NOG NIE VER GENOEG NIE
P.J. Meyer
Perskor, Johannesburg
1984
Dr. Piet Meyer was in die 1960’s en 1970’s die invloedryke voorsitter van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie én die Afrikaner-Broederbond. Dit het hom ’n magtige figuur gemaak, aangesien die SAUK die enigste uitsaaier was en hy dit met groot dryfkrag en ideologiese doelgerigtheid bestuur het. Kabinetslede was sy persoonlike vriende.
Die subtitel van sy outobiografiese boek is ’n Persoonlike rekenskap van vyftig jaar georganiseerde Afrikanerskap, wat veel vertel van Meyer se lewe van betrokkenheid by allerlei kultuurpolitieke organisasies. Tussendeur was hy ook parlementêre beriggewer vir Dagbreek en het hy op Stellenbosch vir Anton Rupert gewerk.
Dit alles vorm die agtergrond van sy rol as voorsitter van die SAUK. In dié twintig jaar het hy die SAUK omvorm tot ’n instrument wat Afrikanernasionalisme en die apartheidsbeleid bevorder en die kommunisme beveg het.
Dit sal egter verkeerd wees om sy bydrae by die SAUK te reduseer tot bloot dié van ’n ideoloog. Hy was ’n dinamiese persoon wat die SAUK deur ’n merkwaardige tydperk van uitbreiding gelei het. Onder meer is FM-radiouitsendings en die televisiediens onder sy leiding begin.
Sy boek vertel van hierdie betrokkenheid met ’n eerlikheid wat grens aan arrogansie. So kry die leser sy weergawe van hoe hy van die uitvoerende hoof, Gideon Roos, ontslae geraak en sy eie invloed as uitvoerende voorsitter uitgebrei het. Meyer was totaal oortuig van homself en sy saak. — JDF
Enkele uittreksels uit die boek:
Hy vertel iets oor sy tyd as parlementêre verslaggewer…

Nadat Meyer as voorsitter van die SAUK-raad aangestel is, het hy die direkteur-generaal kant toe geskuif. Daaroor is hy heel openlik. Meyer vermeld die beriggewing daaroor, maar hy en die regering het hul klaarblyklik nie veel aan kritiek gesteur nie.

Met Meyer se heraanstelling in 1971 was hy nog lank nie klaar met sy taak by die SAUK nie.
