Drie boeke oor Nasionale Pers word hier saam bespreek. Hulle dek verskillende fases in die geskiedenis van die maatskappy en is heel verskillend aangepak, maar saam bied hulle ‘n omvattende (dog oorwegend onkritiese) blik op die geskiedenis van Nasionale Pers/Naspers/Media24 oor ‘n tydperk van honderd jaar.
SONOP IN DIE SUIDE
C.F.J. Muller
Nasionale Boekhandel, Kaapstad
1990
Enkele boeke vertel die institusionele geskiedenisse van belangrike Suid-Afrikaanse mediamaatskappye. Die omvattendste is sekerlik wyle prof. C.F.J. Muller se Sonop in die Suide. As naslaanbron oor die perswese tot 1948 is dié boek enig in sy soort. Die meer as 800 bladsye is volgepak met deeglik nagevorsde teks en heelwat illustrasies.
Die nadeel van die boek is dat dit té omvangryk is. Dit is kwalik ‘n boek om van bladsy een tot 843 deur te lees. Die detail verswelg soms die groter prentjie. Maar dan was dit seker ook nie die bedoeling om ligte leesstof te wees nie. Lesers sal dit waarskynlik makliker vind om temas uit te pik. Navorsers sal die omvang wel waardeer en die register baie nuttig vind.
Sonop in die Suide handel oor die geskiedenis van Nasionale Pers, wat in 1915 gestig is as voertuig van Afrikaner-nasionalisme in die Kaapprovinsie. Vandag is die maatskappy as Naspers bekend en word die drukmediabelange (waaronder Die Burger, Beeld, Huisgenoot, Sarie en verskeie ander koerante en tydskrifte) in die filiaal Media24 gehuisves.
Muller het die storie baie ver gaan haal: Die herkoms van die pers in Suid-Afrika word in die eerste blaaie vertel en daarna die oprigting van De Nationale Pers op Stellenbosch. Dan volg die stigting van die aanvanklik Hollandse De Burger en De Huisgenoot, en daarna die res — tot by 1948.
Muller besluit op p. 759:

Die aanvanklike bedoeling was dat Muller die geskiedenis tot 1990 moes skryf, maar toe die projek nie klaarkom nie, het ‘n span onder leiding van W.D. Beukes (gewese redakteur van Die Burger) die storie van 1948 tot 1990 deurgetrek (kyk hieronder).
Muller se Sonop in die Suide dek dus net die tydperk 1915 tot 1948 en lê veral klem op die wortels van die maatskappy en sy publikasies se eerste dekades. Die verbintenis tussen die Nasionale Party (as politieke voertuig vir Afrikaner-nasionalisme) en die Nasionale Pers (as persvoertuig van Afrikaner-nasionalisme) is onvermydelik die goue draad. Dit is terselfdertyd die maatskappy se groot bydrae, maar word later ‘n meulsteen nadat die politiek aanbeweeg het en kommersiële oorwegings al swaarder begin weeg het.
Hierdie realiteite het eers jare ná 1948 gevolg. Dalk is dit daarom goed dat Muller nie daarby uitgekom het om oor die latere dekades te skryf nie. Die skrywers van die tweede boek (Oor grense heen) kon ook nie al die politieke veranderinge voorsien wat in 1990 losgelaat is nie — nog minder die digitale revolusie en die implikasies van Multichoice se sukses en Koos Bekker se inisiatiewe. Tog slaan Oor grense heen die brug tussen die oue en die nuwe.
OOR GRENSE HEEN
W.D. Beukes (redakteur)
Nasionale Boekhandel, Kaapstad
1992
Die bundel Oor grense heen is byeengebring deur Wiets Beukes, voormalige redakteur van Die Burger (Nasionale Boekhandel, 1992). Dit vertel hoe Nasionale Pers wegbeweeg het van sy Afrikanergerigtheid en ‘n maatskappy met ‘n breër visie geword het.
Medeskrywers sluit in J.J.J. Scholtz en J.J. Spies, wat bydrae tot verskeie hoofstukke oor koerante en tydskrifte gelewer het. So word die storie van Die Beeld en Rapport se stigting vertel; ook die stigting van die dagblad Beeld en die hewige sirkulasiestryd met Perskor se dagblaaie.
In die hoofstuk “Sirkulasiestryd” skryf J.J.J. Scholtz onder meer as volg oor die uiteinde:

Die oorname van City Press, ‘n koerant veral gerig op swart lesers, kry ook ‘n plek. Spies skryf juis ook hoofstukke getitel “Oor die taalgrens” en “Oor die kleurgrens”.
Ten slotte is daar hoofstukke deur J.P. (Koos) Bekker (oor die elektroniese media) en Ton Vosloo (toe nog besturende direkteur, later voorsitter) oor die nuwe wêreld wat Naspers betree het. Opvallend is Bekker se hoofstuk maar drie bladsye lank. Wie sou kon voorsien hoe die elektroniese media, toe nog net M-Net, sou groei en deur beleggings in onder meer Tencent sorg dat Naspers die grootste maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs sou word…
Maar vir eers was Naspers se storie een van koerante, tydskrifte en boeke.
Ton Vosloo haal homself in die slothoofstuk as volg aan oor die Nasionale Pers as ‘n nasionale pers:

‘N KONSTANTE REVOLUSIE: NASPERS, MEDIA24 EN OORGANGE
Lizette Rabe (samesteller)
Tafelberg, Kaapstad
2015
‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange (byeengebring deur Lizette Rabe en uitgegee deur Tafelberg, 2015) was ‘n plaasvervanger vir die eintlike biografie van die maatskappy, wat deur die huidige voorsitter geveto is omdat hy dit nie in belang van Naspers geag het dat die geskiedenis (weer) vertel word nie.
Maar die boek wat toe wel verskyn het, het op sigself veel meriete. Dit bevat byvoorbeeld belangrike hoofstukke oor die WVK-broedertwis (toe die maatskappy onboetvaardig vasgeskop het en jonger redaksielede hul eie stem laat hoor het), bruin joernaliste se plek binne Naspers en Esmaré Weideman se insiggewende weergawe van haar tyd as redakteur van Huisgenoot. Daar is ook bydrae deur mense van buite Naspers en dit dra by tot ‘n meer geronde beoordeling van die maatskappy.
Dit is dus ‘n betekenisvolle aanvullende bron tot Sonop in die Suide en Oor grense heen wat die geskiedenis van die maatskappy tot en met sy honderdste jaar deurtrek — al vorm die drie boeke nie ‘n stilistiese eenheid nie. – JDF
Die samesteller, Lizette Rabe, vat Naspers se groei oor honderd jaar as volg saam:
