FRIEDEL HANSEN SE HERINNERINGE AAN SY SAUK-DAE

Die gewese TV-aanbieder en radio-omroeper deel op versoek van sy herinneringe aan sy uitsaailoopbaan.

Ek is ʼn alleenmens, ʼn loner. My ma het altyd gesê ek is nes my oupa Möller, eenspaaierig. Ek het nie ander mense nodig om myself te geniet nie. Dit beteken egter nie ek geniet dit nie om tussen mense te wees nie. In die HAT word eenspaaierig (ook eenspanjerig) beskryf as ʼn byvoeglike naamwoord en dit dui op iemand wat hom eenkant hou, nie lief vir geselskap is nie, ongesellig.

Dit klink alles baie negatief, want ek is tog lief vir geselskap en ek is nooit eintlik ongesellig nie. In die begindae by die radio en later by TV, veral in die kinderskoendae, was dit by tye vir my bitter moeilik om openbare geleenthede by te woon en buite-uitsendings is maar openbare geleenthede. Daarvan moes ek seker dalk honderde gedoen het.

Friedel as jong omroeper en vandag. Bo is die omslag van een die boeke wat hy saamgestel het.

Dis vir my gewoon beklemmend om voor mense op te tree en tog doen ek dit met die innerlike oortuiging wanneer ek moet. Ek is nie bloot skaam nie; ek hou net nie daarvan as die fokus op my is nie. Net nadat TV-uitsendings begin het, is ek dikwels deur welmenende mense voorgekeer en gevra hoe dit voel om ʼn “persoonlikheid” te wees.

Celeb is seker deesdae die woord vir persoonlikheid. Ek beskou myself glad nie as ʼn persoonlikheid/celeb nie; om die waarheid te sê, ek is die teenoorgestelde daarvan. Voor die koms van TV het mense gevra of ek ʼn DJ is sodra hulle hoor ek is ʼn omroeper.

Nee, ek is nie ʼn deejay nie en ek wou nog nooit een wees nie. Dit verg ʼn bepaalde soort mens om ʼn platejoggie te wees; ek is nie een nie: ek respekteer die afstand wat die mikrofoon tussen my en die luisteraars skep. Boonop is deejays (gewoonlik) celebs en dit diskwalifiseer my outomaties om so ʼn titel te dra.

Ek het die mees beskeie begin denkbaar by die SAUK gehad en Graeme Pollock het indirek daarvoor gesorg dat ek ʼn omroeper word. In Januarie 1972 was ek in die gehoor toe die eerste opname van ʼn nuwe sportvasvraprogram, Sportraaisels en rande, in Uitsaaihuis in Commissionerstraat, Johannesburg, opgeneem is. Gerhard Viviers het die vrae gestel en Jan Snyman het telling gehou.

Ek het nie een van die twee deelnemers geken nie. Die opname het seepglad verloop. Toe vra Gerhard aan die een deelnemer: “Wat is Graeme Pollock se volle name?” Hy kon nie antwoord nie en toe is die vraag aan sy teenstander gestel, wat ook nie geweet het nie.

Toe word die vraag aan die gehoor gestel: “Wat is Graeme Pollock se volle name?” Ek het van kindsbeen af die gewoonte aangeleer om mense se volledige name te onthou: Frederick Christoffel Hendrik du Preez. Egnatius Hendrik Botha. Barry John Richards. Tot vandag word internasionale krieket se telkaarte ingevul met spelers se voorletters en van: EJ Barlow, RG Pollock, BJ Richards, DG Bradman, AB de Villiers, ensovoorts. (Terloops, op die IKR se telkaarte het die kaptein ʼn * agter sy naam en die paaltjiewagter ʼn †; indien die paaltjiewagter ook die kaptein is, verskyn albei agter sy naam *†.) 

Ek steek toe my hand op. Jan Snyman het mikrofoon in die hand van die verhoog afgestap en my naam gevra. “Friedel Hansen.” “Wat is Graeme Pollock se volle name?” Ek was seker van die antwoord. “Robert Graeme Pollock.” Dit was die eerste woorde wat ek ooit op die lug gesê het, hoewel dit eers later uitgesaai is.

Jare tevore was ek saam met ʼn laerskooltoergroep by die SAUK in Minnaarstraat, Pretoria. Ons is rondgewys (daar was nie veel in daardie SAUK-gebou nie, het ek jare later self uitgevind). Danie Erasmus was die omroeper wat ons rondgewys het en hy het toe in die ateljee ʼn impromptu onderhoud met my gevoer. Dis opgeneem en vir ons skoolgroepie teruggespeel.

Vir “Robert Graeme Pollock” het ek R5 gewen en na afloop van die program moes ek my naam en besonderhede aan Gerhard en Jan gaan gee. Daar bevind ek myself toe in die geselskap van twee baie bekende stemme op die radio, huishoudelike name in SuidAfrika.

“Wil jy kom deelneem?” vra Gerhard my uit die bloute. Ek het onmiddellik ingestem en die volgende week is ons weer van Pretoria af met die Ben Schoeman Johannesburg toe. In die daaropvolgende weke het ek redelik goed verdien uit Sportraaisels en rande.

Na verloop van ʼn paar weke het ek een dag van die werk af gebel om die aand se opname te bevestig. Gerhard Viviers vra my toe weer uit die bloute: “Wil jy nie ʼn omroeperstoets kom doen nie?” Sjoe! Nooit daaraan gedink nie, maar ek het sy uitnodiging entoesiasties aanvaar.

Fritz van Lingen het my toets afgeneem. Nog ʼn bekende met ʼn mooi stem. Ek vermoed ek het die toets geslaag, want Gerhard het met elke week se opname aangedui dat hulle net wag vir die finale goedkeuring vir my aanstelling van Steve de Villiers, wat toe seker die direkteur van radio was en dus die finale besluitnemer oor alles wat met radio-uitsendings te doen het, ook oor die aanstelling van omroepers.

Ek was op moedverloor se vlakte, want die weke het later ʼn maand geword, maar oplaas is ek in kennis gestel dat ek aangestel is as junior omroeper-regisseur. Ek was 22 jaar oud. Ek was amptelik ʼn omroeper.

Dit was nog lank voor die begin van TV in Suid-Afrika en radio was koning. My proeftydperk sou ʼn jaar duur. Baie mense se oë rek as hulle hoor ons was vir ʼn hele jaar op proef, maar dis die enigste manier om vas te stel of iemand die vryheid van die lug verdien: het hy/sy respek vir die mikrofoon, lê hy/sy goeie oordeel aan die dag, toon hy/sy genoeg potensiaal om te bly uitsaai, hoe klink hy/sy?

Pieter Klopper is kort na my aangestel, maar aan die einde van sy proefjaar is hy meegedeel dat hy nie permanent aangestel word nie. Hy is ʼn aanbod gemaak om in die SAUK se diskoteek te gaan werk vanweë sy baie goeie musiekkennis, maar hy het dit van die hand gewys en het die korporasie se diens verlaat om ʼn sportverslaggewer te word.

Pieter het ʼn redelik ernstige aangebore spraakgebrek gehad en hy is ʼn onreg aangedoen toe hy aangestel is. Dit moes nooit nie. Ons het vriende gebly tot met sy tragiese dood in ʼn motorongeluk in 1987.

20 April 1972. My eerste dag by die SAUK het dramaties begin. Ek was vroeg daar en het na Gerhard Viviers se kantoor toe gegaan. Hy was besig met sy koerant en ons het oor koeitjies en kalfies gesels. Ek het later agtergekom Gerhard het nie veel gedoen wanneer hy op kantoor is nie: sy eintlike werk was sport uitsaai en baie daarvan was op ʼn Saterdag of oor naweke. As hy oor die naweek gewerk het,  was hy dikwels nie die Maandag op kantoor nie.

Toe stap Jan Snyman by Gerhard se kantoor in, sonder om te groet, sy oë soos pierings. “Fritz is dood,” kondig hy geskok aan. Fritz van Lingen is daardie nag aan ʼn hartaanval dood. Ek dink hy was 37. Die man wat my omroeperstoets afgeneem het sou my nie aan die begin kon touwys maak nie.

Dinge het plotseling verander. Ek is aan ʼn paar mense voorgestel, ook die destydse hoof van die Afrikaanse Diens, Morkel van Tonder. Ek het altyd geweldige respek vir hom gehad en het hom sonder uitsondering persoonlik en teenoor sy sekretaresse, Annatjie Pienaar as “Meneer” aangesprek. Sy was altyd “Mevrou”, behalwe as sy nie in haar kantoor was nie.

Kort na my aankoms het ek vir Nic Swanepoel ontmoet. Dit was 20 April, sy verjaarsdag en hy was in ʼn joviale bui – ek dink hy was altyd in ʼn joviale bui! Ons was gou groot vriende en dit het ʼn gewoonte by hom geword om my altyd met ʼn luide stem en ʼn glimlag in die gang te groet: Friedrich Mauritz von Nessen Hansen! Waarop ek dan teruggegroet het: Nicolaas Johannes Botha Swanepoel!

Geen ander persoon het my soveel van die mikrofoon geleer as Nic Swanepoel nie, al was hy nie noodwendig daarvan bewus nie. Hy het nie met my uitsaai ingemeng nie en wanneer nodig ʼn opmerking gemaak of my reggehelp (en dan was dit bot … en klaar). Iets soos, “’Is’, nie ‘was’ nie.”

Ek het by Nic van uitsaai geleer deur hom dop te hou, deur na hom te luister, deur te luister hoe hy sy stem gebruik om atmosfeer te skep en hoe hy ʼn formele nuusbulletin of ʼn voorlesing kon aanbied. Sy asemhaling, sy stembuiging, sy pouses, sy woordgebruik, alles. Nic Swanepoel was my uitsaaiheld en -rolmodel.

By die radio is nuusberigte op seksies getik, met ander woorde landskap op A5-velletjies. Nic het nooit ʼn nuusbulletin voorberei nie en het hoogstens vlugtig na ʼn paar bladsye gekyk vir vreemde uitsprake. Die enigste handskrif op die hele bulletin was sy keurige handtekening op die voorblad. Hy het nooit sy teks gemerk nie, net gelees en dit gewoonlik vlot gelees. En daarna ʼn Texan aangesteek en vir wie ook al daar naby was skalks geknipoog.

Tot vandag toe maak ek geen merk of tekens op ʼn teks nie, behalwe om my naam en van voorop te skryf. Selfs nie by TV-nuus het ek dit gedoen nie. Ek berei ook nie ʼn bulletin voor nie, want ek het met die verloop van jare agtergekom dat ek al hoe beter lees wanneer ek al hoe minder of later selfs geen merke maak om die teks voor te berei nie.

Nuuslees is nie ʼn meganiese oefening nie; nuuslees is die interpretasie en aanbieding van feite wat uiteraard goed geskryf is. Gestel dis swak geskryf? Al opsie is om dit dan reg te lees. Die luisteraar gee nie om of die bulletin swak geskryf is nie. Jy, die nuusleser, is die nuus; dis jou plig om te sorg dit klink goed: agter die mikrofoon en voor die kamera.

Dis eienaardig hoe ʼn mens jouself instel wanneer jy soggens vroeg of laatmiddag in die nuuskantoor kom en jy sien Wittes Engelbrecht of later Willie Visagie of Hannes Drotské is die redakteur. Daardie ouens se bulletins het ek nooit eens deurgekyk voordat ek dit gaan lees het nie. Veral Wittes se bulletins was legendaries: daar was nooit ʼn spoor van ʼn fout in nie.

Dan kon ʼn mens ʼn baie goeie redakteur kry met ʼn handskrif soos ʼn huisdokter. Jan Syfert was so iemand. Sy bulletins was altyd oorbetyds en goed versorg, maar soms was dit nodig dat hy ʼn korreksie met die hand moes aanbring. Jan se linkshandige agteroorskrif was ʼn nagmerrie veral as hy soms ʼn hele sin met die hand moes byvoeg en met pylstrepe moes aandui waar dit in die teks ingevoeg moet word.

Hoe pas ʼn leser aan met die getikte teks aan die een kant en ʼn krap se geskarrel aan die ander kant? Tog het ek gewoond geraak aan Jan se handskrif en ons het baie lekker saamgewerk, ook toe hy ʼn regisseur by TV-sport geword het. Soms is individuele berigte van die een skof by die radio eenvoudig na bulletins in die volgende skof oorgedra.

Destyds was daar nie eintlik tyd om berigte oor te tik nie en ouer berigte is net so gebruik. Dan kon ek byvoorbeeld berigte wat deur Johannes van die Walt voorberei is weggesteek in my bulletin kry. Johannes se bulletins was vol strepe en pouses en beklemtonings. Dit was sy manier van voorberei. Sulke berigte het my soos klokslag gepootjie, want dit het gou vir my duidelik geword dat ons soms radikaal verskillend pouseer, verskillend beklemtoon, verskillend asemhaal.

Nie een van ons twee was noodwendig reg en die ander een verkeerd nie: ons het maar net elkeen ons eie benadering gehad. Die enigste verskil is dat indien Johannes ʼn berig kry wat in een van die bulletins in my skof gebruik is, was dit silwerskoon en sonder penmerke! (Vandag sal soiets nie gebeur nie, want in die eeu van die rekenaar is dit geen moeite om ʼn ou berig nuut te druk nie.)

Wat dan van vreemde plekname, vreemde eiename? In die ateljee was daar ʼn staalkas met laaie vol kaartjies met die regte uitspraak van woorde. Dis gereeld bygehou. As daar vooraf tyd was kon ʼn mens die korrekte uitspraak opkyk. Daardie staalkas en al die honderde, dalk duisende kaartjies, was die SAUK se Afrikaanse taaladviseur, Alewyn Lee, se verantwoordelikheid. Hy was ʼn besonderse mens met ʼn ongelooflike taalkennis, ook van ander tale soos Russies, Italiaans, Duits en Frans. En ʼn toegewyde geselser! Sy werk met uitsprake was eenvoudig verstommend.

Ek het menige oggend tussen bulletins by hom in sy kantoor gaan sit en oor verskillende uitsprake en ander goed gesels. (Dit is ʼn gewoonte by my wat ek steeds vandag toepas: indien iemand ʼn nuusmaker word, soos met die skryf hiervan in Mei 2022 met Carlos Alcaraz Garfia op die tennisbaan, sal ek myself steeds vergewis van die korrekte uitspraak van sy naam, hoewel ek lankal nie meer nuus lees nie.)

Nog een van die uitdagings vir ʼn leser was wanneer ʼn redakteur saggies by die nuusateljee insluip en agter jou kom staan met ʼn nuwe of veranderde berig in die hand. In 99% van die gevalle het jy nie geweet watter berig is dit of watter storie word verander nie. Jy het eers geweet wanneer hy oor jou skouer leun en die volgende berig uit jou hand neem en tegelykertyd die nuwe een voor jou neersit. Dis ook iets waaraan ʼn mens gewoond moes raak.

Ek is deur Gerhard Viviers gewerf om sport uit te saai. Dit was my hoofopdrag, maar ek het deelgeneem aan al die ander aksies van uitsaai insluitende drama’s, musiekprogramme en wat nog. Sport was aanvanklik alles vir my. Ek het uit die staanspoor baie rugby saam met Gerhard gedoen asook tennis, atletiek (my vrou was ʼn Springbokatleet) en baie krieket.

In die tydperk 20 Oktober 1972 tot 28 Februarie 1973 (ongeveer 130 dae) het ek 100 dae langs die sportveld deurgebring en daarvan was 70 dae weg van die huis. Die jare 70 en 80 was die dae van demoraliserende sportisolasie vir Suid-Afrikaans sportdeelnemers. Daar was wel pogings om die uitwerking daarvan te beperk, maar dit was puur verniet. Daar was (vir my) die SA Spele in 1973 en later, byvoorbeeld, die rugbytoer van die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986. Hierdie geleenthede was egter baie beperk.

Ek was verskeie kere in Bulawayo en Salisbury vir krieketkommentaar tussen Rhodesië en een van die Suid-Afrikaanse provinsies. Die SAUK se bydrae om die boikot te versag was om soveel moontlik sport uit te saai, veral driedaagse krieketwedstryde tussen die provinsies en Rhodesië. En heel dikwels gedurende die Kersseisoen.

Heel aan die begin van my krieketkommentaar was ek een dag by die Wanderers saam met Gerhard Viviers. Die tellinghouer, Duggie Ettlinger, ʼn prominente Johannesburgse advokaat, het tussen ons twee gesit. Duggie was ʼn fenomeen. Sy krieketkennis was ensiklopedies en ek en hy kon saam praat oor krieket deur die geskiedenis. Hy het ook ʼn unieke stelsel gebruik om telling te hou. Hy kon presies sê wanneer wie wat op die veld gedoen het, hoe laat dit gebeur het, en het baie ander inligting verskaf wat vir die kommentator nuttig kon wees.

Tussen oorskakelings het ek en hy land en sand gesels. (Terloops, sy broer, Lennie, ʼn Johannesburgse prokureur, was net so entoesiasties oor krieket en hy het een of twee keer saam met my gewerk wanneer Duggie nie beskikbaar was nie. Toe televisie begin, het Lennie vir TV-Sport gewerk en later het sy dogter, Sue, by hom oorgeneem.)

Iewers in die loop van daardie gedenkwaardige eerste dag vra Gerhard toe of ek dalk self ʼn boulbeurt wou beskryf. Tot in daardie stadium het ek net opsommings tussen aflewerings of aan die einde van ʼn boulbeurt gedoen. Voor ek kon antwoord sê Duggie onderlangs, maar baie entoesiasties: “Say yes, say yes.” Ek sê toe “yes” en dit was die eerste van talle boulbeurte wat ek in my loopbaan beskryf het. (Ek dink Duggie was eintlik Dougie, maar sy naam is altyd op die sportkantoor se skedules as Duggie aangegee.)

Sport het my naderhand begin verveel en boonop het my verhouding met Gerhard gaandeweg versleg. Daar was redes daarvoor wat ek liefs nie hier wil bespreek nie. Ons het later nie eintlik meer gepraat nie. Gerhard het my vermy. Ek was in 1976 die aanbieder van die weeklikse sportrubriek op TV, Sportfokus. Gerhard sou as deel van die program ʼn onderhoud voer met die destydse sameroeper van die Suid-Afrikaanse rugbykeurders, Johan Claassen. Hy het egter daarop aangedring dat ek die ateljee moes verlaat terwyl hy die onderhoud voer.

Ek het hom kort voor sy dood by ʼn keelspesialis se spreekkamer in Pretoria ontmoet. Sy stem was toe weens die keelkanker reeds weg en sy vrou moes aan my oordra wat hy vir my probeer beduie. Vir my was dit ʼn verligting dat ons op hierdie manier kon “vrede maak”, hoewel die vervreemding nie van my kant af was nie. Met sy dood in 1998 was ek werksaam by Radio Pretoria en ek kon in ʼn lewende uitsending aan hom hulde bring. Van die telefoniese deelnemers aan daardie program was Steve de Villiers, Heinrich Marnitz en Frik du Preez.

Ek dink ek kan met oortuiging sê dat ek in ʼn veelsydige uitsaaier ontwikkel het wat omtrent alles kon uitsaai, insluitende ʼn simfonieorkeskonsert in die Johannesburgse stadsaal. Ek het gereeld gespot dat die enigste ding wat ek nooit uitgesaai het nie is perdewedrenne, wat ek sekerlik sou kon doen indien die geleentheid hom voordoen. Na my eerste paar jaar by radio het TV groot en aanloklik voor my opgedoem. Ek het die begindae van TV in Suid-Afrika intens beleef: ek was die eerste sportaanbieder in enige taal in Suid-Afrika; trouens, ek was daar toe toetsuitsendings in ongeveer Mei 1975 afgeskop het. En ek het baie sport uitgesaai.

Ek was kommentator by soveel sportsoorte dat ek tot vandag onseker is by presies hoeveel maar na my beste wete is dit 42 of 43 verskillende sportsoorte (dalk ʼn wêreldrekord ?): rugby, krieket, atletiek, boks, tennis, sokker, F1 Grand Prix, die Comrades tot kleiner toeskouersportsoorte soos tafeltennis, pluimbal, ringtennis, basketbal, skerm. Met verloop van jare het ek later verkies om in die ateljee te sit eerder as om op ʼn buite-uitsending te wees. Ek het daarom menige Saterdag as aanbieder in die ateljee gesit met die destydse Saterdagsportprogram.

Ek het nooit rekord gehou van hoeveel uitsendings nie, maar ek en Adrian Steed was baie Saterdae saam gashere van die sportprogram. En ons twee het met die jare baie goeie vriende geword. Later was ek instrumenteel dat hy ʼn nuusleser by TV-nuus geword het.

Ek onthou uitsendings van die Suid-Afrikaanse rolbaltoernooi in Edenvale, boks in die Wembley- of die Randse Stadion, rugby op Loftus, Ellispark Olënpark en PAM Brink, die heel eerste uitsending van die Administrateursbeker-eindstryd op die veld van die Hoërskool Nelspruit teen Helpmekaar in 1974, krieket op die Wanderers, die Ramblers, St. Georgespark en op Kingsmead, atletiek op die Pilditch en die nuwe RAU-stadion, manshokkie op die Wanderers tydens die SA Spele in 1973 tussen die vorige jaar se Olimpiese kampioen, Wes-Duitsland, en Suid-Afrika, tennis in die Standard Bank Arena, net langs Ellispark, sokker by Highlands Park en die Kaledoniese Terrein, duik by die De Jongh-Duiksentrum (my heel eerste amptelike TV-uitsending op Saterdag, 3 Januarie 1976), stock cars by Mahem, gimnastiek, trampolien en tuimel in die sportsaal van die Goudstadse Onderwyskollege, muurbal in Hillbrow, BMX-fietsrenne by Muldersdrif, die bopunt van Polly Shortts met die Comrades van 1985, die F1 Grand Prix van 1979 op Kyalami met Gilles Villeneuve en Jody Scheckter se 1-2 vir Ferrari … Ek dink ek is steeds die enigste Afrikaanse TV-kommentator wat sokker uitgesaai het.

Toe kom “the winter of our discontent”, soos William Shakespeare dit genoem het. Die arme Helen Naudé sit in die ateljee van Radio Jakaranda by die Pretoriase Skou en lees die nuus om halfvyf. Die hoofberig is skokkend: dr Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, is op sy plaas naby Nylstroom doodgeskiet. Pandemonium breek los maar dis baie gou duidelik dis nie die waarheid nie. Steve de Villiers, toe die direkteur-generaal van die SAUK, moes net vure doodslaan. Dr. Treurnicht en sy luitenante is woedend.

Waar het die storie ontstaan en wie het dit in die teleksberig na Helen Naudé by die Pretoriase Skou gestuur? Niemand weet nie en ek glo nie die skuldige(s) is ooit vasgetrek nie. Eensklaps is die balans versteur, want die SAUK-base was gewoond aan ʼn hartlike verhouding met die leiers en parlementslede van alle politieke partye, hoewel dit algemene kennis was dat die SAUK die regerende party, die NP, immer voorgetrek het.

Hoe nou gemaak? Riaan Eksteen was die hoof van die Suid-Afrikaanse missie by die Verenigde Nasies in New York toe die SAUK se beheerraad hom genader het. Nee, hy was nie ʼn politieke aanstelling nie, maar die raad het by Pik Botha aangeklop in hulle soeke na ʼn geskikte kandidaat vir die pos van direkteur-generaal, iemand wat hou vir hou die politici en diesulkes kon hanteer.

Na sy aanstelling het Riaan Eksteen toe inderdaad die hele plek verander, sekere stasies herontwerp en/of toegemaak en sy meeste aandag gevestig op Radio5, na sy oordeel die SAUK se vlagskipstasie. Sy ander dramatiese stap was die vestiging van ʼn nuwe afdeling wat direk aan hom rapporteer, Openbare Aangeleenthede. Eensklaps het nuus en elke dag se politieke verwikkelinge die grootste fokus geword en alle ander programme was ondergeskik.

Dit was nie meer lekker nie; lekker is by die agterdeur uit. In dieselfde jaar, 1984, het ek besluit ek gaan die Olimpiese Spele in Los Angeles bywoon. Ek sou ook oor die Demokratiese Party se konvensie in San Francisco verslag doen voordat ek Los Angeles toe vlieg. Ek het die base by die SAUK gevra of hulle my uitgawes sou dek in ruil vir daaglikse verslae vanaf Kalifornië. Suid-Afrika was nie ʼn deelnemer nie en die base het in hulle wysheid besluit hulle stel nie belang in my aanbod nie. Ek sou dus alle uitgawes self moes dra.

Weens die Spele moes ek buite Kalifornië ʼn motor huur en ek is toe vanaf Reno, Nevada, per gehuurde motor na San Francisco. Alles het aanvanklik baie goed verloop en ek het heelwat bydraes oor die konvensie vir Monitor gestuur. Ek het in ʼn hotel in San Francisco se middestad gebly. Toe word ek siek, die een of ander voedselvergiftiging. By terugskouing moes ek seker by ʼn hospitaal of ʼn dokter uitgekom het, maar omdat ek alle uitgawes self moes dra, het ek maar volstaan met medisyne wat ek by ʼn apteek kon kry.

Ek sou in elk geval vir die duur van die Spele by vriende in Fullerton, naby Disneyland in Anaheim, Kalifornië, tuisgaan en ek is toe vroeër as beplan daarheen. My gesig was gepof weens my ongesteldheid en my vriende het my versorg met kosher hoendersop van ʼn nabygeleë Joodse deli totdat ek genoegsaam begin herstel het.

Die Spele se opening was om die draai en ek het toe besluit om liewers huiswaarts te keer. Dit was duidelik ek sou nie betyds genoegsaam herstel nie. Elke dag in Amerika het my geld gekos wat ek nie gehad het nie en my kredietkaart se maksimum het vinnig nadergekom. Toe ek op Jan Smuts land, sê my vrou die SAUK het vir Kim Shippey en Johann Rossouw Los Angeles toe gestuur omdat ek siek geword het.

Ek was oorbluf, want hulle wou my nie amptelik stuur toe ek dit versoek het nie. ʼn Groter klap in my gesig was ʼn paar dae later toe een van die destydse grootbase by Personeel, Dan Esterhuyse (of Esterhuizen) my bel. Hy sê toe ek moet asseblief my ongebruikte S&T (Subsistence and Travel Allowance, soos almal van ons destydse Reis-en-Verblyf-dagtoelae gepraat het) onverwyld terugbetaal. Ek was totaal uit die veld geslaan en te ontsteld om te lag.

Ek was toe vir ʼn kort tydjie deel van Openbare Aangeleenthede; ek was ʼn programmaker met ʼn goeie aanvoeling van nuus en nuusgebeure. Maar daar was ʼn diep kloof van wantroue tussen Openbare Aangeleenthede en die programmense en ek is terug radio toe. In Maart 1985 is ek bevorder tot Programbestuurder van die Afrikaanse Diens (radio) in die Vrystaat en Noordkaap. Ons het feitlik oornag getrek en vir my kinders was dit ʼn avontuur, maar tog groot ontwrigting en aanpassing; ag, eintlik vir ons almal. Met Riaan Eksteen se koms na die SAUK het uitsaai sy onskuld en sy siel verloor. Waar uitsaaiers en uitsaaimense die plek lewend gehou het vir bykans 50 jaar, het dit eensklaps van karakter verander: nuusmense was in die meeste gevalle die nuwe base van programmense en dit het gelei tot chaos. Daar was ʼn nuwe kultuur vaardig … ja, ʼn kultuur van vrees en verbittering.

Minder as ʼn jaar nadat ek in Bloemfontein geland het, is my pos as oorbodig verklaar en ek moes onverwyld terugkeer Johannesburg toe, of minstens voor die einde van die jaar. Die Afrikaanse Diens in die streke, uitgesonderd in Johannesburg, het saamgesmelt. In Kaapstad, en Pretoria is die twee dienste van toe af bestuur deur die Afrikaanse programbestuurder op daardie tydstip. In Port Elizabeth, Durban en Bloemfontein het die Engelse programbestuurder die nuwe bestuurder geword.

Ek was weer ʼn spesialisomroeper, maar ironies genoeg moes ek steeds al die administrasie en bestuursfunksies van die Afrikaanse Diens behartig.  Op ʼn dag iewers in Desember 1986 het ek een oggend die 8-uur-nuusbulletin gelees en toe ek die ateljeedeur oopmaak staan Riaan Cruywagen daar. Hy was toe nog die Afrikaanse nuusanker op TV1, maar sou op 1 Januarie 1987 Riaan Eksteen se voltydse woordvoerder word. “Wil jy kom nuus lees op TV?” vra hy my.

Ek het ingestem en voor die einde van daardie maand het ek van die Afrikaanse Radiodiens oorgeskuif na TV-nuus. Vanaf 1 Januarie 1987 het ek ʼn kleinerige kantoor in die groot TV-nuuskantoor gedeel met Michael de Morgan, vir wie ek kon dophou en uitvra, nes ek met Nic Swanepoel by die radio gedoen het. Michael was platter as plat op die aarde, min daarop gesteld of sy das presies reg sit en of iets van sy hemp bo-oor die broek uitsteek; hy was letterlik almal se vriend, ʼn ekstrovert.

Mense het na hom opgesien en hy het dikwels selfs ure lank in die nuusateljee gaan sit en veldaanbieders opgelei. Hy alleen en hy het ook die teleprompter beheer en geduldig saam met mense soos Ellen Erasmus gesit en hulle gehelp met leesspoed, asemhaling, aanbieding. Toe die Helderberg einde November 1987 naby Mauritius in die see val, is Ellen gestuur om in Afrikaans en Engels verslag te doen oor die soektog na enige oorblyfsels van die Boeing 747. Ellen het menige dag in die TV-nuuskantoor vir Michael kom roep om haar te kom help. Nie lank daarna nie was sy ʼn voltydse nuusleser.

TV-Nuus was ʼn ander soort ervaring. Ek het reeds 12 jaar tevore kennis gemaak met die TV-kamera, met regisseurs en produksiesekretaresses, met kamera-operateurs, klankoperateurs, beligtingsmense. Met verskeie vloerbestuurders. Teen die tyd dat ek in die nuusateljee gaan sit het, was ek dus deeglik vertroud met die nuwe omgewing.

Dit het aanvanklik baie goed gegaan, maar toe gaan swem eerwaarde Allan Hendrickse op ʼn wit strand in Port Elizabeth, die SAUK rapporteer dit met ʼn groot geskal en PW Botha is briesend. As hoofnuusleser op Afrikaanse TV was ek in die middel van die daaropvolgende kattegeveg tussen PW Botha en Koedoe Eksteen. Dit was maklik die onaangenaamste tyd van my uitsaailoopbaan.

PW het vir Koedoe summier na Kaapstad ontbied. (Hierdie storie is volgens hoorsê van betroubare bronne.) Hy het hom toe in die teenwoordigheid van Brand Fourie, ek dink toe direkteur-generaal van Buitelandse Sake, en die visepresident, Alwyn Schlebusch, in die pad gesteek. Iewers het Fourie en Schlebusch toe vir Koedoe Eksteen uit PW se kantoor geneem en hom aangesê om met die kabelkarretjie teen die berg op te gaan en om daar te wag.

Toe het Schlebusch en Fourie vir PW oorgehaal om af te sien van sy “afdanking” van Eksteen; hy kon hom in elk geval nie afdank nie, want hy was nie ʼn regeringsamptenaar nie, maar ʼn aanstelling van die SAUK-raad. Hierdie voorval het die regering se houvas op die SAUK ʼn knou gegee, maar dit was vir my die laaste strooi. Dit was nie meer “lekker” by die SAUK nie.

Ek is op 31 Oktober 1987 finaal daar weg. Maar daar is vir my wel aangename herinneringe wat ek kan koester.

Soos my gewoonte was, het ek op ʼn dag in April 1973 na my poshokkie in die algemene sekretaressekantoor in Commissionerstraat gegaan om my briewe, uitsaairooster of wat ook al te kry.

Daar was dié dag onder meer ʼn toegeplakte bruin interne SAUK-koevert. Ek het dit net daar oopgemaak en gemerk dit kom van die personeelafdeling. Die presiese bewoording ontgaan my, maar dit was min of meer soos volg:

Geagte mnr. Hansen

Dis vir ons aangenaam om u in kennis te stel dat u die proeftydperk suksesvol voltooi het. U word hiermee permanent aangestel en word bevorder tot Omroeper-Regisseur by die Afrikaanse Radiodiens.

Ek was onvoorbereid op die brief, maar ek was verskriklik bly. Uit die hoek van my oog merk ek toe die organiseerder: aanbieding, Danie Erasmus, staan langs my met ʼn breë glimlag. “Ek is permanent aangestel,” vertel ek opgewonde.

Danie glimlag. “Weet jy, ons het nie gedink jy sal dit maak nie”

Ek was verstom. “Hoekom nie?”

“Jy het darem vreeslik swak geklink.”