KOERANTE GEDRYF DEUR POLITIEK

Verskeie suiwer politieke blaaie of nuustydskrifte het sedert 1876 in Afrikaans verskyn. Min daarvan het langer as ‘n kort tydjie oorleef, soms selfs net vir een uitgawe. Blaaie soos Die Burger, Die Suiderstem en Die Transvaler is ook as politieke mondstukke gestig, maar moes probeer om kommersieel te oorleef, met wisselende sukses.

Die Suiderstem kom in 1936 tot stand, ‘n middagkoerant wat die koalisieregering van genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts ondersteun het. Die blad sluit egter in 1950.

Die Volksblad was ‘n amptelike mondstuk van die Nasionale Party en het die party met entoesiasme gesteun.

Die Burger hou sy ondersteuning van die NP en die NP-regerings voort tot rondom 1990, toe die formele band tussen party en koerant geknip is.

Die Burger was wel soms erg haaks met dr. Verwoerd, maar die destydse redakteur, Piet Cillié, het bes gegee en selfs aangebied om te bedank. Die botsing is egter grootliks uit die openbare oog gehou en daar is eers jare later daaroor geskryf, soos in hierdie artikel in 2002.

Die Transvaler het sy voorkeur tydens die referendum van 1960 nie weggesteek nie. Die blad was sedert sy ontstaan in 1937 ‘n sterk voorstander van republiekwording.

Ben Schoeman, destyds leier van die NP in Transvaal en belangrike rolspeler in die noordelike Afrikaanse perswese het hom by geleentheid sterk uitgespreek oor die swak ondersteuning van Afrikaanse koerante. Sy pleidooi vir groter ondersteuning het twee belangrike motiverings gehad: meer lesers sou meer inkomste beteken en dalk ook groter steun by die stembus.

Party-eenheid was een van Afrikaanse koerante se voorste prioriteite – tot op ‘n punt. In die 1960’s het Die Beeld jag gemaak op sogenaamde verkramptes, dus diegene wat gemeen het die NP-regering wyk af van Verwoerdiaanse apartheid. Die Beeld is daarvoor in NP-kringe kwalik geneem, maar op die ou end reg bewys. Hier is ‘n voorblad uit die 1980’s. Nie lank daarna nie het dr. Andries Treurnicht en sy volgelinge tog weggebreek.

Die NP-gesinde koerante het met die verkiesing van nuwe leiers telkens hul gewig met mening agter die nuwe leier ingegooi, selfs al het hulle tot pas tevore groot lojaliteit aan die ou leier betoon.

Gewese leiers soos John Vorster en P.W. Botha het spoedig hul lojaliteit jeens hul party verloor. Dit was noodwendig groot nuus — met dié kragtige opskrif.

Deur die jare het die meeste Afrikaanse koerante die NP sterk ondersteun. Maar teen 2004 was die party (toe Nuwe Nasionale Party genoem) sonder visie of vriend en sluit dit. Die laaste leier en enkele senior mense sluit by die ANC aan.

Die Argusgroep (nou Independent) se koerante het vir lank ‘n tradisie van sober, gebalanseerde beriggewing gehad. Politieke woelinge binne die NP is egter met groot prominensie aangebied; dit het hul politiek gepas as die NP sou verbrokkel.

Hul redaksionele kommentaar was soms vol venyn. Veral in die dekades voor republiekwording het Engelstalige koerante se pro-Britse houding (en minagting vir Afrikaners se regte) aanstoot gegee.

Dit was, gegee die meeste van hulle se wortels in 19e-eeuse kolonialisme en Engelse meerderwaardigheid, nie vreemd nie. Later sou verskeie Afrikaners redakteursposte by Engelse koerante vul (bv. Tertius Myburgh, Koos Viviers en Rene de Villiers) en het die kritiek gefokus op die regering se apartheidsbeleid.

Vir die Sunday Times was gevegte in die regerende NP goed vir die blad se sirkulasie. Boonop het hulle daardeur op ‘n “neutrale” wyse die politiek van hervorming ondersteun.