‘DIE PAPIER’ SE WORTELS Lê DIEP IN DIE PAARL

Die Papier het op 6 Maart 2026 verskyn as weekblad met Novus Media as uitgewers. Daarmee is ‘n sirkel voltooi, want Novus Media is ‘n afdeling van Novus Holdings en het gespruit (met ‘n sprong 120 jaar gelede) uit die drukker van die eerste Afrikaanse blad, Die Afrikaanse Patriot.

Tussen hierdie twee mylpale lê die veelbewoë geskiedenis van verskeie Afrikaanse ondernemings, insluitende Afrikaanse Pers (1962) en Nasionale Pers (Media24).

Novus Holdings stel dit heel kripties as volg op sy webblad: “What started as a small family-run business over a century ago is now a JSE-listed company…”

Die storie loop eintlik so: Die Afrikaanse Patriot het in 1876 in die Paarl verskyn met S.J du Toit as redakteur en met die Genootskap van Regte Afrikaners as eienaar van die firma D.F. du Toit en kie. Later sou D.F. du Toit (Oom Lokomotief) self ook redakteur wees.

Die maatskappy word egter in 1904 gelikwideer en omskep in die Paarlse Drukpers. Die Patriot het terselfdertyd in die slag gebly — grootliks weens S.J. du Toit se latere politiek, wat nie aanklank gevind het by sy lesers nie. Die Paarl Post verskyn maande later as tweetalige weekblad, maar kwalik as voortsetting van die Patriot. Dit was ‘n nuwe, tweetalige nuusblad.

Die Paarl Post het in 1976 ‘n eeufeesuitgawe gepubliseer, want die blad het, so is geglo, regstreeks gespruit uit Die Afrikaanse Patriot (1876). Maar daar kan sterk hierteen geargumenteer word. Die Paarl Post was bloot ‘n dorpskoerant sonder sterk taalpolitieke bedoeling (soos die Patriot oorspronklik was).

Die Paarl Post was dus ‘n andersoortige blad en was inhoudelik kwalik  ‘n opvolger van die Patriot. Dat die blad egter (ten minste aanvanklik) op dieselfde drukpers gedruk is, is wel so. En al sou dit nie die geval gewees het nie, die Paarlse Drukpers het vir alle praktiese doeleindes uit D.F. du Toit en kie gespruit. 

In 1934 word Nico Retief mede-eienaar van die maatskappy; later volle eienaar en nog later in vennootskap met sy seuns, Nicol en Lambert. Laasgenoemde sou die leiding neem in die omskepping van die maatskappy in Paarl Print, wat so goed gevaar het dat Media24 die suksesvolle maatskappy gekoop het. Die naam is toe na Paarl Media verander.

So het Naspers/Media24 se tydskrifdrukkery en ‘n paar jaar later ook sy  handels- en -boekdrukkerye onder die Paarl Media-sambreel beland. 

Die destydse hoof van koerante by Media24, Jan Malherbe, onthou dit so: “Die Retiefs het ‘n minderheidbelang behou met bestuurbeheer, met Lambert as besturende direkteur en Nicol as bemarkingshoof. Paarl Print — later het dit Paarl Media geword — was uiters suksesvol onder Retiefs se  uitmuntende bestuur.

“Nog later, teen ongeveer 2009, is die koerante se drukkerye ook aan Paarl Print  verkoop.

“Daarna het die Retiefs hulle minderheidsbelange aan Media24 verkoop en die onafhanklike Novus is genoteer. In dié proses het Naspers/Media24 dus stelselmatig eers uit die drukkerybedryf ontrek. Later, meer onlangs, is die oorblywende gemeenskaps-koerante (wat Paarl Post insluit) ook aan Novus Media verkoop.”

Met die uitsondering van Die Burger het Media24 dus nou heeltemal onttrek uit gedrukte koerante, omdat die voorsitter van Naspers (wat Media24 besit), Koos Bekker, meen daar is geen toekoms in gedrukte koerante nie.

So het Novus Media en sy suster, Novus Print, nou na vore getree om die gaping te vul wat Naspers/Media24 gelaat het.  

En dit is Novus Media wat nou die nuwe Afrikaanse weekblad uitgee. — Johannes Froneman