vir haar lewe was ’n merkwaardige getuienis. Ons was geseënd om dit te beleef.

Ja, geseënd ook is die derduisende lesers van die publikasies wat vanuit haar redakteurshand na hulle toe gekom het. Hulle het Christelike joernalistiek van die hoogste orde beleef – keurig, vriendelik, uitdagend, en met onbesproke integriteit.

Geseënd is die redaksielede en vryskut-medewerkers wat haar oor jare heen as spanleier kon hê – streng, presies, stiptelik, en gesteld op detail soos sy was. Kompromieloos wat gehalte betref. ’n Werketiek sonder weerga. Perfeksionisties by die persklaarmaak van haar publikasies. Maar met ’n deernis en ’n opregte belangstelling in hulle, haar span, en hulle mense se wel en wee. En onwrikbaar lojaal aan hulle, dikwels tot haar eie nadeel.

Geseënd is die NG Kerk, wat Adri-Louise van Renen-Fourie vir so lank, en op die kruin van ’n merkwaardige loopbaan, aan die stuur van sy publikasies kon hê.

Geseënd is almal wat bevoorreg genoeg was om haar pad te kruis, want hulle het ’n formidabele vrou geken.

Ons dank die Here, haar hemelse Vader, vir só ’n lewe wat hier tussen ons geleef is.