Afrikaanse weekblaaie met ‘n voorkeur vir sensasie (ook genoem geelpers, poniekoerante, red tops of tabloids) se geskiedenis dateer terug na Dagbreek (1947) en Landstem (1950).
Die resep was (en is breedweg steeds) die aanbied van nuus op ‘n oordrewe wyse, mooi meisies, baie sport en ‘n fokus op die bisarre. In 1965 het Die Beeld met kort sinne en paragrawe die tempo versnel, heilige koeie begin slag en konserwatiewe lesers ontstel met gewaagde stories.
Hulle was dalk nie altyd volbloed-sensasiekoerante nie, maar het met berekende moedswilligheid getoets wat die massamark sou duld. In hierdie sin was hulle populisties, dus maklik verteerbare koerante gemik op die (minder intellektuele) massa.
Vandag staan Rapport alleen in die Afrikaanse populistiese massamark op Sondae.
Maar dit is nie eenvoudig om koerante in vakkies te plaas nie. Rapport is ‘n hibriede koerant, dus ‘n mengsel van joernalistieke style onder een banier: die voorblad en nuuskomponent is dikwels populisties, sport, reis , kos, motors en opvoedkundige artikels erken die behoefte aan sagter nuus terwyl die Weekliks-bylae alte ernstig is.
Dus ‘n poging om iets aan almal te bied, alles binne die beperkinge wat skraal koerante vandag stel.
Die eerste uitgawe van Dagbreek in 1947 met Willem van Heerden as redakteur. Die foto was minstens ‘n week oud, want die koerant het ‘n week laat verskyn. Maar die moontlike skokeffek daarvan was ‘n te groot versoeking om nie tog te gebruik nie. Was dit die eerste tekens van ‘n populisme in die Afrikaanse joernalistiek?
In die 1950’s het Fyn Goud en ander tydskrifte die mark vir ligte verstrooileesstof begin ontgin en met voorblaaie soos dié (links onder) heftige protes ontlok.
Gelyklopend hiermee het Landstem met groot sukses onder Piet Beukes lesers getrek met sensasie, mensgerigte stories en baie sport.
Na die dood in 1966 van dr. H.F. Verwoerd, eerste minister, het Landstem só berig. Gerugte, persoonlike tragedies en ‘n mooi meisie is stapelkos vir populistiese sensasiekoerante.
Die persoonlike styl van die populistiese Landstem blyk uit hierdie drie berigte. Eers een van Heinie Otto se voorbladhoofberigte, wat begin met “My kind, my kind, my kind.”

Ten tweede en derde: Piet Beukes skryf deels in die eerste persoon (en gebruik ook die geleentheid om voorbrand te maak vir Ben Schoeman). Schoeman was die senior minister en leier van die Volksraad, vandaar die leiding wat hy noodwendig in die omstandighede sou neem. ‘n Week later het Schoeman egter teruggestaan en is John Vorster eenparig tot nuwe premier verkies.


Die tipe berigte en opskrifte wat heelwat kritiek op koerante soos Landstem, Dagbreek en Die Beeld ontlok het.




Landstem is in 1967 verkoop en by Dagbreek ingelyf. Die blad het voortaan as Dagbreek en Landstem verskyn, met “Landstem” prominenter in die mashoof van die midweekse uitgawe, in wese ‘n voortsetting van Landstem soos hy was. Die sirkulasies van die Sondag- en midweekse uitgawes is bymekaargetel in die stryd teen die nuweling, Die Beeld. Hierdie koerant het onder Schalk Pienaar se hoofredakteurskap ‘n kaalkop-joernalistiek bedryf wat sommige lesers ontstel het, maar dit was tipografies konserwatief.

Die heftige stryd tussen Dagbreek en Landstem en Die Beeld eindig in 1970 met ‘n samesmelting om Rapport te vorm. So is ook iets van Landstem se DNS by Rapport ingedra. (Kyk ook onderafdeling oor Sondagkoerante.)
Die Volk verskyn einde 1972. Dit is onbekend wie dit uitgegee het en vir hoe lank dit gedruk is. Die voorblad van hierdie eerste (en moontlik laaste) uitgawe getuig van die bedoeling om Landstem se populistiese resep na te volg: stories oor jaloesie, stout films, seksaanvalle, ‘n grusame vonds en ‘n spook word belowe naas die voorbladfoto van ‘n meisie.

Voorblaaie soos dié is tipies van die geelpers: seks, groot opskrifte en sterk wit-op-swart baniere.


Een van die mees skokkende voorbladopskrifte ooit in ‘n Afrikaanse koerant. Die bewerings teen ‘n vorige Minister van Verdediging is net effe deur die aanhaaltekens versag. Die bewerings, wat in ‘n boek gemaak is, het wye reaksie ontlok. Die redakteur het later erken die plasing was ‘n fout, die boek is teruggetrek en ‘n verskoning aangebied.

Die Kaapse Son (later net Son genoem) verskyn op 28 Maart 2003 en ontwikkel in ‘n hoogs suksesvolle Wes- en Suid-Kaapse dagblad onder die bruin werkersklas. Sy noordelike lote, Noord Son en Sondag misluk.

Sondagkoerante soos Rapport en die Sunday Times het vir dekades lank vroue in baaiklere op die sogenaamde agterblad geplaas – totdat druk van feministe en ander beswaardes dit stopgesit het. Hierdie agterblad het onder redakteurskap van ‘n vroueredakteur verskyn.


Kaapse Son het ‘n taboe in Afrikaanse koerante verbreek met foto’s soos hierdie. Dit is later gestaak.
Plakkate soos hierdie is tipies van die populistiese pers.


Loslyf het in 1995 op die toneel verskyn as die eerste pornografiese tydskrif in Afrikaans.




