ANNE-MARIE MISCHKE: LEIDENDE POLITIEKE JOERNALIS EN MANUSKRIP-REDAKTEUR

Johannes Froneman stel ’n paar vrae oor haar loopbaan aan die voormalige politieke joernalis Anne-Marie Mischke. Sy het onder verskeie redakteurs by Rapport gewerk en gee hier onder meer interessante insae oor die kantoorpolitiek by hierdie koerant.

Vertel ons iets oor jou agtergrond en studies op Potchefstroom en hoe jy in die joernalistiek beland het. Het jy altyd na politieke joernalistiek gemik?

Ek is ’n gebore Vrystater en kom van ’n klein, onbekende dorpie: Tweespruit naby die Lesotho-grens. Glo dit of nie, maar dié klein Vrystaatse dorpie met sy groot, welvarende boerderydistrik het ’n sterk Engelse gemeenskap gehad, Sappe en Progs. Ek was van die begin van my dae af bewus van ander denkwyses as Afrikaner-Nasionalisme. Die laerskool was dubbelmedium en ek het eers op hoërskool in Bloemfontein (Hoërskool Sentraal) in ’n tipies Afrikaans-Nasionale omgewing beland.

Van daar af is ek Potchefstroom toe, waar ek Afrikaans en Duits as hoofvakke gehad het. Eintlik het ek ’n graad in perswetenskap in gedagte gehad, in jou ou departement se voorganger, maar ná twee jaar het ek besluit dié vak is darem te lig in die broek vir ’n hoofvak. Dit was lank voor prof. Johannes Froneman se kommunikasiekunde!

Die joernalistiek was dus altyd in my agterkop. Nietemin het ek ná my graad eers ’n diploma in biblioteekkunde behaal en toe is ek Johannesburg toe, waar ek ’n jaar lank in die openbare biblioteek gewerk het voor ek RAU toe is, die UJ se voorganger. Daar het ek in die biblioteek gewerk en ook nog ’n honneursgraad in biblioteekkunde verwerf.

Toe besluit ek ek bly sowaar nie die res van my lewe in ’n biblioteek sit nie, pak my goed en gaan swerf ’n jaar lank deur Europa. Daarna het my kop net een plek toe gestaan: die joernalistiek. Maar die koerante het nie in my belanggestel nie en ek het in die SAUK se nuusafdeling begin werk. Dit was voor die koms van Beeld – in Johannesburg was daar destyds Die Transvaler en Die Vaderland, met Rapport wat pas uit Naspers se Die Beeld en Perskor se Landstem tot stand gekom het. Dit sou nog baie jare lank gesamentlik die besit van Naspers en Perskor wees.

Ek het aanhou neul tot die adjunkredakteur, Hermie Hendricks, my by Die Transvaler aangestel het. Willem de Klerk het toe pas die redakteur daar geword. Op Potch was hy my predikant!

Die politieke joernalistiek was nog nie in my kop nie; ek wou net stories skryf, maak nie saak wat nie.

“Wat” was eers die Vroueblad. Van daar het ek met begerige oë na die politieke joernalistiek begin kyk, Willem het my smeekgebede gehoor en ek het die gewone pad van daardie dae geloop: stadsverlaggewer (dit was daardie jare baie polities omdat die ou Verenigde Party en die Nasionale Party hul politiek in die raad bedryf het). Daarna het die provinsiale raad in Pretoria gevolg, en uiteindelik, in 1978, die parlement. 

Jy het dus onder Willem de Klerk by Die Transvaler begin werk…

Willem de Klerk was my redakteur die hele tien jaar wat ek daar gewerk het. Dis ook weer ’n hele storie. Dit was in die dae van “verkrampte” en “verligte” politiek. Naspers in die Suide was bekend as die “verligte” maatskappy. Perskor in die Noorde het ’n “verkrampte” etiket gedra. Met reg, as ’n mens nou dink aan Marius Jooste, die grootbaas wat jare lank die septer geswaai het, en die hoogs konserwatiewe direksielede.

Hy het hom egter misreken met sy twee redakteurs van die 1970’s: Willem de Klerk en by Die Vaderland, Harald Pakendorf. Die twee Pretoriase koerante – veral Hoofstad, waar Andries Treurnicht eens redakteur was – en Oggendblad was ’n gans ander storie. Willem en Harald was uitermate verlig en hul koerante het dit weerspieël. Hulle was dikwels in die sop by eers John Vorster en toe PW Botha – dit was die dae toe eerste ministers en presidente nog hard die sweep geklap het as hulle nie tevrede was met wat koerante skryf nie, en nou het hulle toenemend met hierdie spesie van eiesinnige redakteurs te doen gehad.

Eiesinnig binne perke natuurlik. Dit was lojale verset; Willem en Harald het ook maar geweet hoe ver hulle kon gaan. Of nee, hulle het nié geweet nie. In 1982 het Marius Jooste Willem summier weens sy politiek ontslaan. Enkele maande later is Jooste dood en Harald het nog ’n paar jaar onder die toe heeltemal regse, KP-gesinde direksie uitgehou. Toe is hy ook ontslaan. 

Maar jy het dus veral onder Willem de Klerk gewerk — by die Die Transvaler en Rapport … Wat was julle verhouding? Julle was geesgenote, spesifiek oor die rigting van die politiek … Hoe het jy hom as redakteur beleef?

Ja, ek het nog amper vyf jaar by Rapport onder Willem gewerk. Nadat hy by Die Transvaler afgedank is, het ek geweet ek moet self so gou moontlik padgee. Marius Jooste was op my spoor en net voor ek hom moes gaan “spreek”, is hy, toe al half seniel, skielik dood. Ek het toe reeds my bedankingsbrief in die hand gehad en was nogal bek-af dat ek hom nie kon “voorspring” nie. Hoe kleinlik kan ’n mens wees! Hoe dit ook al sy, ek is Beeld toe, waar ek half ontuis in die politieke redaksie gevoel het. Hulle het dinge net anders as ons by Die Transvaler gedoen.

Willem het intussen ’n pos by die RAU se kommunikasiedepartement gehad. Op persoonlike vlak: Die departementshoof was Nina Overton, met wie hy ná sy Rapport-jare en sy egskeiding van Elsabé getroud is. Hy was gou in ’n spanningsverhouding met die Rapport-direksie en aan my is vertel dat daar in Naspers-geledere oorweeg is om hom weens sy buite-egtelike verhouding af te dank – dit was nog in die oë van Naspers ’n doodsonde. Die doodsonde het wel nie lank daarna nie ’n gewoonte geword. 

Maar ek dwaal af. Rapport het dringend ’n nuwe redakteur nodig gehad. Ná die glorieryke dae van Willem Wepener en Rykie van Reenen was dit Perskor se beurt om ’n redakteur aan te stel en Sakkie Perold was hul keuse; ’n verbeeldinglose keuse wat Rapport geen goed gedoen het nie. Willem de Klerk was toe soort van ’n kompromis-plaasvervanger vir die twee maatskappye.

Hy het my ’n pos aangebied en ek het die geleentheid aangegryp om my werkverhouding met hom voort te sit. Hy was my politieke mentor, wat my later my gang laat gaan het, ook wanneer hy van my vertolkings verskil het. Hy het my al die kanse gegee wat ek nodig gehad het.

In die dae van Die Transvaler was die hele persgalery by die parlement, met die uitsondering van Fleur de Villiers van die Sunday Times, wit mans. Helen Zille het ook daar begin toe ek aangestel is. Maar ’n Afrikaanse vrou by die Afrikaanse koerante was daar nog nooit. Willem het nogtans kans gesien om my as galeryverslaggewer parlement toe te stuur en my veral later te bevorder tot die meer senior pos van politieke beriggewer by die parlement.

Hy het wel eers ’n bietjie daaroor gewroeg, want ’n senior redaksielid wie se naam onvermeld sal bly, het vir hom gesê dit sal nooit werk nie want, hou vas, ek kan nie drink soos die manne nie en ek kan nie by Pik Botha, byvoorbeeld, in sy kamer sit wanneer hy net in sy onderbroek is en stories by hom kry nie. Wel, ek kon nie aan dié twee kardinale vereistes van my kollega voldoen nie, maar my stories het ek gekry. Ek sal Willem altyd dankbaar wees vir dié kanse.

Hy was ook op ’n intellektuele vlak vormend in my lewe. Ek het by hom geleer dat dinge nie net wit en swart is nie, dat selfs die “ander kant” reg kan wees. Dié ambivalensie is erg teen hom gehou.

Was hy ’n goeie redakteur? Moeilik om te antwoord. Hy was wel ’n dapper redakteur, politiek dapper. Hy het ’n goeie intellektuele inhoud gegee aan die twee koerante waarvan hy redakteur was. Hy het mense goed bestuur. Hy het bekwame nuusredakteurs aangestel en leiding gegee waar leiding nodig was. Hy het die lojaliteit van sy redaksies gehad.

Maar iets het dalk ontbreek, die drukkersink in die are dalk, van iemand wat via die kerk en/of die akademie in die joernalistiek beland het. (Soos D.F. Malan, H.F. Verwoerd en Andries Treurnicht.) Hy het nie die populistiese aanslag gehad wat Rapport dalk toenemend nodig gehad het nie. Die sirkulasie het bly sukkel. Naspers het die toon in die direksie begin aangee en daar was hewige spanning tussen hom en die direksie, by name Ton Vosloo. As die sirkulasie gestyg het, het ek later verstaan, sou hulle hom dalk verduur het. Uiteindelik het hy in 1987 bedank en professor by die RAU geword. Ek glo hy sou afgedank geword het as hy nie self die sprong geneem het nie.

Hy het ook my goeie vriend geword en het dit gebly tot die dag van sy dood. So ek dink nie ek kan heeltemal objektief oor hom oordeel nie. 

Jy was dus ook parlementêre verslaggewer. Hoe het dit jou geval?

Die vier jaar by die parlement was die beste van my loopbaan. Dit was opwindende tye in die politiek, wat in 1981 op die skeuring in die Nasionale Party en die stigting van die KP uitgeloop het. Hervorming het soos ’n blink vrug in die lug gehang waarna die NP onder PW Botha wou-wou gryp, maar nooit regtig die moed gehad het nie. Later, toe ek by Rapport was, was ek as politieke redakteur nog nou by die parlement betrokke en het dit gebly tot die dag toe Nelson Mandela die Volksraadsaal binnegestap het – dalk die opwindendste oomblik van my parlementêre lewe.

Vertel asseblief meer oor die koers wat jy gegee het aan Rapport se meningsblaaie

Ek was lank die politieke redakteur en was verantwoordelik vir die meningsblaaie, toe nog net die hoofartikelblad en die middelblad. In Willem se tyd, en nog in die tyd van sy onmiddellike opvolger, Bob van Walsem, was die idee om dit ’n wye markplein van idees te maak met gasskrywers en rubriekskrywers oor ’n wye spektrum. In Willem se tyd was dit die plek waar die koerant se “verligte agenda” soms waaghalsig kon tuiskom. Aan die einde van die 1990’s, ek kan nie my vinger op die presiese datum lê nie, het Johan de Wet redakteur geword en baie vernuwing ingebring – onder meer die tabletbylae Perspektief, die voorganger van vandag se Weekliks. Ek was van toe af tot met my aftrede in 2009 die redakteur daarvan en van die meningsblaaie. Johan het my tot adjunkredakteur bevorder. 

Watter van jou eie voorbladstories staan vir jou uit?

Eintlik moet jy vra watter historiese gebeurtenisse waaroor ek voorbladstories geskryf het, vir my uitstaan. My werk was onlosmaaklik daaraan gekoppel. So was daar die tot niet gaan van die Verenigde Party en die geboorte van sy opvolger, die Nuwe Republiek Party, wat alles op die skaatsbaan in die ou Carlton-sentrum in Johannesburg gebeur het. Die ys is met houtplanke bedek en ons het byna verkluim. Op die een of ander manier het ’n smal strook ys net duskant die verhoog onbedek gebly en dit was simbolies van ’n party wat die gees gee dat die een ná die ander spreker op daardie strook ys gegly het.

Op gewigtiger vlak: Daar was die dag toe die Soweto-onluste in 1976 losgebars het. Die dag toe PW John Vorster se oneervolle uittrede as staatspresident aangekondig het. Die skeuring in die Nasionale Party. Van Zyl Slabbert se onverwagse bedanking. Wynand Malan se bedanking uit die NP, wat die saad gesaai het vir die stigting van wat vandag die DA is. Sulke dinge.

Een van Anne-marie se grootste stories. Kyk ook hooffoto, heel bo.

Maar daar is twee ander voorbladstories wat uitstaan. Die een was toe Breyten Breytenbach die Rapportprys vir letterkunde gekry het. Hy het toe in Parys gewoon en dit was nog groot nuus, jare ná sy tronkstraf. Hy was polities gesproke nog absoluut persona non grata. Ons het hom hierheen gebring en daardie aand het hy ’n briljante anti-regeringstoespraak gehou. Baie, baie skerp, droomkopie … ek het die droomkopie benut en die voorblad en die plakkate het reg daaraan laat geskied. Dit was ’n opsienbarende hoofberig. Willem de Klerk was dadelik diep in die moeilikheid by die direksie en dit was naelskraap of hy is toe ontslaan. Dit was ’n jaar voor hy bedank het. Bob van Walsem, toe by Beeld, is dadelik by Rapport as adjunkredakteur aangestel om ’n oog oor Willem te hou


 Die ander storie het die volgende jaar gebeur. Bob van Walsem was pas redakteur ná Willem se bedanking en nog ietwat onseker. Ek het nog soos van ouds ’n vrye hand gehad. By die parlement was die wantrouedebat of PW se begrotingspos aan die gang, ek kan nie meer onthou watter een nie, en soos gebruiklik was ek die week daar. PW het aan die tier gegaan oor die Dakargangers van die vorige jaar – die reis van ’n aantal Afrikaners onder Van Zyl Slabbert se leiding na Dakar om die ANC te ontmoet. Hy weet toe te vertel dat van hulle, by name Theuns Eloff, op die lughawe op hul doeanevorms gelieg het oor waarheen hulle gaan en wat hulle gaan doen. Hy het woordeliks van die vorm af aangehaal wat Theuns geskryf het. Dit rondgewaai dat almal dit kan sien. Lelik!

Toe ek die Saterdagoggend op kantoor kom het Theuns, wat ek baie goed ken, al hoeveel keer gebel op soek na my. Hy het die oorspronklike dokumentasie by binnelandse sake gaan kry. Kan jy glo, dit was daardie jare nog so maklik en moontlik. Theuns kon met jota en tittel bewys daar is op sy vorm gekrap en vals inligting in ’n ander handskrif aangebring. PW het dus gelieg, nie Theuns nie. Dit was ’n groot storie en Bob het meegevoer geraak.

Die plakkate, soos ook die Sunday Times s’n, het die volgende dag min of meer gesê PW het gelieg. Hy het soos ’n ton bakstene op Bob afgekom, vir hom gesê nie eens Willem de Klerk het hom so sleg behandel nie, en daarna was Bob half versigtig vir my stories. Daardie storie het my besondere plesier verskaf. 

Vertel iets meer oor jou kollegas by Rapport. Dit was seker nie altyd maklik nie … of was die Perskor-Naspers-samesmelting uitgesorteer toe jy daar begin het?

Ek het al die jare goeie ervaring van my kollegas by Rapport gehad. Daar was baie uitstekende joernaliste, lekker om mee saam te werk. Vreemd, maar daar was nie wrywing tussen die ou Die Beeld– en Landstem-mense nie, die Naspers- en Perskor-joernaliste het goed saamgesmelt en goed saamgewerk.


 Daar was nooit ’n “hulle en ons” nie. Ek dink dit stam nog uit Willem Wepener en Rykie van Reenen se dae, toe Rapport as ’n reus van ’n koerant opgebou is waarvan die sirkulasie ’n keer by die halfmiljoen gedraai het. Rapport-mense het breëbors rondgeloop, amper arrogant teenoor ons by “mindere” koerante. Ook weens die koerant se stewige politieke en kulturele aanbod, met Rykie se rubrieke en veelgeroemde kerkberiggewing daarby. Dit was maar op direksievlak dat daar sekerlik soms tougetrek is. Teen die tyd dat ek daar begin het, was dit duidelik dat Naspers die toon begin aangee het en Perskor is in die 1990’s tot niet. Naspers het toe die alleeneienaar geword.

Maar eerder as om uit te brei oor my baie gewaardeerde kollegas deur die jare, wil ek veral die een en ander oor my vele redakteurs vertel, omdat dit iets sê oor die koerant se geskiedenis. Ook hoe ’n koerant se aard en karakter mettertyd kan verander.

Oor Willem de Klerk het ek nou reeds geskryf, en dat Bob van Walsem, wat as adjunkredakteur gestuur is om iets aan die – vir Naspers – “De Klerk-probleem” te doen. In dié opdrag het Bob nie geslaag nie; hy was nie opgewasse teen Willem nie. Hulle het wel vredig saamgewerk. Bob het nie ’n politiek-joernalistieke agtergrond gehad nie, maar ’n baie stewige nuusagtergrond en subkantooragtergrond. Hy het groot joernalistieke professionaliteit na die koerant gebring. Eintlik het hy en Willem mekaar aangevul en hy was goed vir die koerant.

Hy het Willem toe opgevolg. Politiek gesproke was hy as redakteur vaal en onomstrede, maar hy het die nut ingesien van goeie politieke beriggewing. Juis toe het die politieke beriggewer by die parlement aangeskuif en ek kon kies wie ons aanstel. Karin Brynard het een van die beste en mees gerespekteerde parlementêre beriggewers geword wat Rapport ooit gehad het en Bob was ingenome met haar werk. Dit was so vanaf 1988, kort voor FW de Klerk se tyd, en Karin het scoopscoop gekry. Op die meningsblaaie kon ek nog min of meer soos voorheen aangaan. Dit was steeds ’n baie goeie tyd in my loopbaan.

Bob was wel maar senuweeagtig oor enigiets wat vir hom gelyk het of dit die Nasionale Party te na kom. Hy het seker slapelose nagte gehad oor sommige van die personeel in die subkantoor wat hy van Willem geërf het. Die een was Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel), wat toe net begin opgang maak het. Bob het gehoor van sy anti-establishment- en antiregering-songs en die dinge van die Gereformeerde Blues Band. Hy was so onrustig dat hy hom een aand Hillbrow in begewe het om ’n show van Kerkorrel by te woon. Veral die bekende anti-PW-song met die reël “sit dit af, sit dit af” daarin het Bob gehinder. Hy was kennelik verlig toe Kerkorrel bedank om heeltyds musiek te maak.

Bob se ander probleem was Koos Prinsloo. Nie net oor sy kortverhale waarvan Bob gehoor het en waaroor hy hom verknies het nie – veral ’n aanhaling uit een van hulle wat in resensies en artikels ingesluip het, waar ’n fiktiewe karakter na PW verwys as iemand met seksuele voorkeure vir swart vroue. Toe word dit weer tyd vir die Rapportprys. Ek kan nie onthou wie al die lede van die keurpaneel was nie. Rykie was beslis een, ek dink André P. Brink, wat toe nog gereeld wonderbaarlike resensies op die koerant se boekeblaaie geskryf het (’n skrywer was nie geresenseer voor Brink dit gedoen het nie) was nog een.

En daar wen Koos die prys. Die hel was los in die direksie en onder hul druk, ek dink opdrag, eintlik, het Bob geswig: Koos kan die geld van die prys hou, maar hy sal nie as die wenner genoem word nie. Jy kan jou die bohaai voorstel wat dit veroorsaak het. Koos is kort daarna weg en skade bo skade: André Brink het alle bande met Rapport verbreek.

Ongelukkig vir Bob het Rapport se sirkulasie nie verbeter nie. Willem se omstrede politieke kommentaar was duidelik nie die enigste oorsaak van die dalende syfers nie. Dit was die tyd toe alle koerante se syfers óf vasgesteek het waar dit was, óf stadig begin terugsak het. Ná sowat vier jaar is Bob dus eintlik gedemoveer toe Izak de Villiers, Sarie-redakteur, bo-oor sy kop Rapport se hoofredakteur geword het. Daarmee het vyf maer jare vir my begin, maar nie vir Rapport nie. Nog voor Izak ingeval het, het hy wyd verkondig dat hy dadelik van my, Karin en die kulturele en kunsteredakteur, Coenie Slabber, ontslae sou raak. Coenie was nog uit die Wepener/Rykie-dae en Rapport se kultuurblaaie was deel van die koerant se roem. Willem het hom daarmee laat voortgaan. Bob ook.

Izak se styl was nie om af te dank nie. Toe Karin bedank, het hy self vir my gesê hy maak die lewe vir iemand wat hy nie op grond van hul werk kan afdank nie net só moeilik dat hulle self bedank. Vandag is die term daarvoor konstruktiewe afdanking. Karin is uiteindelik gereduseer tot ’n gekwelde gees, net ’n skadu van haar ou self, en in 1995 het sy bedank. Sy het gou weer as joernalis begin presteer, eers by Insig, toe met vryskutwerk en vandag is sy ’n gerekende skrywer van misdaadromans van gehalte.

Ek en Coenie, later ook die uitgeskuifde sportredakteur, Phil Saayman, het maar uitgehou ter wille van ons pensioen. Ons was veel ouer as Karin. Selfs ná Izak se vertrek kon Coenie en Phil nie hul lus vir die koerantwerk herwin nie en die oomblik toe hulle die ouderdom vir vroeë aftrede bereik, kort ná die aankoms van Chris Moolman, het hulle afgetree. Ek was ietwat jonger en het aangebly tot die finale aftreeouderdom van 65, waaroor ek later baie bly was.

Maar terug by die Izak de Villiers-storie: Hy het die koerant radikaal verander. Hy het ’n renons in Mandela en in die onderhandelingspolitiek gehad en ek en hy was aan die uiterstes van die spektrum. Ek het onder meer oor die grondwetlike onderhandelinge verslag gedoen en dit was ’n stryd om die berigte hoegenaamd in die koerant te kry. Die koerant het erg regs geskuif, met ZB du Toit, wat Izak by die KP-koerant, Die Patriot, gaan werf het, as sy politieke regterhand. Die politieke toon was skellerig-regs. Aan my meningsblaaie het Izak geen erg gehad nie en ek is ál meer opsygeskuif. Rapport se eertydse trots, die kultuurblaaie, is heeltemal tot niet gemaak. Izak het ’n renons gehad in die intellektuele wat voorheen gasskrywers was. Hy het selfs Etienne van Heerden as rubriekskrywer uitgeskop. Die koerant het sy ou toonaard vir ’n erg populistiese een verruil.

Dit was vir my ’n nuwe wêreld waarby ek nie kon aanpas nie. Maar. Maar. Die sirkulasie het gegroei en gegroei en gegroei, amper vyf jaar lank. Rapport het baie van sy ou “verligte” lesers verloor, maar dubbel en dwars aan meer konserwatiewe lesers gewen en aan lesers wat gewoon net ’n bietjie sensasie gesoek het. En het iemand uit die direksie oor Izak se politiek gekla? Nee. Het iemand oor die nuwe koerant gekla? Nee. Het iemand Izak se lewe hel gemaak soos hulle Willem s’n hel gemaak het? Nee. Want: sirkulasie was als.

Eers in Izak se laaste jaar is daar taamlik versigtig begin om wal te gooi, veral toe die sirkulasie wel ook effens begin terugsak het. Toe word dit pensioentyd vir Izak … Hy het sy keuse vir opvolgers gehad en was woedend toe dié nie aangewys word nie en Chris Moolman, eens redakteur van Oosterlig, hom opvolg.

By terugskoue moet ek erken: Izak het sy Afrikanergemeenskap geken. Hy het geweet waar die koerant se sirkulasietoekoms lê. Hy het geweet wat hy doen. Net, sy weë was nie my weë nie.

Chris Moolman was net ’n kort rukkie redakteur voor sy gesondheid ingegee – hartvatomleidings en so aan – en hy afgetree het. Met sy aanstelling was Izak reeds in onguns en wou Naspers graag die koerant meer soos die res van die gesiene Naspers-stal, Beeld en Die Burger spesifiek, laat lyk met nugterder politiek, minder seks en sonde, professioneler. Chris Moolman was ’n redakteur min of meer soos Bob van Walsem: ’n professionele joernalis, geskoei in die politiek van Naspers en die toe reeds sterwende Nasionale Party.

Dit was ’n kleurlose tydjie by die koerant, maar ek eer Chris daarvoor dat hy bestuursgewys “skoongemaak” en weer ’n organogram en goeie bestuurspraktyke daargestel het. Dit was nie soos Izak dit gedoen het nie. Hy was ’n man vir uit die heup skiet, wat sommer op die gevoel af bestuur het. Chris het ook ’n paar goeie aanstellings gemaak, by name Johanna van Eeden, vandag ’n gesiene Naspers-redakteur. Hy is teen 1998/9 rond deur Johan de Wet opgevolg. Dié was toe al in Naspers se bestuur nadat hy uit sy pos as Die Volksblad se redakteur daarheen bevorder is. Hy het behoorlik voortgebou op Chris se skoonmaakwerk en geheel en al ’n nuwe, respektabele en gematigde Rapport op die been gebring. Nie meer ’n sterk politieke stem nie, maar darem met heelwat meer diepte as die voorafgaande vyf of ses jaar. Toe hy ná so drie jaar aftreeouderdom bereik, is hy deur Tim du Plessis opgevolg. Ek en Tim het mekaar sedert ons parlementêre dae geken en het goed klaargekom.   

Tim het ’n goeie koerant uitgegee, maar die ou Rapport van Wepener en Willem was vir altyd daarmee heen. Tim was toe reeds ’n deurwinterde koerantman, professioneel tot in sy tone. Hy was ’n uitstekende bestuurder en goeie kommentator en gewild by die personeel. Hy het die fyn, fyn balans tussen populisme en erns gehandhaaf, sy politiek goed en gematig bedink. Die Mandela-tyd was verby en ons het nog die Mbeki-tyd saam beleef tot Tim in 2009 teruggeskuif is Beeld toe en ek afgetree het. Ons het nog goeie kontak.

Die sirkulasie het maar taai gebly; dit was die begin van die afgang van die gedrukte koerante, al het die internet toe nog nie vandag se rol gespeel nie.

Net oor een kollega moet ek tog ter nagedagtenis iets sê: ZB du Toit, die Izak de Villiers-man wat van die KP-koerant af Rapport toe gebring is. Natuurlik was ZB ’n doring in my vlees in die De Villiers-jare omdat hy so regs was en omdat hy, as Izak-dissipel, my werk beduiwel het. Maar mettertyd het ons mekaar goed leer ken en teen die tyd dat Izak weg is, het ons goed begin saamwerk. Toe word dit ook vir my duidelik hoe intelligent en wyd belese ZB was, en ook hoe sy politiek van regs na gematig gedraai het. Nie weens opportunisme nie, maar deur sy eie insig. Hy het ’n baie nuttige redaksielid gebly tot sy vroeë dood in Tim se tyd.

Chris en Johan het hom waardeer, maar Tim het nog die KP-redakteur onthou en met vooroordele teen ZB by Rapport aangekom. ZB was nie “sy” man nie. Vir ’n enkele oomblik het ek gedink, goed so, laat ZB nou ’n bietjie les opsê. Maar toe bedink ek my gelukkig en gaan vertel vir Tim hoe ZB nie meer die KP-man is wat hy onthou nie. Tim het ZB daarna baie goed behandel, hulle het goed klaargekom en Tim het mooi hulde gebring op sy begrafnis. Izak, die oud-predikant, het die diens vir ZB, wat ’n ateïs was, waargeneem, in ’n kerk. 

Jy is nou al ‘n rukkie afgetree, maar jy is steeds bedrywig as redakteur van boeke… Vertel meer oor wat dit behels en van die boeke wat deur jou hande gegaan het.

Ja, ek was regtig geseënd met dié tweede loopbaan van my as vryskutredigeerder en -vertaler by verskeie uitgewers. In dié tyd het sowat sestig boeke deur my hande gegaan en ek vind die werk verslawend lekker. Dis hoofsaaklik boeke oor aktuele sake en oor die geskiedenis wat na my kant toe kom. Redigering kan verskillende dinge beteken. Soms behels dit manuskripontwikkeling, waar die manuskrip regtig in diepte oorgewerk moet word. Meer dikwels behels dit taalkundige versorging, kleinere wysigings aan die manuskrip, die kontroleer van feite, sulke dinge. Ek het pas die redigering van Dan Sleigh se Retoervloot, oor die VOC se retoervloot van 1713, afgehandel. Vroeër vanjaar het ek onder meer Albert Blake se biografie van Hans van Rensburg van die Ossewabrandwag geredigeer. Onder die boeke wat ek vertaal het, is Hermann Giliomee se Die laaste Afrikanerleiers (hy het dit in Engels geskryf) en Richard Steyn se twee boeke oor Jan Smuts, ook uit Engels. Maandag begin ek aan Bill Nasson se bygewerkte dele tot sy Suid-Afrikaanse geskiedenis vertaal.  

Een van die boeke wat Anne-Marie vertaal het.

Wat lees jy (vir die plesier)? Wat is jou persoonlike gunstelingboeke?

Ek lees goeie fiksie – nie alles wat in Afrikaans verskyn nie, eerder net die topskrywers – Winterbach, Anker, Etienne van Heerden, diesulkes – en Suid-Afrikaanse Engelse skrywers soos Damon Galgut en Marguerite Poland. Verder Engelse en Amerikaanse fiksie, vertalings uit ander tale waar dit hulle voordoen. Ek lees meestal terselfdertyd een niefiksieboek en een fiksieboek. Wat niefiksie betref: enige onderwerp onder die son. So lees ek op die oomblik, saam met Willem Anker se Skepsel, Patrick Radden Keefe se geskiedenis van die opstande in Noord-Ierland en die afloop daarvan, Say Nothing. Daarvóór het ek China van Edward Rutherfurd gelees oor die meer onlangse Chinese geskiedenis, so van die middel 19de eeu af. Dan natuurlik van tyd tot tyd boeke oor Suid-Afrikaanse gebeure, maar ek voel my nie verplig om elke liewe nuwe Suid-Afrikaanse politieke boek te lees nie. Wat ek nie hier maklik in ’n boekwinkel kan kry nie, kry ek vir my Kindle by Amazon. 

Lees jy nog papierkoerante? Kyk jy graag TV? Is jy nog ‘n nuushonger mens? Hoe beleef jy vandag se mediakonteks?

Ek lees al jare lank koerant aanlyn. Net Sondae gaan koop ek gewoonlik die Sunday Times vir daardie ou-ou Sondagoggendgewoonte van ontbyt en koffie oor die koerant. Die gedrukte koerante is deesdae vir my amper bysaak, dikwels ’n irritasie weens hul nuuskeuses en oppervlakkigheid, maar sonder hulle kan ek ook nie heeltemal klaarkom nie. Ek bly nuushonger en gelukkig is daar Daily Maverick, Vrye Weekblad, News24, die New York Times. Ensovoort, ensovoort. Alles aanlyn.

Ek verduur die betaalmure geduldig, dis meestal nie duur nie. Ek is nie ’n groot TV-mens nie. ’n Bietjie nuus, soms ’n reeks soos die huidige JAN – Jan Hendrik van der Westhuizen en sy Kalahari-restaurant – groot sportgebeure soos die Tour en die Olimpiese Spele, Christiane Amanpour op CNN, so nou en dan National Geographic … meestal net ’n uur of twee per dag. Ek het Netflix, maar o, om die koring van die kaf geskei te kry neem soms ’n hele aand se kyktyd in beslag. 

Geplaas Augustus 2021