Oor die verhouding Pers en Party, bedoelende Naspers en die Nasionale Party, is al heelparty artikels of hoofstukke in boeke geskryf. Sommige plaas dié verhouding, wat van 1915 tot rondom 1990 in stand gehou is, in ‘n negatiewe lig. Ander probeer dit rasionaliseer. Hier is twee voorbeelde van vele.
Die dag toe ‘Beeld’ PW se opdrag gehoorsaam het
Freek Swart vertel in sy boek oor Hendrik Schoeman, eertydse minister van landbou en ook van vervoerwese, ‘n treffende anekdote. Dit illustreer die etiese dilemma waarmee joernaliste soms gekonfronteer word.
Die storie lui, kortliks, as volg:
Dr. Andries Treurnicht en sy volgelinge het in 1981 erg begin brom oor die leierskap en beleid van PW Botha, die destydse eerste minister. As leier van die NP in die ou Transvaal het Treurnicht ‘n buitengewone vergadering van die party se hoofbestuur in die provinsie belê.
Botha se adviseurs het hom oorreed om reeds die Vrydagaand uit Suidwes-Afrika (nou Namibië) terug te keer en persoonlik by die vergadering in Pretoria op te daag. Dit moes ‘n verrassing wees om maksimum impak te maak en die broeiende rebellie in die kiem te smoor. Alles is daarom in die geheim beplan en uitgevoer.
Freek Swart en Alf Ries het egter ‘n wenk gekry dat Botha in Pretoria geland het en pas toe hul hoofberig vir Beeld aan om dit te reflekteer. Die eerste minister se woning in Pretoria word egter gebel om sy teenwoordigheid te bevestig.
Dit was dalk ‘n fout, want daarop bel PW Botha vir Ries, met wie hy altyd goed saamgewerk het — tot wedersydse voordeel.
Swart skryf:
“PW kom op die lyn en vra vir Ries: ‘Was die NP van Kaapland en Beelden Die Burger oor die jare bondgenote?’
“ ‘Ja, Meneer.’
“Toe sê hy: ‘Dan skryf julle nie ek is hier nie.’ Hy wou slapende honde nie wakker maak nie.”
Swart moes nou vir Salie de Swardt, Beeldse nagredakteur, bel met die slegte nuus dat hulle nie die berig kan plaas nie. Daarmee sou die verrassingselement van PW se instap by die vergadering daarmee heen wees — en kon die vergadering dalk heel anders verloop het.
De Swardt het later aan Swart geskryf: “Vir my is dit ‘n klassieke botsing tussen ‘n mens se joernalistieke plig om groot nuus te gebruik en die landsbelang. As ons daardie oggend met die storie verskyn het, kon dit die hervormingsproses jare teruggesit het, met onvoorspelbare gevolge vir die land.”
Swart noem dit die “grootste skoep wat Ries en ek nooit geskryf het nie”.
PW is toe genooi om die vergadering toe te spreek, met goeie gevolge. FW de Klerk se mosie van vertroue in PW Botha is met ‘n groot meerderheid aanvaar. Treurnicht se planne is gefnuik en hy het later die jaar weggebreek en die Konserwatiewe Party gestig.
Hierdie gebeure kan nie Naspers se koerante ‘n kombersvrywaring gee vir al die kere wat hulle in die geheim met die NP saamgewerk en hul joernalistieke etiek dalk gekompromitteer het nie. Tog toon dit hoe moeilik besluite soms kan wees.
Vraag bly: wanneer is “landsbelang” eintlik eiebelang? En hoe weet die joernalis?
— Johannes Froneman
Stormwinde of droogtes — Die storie van Hendrik Schoeman is geskryf deur Freek Swart. Literata, Pretoria. 2002.
André veg kliphard verkiesing vir die NP
Deur André J. Brink, voormalige Volksblad-joernalis
Die artikel is saamgestel uit Facebook-inskrywings wat voorheen elders gepubliseer is. Dit word hier met die toestemming van die outeur geplaas.
Die Fauresmith-tussenverkiesing van 1980 was ’n stryd om lewe en dood. Dit was ’n reuse-kiesafdeling en het gestrek van net buite Bloemfontein in die noorde tot teen die Oranjerivier in die suide en van oos na wes van die N1 tot teen die grens met die destydse Kaapland; sowat 200 km van noord na suid en 150 km van oos na wes.
Op hierdie uitgestrekte stuk aarde het drie partye mekaar op plekke soos Springfontein, Lückhoff, Fauresmith, Koffiefontein, Jacobsdal, Dealesville, Boshof en Hertzogville aan die keel gegryp.
Die Nasionale Party (NP) se kandidaat was mnr. Flippie Olivier, ’n lang skraal man met gryserige hare en ’n baie aantreklike blonde vrou, Hilda, aan sy sy. Olivier het ’n ent buite Koffiefontein geboer, ’n paar km van Ja-Nee, die plaas van sy neef, die befaamde skrywer Etienne Leroux.
Vir die Herstigte Nasionale Party (HNP) was dit mnr. Charl Hertzog, ’n netjiese donkerkop, ryk en vooraanstaande perdeboer van die distrik Petrusburg.
Laastens was daar die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), gestig deur dr. Connie Mulder nadat hy weens die Inligtingskandaal uit die NP en kabinet geskop is. Sy kandidaat was ’n ingevoerde, langerige, skralerige kêrel van iewers uit die ou Transvaal met die naam Velskoen van Rensburg. Ek kan nie meer sy regte voornaam onthou nie, maar ek dink sy voorletters was P.E.
Vir mnr. P.W. Botha, leier van die NP en destyds premier van Suid-Afrika, was Fauresmith ’n bitter belangrike verkiesing nadat die NP se meerderhede die vorige jaar in plattelandse tussenverkiesings in die ou Transvaal erg gekrimp het.
Die NP het dus sy A-span ingestuur vir die stryd. Aan die hoof was dr. Willem Odendaal, adjunksekretaris van die NP in die Vrystaat. Hy het vir die duur van daardie veldtog in ’n huis op Fauresmith gebly.
Nege kabinetslede, drie adjunk-ministers en ’n twintigtal NP-parlementslede is ook afgevaardig om te sorg dat Flippie stof in die oë van sy teenstanders kan skop.
En les bes was daar ek, ene André Brink, ’n jong (34) verslaggewer van Die Volksblad – soos destyds die gebruik by Nasionale Pers se koerante onlosmaaklik en onbeskaamd deel van die NP se span. Die Volksblad in Bloemfontein en Die Burger in Kaapstad was immers daardie tyd “amptelike mondstukke” van die Nasionale Party.
Dit was die destydse redakteur, die waardige gryskop dr. Stephanus Fortunatus Zaaiman (of Oom Bart, soos die meeste van ons hom geken het) wat my uit die subkantoor kom haal het vir die belangrike opdrag.
“Daar is ’n belangrike tussenverkiesing in Fauresmith. Jy gaan dit vir ons dek. Kry ’n motor en laat hulle vir jou plek bespreek in die hotel op Fauresmith. Jy gaan daar bly totdat die verkiesing verby is.” (Ek kon darem naweke huis toe kom na my vrou en jong kind, wat toe nog nie eens twee jaar oud was nie.)
Nou ja, toe klim ek in ’n splinternuwe wit VW Golf en vat die 130 km Fauresmith toe. Die hotel was net ’n klipgooi van die NP se verkiesingskantoor, wat ek as basis kon gebruik om sommer my berigte deur te stuur.
Vir die volgende paar weke het ek aand na aand die Golfie op die Vrystaatse stofpaaie gedaan gery agter vergaderings aan – NP- sowel as HNP- en NKP-byeenkomste. By vergaderings van die “vyand” het ek meestal naby Willem Odendaal gesit. Hy was ’n groot, sterk man en soms kon die gehoor (met goeie rede, moet ek erken) taamlik vyandig teenoor Die Volksblad se verteenwoordiger word. Ek het op Willem-hulle staatgemaak om my te beskerm.
Berigte is destyds op ’n tikmasjien geskryf en dan per kollekteeroproep deurgebel, gewoonlik na Beeld in Johannesburg waar die legendariese Ansie van der Merwe jou berigte afgeneem het. Onthou, Beeld en Die Burger was oggendkoerante en Die Volksblad toe nog ’n middagkoerant. Ansie kon vinniger tik as wat jy kon lees en het jou vinnig aangepraat as jy haar wou voorsê hoe om dorpe of persone se name te spel. Sy weet hoe om te spel, dankie!
Amper 40 jaar later is dit egter die komiese gebeure en oomblikke eerder as die harde werk en middernagtelike ritte terug hotel toe wat my bybly. Soos die aand op Boshof waar ek vir die eerste keer vir wyle Hendrik Schoeman, toe Minster van Landbou, ontmoet het.
Dit was op die geselligheid ná die vergadering waarheen “Die Volksblad se man” soos met alle NP-byeenkomste, ’n staande uitnodiging gehad het. Toe hulle my aan hom voorstel, vat Hendrik my hand en sê: “André Brink! Man, ek is bly om jou te sien. Julle is die enigste koerant in die land wat nog nie ’n rol doringdraad deur my gat getrek het nie!”
Kleiner vergaderings was daar talle. Ek onthou veral een huisvergadering saam met Flippie en Hilda. Daar was seker so 25 mense en talle vrae is gevra, onder meer oor die regering se sportbeleid, destyds nogal ’n groot kwessie.
En wat doen Flippie?
“Hier by ons vanaand,” sê hy, “is mnr. André Brink van Die Volksblad. Hy was voorheen ’n sportverslaggewer. Ek vra sommer vir hom om vir ons die beleid te verduidelik.”
Ek was totaal onkant gevang want Flippie het nie vooraf vir my gesê hy gaan my op dié manier inspan nie, maar ek verduidelik toe maar die beleid. Wat nogal moeilik was, want dr. Piet Koornhof, toe Minister van Sport, se aand- en mȏre-uitsprake oor sport het nie altyd ooreengestem nie. Hendrik Schoeman het by geleentheid toe hy die vraag gevra is, gesê hy kan dit nie antwoord nie, “want ek het nog nie vandag met Piet Koornhof gepraat nie!”
Natuurlik sou ek nooit waag om te berig (of selfs te kla) oor hoe ekself deur die NP-kandidaat ingespan is om vrae te beantwoord nie.
Nog iets waaroor eerder geswyg is, is die wyse waarop die ou verkiesingslagspreuk van “stem reg, stem vroeg, stem dikwels” heel letterlik waar was.
Daar is inderdaad “dikwels” gestem.
Destyds kon enige kieser wat iewers buite die grense was van die kiesafdeling waar hy geregistreer was, aansoek doen om per pos te stuur. Dit was ’n stelsel wat hom wawyd oopgelaat het vir misbruik.
Op Dealesville het ’n helper in die NP-kantoor ’n paar manne ver weg op die grens “gehelp” om te stem.
Die oom het ’n lys in sy laai gehad van al die knape uit die gebied wat in die Bosoorlog geveg het, volledig met al hul besonderhede, ID-nommers inkluis. Dan het hy namens hulle aansoek vir ’n posstem gedoen.
Elke aansoek moes natuurlik onderteken word, maar daarvoor had die oom ’n plan. Hy het daardie aansoek self onderteken en noukeurig boek gehou van watter handtekening hy gebruik het, sodat wanneer die stembrief kom, hy weer dieselfde handtekening kon namaak.
Toe van die NP-organiseerders hiervan uitvind, was hulle erg ontsteld, want dis verkiesingsbedrog. Maar die oom het net gesê: “Bly stil! Hulle het almal reg gestem!”
Flippie Olivier het die verkiesing loshande gewen en hy kon sy plek in die Volksraad inneem as die agbare lid vir Fauresmith. Willem Odendaal is die volgende jaar beloon vir sy goeie werk deurdat hy as ’n benoemde LV Kaap toe is.
En ek? Wel die NP het my en Die Volksblad hartlik bedank vir ons “goeie werk”.
Die volgende jaar is ek ook bevorder – tot Nasionale Koerante se politieke span in die parlement en twee jaar later tot Die Volksblad se politieke beriggewer. Fauresmith was net die hupstootjie wat my loopbaan as joernalis nodig gehad het.
Hierdie bydrae het vroeër apart en onder ‘n ander opskrif op Mediamense.com verskyn.