Blaai jy deur ou koerante, val die vreemdste van berigte jou op. Maar hulle was nie tóé vreemd nie. Eintlik gewoon, normaal vir die tyd. Tog, net binne ‘n bepaalde ideologiese konteks. Vandag kan ons net daaroor kopskud. En wonder wat mense oor 50 jaar of langer oor vandag se berigte sal sê. Probleem is net hulle gaan sukkel om dit op te spoor, want papiervoorbeelde verdwyn by die dag. Elektroniese voorbeelde gaan dalk ook onbekombaar wees, soos wat dit onmoontlik is om rekenaars vandag te kry wat ou “floppies” kan lees.
Hier is ‘n lukrake embrio-versameling van berigte wat uit koerante van vroeër kom. Lees hulle maar met geduld en humor. Ons plaas hulle nie om daardeur ‘n morele of ander oordeel te vel nie; wel om te wys hoe tye verander.
Hooffoto bo: 1939: Die Transvaler se sportblad gee groot prominensie aan perde- en hondewedrenne. Nogal vreemd vir ‘n baie konserwatiewe koerant onder redakteurskap van dr. Hendrik Verwoerd. Honderesies is in 1949 deur provinsiale wetgewing verbied.

1939: Die Oosterlig het sy agterblad toe nog vir die Persoonlik-rubriek gebruik. Later het sport oorheers. Ook Die Burger het vir jare ‘n soortgelyke rubriek gehad wat aan doodgewone mense aandag gegee het — maar dan nooit op die agterblad nie.

1957: ‘n Berig uit Rhodesië, nou Zimbabwe. In Suid-Afrika is seks tussen wit en swart in 1927 deur die Nasionale Party-regering verbied. Die verbod is in 1950 uitgebrei sodat seksuele omgang tussen wit mense en mense van alle ander rasse verbied is. In 1985 is hierdie wetgewing geskrap.

1953: Die eerste minister reis per trein na Pretoria na die Nasionale Party se oorwinning in die algemene verkiesing. Die trein was meestal betyds.
Regs: Eendsterte was destyds die term vir jong manne met Elvis Presley-hare en uitdagende gedrag.

1956: Die probleem met ‘n swart prokureur was klaarblyklik nie dat hy in die hof sou kon optree nie, maar dat “blanke vroue wat in die (balieraad se) biblioteek en teekamer werk hom op dieselfde wyse (as wit advokate) sal moet bedien”.
