Suid-Afrika se media het ná 1990 merkwaardig verander weens politiek- en handelsgedrewe transformasie. Daar was by die publikasie van hierdie roman (in 2009) nog min daaroor geskryf. Om na ‘n wit plafon te staar, deur ‘n voormalige Naspers-joernalis, Jaco Kirsten, was daarom ‘n tydige kykie op hoe die uitgewer van die groot gros Afrikaanse koerante en tydskrifte getransformeer is. Die gevolge hiervan is steeds binne Naspers voelbaar.
OM NA ‘N WIT PLAFON TE STAAR
Jaco Kirsten
Tafelberg, Kaapstad
2009
Hierdie satiriese roman kan nie as geskiedenis beskou word nie, maar dit is duidelik nie (alles) uit die duim gesuig nie. Die absurditeit van die transformasie van Naspers moet nie onderskat word nie; die boek se waarheidsgehalte is daarom nie te versmaai nie.
Maar dit bly ‘n roman en moet as sodanig gelees word. Die “mediageskiedenis” hierin is eensydig, persoonlik en bedoel om te skok.
Lees dus met voorbehoud (en weet dat die waarheid soms erger is as ‘n storie).
Naskrif: ‘n Omvattende, deeglik nagevorsde geskiedenis van Naspers sou in 2015 verskyn het, maar is deur die voorsitter, Koos Bekker, geveto. Hierdie roman het egter by ‘n Naspers-maatskappy verskyn. Vreemd. —- JDF