WAAR GAAN ONS NUUS VANDAAN KOM?

Mense kry hul nuus ál meer by sosiale media, inhoudskeppers en KI – en ál minder regstreeks by nuusorganisasies. Die Reuters-instituut se jongste Digital News Report vra wat dié groot verskuiwing vir die toekoms van joernalistiek beteken.

Opsomming deur Joan van Zyl van Reuters se Digital News Report 2026.


 Vier hoofbevindings in die verslag

1. Vir die eerste keer lok sosiale media en videoplatforms groter nuusgehore as uitgewers se eie webtuistes en apps. Onder jongmense is die verskuiwing selfs groter. Nuus ontstaan dalk steeds in die nuuskantoor, maar dis nie meer noodwendig waar mense dit teëkom nie.

2. Onafhanklike inhoudskeppers en podsendings is dikwels meer toeganklik, vermaaklik en persoonlik, maar baie doen nie self oorspronklike verslaggewing nie. Hulle gebruik gevestigde media se joernalistiek as roumateriaal.

3. Ons kry tans ons nuus waar ons dit die minste vertrou. Mense vertrou tradisionele media steeds meer, maar gebruik bronne wat hulle minder vertrou omdat dit geriefliker is.

4. Wat gaan gebeur as die oorspronklike bronne opdroog?Platforms, inhoudskeppers en KI kan nuus versprei, bespreek en opsom, maar baie van hul inligting kom steeds van professionele nuuskantore af. Hoe gemaak as dié nuuskantore nie meer finansieel volhoubaar is nie?

Bevindinge oor Suid-Afrika:

56%
Die persentasie respondente wat hul nuus by kletsbotte en sosiale en video-platforms kry
51%
Mense wat nog nuuswebtuistes en apps gebruik
46%
Soveel mense kry hul nuus o.m. by individuele inhoudskeppers.
16%

Die persentasie respondente onder 35 wat o.m. KI-kletsbotte vir nuus gebruik
50%
Die aantal Suid-Afrikaners wat die tradisionele media vertrou

Die Suid-Afrikaanse nuusbedryf het in die eerste week van Augustus 2026 ’n paar harde klappe gekry. Media24 het ’n groot herstrukturering van sy publikasies en moontlike afleggings aangekondig, Novus sny personeel in die Kaap en eNCA staan voor ’n ingrypende herorganisasie wat die helfte van hul personeel sonder werk kan laat. Intussen woel dit ook by Independent?National. Hoe dit gaan afloop, sal die tyd leer.

Verskillende kommentators het hul menings hieroor gegee, maar dit lyk asof sommige na die verkeerde deel van die prentjie kyk. Die werklike uitdagings waarmee Suid-Afrikaanse nuusorganisasies worstel, is nie so anders as in die res van die wêreld nie. Baie daarvan word bespreek in die Reuters-instituut se internasionale Digital News Report 2026, wat in Junie uitgereik is en Suid-Afrika se media-omgewing insluit.

Hierdie artikel bekyk die belangrikste bevindinge in die verslag.

Die verslag se hoof-gevolgtrekking is dat sosiale media en videonetwerke vir die eerste keer groter gehore lok as nuusorganisasies se eie webtuistes en apps. Sowat 54% van respondente wat aan peilings vir die verslag deelgeneem het, gebruik nou sosiale en video-platforms vir hul nuus, terwyl 51% apps en nuuswebtuistes gebruik.

Voeg kunsmatige intelligensie (KI) se kletsbotte by, en die persentasie gebruikers wat derdeparty-nuusbronne gebruik, styg tot 56%.

Dis nie sommer net ’n formaat-verandering nie. Dit dui op ’n veel groter verskuiwing in die verhouding tussen nuusorganisasies en hul gehore: Al het baie nuus nog hul oorsprong in die nuuskantoor, is dit nie noodwendig meer waar mense dit teëkom nie.

Die nuus volg die gehoor

Tradisionele nuusbronne kwyn al jare lank. Sedert 2020 het gebruik van sowel TV-nuus as uitgewers se webtuistes dramaties gedaal terwyl sosiale media, videoplatforms en nou ook KI toenemende poorte tot inligting word.

Die verskil tussen generasies is veral dramaties. Internasionaal is sosiale media, videoplatforms en KI-kletsbotte die hoofbron van nuus vir meer as die helfte van mense tussen 18 en 24 jaar oud.

Veral video-platforms het ontplof. Sowat 77% van mense wêreldwyd kyk elke week na nuusvideo’s. Hulle kry hul video’s op YouTube, Instagram en TikTok.

Maar al groei hierdie aanlyn gehore, daal videoverbruik op uitgewers se eie webtuistes. Uitgewers skep inhoud wat toenemend verbruik word op platforms waaroor hulle geen beheer het nie.

Dan is daar die inhoudskeppers

Individuele nuusskeppers, podsending-aanbieders en beïnvloeders het ook hierdie vinnig veranderende ekostelsel betree.

Meer as ’n kwart van mense wêreldwyd kry ’n deel van hul nuus van inhoudskeppers wat spesifiek op nuus fokus. Voeg ander skeppers by wat soms sake van die dag bespreek, en die syfer styg tot 46%.

Gehore vind hierdie skeppers meestal meer vermaaklik en verstaanbaar, en identifiseer makliker met hulle.

Maar . . . hulle beskou dié media ook as minder betroubaar en meer partydig as die tradisionele erfmedia.

En, belangrik: Skeppers het nog nie vir die meeste mense tradisionele media vervang nie. Net sowat 3% van respondente sê nuusskeppers vervul ál hul nuusbehoeftees. Trouens, mense wat skeppers volg, verbruik meer tradisionele media as die gemiddelde persoon, nie minder nie.

Die verhouding tussen ou en nuwe media is daarom meer ingewikkeld as net ’n eenvoudige stryd om oorlewing.

Dit is veral waar in Afrika, waar gehore interessant genoeg lank voor die res van die planeet na platforms en inhoudskeppers oorgeskuif het.

’n Mens moet egter versigtig wees om elke inhoudskepper as joernaliste se gelyke te beskou. Party is wel joernaliste wat onafhanklik geword het. Ander is maar net kommentators of saamstellers wie se inligting steeds gegrond word op die joernalistiek wat deur gevestigde nuusorganisasies geproduseer word. Politici betree ook ál meer hierdie veld om hul partydige boodskappe te versprei.

Dit maak tradisionele uitgewers se probleem nog ongemakliker: Inhoudskeppers gebruik hul inhoud gratis, maar dra sowel hul gehore as hul inkomste weg.

KI is die nuutste rolspeler

Een uit 10 respondente gebruik KI-kletsbotte vir nuus. By mense onder 35 is dié syfer 16%. Mense geniet veral die geleentheid om opvolgvrae te vra, bykomende verduidelikings te kry en inligting uit verskillende bronne bymekaar te trek.

Interessant genoeg het hierdie gebruikers nie noodwendig tradisionele joernalistiek gelos nie. Dis meestal power news consumers, mense wat heelparty verskillende nuusbronne en -formate inspan.

KI skep egter ’n voor die hand liggende probleem vir uitgewers. As ’n kletsbot ’n vraag kan beantwoord deur verskillende nuusberigte saam te vat, het die gebruiker dan nog die webtuistes ook nodig?

Net 42% van mense wat hul nuus by kletsbotte kry, sê hulle klik dikwels na die oorspronklike nuusbron deur.

Terselfdertyd is uitgewers bekommerd oor ‘Google Zero’ – die gevaar dat KI-antwoorde dramaties minder Google-verkeer na hul webtuistes kan stuur. Organiese soekverkeer na meer as 25 000 sulke webtuistes het met meer as ’n derde gedaal en sal waarskynlik binnekort die helfte minder wees.

Dis belangrik, want soekverkeer is nie net ’n gewildheidskompetisie nie; dit raak advertensies, intekeninge en uiteindelik die vermoë om vir joernalistiek te betaal.

Die paradoks: Gerief neem toe terwyl vertrou daal

Mense kry hul nuus ál meer op plekke wat hulle minder vertrou. Vertroue in nuus het die afgelope jaar internasionaal tot 37% gedaal. (In Suid-Afrika is dit nou 50%, af van 62% drie jaar gelede.)

Maar vertroue in sosialemedia-nuus sit by ’n vrot 22%, en kletsbot-vertroue is maar 20%. Terselfdertyd het kommer oor disinformasie tot 62% toegeneem.

Overgesetsynde: Gehore weet dat die inligtingsomgewing van platforms onbetroubaar kan wees – maar hulle verkies dit steeds omdat dit geriefliker is en omdat hulle reeds baie van hul tyd daar deurbring.

Gevestigde nuushandelsmerke word intussen aansienlik meer vertrou as die groter inligting-ekostelsel waardeur hulle omring word.

Afrika het reeds die toekoms gesien

Baie van hierdie nuwe neigings bestaan al lank in Afrika, waar gehore al ’n hele ruk gelede na platforms en inhoudskeppers oorgeskuif het.

Reuters se Afrika-paneellede sê nuusorganisasies moet by die veranderinge aanpas sonder om van hul kernbesigheid te vergeet. Volgens News24 se Adriaan Basson sal formate kom en gaan, maar gehalte-joernalistiek en oorspronklike verslaggewing bly fundamenteel.
 
 Dis veral belangrik in ’n tyd van misinformasie. Gehore kry dalk hul nuus ál meer op ander plekke, maar hulle gaan dikwels steeds terug na gevestigde media om inligting te verifieer en om magtige instellings verantwoordelik te hou.

Vertroue bly dus een van die waardevolste bates van joernalistiek.

Suid-Afrika wys hoe moeilik die oorskakeling is

Suid-Afrika bied ’n goeie voorbeeld van die uitdagings wat in die internasionale Reuters-verslag uitgelig word.

Nuuskantore hou aan krimp terwyl digitale inhoudskeppers en persoonlikheidsgedrewe platforms meer invloedryk word. Advertensie-inkomste kan eenvoudig nie joernalistiek aan die lewe hou in ’n mark wat deur internasionale tegnologie-platforms oorheers word nie.

Terselfdertyd eksperimenteer Suid-Afrikaanse uitgewers.

News24, Netwerk24 en landbou.com bied bondel-intekeninge saam met vooraanstaande internasionale nuusmedia soos die New York Times. KI word ál meer ingevoer. Nuwe digitale publikasies en skeppers kom te voorskyn.

Daar was ook regulerende ingrypings. Ná ’n ondersoek deur die Mededingingsraad het Google onderneem om ’n media-steunpakket van R688 miljoen te betaal, en nuwe verpligtinge is op groot tegno- en sosialemediamaatskappye geplaas.

Maar die fundamentele vraag bly onopgelos: Hoe befonds ’n mens die duur werk van joernalistiek as gehore jou eindproduk toenemend op ander plekke verbruik?

En mense wil steeds hê joernalistiek moet joernalistiek bly

Ondanks al die ontwrigting is een van die verslag se opvallendste bevindings dat gehore nog steeds aan tradisionele joernalistieke ideale vashou.

Amper die helfte verkies onpartydige nuus – meer as twee keer die proporsie wat nuus soek wat hul eie menings bevestig. (Nota: Ander navorsing wys wel ’n verskil uit tussen wat mense sê hulle verbruik en wat hulle inder waarheid verbruik as dit by partydigheid kom.)

Mense is dalk ontevrede met joernalistiek. Hulle wantrou nuusorganisasies, kritiseer hul werk en kry hul nuus ál meer by TikTok, YouTube, inhoudskeppers of KI. Maar hulle stel steeds onpartydige, geverifieerde en betroubare inligting op prys.

Dit laat die bedryf met ’n vreemde uitdaging. Hulle moet by inhoudskeppers gaan leer sonder om net gewone inhoudskeppers te wees. Hulle moet KI omarm, maar ook uitwerk hoe daar betaal moet word vir die joernalistiek wat daardie stelsels voed. En hulle moet gaan na waar die gehore is sonder om die eienskappe te laat vaar wat dit in die eerste plek die moeite werd maak om professionele joernalistiek te gaan soek.

Die platforms kan aanhou verander. Die moeilike vraag is hoe om seker te maak dat die joernalistiek daaronder sal oorleef.

Want wat gaan gebeur as daar nie meer professionele joernaliste of nuuskantore oor is waar inhoudskeppers, podsending-gashere en KI hul inligting kan kry nie?

—-

Laai die volledige verslag hier af:
 https://reutersinstitute.politics.ox.ac.uk/digital-news-report/2026

Die afdeling oor Suid-Afrika is hier te lees: https://reutersinstitute.politics.ox.ac.uk/digital-news-report/2026/south-africa