‘N TERUGBLIK OP DIE ‘EIKESTADNUUS’

Deur Francois Verster

Gemeenskapskoerante speel ’n unieke rol om ’n gemeenskap in te lig en op te voed, maar ook om as meningsvormer vir dieselfde gemeenskap op te tree, asook om dié menings in druk weer te gee. Sodoende kan daar ’n rekord van ’n omgewing en sy mense geskep en bewaar word. In hierdie opsig verskil Eikestadnuus nie van ander gemeenskapskoerante nie, maar tog vertel hy sy eie storie sedert 1950.

Eikestadnuus het onstaan as ’n relatief klein, onafhanklike entiteit, wat oor die jare vir ’n verskeidenheid politieke perspektiewe voorsiening moes maak, asook onder die strategieë en visies van verskillende redakteurs aanpas en ontwikkel. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat so ’n koerant goed by die gemeenskap inskakel en dat die lesers met die koerant identifiseer, en graag daarin genoem wil word.

Volgens Riaan Gerber, voormalige redakteur van Eikestadnuus, is elke lid van die gemeenskap ’n potensiële nuusbron, en dat die koerant se mantra is dat dat ’n dorp deur sy inwoners gemaak word, nie andersom nie.

Geskiedkundige agtergrond

Teen die draai van die vorige eeu was daar reeds ’n halfdosyn gevestigde koerante in die Boland-omgewing, dog geen koerant op Stellenbosch, naas Kaapstad die tweede oudste Westers-geïnspireerde nedersetting in die land (in 1679 ontstaan) – terwyl die die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, reeds in 1876 in die naburige Paarl gestig is.

Een van die redes vir daardie situasie was die destydse sterk politieke skeidslyn tussen Afrikaners en Engelssprekendes. Om tóé ‘n koerant tot stand te stand  bring, het dadelik die kwessie van verteenwoordiging na vore gebring. Tweedens was daar die ekonomiese faktor; die twee wêreldoorloë en die Groot Depressie het mense van alle gemeenskappe verarm.

Teen die aanvang van die 1950’s het die ekonomiese situasie sodanig verbeter dat adverteerders (of borge) beskikbaar was, want plaaslike besighede het na maniere gesoek om hulle markte te vergroot.

Met die eventuele verskyning van die eerste uitgawe van Eikestadnuus, kon plattelandse lesers dit wel bekostig om selfs meer as een koerant te koop; die  Overberg Venster, Worcester Standard, Hermanus Times, District Mail en Paarl Post was almal ook op Stellenbosch bekombaar. Boonop was hoofstroomkoerante soos Die Burger en Cape Times plaaslik beskikbaar.

Op 24 Maart 1950 het die nuwe koerant sy opwagting gemaak, as breinvrug van Schalk van der Merwe, administratiewe bestuurder van die Stellenbosse uitgewersmaatskappy Pro Ecclesia Drukkers. Dié maatskappy het later deel van die Rembrandt Groep geword, wat die aanvanklike betrokkenheid van Rembrandt by Eikestadnuus verklaar.

Die munisipaliteit van Stellenbosch was reeds 110 jaar oud toe die joernalistieke professie uiteindelik na die dorp gebring is, die dorp waar Die Burger in 1915 ontstaan het. Die Burger was die eerste produk wat die huidige Naspers, grootste mediamaatskappy in Afrika en met globale belange, die lig laat sien het. Dit was ook een van sy direkteure, prof. Piet Cillié, wat in 1978 die joernalistiekdepartement aan die Universiteit van Stellenbosch gestig het. Eikestadnuus sou op sy beurt internskappe aan joernalistiekstudente bied.

Eikestadnuus is met groot entoesiasme verwelkom – boodskappe van plaaslike bekendes, soos die burgemeester, Louis Hofmeyr, en die rektor van die universiteit, prof. Bobby Wilcocks, was op die voorblad te sien. Soos te verwagte, was ’n derde van die voorblad gewy aan ’n Rembrandt-advertensie, maar die algemene publiek het ook hulle plek in die koerant gekry – soos ene mev. Nolte, wat gelukgewens is met haar eerste plek vir haar gebreide bedsprei by die Rosebankskou. Oor die jare sou die gemeenskap juis sulke vermeldings waardeer en gevolglik met Eikestadnuus identifiseer.

Voertaal

Die taalvoorkeur is met die eerste uitgawe aangespreek: die redakteur, Basie Botha, het beweer dat sy koerant daarna streef om in ’n behoefte te voorsien waarin geen ander publikasie kon nie. Die blad moes ook Stellenbosch waardig wees. Daarom sou die koerant tweetalig wees om die twee “volksdele” te bedien. In daardie stadium was die koerant dus net op die wit deel van die gemeenskap gefokus. Hierdie beleid sou gaandeweg verander, soos lede van ander groepe  personeellede sou word en dit in die inhoud van Eikestadnuus weerspieël is.

Die taalkwessie het die mediatradisie van die land voortgesit, aangesien die eerste Suid-Afrikaanse koerant, The Cape Town Gazette and African Advertiser (wat op 16 Augustus 1800 die lig gesien het) ook tweetalig sou wees. Eikestadnuus se eerste redaksionele artikel was in beide Afrikaans en Engels, maar reeds sedert die tweede uitgawe het dit om die beurt in Afrikaans en Engels verskyn.

Vier jaar later het ’n Engelssprekende leser gekla dat daar te veel Afrikaans in die koerant was en die redakteur se antwoord was dat Stellenbosch “tradisoneel Afrikaans” was, dat 90 persent van die inwoners Afrikaanstalig was, en Afrikaans dubbeld soveel as Engels gepraat is. Hy kon dus nie daarvoor verantwoordelik gehou word dat Engelssprekendes nie Afrikaans verstaan, terwyl Afrikaanssprekendes Engels magtig was nie.

Briewe sou verskyn in die taal waarin hulle geskryf was. Afrikaanssprekende lesers het nie oor Engels in die koerant gekla nie, maar wel oor die gebruik van anglisismes en slang.

Inhoud

Inhoudelik was die fokus op die gemeenskap en kulturele aangeleenthede, asook opvoedkundige en sportgebeure, aangesien Stellenbosch immers ’n universiteitsdorp is. Aanstellings en bevorderings, bekende besoekers, en ander plaaslike nuus het voorkeur bo dié van ander areas geniet – in teenstelling met hoofstroomkoerante soos Die Burger.

Prominente inwoners soos dr. Danie Craven en prof. H.B. Thom het gereeld hoofopskrifte gehaal, maar die meeste berigte het oor die daaglikse lewe en gewone mense van die dorp en nabye omgewing gehandel.

Rubrieke

Onder die vroeë rubrieke het “Wat die papegaai sê” (skindernuus), “Profetiese woorde” (teologiese essays) en “Oom Japie vertel” (geskiedkundige vertellings deur een van die senior inwoners) getel. Rubrieke was egter nooit ’n belangrike onderdeel van Eikestadnuus se inhoud nie. Korrespondente is wel dikwels aangewend, maar sou afneem toe finansiële vergoeding ingekort is.

Godsdienstige en genderkwessies het vroeg reeds in meningstukke blootstelling geniet, hoewel seksisme en feminisme teen die 1950’s relatief onbekend was op Suid-Afrika se platteland.

Die binnewerke

Aanvanklik was die redakteurskantoor naby aan Pro Ecclesia Drukkers en Rembrandt se standplaas in Birdstraat, maar in die 1960’s het Eikestadnuus na  die Laetitia-gebou in Alexanderstraat verskuif, langs die dorpsplein, Die Braak. Die dorpsplein was juis die tradisionele plek waar nuuswaardige aangeleenthede sedert die dorp se ontstaan aangekondige en bespreek is.

Ná Botha het sewe vroue en sewe mans die redakteursstoele beset, insluitend die  skrywer W.A. de Klerk. Soos vermeld, was Eikestadnuus (nes die Potchestroom Herald) gelukkig om ’n bron van goedkoop arbeid op sy voorstoep te hê, aangesien joernalistiekstudente die personeel kon aanvul.

Finansiering

Vir die eerste twee dekades was Die Landman die uitgewer en eienaar, maar in 1969 het Eikestad Beperk die finansiering oorgeneem. In 1984 het die koerant  onder die beheer van Nasionale Pers gekom toe dié maatskappy 50% van die aandele bekom het. Die ander aandeelhouers was Rembrandt, Oude Meester, Gilbeys en Stellenbosch Farmers’ Winery.

Vir Naspers/Media24 was hierdie stap deel van sy strategie om net nóg ’n deel van die mark te verkry, maar vir Eikestadnuus het dit die voordeel ingehou dat sy finansiële fondament verstewig is.

In 2024 het Media24 sy gemeenskapskoerante aan Novus Media verkoop.

Die gemeenskap

Eikestadnuus se fokus was altyd, soos ’n gemeenskapskoerant betaam, die inwoners van die dorp en omstreke. Gemeenskapsbetrokkenheid was van die begin af daar, ook oor rassegrense, sodat toestande in gebiede soos Kaya Mandi aan wit lesers bekendgestel is.

Volgens die oud-redakteur Elsabé Retief, het Eikestadnuus nog altyd probeer om politieke ewewig te handhaaf en geloofwaardigheid te behou, wat essensieël was, maar weens die land se geskiedenis moeilik is om te vermag.

Dit bly die koerant se doel om lesers uit verskillende agtergonde van die gemeenskap in te lig oor invloede wat almal raak en om hulle te leer om opponerende sienswyses te respekteer deur so objektief as moontlik daarna te kyk. Projekte soos geldinsamelings vir behoeftiges en vir die bewaring van kulturele erfenis-entiteite, soos om te verhoed dat Lubbehuis (nou Schreuderhuis) en dele van dorp se museunkompleks gesloop word, het die koerant se verbintenis aan Stellenbosch bewys en versterk. 

Eikestadnuus het Stellenbosch boonop via die medium van die internet en elektroniese advertensies by die res van die wêreld laat inskakel. Vandag kan dit op Novanews.co.za gelees word.

In retrospek

Die koerant het sedert die ontstaan daarvan daarna gestreef om hoë standaarde te handhaaf en as bewys daarvan het dit verskeie pryse gewen (vir gemeenskapskoerante met ’n sirkulasie van minder as 15 000). Bowenal het dit, te midde van Suid-Afrika se problematiese politieke geskiedenis, daarin geslaag om grootliks vry van rassistiese insidente en aantygings te bly, en dit meestal reggekry om politieke standpunte te vermy.

Volgens Retief verkies Eikestadnuus dit om “… gebeurlikheidsgedrewe te wees, eerder as beleidsgedrewe” — ten minste in haar tyd as redakteur. 

Dr. Francois Versterwas maatskappy-historikus en argiefbestuurder van Naspers (van Julie 2007 tot Desember 2022), en van 2009 tot 2010 ’n M.A.-student by Stellenbosch se Joernalistiekdepartement. Ná vyf jaar in die onderwys, is hy in 1991 ’n pos by Eikestadnuus aangebied, maar het toe by die Kaapse Argiefdepartement aangesluit, waar hy van Junie 1991 tot Junie 2007 werksaam was. As deel van sy kommunikasiewerk vir diéargief het hy van 2007 tot 2017 rubrieke, artikels en resensies vir Bolander, een van Eikestadnuus se mededingers, geskryf.

Hierdie artikel is gebaseer op ’n studiestuk deur die skrywer wat in 2010 (Vol. 4, Deel 1) in Global Media Journal verskyn het, getiteld “Sixty years in the making: the history of Eikestadnuus (1950-2009).”

Nota van die kurator:

Veranderende omstandighede het die plaaslike koerante intussen getref en die blad is sedert 2020 ‘n gratis koerant met ‘n veel sterker fokus op die bruin gemeenskap van Stellenbosch. In dié opsig staan dit in sterk kontras met die Eikestadnuus van vroeëre dekades toe dit op mooi papier gedruk is en ‘n byna elitistiese inslag gehad het. Toe is wye dekking aan die kunste en kultuur (insluitende wyn) gegee, in pas met die belangstellings van dr. Anton Rupert en sy vrou. Rembrandt het immers ‘n beherende aandeel in die koerant gehad en weekliks (saam met die sustermaatskappy Distillers) advertensies geplaas.  

As gratis koerant het die Eikestadnuus ook drasties verskraal en kan dit in vele opsigte nie meer vergelyk word met die blad van vroeër nie. Dit is nou deel van Novus Media.