Leon van Nierop het in 1975 ‘n radio-omroeper geword en het vir jare lank nuus gelees en kontinuïteitsaanbieding op RSG en sy voorgangers gedoen. Hy skryf deur die jare meer as 6 000 episodes vir verskillende radiovervolgverhale, onder meer vir Wolwedans in die skemering. Daarby tree hy as regisseur en akteur op. Sy gewilde TV-dramareeks Ballade vir ‘n enkeling is ook as rolprent vervaardig. Hy skryf talle romans, waarvan sommige in Engels vertaal is.
DAAR DOER IN DIE FLIEK
Leon van Nierop
Protea, Pretoria
2015
Agterop die boek:

Sy TV-reeks Daar doer in die fliek is in 2016 as boek uitgereik. Daarin gee hy ‘n oorsig oor alle Afrikaanse flieks tot op daardie datum. Vir diegene wat van die ouer rolprente dalk gesien het, is dit ‘n nostalgiese terugblik.
Hy gaan haal daarin die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf in 1895 en stap dan deur die dekades van die twintigste eeu tot by 2015. Die fokus val ook op baanbrekers soos Pierre de Wet, Jamie Uys, Jans Rautenbach, Katinka Heyns, Leon Schuster en spesifieke rolprente wat uitstaan. Maar álmal word genoem.
Van die foto’s uit rolprente of waar rolprente geskiet word, soos dit in Van Nierop se boek voorkom.

Die boek se subtitel lui “ ‘n Persoonlike blik op die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent”. Daarin word ook sy en ander se kritiek op liggewigrolprente uitgespreek. Hy sluit notas in oor rolprentkritiek.
Van Nierop het deur die jare fliekresensies vir talle publikasie geskryf, in die jongste jare vir Rapport en Maroela Media. Hy is ook ‘n ou bekende as fliekresensent op die radio.
As sodanig is hy verreweg die bekendste Afrikaanse fliekresensent van die afgelope dekades en word hy as dié kenner van rolprente beskou — ook van oorsese uitreikings. Maar daarmee saam is jonger rolprentkritici se stemme ongelukkig oor die hoof gesien.
Leon het met sy Daar doer in die fliek voortgebou op ander se werk, in die besonder André I. le Roux en Lilla Fourie se Filmverlede — Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse speelfilm, in 1982 deur Unisa uitgegee. Die boek is van kleiner omvang, maar kan naas Van Nierop se Daar doer in die fliek gelees word. Dit dek die tydperk 1910 tot 1979.
Vir diegene wat belangstel in die rassedimensie van Suid-Afrikaanse rolprente, gee Keyan Tomaselli se The cinema of apartheid (A Smyrna, New York, 1988) ‘n kritiese blik. Daar is sedertdien ander navorsing gedoen waarvan ook kennis geneem sal moet word.

Kyk op Wikipedia vir ‘n volledige lys van Leon van Nierop se boeke, toekennings en ander werk.