LEOPOLD SCHOLTZ: KOMPULSIEWE JOERNALIS, BUITELANDSE KENNER EN HISTORIKUS

Die joernalis Leopold Scholtz skryf al dekades lank vir Beeld, Die Burger en Volksblad oor die politiek en buitelandse sake. Hy beantwoord hier Johannes Froneman se vrae oor sy loopbaan.  

Jy het in Johannesburg grootgeword, seun van ‘n koerantredakteur? Hoe het jy dit beleef? Daarna universiteit toe? Vertel, asb.

As kind was my pa my held. Ons het tuis geleer om elke dag die koerant te lees – nie net sy koerant, Die Transvaler nie, maar ook van die Engelse opposisie, The Star en die Rand Daily Mail. Ons het grootgeword as egte nuusvrate wat alles opgeslurp het wat gebeur – in Suid-Afrika self en in die buiteland. In 1966 was ek in die Leërgimnasium op Voortrekkerhoogte, en die jaar daarop is ek na Stellenbosch, waar ek die grootste nuusvraat in die koshuis was. Elke dag is Die Burger, Cape Times en Cape Argus van hoek tot kant deurgelees.

Was die joernalistiek altyd ‘n doel, of het jy beoog om ‘n akademikus te word? Vertel asb ook van jou nagraadse studie in Holland.

Jy sal nie verbaas wees as ek sê ek wou altyd al joernalis word nie. Ná vier jaar se blootstelling aan die akademiese wêreld het ek egter gemeen die akademie is eerder vir my. Dus is ek in 1971 na RAU, waar ek my MA in geskiedenis onder my pa se boesemvriend, prof. Floors van Jaarsveld, gedoen het. Hy het my terselfdertyd ingespan as tydelike dosent, en ek het Europese geskiedenis in die tweede semester aan die derdejaars en eietydse geskiedenis aan die paar honneursstudente gedoseer. Ek het dit verskriklik geniet en wou dolgraag dié rigting voortsit.

Maar dinge het anders geloop. In Januarie 1972 is ek na Leiden, waar ek nagraads verder gegaan het met “Nieuwe geschiedenis” as hoofvak en “Sociale geschiedenis” en “Geschiedenis van Oost-Azië” as byvakke. Daar het ek ’n pragtige blonde meisie met die naam Ingrid ontmoet, wat my voete onder my weggeslaan het. Ons is getroud (ná 48 jaar hou sy steeds by my uit!) en het ná ons albei se geslaagde eksamens as doctorandus na Suid-Afrika vertrek. Daar het ek nog agttien maande aan die RAU gedoseer, maar my smaak vir klasgee was weg – ek het gesmag na die opwinding van die joernalistiek.

Toe besluit ek om te bedank en eers my doktorsgraad in geskiedenis in Leiden te doen. My proefskrif, met die vermaarde prof. Henk Wesseling as promotor, was Generaal Christiaan de Wet as veldheer. Terselfdertyd was ek korrespondent vir die Naspers-koerante, en só het ek my eerste joernalistieke ervaring opgedoen. In 1979 het Ton Vosloo, toe redakteur van Beeld, verneem dat ek op pad terug na Suid-Afrika was, en het my ’n pos by die koerant aangebied. Ek het nooit weer omgekyk nie. 

Dr. Leopold Scholtz … joernalis en skrywer.

Hooffoto bo: So lyk Scholtz se artikel oor die val van die Berlynse muur wat verskyn in die gedenkboek 1915-2015 Die Burger 100 (redakteurs: Bun Booyens en Aldi Schoeman, uitgegee deur Jonathan Ball, Kaapstad).

Jy het toe (metterwyl of dadelik) ‘n politieke verslaggewer geword, meer in die besonder parlementêre verslaggewer vir Nasionale Koerante, vandag Media24?

Vosloo het wyslik besluit om my eers praktiese ervaring te laat kry. My eerste aanstelling was dus as arbeidsverslaggewer. Ek moes kennis maak met die vakbonde, wit en swart, en stories oor hulle doen. Daarna het hy my ’n paar maande in die nagkantoor laat werk sodat ek die koerant se enjinkamer kon leer ken. In 1981 het ek Freek Swart as politieke beriggewer opgevolg en is parlement toe. Alf Ries het dit nie reguit gesê nie, maar ek kon aflei hy dink my aanstelling was ’n fout weens my gebrek aan ervaring. Tog het hy my van die begin af ingetrek en in die parlementêre span geïntegreer. Ek het die politieke verslaggewing in sy skaduwee geleer, wat ontsettend waardevol was. Ons het later goeie vriende geword.

dav

Leopold Scholtz as parlementêre verslaggewer saam met sy kollegas van Nasionale Koerante. Leopold is derde van links (met baard). Regs in ligte pak staan Alf Ries, hoof van die span, na wie Leopold ook hier verwys.

Toe word jy adjunkredakteur van Die Burger. Onder wie was dit? Jy en die destyds redakteur het koppe gestamp? Daar was dan selfs ‘n nota onder een van jou rubrieke dat dit jou persoonlike mening is en nie dié van die koerant…

Terwyl ek in die parlement was, het my vrou ’n pos as dosent in geskiedenis aan die Universiteit van Wes-Kaapland gekry. Dit het ’n terugkeer na Beeld eintlik onmoontlik gemaak, en ek het dus ’n oorplasing na Die Burger gevra. Ton Vosloo was nie baie gelukkig daarmee nie, maar het ingestem. Die redakteur van Die Burger was destyds Wiets Beukes. Beukes het my aanvanklik die provinsiale beat gegee, maar nadat die destydse redakteur buiteland, die vermaarde JJJ Scholtz (verlangs familie), in 1984 afgetree het, het ek begin om oor my ou liefde, internasionale sake, te skryf, en dus het Beukes my dié pos gegee. Daar kon ek myself na hartelus uitleef.

Toe Ebbe Dommisse in 1990 oorneem, het hy my in dié pos gehandhaaf. Dit het my in staat gestel om die dramatiese ineenstorting van die Sowjet-heerskappy agter die Ystergordyn van naby mee te maak. Ek was binne enkele ure op die toneel in Berlyn nadat die Muur verkrummel het, en dit was seker die mees onvergeetlike paar dae in my lewe.

Dit het beteken dat ek verskeie buitelandse reise kon onderneem – na Duitsland, Hongarye, die Sowjet-Unie (en sy opvolger, Rusland), Amerika, Frankryk, België, China, Taiwan, Indië, Singapoer. Dit alles het my die geleentheid gegee om sowel die wêreld as Suid-Afrika van naby en uit verskeie hoeke te bekyk. As internasionale politieke analis was dit van onskatbare waarde vir my. In 1997 het hy my tot senior adjunkredakteur bevorder. Hy het my ook ’n weeklikse rubriek, Sake van die dag, laat skryf (die naam het ek oorgeneem van ’n rubriek wat my pa jare lank in Die Transvaler geskryf het).

In 2000 het Ebbe Dommisse afgetree en is deur Arrie Rossouw vervang. Ek het op professionele vlak uitstekend met Ebbe saamgewerk, al was ek marginaal links van hom. Rossouw se redakteurskap was vir my egter uiters frustrerend. Ons het polities nie langs dieselfde vuur gesit nie. Ek het hom dit kwalik geneem dat hy Thabo Mbeki so onkrities bekyk het en dat hy die koerant geen enkele keer standpunt oor die behoud van Afrikaans as amptelike taal of die verengelsingsproses van Stellenbosch laat inneem het nie. Ons het nooit uitgeval nie; ons was albei te professioneel daarvoor. Maar die verhouding was stroef. Hy was duidelik nie beïndruk met my politieke benadering nie; vandaar dat hy elke week die naskrif by my rubriek laat plaas het. Dit was geen gelukkige tyd in my lewe nie. Maar ek wil nie verder daaroor uitwei nie; ek hou nie daarvan om sleg van iemand agter sy rug te praat nie.

Laat ek dít wel sê: Toe Rossouw in 2006 deur Henry Jeffreys vervang is, was dit of ’n swaar las van my verwyder is. Henry en ek was uit uiteenlopende agtergronde afkomstig – ek uit ’n konserwatiewe Afrikanernasionalistiese omgewing en hy ’n bruinman – maar hy was wel ’n besonder eerlike mens met die grootste integriteit. Ons twee het mekaar, ondanks ons verskille, uitstekend op sowel professionele as persoonlike vlak gevind en met die grootste plesier saamgewerk.

Dieselfde geld trouens vir Zelda Jongbloed, wat al onder Rossouw bygekom het, ook as adjunkredakteur. Daar was tussen haar en my die grootste wedersydse agting.

Hoe ook al, toe daar besluit word om ’n kantoor in Brussel te begin, het ek Henry en Zelda se steun gevra om dit te gaan bedryf, en gekry. Dis hoe ek in Brussel beland het. Maar juis in dié tyd het Naspers dramaties op sy uitgawe begin besnoei, en ná net twee jaar is die Brusselse kantoor gesluit. Ek het toe op kontrak verder gegaan vanuit Delft in Nederland tot my aftrede in 2013.

Intussen het jy aanhou oor buitelandse sake skryf…

Die internasionale politiek is my groot passie in die lewe, en dit gaan gepaard met ’n allesoorheersende begeerte om te skryf, te skryf en nogmaals te skryf. ’n Passie verdwyn nie summier die dag as jy aftree nie. As aftrede beteken jy moet op die stoep sit en die sonsondergang dophou en niks meer nie … dit sal my die horries gee. Ek wil – beter gestel, ek móét – aanhou skryf tot ek nie meer kán nie. Die dag dáárna kan julle my maar in my kis neerlê. Die feit dat ek al só lank met die internasionale politiek besig is, reeds sedert die jare sewentig toe ek tydens my studie korrespondent in Nederland was, maak wel dat ek dinge goed in perspektief kan plaas.

Laat ek jou ’n geheim vertel (jy moet net beloof om dit nie oor te vertel nie): Ek vind die skrywe van internasionale politieke ontledings só fantasties dat ek gewillig sou wees om Media24 vir die voorreg te betaal, pleks van andersom. Maar sjuut, gehoor!

Vertel hoe lyk jou werksdag. Ek kry die indruk jy werk deur die jare baie hard … Maar deesdae dalk rustiger?

Nee, niks rustiger nie. My dag begin met die lees van koerante en tydskrifte: Die Burger en Beeld, De Volkskrant, Trouw, Die Welt, Frankfurter Allgemeine Zeitung, Der Spiegel, Die Zeit, The Economist, The Guardian, The Independent, The Times, The Washington Post, The New York Times, Politico, National Review, die webwerf van Fox News, The Hill, Breitbart News, en ander soos en wanneer dit nodig is. Ek lees nie álles nie; ek lees selektief en onderwerpe van belang wat my interesseer. Dan versamel ek materiaal vir my artikels. Tussenin skryf ek die artikels, wat vir my meestal so 40-50 minute duur. Ek skryf gelukkig maklik en vinnig. Dit help wel as jy die onderwerp beheers.

Ná middagete gaan ek en my vrou meestal ’n paar kilometer stap. Ons woon hier enkele meters van ’n groot natuurgebied met bosse, waterslote en meertjies, pragtige wilde blomme, en allerlei soorte watervoëls. ’n Paradys wat my laat afskakel en emosioneel herlaai.

Die res van die middag wy ek aan akademiese werk. (Kyk my antwoord op die volgende vraag.)

Jy het pas ‘n manuskrip voltooi en beoog nog een. Hoeveel het jy al geskryf? Titels?

Die manuskrip wat ek onlangs voltooi het, heet Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP in ballingskap 1961-1989. Dit is my tiende boek. Die ander is:

Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. (Dis eintlik my MA-verhandeling uit 1971 wat op voorstel van prof. Fransjohan Pretorius gepubliseer is.)

Generaal Christiaan de Wet as veldheer (my doktorale proefskrif).

Beroemde Suid-Afrikaanse krygsmanne (’n populêre boek).

Suid-Afrika en die Nuwe Wêreldorde (saam met my vrou).

Waarom die Boere die oorlog verloor het.

Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu.

Die SAW in die Grensoorlog 1966-1989.

Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-Eskadron.

Die SAW en Cuito Cuanavale.

Scholtz se doktorale proefskrif is as boek gepubliseer.

Ek wag nog om te hoor of die uitgewer ’n Engelse vertaling van my nuutste manuskrip as ’n lewensvatbare opsie sien. Indien wel, gaan ek my nou eers met dié vertaling besig hou. Indien nie, is die volgende boek op die program ’n ontleding van die radikalisering van die Afrikanernasionalisme van 1924 tot so 1966 (ek moet nog nadink oor presies hoe ek dit wil aanpak).

Hierbenewens het ek êrens in die omgewing van vyftig eweknie-beoordeelde artikels in akademiese tydskrifte gepubliseer. Ek gaan nie almal noem nie; ek wil jou lesers nie aan die slaap laat val nie. Net een uitsondering (ek is nogal trots op dié een): Jesus se kruisiging en opwekking: ’n Akademies-historiese waardering van die bronne, gepubliseer in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Ek werk nou aan ’n analise oor die rol wat China se opkoms speel om die internasionale magsewewig te beïnvloed, moontlik vir dieselfde tydskrif – ons sal sien.

Jy het ‘n Nederlandse vrou en woon nou al lank daar. Is jy ten volle geïntegreer in die Hollandse kultuur, as daar so-iets is… Bly ‘n Boer maar altyd een? (Jy het nog al die jare ‘n baard wat aan een van die Boeregeneraals herinner…)

Ek is gebore as Afrikanernasionalis en sal sterf as Afrikanernasionalis. Die inhoud van my Afrikanernasionalisme is weliswaar nie dié wat ek van my pa gekry het nie; dis – meen ek – ’n baie moderne weergawe. Ek beskou my as ’n konserwatiewe liberaal of, anders gestel, as ’n liberale konserwatis. Hoe ook al, ek is militant gematig. Ek het ’n broertjie dood aan álle vorms van radikalisme en ekstremisme, links en regs. Die Nederlanders het ’n gesegde: “Doe maar gewoon; dan ben je al gek genoeg!”

Ek is natuurlik geïntegreer hier; hoe kan dit ook anders? Ek is ouderling in die Protestantse Kerk in Nederland, die gemeente Schipluiden (’n dorpie ’n paar kilometer van ons af). Dis oorwegend hartlike, gasvrye plattelanders wat my baie aan die Afrikaners van my kinderdae herinner. Dit maak die integrasie soveel makliker. Die manier hoe die gemeenskap my te midde van my kanker – ek is in Desember 2019 met akute leukemie gediagnoseer – dra, is ongelooflik. Ek sal eersdaags met my 16de chemokuur begin, maar net vandag het ’n oom, wat ’n goeie vriend geword het, ’n bos swaardlelies ter emosionele ondersteuning by my kom aflewer. Dis mense wat dikwels die sout van die aarde is.

Hoe het die jare in Nederland jou perspektief op sake verander? En meen jy Nederlanders het ons nou vergeet? Ons is nie meer n belangrike nuusstorie vir hulle nie

Ek is in staat om ’n ding baie beter in internasionale verband te beoordeel. En ja, die Nederlanders het ons grotendeels vergeet, ofskoon nie volledig nie. Maar dit kos kwessies soos die onlangse onluste en bloedvergieting om ons land weer in die koerante te kry.

Jy is steeds as navorser aan die Noordwes-Universiteit verbonde vroeër aan die Universiteit Stellenbosch. Waarom is jy weg by die US? Die taalkwessie?

Daar was inderdaad net één rede: Die wyse waarop die Universiteit van Stellenbosch die taalbaba met die badwater weggesmyt het. Ek het niks teen ras-inklusiwiteit nie; en ek wil nie terug na apartheid nie. Maar Afrikaans is sedert Chris Brink se dae stelselmatig uitgewerk en uitgerangeer tot waar dit nou – in Hermann Giliomee se metafoor – slegs ’n versiersuiker geword het. As ek hoegenaamd my integriteit en moraliteit wil behou, kon ek nie as buitengewone professor aan die US voortgaan nie. Op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit het Afrikaans darem nog ’n vaste staanplek. Ek raak elke keer ontstoke as ek dink aan die moedermoord wat Stellenbosch onder agtereenvolgende rektore gepleeg het.

Geplaas op 2 Aug. 2021

Leopold is op 19 Oktober 2022 oorlede.