PROF. GERT PIENAAR: GRONDLEGGER VAN JOERNALISTIEKE OPLEIDING IN SUID-AFRIKA

Izak Malherbe vertel van ’n stille baanbreker in die Suid-Afrikaanse joernalistiek wat as koerantman en opleier van joernaliste diep spore getrap het.

In die jaar 1980 het ’n besondere joernalistiek-akademiese loopbaan tot ’n einde gekom: Dié van prof. Gert Pienaar, hoof van die departement kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (Puk), vandag die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Pienaar was die grondlegger van akademiese opleiding in die joernalistiek in Suid-Afrika. Die aanvanklike joernalistieke opleiding het in sy leeftyd ontwikkel onder die oorkoepelende vaandel van kommunikasiekunde, kommunikasiestudie, mediastudie en natuurlik bloot joernalistiek. Vandag word dit aan verskeie universiteite in die land gedoseer.

Vroeër moes Suid-Afrikaners na die buiteland gaan vir joernalistieke opleiding. Adv. C.R. (Blackie) Swart, eerste staatspresident (destyds ´n seremoniële amp) van die Republiek van Suid-Afrika (1961-’67), het byvoorbeeld in 1922 ’n tweejarige diploma in die joernalistiek aan die Universiteit Columbia in Amerika verwerf.

Benewens die grondlegger van akademiese opleiding vir joernaliste was Pienaar ook betrokke by baanbrekerswerk in die Afrikaanse koerantwese in die destydse Transvaal (vandag die provinsies Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en dele van Noordwes) en ook as vertaler in Afrikaans.

Gert Johannes Pienaar is op 10 Maart 1914 op die Vrystaatse dorp Bethulie gebore en het in 1932 daar gematrikuleer. Die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het’n beurs aan hom toegeken op grond daarvan dat hy daardie jaar die matrikulant met die hoogste punte in Afrikaans, geskiedenis en skeikunde in die land was.

Weens die geldskaarste tydens die destydse Groot Depressie het hy ná sy tweede jaar in die staatsdiens in Pretoria gaan werk. Hy het verder deeltyds gestudeer en die graad BA (hoofvakke: geskiedenis, ekonomie en staatsleer) en ’n meestersgraad in die ekonomie aan die Universiteit van Pretoria behaal.

In 1936 was hy een van ses uit 257 kandidate wat in die staatsvertalerseksamen geslaag het. Hy het toe as vertaler by die Verdedigingshoofkwartier in Pretoria gaan werk. Daar het hy baanbrekerswerk help doen met die vertaling van militêre handleidings in Afrikaans en die verafrikaansing van militêre terme.

Met die stigting van Die Transvaler in 1937 in Johannesburg het dié koerant se eerste redakteur en latere eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, hom as ekonomiese verslaggewer aangestel. Hy is later tot hoofsubredakteur bevorder. Saam met hom in die oorspronklike redaksie van die koerant was verskeie latere bekendes, onder wie Marais Viljoen, wat van 1979-’84 die laaste seremoniële staatspresident van die land was.

In 1943 het Pienaar ’n jaar lank op Verwoerd se plaas by Devon, naby Springs, gaan boer. Hy kon die joernalistiek egter nie uit sy bloed kry nie en het in 1944 as hoofverslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein gaan werk.

Hy was daarna agtereenvolgens die koerant se hoofsubredakteur, nuusredakteur, parlementêre verslaggewer, hoofartikelskrywer en politieke beriggewer.

Teen dié tyd was die joernalis Pienaar bedrewe in sy vak. Maar hy had een kwelling: die opleiding van verslaggewers. As hoofsub- en nuusredakteur wat ook nuwe redaksielede moes oplei, het hy besef dat ’n ernstige leemte op dié gebied bestaan.

In 1955 is hy as besturende direkteur en redakteur van die koerant Die Weste in Potchefstroom aangestel. Daar het hy en sommige akademici spoedig begin bespiegel oor ’n moontlike graadkursus in die joernalistiek aan die Puk. Dit het heftige reaksie uitgelok. Sommige geleerdes het gesê so ’n kursus het geen bestaansreg nie omdat die joernalistiek se onderbou te skraal is om dit ’n akademiese dissipline te maak. Koerantmanne het weer geglo dat daar geen plaasvervanger vir praktiese opleiding is nie.

Die groot deurbraak het gekom toe hy as dosent in die geskiedenis aan die Puk aangestel is. Hy moes in die departement doseer, maar sy eintlike taak was om ’n leerplan uit te werk en handleidings op te stel vir die beoogde kursus in joernalistiek.

Hy was skielik in ’n braakland. Hy moes die historiese, teoretiese en empiriese aspekte van die joernalistiek man-alleen stelselmatig navors en neerpen.

In 1959 is joernalistiek as ’n vak ingestel. Dit het so goed gegaan dat die departement joernalistiek in 1963 sy beslag gekry het. Daarmee het die Puk die eerste universiteit in die land geword wat ’n graadkursus in die joernalistiek aanbied.

Pienaar het sy doktorsgraad met die proefskrif “Perssensuur en staatsveiligheid”.

Hy is op 13 Februarie 1988 in Potchefstroom oorlede.

’n Gert Pienaar-gedenklesing is in 2009 by die NWU ingestel.

Oudkollegas en -studente onthou dié baanbreker as nederig, hoflik en medemenslik, iemand met respek en deernis vir sy medemens.