Die redakteur van die vroeggestorwe Die Wêreld, Maryna Blomerus, vertel meer oor haar agtergrond en loopbaan — voor en na die koerant-episode. Johannes Froneman het die eposonderhoud gevoer.
Vertel vir ons iets oor jou agtergrond: skool, universiteit, eerste werk…en UKkasie.
Ek het aan die Hoërskool Langenhoven in Pretoria gematrikuleer en daarna deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer terwyl ek my opleidingskontrak by ‘n firma van geoktrooieerde rekenmeesters voltooi het.
Ek en my gesin het in 1993 na die Verenigde Koninkryk (VK) verhuis, aanvanklik met ‘n driejaarwerkskontrak, maar my man het ‘n belang in ‘n maatskappy in Cambridgeshire bekom en die drie jaar het twaalf jaar geword. In die tyd het ek onder andere UKkasie, ‘n jaarlike Afrikaanse musiekfees in Londen, gekonseptualiseer en georganiseer.

Maryna Blomerus … haar kort ekskursie in die koerantwêreld lê vandag byna vergete.
Foto: Johannes Froneman
UKkasie is woorspeling op okkasie-in-die-VK. Die fees is vir ‘n aantal jare aangebied in spogvenues wat die Wembley-Uitstalsentrum en die Royal Albert Hall ingesluit het. Tussen feeste is daar maandelikse konserte aangebied. Tientalle top-kunstenaars is oorgevlieg (en dit was meeste van hulle se eerste optrede in die buiteland), onder andere Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Karen Zoid, Mathys Roets, Dozi, Jannie du Toit, Christa Steyn, Ollie Viljoen, Valient Swart, Randall Wycomb, Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, DNA Strings, Lochner de Kock, Nianell, Karen Hougaardt, Kevin Leo, Danie Niehaus, Helena Hettema, Dowwe Dolla, Patricia Lewis, Sunette Bridges, Heinz Winkler, Bosveldklong, Jacques de Koning, Guillome, Pieter Smit, Riana van Vollenhoven, Jammies Jamneck, Die Grafsteensangers, Patrick Mynhardt, Trix Pienaar, Carl Trichardt, Petru Wessels, Bettie Kemp, Thula Sizwe, die George-Mannekoor, Anglo Gold-Mannekoor, Beeskraal, Karen Meiring , Anna Davel, Piet Smit, Jan de Wet, en Willie Joubert. Selfs Mathews Phosa het opgetree as Afrikaanse digter.
Susterfeeste in ander dele van die wêreld het ook die lig gesien: AuKasie in Australië, KiwiKasie in Nieu-Seeland, KaNasie in Kanada, en EuroKasie in Nederland.
En toe kom die aanbod om redakteur van Die Wêreld te word uit die bloute?
Ek was, benewens UKkasie, ook by drie ander gebeure betrokke wat waarskynlik ‘n aanloop tot die aanbod was. Die een was my intense betrokkenheid by die debat op Litnet (Sênet) wat oor die bestaan van God gehandel het. Die baie wye openbare debat het vir maande gewoed en ook bekende deelnemers ingesluit, onder meer teoloë, joernaliste en vermaaklikheidsterre. Dit het heelwat media-aandag gelok en van die 3 000 plus briewe is later saamgevat in ‘n boek met die naam Die omstrede God. Ek het die oktodokse Christelike geloofsposisie verdedig en het die voordeel daarvan geniet dat ek pas ‘n graad in Christelike apologetiek en filosofie voltooi het.
Die tweede ding waarby ek betrokke was, was die veldtog rondom stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland wat deur die Vryheidsfront van stapel gestuur is.
Die derde ding was die demonstrasie teen plaasmoorde op Trafalgarplein wat ek in 2002 gereël het. Dit was die jaar wat die meeste insidente van plaasaanvalle gesien het en ons het voor SA-Huis saamgekom om die regering te vra om daadwerklik daarteen op te tree.
Daar was twee broers agter die ontstaan van Die Wêreld: Dr. Bennie Wolvaardt en prof. Kobus Wolvaart. Eersgenoemde is ‘n teoloog en laasgenoemde ‘n akademikus met ‘n hart vir Afrikanerbelange. Met al my bedrywighede het ek seker genoeg boksies by hulle getiek: ek was duidelik onapologeties trots Afrikaans en ook ‘n apologeet vir ‘n beredeneerde Christelike geloof. Ek was daarby bereid om daad by die woord te voeg en my nek uit te steek in die proses.
Jy het geen joernalistieke agtergrond gehad nie, maar jy het duidelik gewys jy is ‘n mens vol idees en energie…
Ek was wel nie ‘n joernalis nie, maar ek het altyd geskryf, of dit nou was om 10 000-plus Afrikaners in ons e-tydskrif, Klets, te oorreed om ‘n UKkasie by te woon, om die expat-gemeenskap aan te spoor om hul name by ‘n petisie te voeg, om aan ‘n betoging deel te neem, of om die bestaan van God te verdedig … ek het baie ervaring gehad in oorredende skryfwerk.
Het prof. Wolvaardt ooit met jou gesit en gesels oor wat hy met DW wou bereik? Wat was julle ideaal, indien enigsins geformuleer?
Prof. Wolvaardt het gevoel dat die standaard van die bestaande koerante swak was en dat daar ruimte was vir ‘n koerant wat tot die modern, denkende leser spreek. Ek vermoed dat daar ook ‘n regse agenda was waaroor daar nooit oop kaarte met my gespeel is nie. Dan Roodt was goed met prof. Wolvaardt bevriend en het trouens met die naam – Die Wêreld – opgekom. Dan moes egter op die agtergrond gehou word omdat enige assosiasie met sy verregse idees ‘n doodskoot vir die koerant sou wees. Prof. Wolvaardt is, dink ek, in wese ‘n idealis wat die Afrikaner deur rooskleurige brille sien en die idee van ‘n koerant verromatiseer het.
Waarom het ek die risiko geloop om vir ‘n koerant met ‘n moontlike regse agenda te werk? Ek het myself gerusgestel dat, omdat ek in beheer van inhoud was, ek darem kon verseker dat ons nooit iets “regs” of rassities publiseer nie. Ek was nog altyd ‘n pionier en ‘n bok vir ‘n uitdaging en hier was een in hoofletters geskryf. Ek het geglo dat ek enigiets kon vermag as ek (soos met UKkasie) net hard genoeg werk en strategies en kreatief te werk gaan.
En tog … daar is die goeie rede waarom ‘n mens iets doen, en dan is daar die regte rede. Ek wou vir persoonlike redes terugkeer na Suid-Afrika en die werksaanbod het dit vir my moontlik gemaak. Ek het my blind gestaar teen die positiewe en die baie risiko’s geïgnoreer omdat dit my gepas het. Ek het net myself om daarvoor te skop.
De Wet Potgieter was jou adjunk en ook nuusredakteur. Ek lei daaruit af hy het grootliks oor nuusinhoud besluit? Het julle uit een mond gepraat? Het jy darem ook ‘n sê daarin gehad?
De Wet se vorige werknemer het ons oorreed om hom in diens te neem op grond van sy uitgebreide netwerk van kontakte en sy reputasie as gesoute nuusman. As iemand sonder enige joernalistieke agtergrond het ek swaar op sy oordeel gesteun. Hy het wel idees vir artikels met my bespreek en as daar tekortkominge was, was ek te groen en geïntimideer om dit te korrigeer. Vir ons eerste uitgawe – daardie belangrike eerste uitgawe – is ons ‘n top-storie beloof wat die inhegtenisname van ‘n bekende bendeleier behels het. Die berig was egter baie flou; daar het trouens selde iets verskyn wat die beloofde golwe gemaak het of die denkende Afriaansspekende se belangstelling sou prikkel.

Die eerste uitgawe van Die Wêreld.
Dit was nog nooit vir my duidelik waar Die Wêreld sigself wou posisioneer nie. Ernstiger as Rapport, maar tog ook nie heeltemal nie… Jou eerste redaksionele kommentaar was nogal spesifiek: Dat julle nie “links” of “regs” wou wees nie. Wat het jy in die oog gehad?
Die soort nuus wat ek in die koerant wou sien, kan beskryf word as gebalanseerd, ondersoekend, onbevooroordeeld, eerlik, vreesloos. De Wet Potgieter en die res van die redaksie het beslis dieselfde sentiment gekoester en hoewel die aandeelhouers alom verdink is van ‘n regse agenda, dink ek nie enige van die personeel het na regs geleun nie.
Persoonlik verpes ek etikette soos links of regs, liberaal of konserwatief. Dit spreek van ‘n lojaliteit aan ‘n verwysingraamwerk met soliede grenslyne. Ek wil net lojaal wees aan die waarheid in die mate waarin ek dit met my gesonde verstand kan uitwerk. Dit is wat ek in die oog gehad het… ondersoekende joernalistiek wat nuanses verstaan en die groot grys gebied tussen wit en swart kan navigeer.
Die verkope was uit die staanspoor veel minder as waarop gehoop is. Kan jy onthou hoeveel? Wat was Wolvaardt se reaksie? Waar het dit jou gelaat?
Ek het detail soos hoeveel koerante verkoop is, (gelukkig) lankal vergeet. Kyk, ons kompetisie het nie stilgesit en ons gedwee laat begaan nie. Stories van ernstige sabotasie het dik geloop, veral met die eerste uitgawe.
Ons was egter ons eie, grootste vyand. Hoewel ek persoonlik elke artikel deurgelees het vir taalblapse, is die verkeerde, rou weergawe van die eerste koerant na die drukkers gestuur. Die redaksie het by die drukkers bymekaargekom om glase te klink op die eerste uitgawe, vars uit die oond. Toe ek egter een optel en daardeur blaai, het ek fisies naar geword – dit was deurspek van spelfoute, grammatikale foute, onvoltooide sinne… Ek het vir prof. Wolvaardt gesê dit kan nie die lig sien nie, maar hy was nie bekommerd nie. Ek dink nie hy het ‘n sin daarin gelees nie. Ons het ons naam totaal gat gemaak met daardie eerste uitgawe. En met ‘n paar daaropvolgendes. Dit was makliker om te glo dat daar saboteurs onder ons was as dat mense so ongelooflik onbevoeg kon wees.
Anders as met UKkasie, waar ek alles self bestuur het, was my rol by Die Wêreld beperk tot die van hoofredakteur. Ek moes op my eie werk fokus en vertrou dat die wiele van finansies, verkope, advertensiewerwing, bemarking, verspreiding en dies meer glad en geolie in die agtergrond draai. Daardie eendjies was egter hoegenaamd nie in plek nie. Verspreiding is amateuragtig aangepak en die netwerk van straatverkope was heeltemal onvoldoende.
Ons het nie verdien om suksesvol te wees nie, maar ek glo tog dat, as ons meer tyd (soos in geld) gehad het, ons die wa wel deur die drif kon sleep deur onsself te herposisioneer en te herorganiseer. Maar helaas…
Het julle darem julle salarisse gekry? Waar het die geld vandaan gekom?
Prof. Wolvaardt het dalk sy somme verkeerd gekry oor wat dit verg om ‘n koerant uit te gee, maar hy was altyd eerbaar. Hy was bereid om groot te waag en die prys self te betaal sou hy misluk. Die Wolvaardt-familie het hul eie geld ingesit en verloor, niemand anders s’n nie. Ek dink prof. Wolvaardt het aanvanklik gereken dat hy Afrikanergeld agter sy koerant sou kon mobiliseer, maar dit was gewoon naïef.
Na die beste van my wete is almal altyd betaal – personeel, diensverskaffers… die hele boksendaais.
Hoe het die einde gekom? Skielik, soos dit maar gewoonlik gaan met koerante wat sluit? Of het julle dit maar verwag?
Die skrif was aan die muur – ‘n mens moes blind wees om dit nie te sien nie. Ek moet blaam daarvoor neem dat ek meer vertroue by die personeel ingeboesem het oor die finansiële stand van sake as wat geregverdig kon word. Ek skat ek wou vir prof. Wolvaardt tyd koop om in hoop teen hoop tog nog ‘n haas uit die hoed te trek.
Die Wêreld is ‘n klein episode in jou lewe. Vertel iets van wat jy daarna gedoen het. En jou skryfwerk?
Tydens Die Wêreld se ondergang het my oudste dogter by die Universiteit van Cambridge begin studeer en om vir plaaslike fooie te kwalifiseer (basies gratis), moes een van haar ouers in die VK woonagtig wees. Ek sou dus waarskynlik in elk geval teruggekeer het Londen toe, ongeag van wat met Die Wêreld gebeur het. Terug in Engeland, en daarna, het ek teruggeval op my opleiding as rekenmeester.
Die konstante wat regdeur my lewe en dwarsdeur al my shenanigans teenwoordig was, is ‘n passie vir die filosofie van wetenskap. Epistemologie. Ontologie. Ek wil verstaan wat werklik werklik is – fisies en metafisies – en hoe ons dit kan ken. Dit is die tydlose vrae wat my boei, nie die aktuele, flietende gebeure wat more se koerant sal haal nie.
![Meer as 'n Metafoor (Afrikaans Edition) by [Maryna Blomerus, Kwarts Publishers]](https://m.media-amazon.com/images/I/51aN2mqrBDL.jpg)
Vir twee dekades het ek intens gelees en nagevors oor al die velde waardeur ‘n mens moet ploeg as jy die dag beluit om Alice se haas deur Wonderland te volg: kwantumfisika, biologie, inligtingsteorie, enovoorts. In 2016 het ek beluit om ‘n samehangende legkaart te probeer bou van al die legkaartstukkies wat ek deur die jare versamel het. My boek, Meer as ‘n metafoor, was die pennevrug hiervan.
Ek het die boek begin skryf met die vermoede dat ons heelal ‘n rekenaarsimulasie is, die soort wat Nic Botrom en Elon Musk voorhou, maar teen die einde van die dink- en skryfwerk het ek tot ‘n baie meer bevredigende gevolgtrekking gekom, naamlik dat die heelal wel ‘n simulasie is, maar dat die “gebruiker” Jung se “collective consciousness” is en dat elkeen van ons ‘n venster, perspektief of koördinaatpunt is van Die Gebruiker (God / Hegel se Geist) se belewing is met ‘n persoonlike, sintuiglike raakvlak (bewussyn) wat die narratief en illusie van ‘n aparte identiteit onderlê.
Koos Kombuis, wat ‘n heel positiewe resensie van die boek geskryf het, het dit in een van sy tydskrifkortverhale gebruik om sy twee love bird bymekaar te bring. Ek het, vir die lawwigheid, geantwoord met ‘n kortverhaal van my eie waarin ek Koos se i-Tjieng: ‘n GPS virverdwaaldesiele gebruik het om iets soortgelyk te bereik. Ek was in my noppies toe die verhaal aanvaar is en het dit opgevolg met talle verhale wat in Sarie, Rooi Rose, Vrouekeuren Huisgenoot verskyn het. Ek dink nie ek het iets geskryf wat nie gepubliseer is nie. Wie weet, dalk skryf ek nog eendag ‘n boek waarin ek wetenskapfiksie pleeg.
Jy is nie ‘n groot nuusmens nie? Waarom nie?
In Surprised by Joy skryf C. S. Lewis:
“Even in peacetime I think those are very wrong who say that schoolboys should be encouraged to read the newspapers. Nearly all that a boy reads there in his teens will be seen before he is twenty to have been false in emphasis and interpretation, if not in fact as well, and most of it will have lost all importance. Most of what he remembers he will therefore have to unlearn; and he will probably have acquired an incurable taste for vulgarity and sensationalism and the fatal habit of fluttering from paragraph to paragraph to learn how an actress has been divorced in California, a train derailed in France, and quadruplets born in New Zealand.”
Ironies genoeg was dit my houding jeens “nuus” voor en na my betrokkenheid by Die Wêreld. Ek was nooit ‘n nuusmens nie en het trouens so min daaromtrent verstaan dat ek gedink het ‘n koerant kan ‘n platform wees vir deurdagte meningvorming. Ek het nie rekening gehou met die ernstige, inherente beperkings van die medium nie.
Onder die druk van tyd, beperkte toegang tot inligting en beskikbare ruimte, bied meeste koerantberigte ten beste ‘n gefragmenteerde en onvolledige weergawe van gebeure. Voeg daarby menslike faktore en die leser sit met nuus wat selektief, subjektief en bevooroordeeld is.
Nuus is boonop reeds oud teen die tyd dat dit gedruk word. Koerante vervul sonder twyfel ‘n belangrike rol in die samelewing, maar persoonlik het ek die hele onderneming onbevredigend gevind en is dit waarskynlik die een hoofstuk wat ek uit my lewensverhaal sou skeur as ek kon.