Johan Mostert vertel: Ek het heel onverwags in die joernalistiek beland. Einde 1969 is my pa oorlede terwyl ek met die Abe Bailey-reisbeurs in Brittanje was. Ek was nog nie klaar met my nagraadse studie aan die Vrystaatse Universiteit nie en geld vir verdere studie was daar nie.
Noodgedwonge moes ek uitspring om self te verdien. Die eerste waaraan ek kon dink, was om te kyk of Die Volksblad, ‘n Bloemfonteinse dagblad, nie vir my werk het nie. Weens betrokkenheid by studentepolitiek en as redakteur van die studentekoerant het ek van die senior redaksielede van Die Volksblad geken. Ek nader die nuusredakteur, Hennie van Deventer. Hy sê dadelik ja.
Einde Januarie 1970 val ek in as verslaggewer — te groen om joernalis genoem te word. My heel eerste opdrag was om ‘n berig te skryf oor mense wat in ‘n motorongeluk omgekom het. Die onmiddellike hekkie was om reaksie te kry uit naasbestaandes wat net nie wou gesels nie. Dit het hortend en stortend gegaan maar uiteindelik het ek die feite.
Dít agter die rug, lê die tweede hekkie voor — om ‘n berig op papier te kry. In daardie dae het ons geen formele opleiding ontvang nie. Nuwelinge is sommer by die diep kant ingegooi.
Weens my ervaring by die studentekoerant het ek darem ‘n effense idee gehad van hoe ‘n berig moet lyk, maar dit het bloedsweet gekos om dit met twee vingers op ‘n verslete en horing-ou swart Remmington-tikmasjien uit te hamer. Rekenaars was nog in die verskiet.
‘n Hele paar opgeskeurde tikvelletjies later is die berig reg om na die “subs” (subredakteurs) te gaan. Angstig maar tevrede wag ek vir die middaguitgawe om my eersteling swart op wit in die koerant te sien.
Die koerant verskyn. Ek kon darem die buitelyne van my oorspronklike “meesterstuk” herken. Bietjie later die middag kom die gekorrigeerde tikvelletjies van die subs terug. Dit lyk soos ‘n slagveld. Rooi net waar jy kyk (subs redigeer in rooi). Dit was my eerste indiensopleidingsessie. Die strewe na zero rooi het ons nuwelinge aangespoor om so gou moontlik te leer hoe om berigte reg te skryf. (Die hoof van die subkantoor was Willie Kühn wat later redakteur van Beeld en Huisgenoot geword het.)
In daardie dae was dit nog gebruik om groentjies in te lyf. So word ek deur die nuusredakteur ingeroep en gesê ek moet dringend ‘n fotograaf in die hande kry. ‘n Olifant van die sirkus het losgebreek en is besig om pandemonium te saai in die omgewing van die Ramblers-klub.
Ek spoor vir Cas die fotograaf op en met groot opgewondenheid is ek op pad na my eerste “groot” storie. Ek doen links en regs navraag in die omgewing van die klub, maar mense kyk my aan asof ek van lotjie getik is.
Dit was eers nadat ek die hoeveelste bloutjie geloop het dat Cas uitbars van die lag en sê alles was maar net ‘n grap.
Terloops, in daardie dae is ons name ook nie by berigte aangedui nie (bylines). Selfs al het jy die hoofstorie op die voorblad gehaal, het jou naam nie verskyn nie. Die enigste joernaliste vir wie dit beskore was, was Die Burger en Nasionale Pers se legendariese politieke verslaggewer, Alf Ries, en die sportskrywers.
Die redakteur was ‘n baie waardige man, oom Bart Saayman. Dit was nog in die dae toe “oom” nie net ‘n aanspreekvorm was nie, maar ook ‘n eretitel. Almal in die kantoor het groot respek vir hom gehad en was maar lugtig om nie aan sy verkeerde kant te kom nie.
Die joernaliste in die veld het egter nie veel met hom of die adjunk-redakteur, meneer (Wiets) Beukes (later redakteur van Die Burger), te doen gehad nie. Ons kontakpunt met die hoofredaksie was die nuusredakteur, Hennie van Deventer, wat later redakteur geword het.
Soos die Engelse sal sê “he ran a tight ship”. Hy was ‘n koerantman deur en deur. Sy entoesiasme was onblusbaar (soms te veel na ons sin) en hy kon ‘n skitterende berig in rekordtyd skryf.
As nuweling was Bloemfontein se sosiale kringloop een van my take. Niemand anders in die redaksie was baie geneë om dit te doen nie. Ek moes saam met die fotograaf veral op Vrydag- en Saterdagaande by sosiale byeenkomste ‘n draai maak en onderskrifte vir die foto’s skryf – van links na regs staan so en so met ‘n aanduiding van watter byeenkoms dit was. Nie juis ‘n uitdagende taak nie, maar die fotograwe se vakbond het geweier dat hulle lede onderskrifte skryf wanneer hulle foto’s neem. Nee, dit was nie deel van hulle posbeskrywing nie.
So het ek vir die eerste maand of twee as verslaggewer getrou meeste Vrydag- en Saterdagaande toegekyk hoe die Bloemfonteinse establishment drankies geniet en versnaperinge verorber.
Maar ten spyte van die sleurwerk was dit ook ‘n besondere leerervaring wat my altyd bygebly het. Dit was ‘n geleentheid vir eerstehandse insig in die sosiale omgang van prominente mense in die samelewing. En die insig was nie altyd positief nie. Trouens, dit was genoeg om ‘n ontwakende sinisme ‘n beduidende hupstoot gegee.
Dit het maar swaar afgegaan wanneer jy saam met die fotograaf by ‘n plek aankom en een van die leidende ligte in die samelewing kondig luid aan “Ag nee, hier is die pers alweer”, en hy (altyd ‘n hy) draai sy rug om sy afkeer aan een en almal te demonstreer.
Dan stel jy maar ‘n foto saam van gewilliges waarvan daar altyd oorgenoeg is. Net wanneer almal in formasie begin inval om die foto te neem, draai die man wat so ontstig was oor die pers se teenwoordigheid om en tot sy stomme “verbasing”, toe hy omdraai, daar staan hy in die middel van die foto! En dit was nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie.
Dit was later ‘n speletjie om sekere mense dop te hou, hoe hulle uit die hoek van hulle oë met die rug na die kamera maneuvreer om “onwillig” op ‘n foto te verskyn.
En dan was daar van die mees prominente leiersfigure in die samelewing wat openlik geflikflooi het om afgeneem te word. Daar was selfs twee prominente mense wat geld aangebied het om saam met die president of eerste minister op die foto te verskyn. Mettertyd raak joernaliste behoorlik siek van sosiale kruipers.
Maar uitkoms was voorhande. Eerste minister John Vorster kondig ‘n verkiesing aan vir 22 April. Die politieke redaksie het bestaan uit Blaar Grobbelaar (wat later redakteur van ‘n Pretoriase dagblad sou word) en Ben du Toit (broer van ‘n latere ANC-adjunkminister van landbou, Dirk du Toit),‘n ervare joernalis.
Op ‘n dag roep Hennie van Deventer my in. “Begin more by die politieke manne”, sê hy. Natuurlik is ek hoog in my noppies. Dit is hoogs uitsonderlik dat ‘n onervare joernalis met die intrapslag politiek toe gestuur word. Dit was waarskynlik my aktiewe deelname aan studentepolitiek wat daartoe bygedra het.
Die politieke manne het in die hoekie van die redaksiekantoor gesit. Ek meld aan. “Baie welkom”, sê Blaar daar in die hoekie van die redaksiekantoor, “jy sal Basie van Rensburg vir die verkiesing dek.” Ek is stomgeslaan.
Minister Van Rensburg was die leier van die Nasionale Party in die Vrystaat en hier word ek, ‘n groentjie, genomineer om vir die hele veldtog, tot met die verkiesing, berig te doen oor die minister. Ek kon dit nie glo nie. Eers later sou ek agterkom waaraan ek hierdie “eer” te danke het.
Maar daar was eers ‘n komplikasie om uit die weg te ruim. Ek sou op die vierde April, die Saterdag van die Paasnaweek, trou en die laaste twee weke voor die verkiesing op die 22ste (twee dae na my verjaarsdag) sou die besigste tyd van die verkiesingsveldtog wees met al die partye wat alles in die stryd sou werp om stemme te werf. Dit sou beteken dat ‘n wittebrood van die baan af is.
Maar ek was gelukkig. My aanstaande, Alta, het die situasie met ‘n glimlag aanvaar. Aangesien dit die Maandag ‘n vakansiedag was, het ek darem twee dae wittebrood geniet!
Op die eerste vergadering na die troue, ek meen dit was Dealesville, wens die minister van die verhoog af die wittebroodspaar geluk en heet hulle hartlik welkom by sy vergadering! Wat hy toe ook doen by elke daaropvolgende vergadering. So het ons die Vrystaat platgery agter die minister aan in Die Volksblad se rammelende Ford Anglia, daardie enetjie met die skuins agterruit.
Soos ek gesê het, ek het besonder geëerd gevoel om aangewys te word om die leier van die Nasionale Party in die Vrystaat se vergaderings te dek. Die eerste geleentheid was op ‘n Vrydagaand. Taamlik senuagtig is ek na die vergadering.
Ek het gewonder of ek alles behoorlik sal kan behartig. Ek het darem bygebly met die afneem van notas (daar was nog nie so iets soos klein bandopnemers beskikbaar nie) en toe ek die aand in die koerantkantoor agter my afgeleefde Remington stelling inneem, het ek beter begin voel.
Dit was egter meer van ‘n stryd as wat ek gedink het. Eers moes ek probeer bepaal wat was die belangrikste in die toespraak in terme van nuus. Daarna moes dit behoorlik georden en op papier vasgevang word. Ons het destyds nie die luuksheid van woordverwerkers gehad nie.
So teen vyfuur die oggend se kant, net voordat Saterdagoggend se redaksiespan aanmeld, word die laaste woord getik. Ek was poegaai.
Toe ek later die oggend wakker skrik, is ek dadelik straat toe om ‘n koerant te gaan soek. Ai, was ek nie trots nie! Hier op bladsy ses of sewe het die berig gepryk, kolomme lank. Die Maandag kry ek ‘n oproep van die minister persoonlik om my geluk te wens met die goeie berig.
Om sommer so direk deur ‘n minister gebel te word, was ‘n ontsagwekkende ervaring vir enige jong man. Ministers was in daardie dae nie gereken as gewone sterwelinge nie. Ook die redakteur, oom Bart, word deur die minister gebel om sy tevredenheid uit te spreek.
Baie ingenome met myself is ek die Maandagaand na die minister se volgende vergadering. Presies dieselfde toespraak van Vrydagaand. Ek herken moeilikheid. Geen selfrespekterende koerant herhaal nuus wat hy enkele dae tevore gepubliseer het nie. Daardie aand moes ek sif om dit wat nie die Saterdag gepubliseer is nie, te rapporteer. Ek haal weer ‘n hele aantal kolomme in die koerant.
Die volgende aand. Weer dieselfde toespraak. Dis eers toe dat die waarheid my soos ‘n trein tref. Dit was nie omdat ek so wonderlik was dat die leier van die NP in die Vrystaat aan my toegesê is nie, maar omdat die senior manne van die politieke redaksie geweet het wat sou kom.
Hulle was nie lus vir ‘n aand vir aand se geluister na die herhaling van dieselfde eentonige politieke clichés nie. Hulle het ook in hulle mou gelag vir my wat soveel van die toespraak die eerste keer gepubliseer het in plaas daarvan om stof vir later te bêre. Dit was ‘n vuurdoop voorwaar.
Eers na die verkiesing het Blaar my vertel hoe hulle hulle verkneukel het oor my voortvarendheid.
Die herhaling van sy toespraak het, soos ek voorsien het, probleme veroorsaak. Die nuusredakteur het geweier om dit wat reeds gepubliseer is, weer te dra. Hoe nou gemaak? Ek besluit om die stoute skoene aan te trek. Ek gaan na die minister toe en speel oop kaarte.
“Oom Basie,” sê ek, “ek het ‘n probleem, Hennie van Deventer sê hy kan nie Oom se toesprake dupliseer nie. Hy het reeds alles geplaas wat Oom gesê het.” (In die Vrystaat was die aanspreekvorm oom baie algemeen en het nie familiariteit aangedui nie. Ek is aan hom voorgestel as Oom Basie.)
“Wat nou?” het die minister gevra. Ek sê: “Oom, as Oom kan reageer op (ek noem ‘n paar aktuele kwessies wat ek weet die koerant sou belangstel) sal dit die koerant kan haal.”
Die minister maak toe so en, sowaar, dit haal die koerant. En so het dit gegaan tot met sy laaste toespraak van die veldtog. Elke keer voor ‘n vergadering het ons gesels oor nuuswaardige temas. Hy het sy menings aangehaak aan die standaard-toespraak wat ek elke aand moes aanhoor. Ek het toe elke aand iets nuuts gehad om te rapporteer.
In my gesprekke het ek nooit die lyn oorgesteek deur aan die hand te doen wat hy moet sê nie, slegs waaroor hy iets kan sê. Ons het dus nooit politiek gepraat nie.
Wat hy aan my wou sê, het hy van die verhoog af gesê. Hy het my nooit probeer voorsê wat ek moet rapporteer nie, en ek het van my kant ook nooit gesuggereer wat vir die koerant aanneemlik sou wees nie. Ek was in elk geval te jonk om so voorbarig te wees om ’n minister te probeer voorsê.
Ek kan darem nie nalaat om oom Basie se standaard-grappie te noem nie. Hy was ‘n lang rysige man met ‘n welluidende diep stem en het op afgemete toon die volgende staaltjie vertel:
“Daar was ‘n man wat by die spoorweë gaan werk het. Na sy opleiding moes hy eksamen doen. Hulle vra hom toe:
‘As jy op ‘n brug oor ‘n treinspoor staan en jy kyk na die een kant toe en jy sien ‘n trein aankom, en jy kyk na die ander kant toe en jy sien daar kom ook ‘n trein aan op dieselfde spoor, wat sal jy doen?’
“Die man antwoord: ‘Ek sal my suster Sarie gaan roep.’
Die een wat die eksamen afneem vra: ‘Nou hoekom sal jy jou suster Sarie gaan roep?’
“Hy antwoord: ‘Ek sal vir suster Sarie gaan roep en ek sal vir Sarie sê, Sarie, as jy nog nooit ‘n helse smesh in jou lewe gesien het nie, dan moet jy nou kom kyk!’”
Die vergadering skater van die lag en dan voeg oom Basie by:
“En ek sê vir julle vanaand, as julle nog nooit ‘n helse smesh gesien het nie, moet julle op die 22ste kyk hoe ons die Sappe gaan opsmesh.”
Gelukkig was daar darem afwisseling so nou en dan. Wanneer ek nie na Oom Basie se toesprake gegaan het nie, moes ek ander ministers se toesprake dek. Met die ratelende Anglia van die koerant is ek en my vrou Alta na talle vergaderings op verskillende plekke.
Twee ministers wat ek nog duidelik kan onthou, was PW Botha en Blaar Coetzee. Dit was die eerste keer dat ek Botha in lewende lywe ontmoet het, nie wetende dat hy later ’n groot rol in my lewe sou speel nie.
Blaar Coetzee was ‘n besonder gevatte spreker. Wat my bybly van sy toespraak was sy vermoë om op sy voete te dink. Gedurende vraetyd staan ‘n middeljarige man uit die gehoor op en met duidelike ergernis lees hy ‘n berig voor wat ‘n paar jaar tevore in Die Volksblad verskyn het. Dit bevat ‘n striemende aanval op die Nasionale Party. Met groot gebaar vra die man:
“Meneer die voorsitter, en weet u wie het dit gesê?”
Dramatiese stilte.
“Dis niemand minder nie as dáárdie minister wat nou net vir ons vertel het ons moet vir die Nasionale Party stem!” In my enigheid wonder ek hoe die minister uit hierdie een gaan kom.
Koel en kalm staan Blaar op: “Voorsitter, toe ek dit gesê het, was ek ‘n Sap, en wie kan nou ‘n Sap glo?”
Die saal dawer van die lag en die voorsitter sê: “Volgende spreker.” (Vir die jonger lesers, die Sappe was lede van die destydse Verenigde Party.)
Die verkiesingsveldtog was besonder fel. Dit was die jaar na die afstigting van Albert Hertzog en Jaap Marais se Herstigte Nasionale Party (HNP) en gevoelens het hoog geloop. Joernaliste van Nasionale Pers was nie welkom by HNP-vergaderings nie.
Toe ek op ‘n keer ‘n HNP-byeenkoms by die Allemanskraaldam moes dek, is ek bykans gewelddadig die deur gewys. Ek moes onverrigtersake terugkeer Bloemfontein toe.
In die laat sestigerjare en ook in die aanloop tot die verkiesing was dit bykans mode onder talle Afrikaners om koerante van Nasionale Pers te beskuldig van “liberale” politieke neigings. Liberaal was in daardie tyd ‘n opperste skelwoord.
Dit was ook nie net beperk tot die HNP nie. Selfs stoere Nasionaliste was maar skepties oor die koerante. Die gevolg was dat joernaliste nie oral, selfs by NP-vergaderings, hartlik ontvang is nie.
In die redaksiekantoor het ons dikwels gesprek gevoer oor die invloed van Die Volksblad op die politieke denke van mense. Daar was ‘n gesegde wat in die Vrystaat die rondte gedoen het wat lui: Vrystaters glo net in die Bybel en Die Volksblad. Ons juniors wou dit graag glo.
Hennie van Deventer het egter gemaan. “Versigtig”, het hy gesê, ons “moenie die rol van die pers oorskat nie”.
Hennie se woorde is bewaarheid. Hoewel die NP oorweldigend gewen het, was die uitslag nie naastenby so gunstig vir die NP as wat ons gedink het dit sou wees nie.
Ons was ‘n klein redaksie en moes alles uithaal. Dit was veeleisend. Die ure was lank en die vergoeding nie ruim nie. Maar ons was trots op ons koerant. Ons was oortuig dat gegewe Die Volksblad se beperkte potensiële leserspubliek en seker een van die grootste verspreidingsgebiede in die land (die hele Vrystaat en dele van aanliggende provinsies), ons een van die top koerante in die land was. En ons was veral trots daarop dat die koerant so ‘n goeie balans tussen plaaslike, nasionale en internasionalse sake kon handhaaf. Om joernalis vir Die Volksblad te wees was opwindend.
Na afloop van die verkiesing is die Vrystaatse Provinsiale Raad vir my as “beat” gegee. Daar het ek die geleentheid gehad om politiek van meer plaaslike aard van nader te leer ken.
Met wat ek in die verkiesingsveltog en toe in die debatte in die provinsiale raad gesien het, het my van my idealisme gestroop. Politiek is die kuns van die moontlike, is duidelik by my tuisgebring. Maar politiek is ook die domein van die ego en van selfsug en selfverheerliking. En soms van matelose naïwiteit.
My eerstehandse kennismaking met die politiek en sy binnewerking het my eie politieke sienswyse beïnvloed. Op universiteit was ek taamlik behoudend en het nogal simpatie gehad met dr. AP Treurnicht se hoofartikels in die Pretoriase dagblad Hoofstad.
Met die dat ek as joernalis meer ontledend te werk moes gaan en ingedompel is as eerstehandse waarnemer van die praktiese politiek, het ek die eerste fase van ontnugtering beleef. Later sou ek verder en verder wegbeweeg van ‘n dogmatiese teoretiese benadering tot die politiek in die rigting van groter realisme.
Dit was tog besonder interessant om die Vrystaatse Provinsiale Raad te dek. Sittings is gehou in die historiese ou Raadsaal in President Brandstraat. Dit het ‘n besonderse atmosfeer geskep. Die persbank was voor langs die voorsitter of speaker en ‘n mens het bykans die gevoel gehad dat jy deel van die vergadering was.
Die administrateur, Sampie Froneman, het dikwels wanneer die debat vervelig raak, by my kom praatjies maak. Vir my as jongeling was dit onthullend hoe maklik hy kommentaar, soms snydend, gelewer het oor lede van die raad.
Wanneer ek nie die Provinsiale Raad gedoen het nie, moes ek die vergaderings van die Bloemfonteinse stadsraad dek. Dit was in die dae voor die nuwe groot glaspaleis van die munisipaliteit opgerig is. Ook dit was ‘n interessante ervaring. Vir my was stadsake ‘n hele nuwigheid.
My kollega van The Friend (‘n Bloemfonteinse oggendblad wat later van die toneel verdwyn het) wat saam met my vergadering na vergadering deurgesit het, was ‘n karikatuur van ‘n sekere soort joernalis. Hy het altyd verkreukel voorgekom en nogal, soos die mite oor koerantmanne dit wil hê, nie ongeneë om ‘n dop of twee te neem nie.
‘n Insident wat uitgestaan het, gebeur by ‘n saamtrek by die Voortrekker-gedenksuil by Winburg. Die rede sou deur die Staatspresident, oom Jim Fouché, gelewer word. Ek nader die president se kantoor om sy toespraak in die hande te kry.
Sukses. Ek skryf die hele berig oor sy rede en Die Volksblad publiseer dit prominent op die voorblad van die uitgawe wat vroeg-oggend na die platteland versprei word. (Die Volksblad was in daardie stadium ‘n middagkoerant.) Oom Jim kom aan die beurt. Skaars het hy met sy toepraak begin, of ‘n sterk wind kom op en waai die bladsye van die toespraak die hele wêreld vol. Gesoute politikus wat hy was, laat hy hom nie van stryk bring nie en gaan gemaklik voort om sonder notas te praat.
Hy is pas klaar of Die Volksblad is daar met die storie van wat die president by die geleentheid sou gesê het. Die verskil tussen dit wat gerapporteer is en dit wat hy van die podium af gesê het, verskil heelwat. Hoe nou?
Al genade is om dit dadelik reg te stel. Ek stap na oom Jim toe en vertel hom wat gebeur het. Hy glimlag van oor tot oor. “Vergeet dit, al het ek nie gesê presies dit wat in die koerant staan nie, wou ek in elk geval dit mos sê”, stel hy my gerus.
Maar tot vandag toe nog kan ek my voorstel hoe mense kon gesê het: “Hoe kan jy ‘n koerant vertrou! Dit wat die president gesê het is dan heeltemal anders as dit wat in die koerant staan. Wys jou net hoe lieg koerante!”
‘n Ander insident met meer ernstige gevolge was my rapportering van ‘n vergadering van die minister van waterwese, Fanie Botha. In sy toepraak sê hy onder meer dat hoewel Jaap Marais van die HNP so teen kommunisme tekere gaan, hy nogtans van kommunistiese tegnieke gebruik maak deur verdag te saai teen sy opponente.
Jaap Marais dagvaar hom vir laster. Ek word geroep as getuie in die hooggeregshof in Bloemfontein. Op daardie tydstip het ek reeds die koerant verlaat.
Ek word versoek om te getuig dat dit wat ek gerapporteer het, ‘n ware weergawe is van wat die minister gesê het. Ek word ook gevra oor my mening oor die minister se bedoeling en ook wat ek weet van kommunisme. Hoe my mening hieroor relevant was kon ek nie verstaan nie.
Maar Marxisme was deel van my studies op universiteit en ek het na my mening heel goed gevaar in die kruisverhoor. Saam met die minister en sy regspan was ek daarvan oortuig dat Jaap Marais nie eintlik ‘n saak het nie. Die minister het hom mos nie daarvan beskuldig dat hy ‘n kommunis is nie, net dat hy kommunistiese tegnieke gebruik.
Die uitspraak kom. Die minister is skuldig. Getuie Mostert, sê die regter-president van die Vrystaat onder meer, is nie ‘n kundige oor kommunisme nie (eintlik het hy gesê die ou weet nie veel van kommunisme af nie). Sy getuienis was nie veel werd nie. Ons is verbyster – oor die uitspraak, nie oor wat hy van my gesê het nie!
Die minister gaan op appél. Die appélhof was eweneens verbyster. Die hof keer die hooggeregshof se beslissing om.
Jare later vertel iemand my die volgende storie. Die regter-president was nie ‘n ondersteuner van die Nasionale Party nie. Met die opening van die Verwoerd-dam (nou die Gariepdam), is hy nie uitgenooi nie.
Erg in sy eer geskrenk (want die hele Vrystaatse wie’s wie is genooi) belowe die regter hy sal die minister nog terugkry vir dié klap in die gesig. Hy was vas oortuig dat die minister hom nie uitgenooi het nie weens politieke redes. Ek het nie ’n idee of die storie waar is of nie.
Na hierdie insident het ek oor jare ‘n baie aangename verhouding met die minister gehandhaaf. Ons was in dieselfde gemeente in Pretoria en het gereeld geselsies na kerk aangeknoop.
Die Volksblad het vir my ‘n goeie begrip van die joernalistiek gegee ten spyte van die kort tydjie daar. Vandag nog het ek groot respek vir koerantmense wat onder groot druk koerante teen spertye gereed moet kry. Dit is inderdaad verstommend dat met soveel materiaal wat in die koerant ingaan en die nypende tekort aan tyd, die koerant nog so akkuraat is as wat meeste wel is.
Ek het egter geweet dis nie heeltemal vir my nie. Ek het nie trek gehad vir die “menslike” (human angle) stories nie, veral nie nadat die koerant kolomme der kolomme afgestaan het aan die sogenaamde Groesbeeksaak – ‘n opspraakwekkende moordsaak op Bethlehem. Billikheidshalwe moet ek byvoeg, dit was rapportering oor dié saak wat die koerant se sirkulasiesyfer na ‘n rekord vlak opgeskuif het. Wie is skuldig? Die koerant of die koperspubliek?
Reeds gedurende my studentedae het ek kontak gehad met die Bloemfonteinse verteenwoordiger van die destydse Buro vir Staatsveiligheid (BOSS, soos die Engelse koerante dit genoem het). Hy was ‘n sersant in die polisie op Bethulie toe ek daar op skool was en was goeie vriende met my ouers.
Op ‘n dag nooi hy my vir ete en vra of ek nie belang sou stel om by die Buro te kom werk nie. Dit was so reg in my kraam. Ek het kort tevore Ross en Wise se boek oor intelligensie, The Invisible Government, gelees. Sonder verwyl sê ek ja. So kom dit dat ek die koerantwese in November 1970 met ‘n swaar hart verlaat ten spyte van ‘n gevoel van opwinding oor dit wat voorlê.
Hier teen die einde is daar darem nog een storie wat ek moet vertel. Dieselfde man van die Buro het my by die ete gevra of daar nie nog mense by die koerant is wat moontlik sou belang stel nie. Ek noem toe die naam van Chris (Molie) Moolman wat later redakteur van Rapport sou word. Hy bel vir Chris maar noem nie my naam nie. Chris was hoogs ontsteld en neem aan (korrek so) dat dit ek was wat sy naam verstrek het.
“Ek sal jou nog terug kry,” brom Chris vir my.
Jare daarna, nadat hy reeds afgetree het, begin Chris ontspanningsverhale skryf. Oor spioene. En die hoofkarakter? Ene Mostert. Ek is dankbaar teenoor Molie dat hy nie so kwaad vir my was dat hy my as die skurk in sy verhale ingeskryf het nie!